Luk 24:21 Geloof is om God raak te sien by jou

Het jy ook al gevoel om te sê: Nou weet ek nie meer so mooi wat ek moet glo, wat ek moet hoop nie. Die Bybel praat van die Here se sorg en beskikking oor ons lewens, maar kyk nou wat gebeur met my. Hoe kan dit dan wees?

Dít is soos hierdie 2 dissipels op pad na Emmaus ook gevoel het. In vs 21 sê hulle dit in soveel woord: “Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar nou weet ons nie meer so mooi nie.” Hulle hoop is verpletter, hulle verwagtinge van die Here Jesus is nie vervul nie, en daarom sê hulle hulle het gehoop. Nou hoop hulle nie meer nie. Of miskien moet ’n mens dit nie heeltemal so kras stel nie. Dis nie waar dat hulle glad niks meer gehoop het nie – hulle het nog oor Hom gepraat daar op die pad; nog oor Hom gedink, soos ons teksgedeelte sê: Hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. Hulle het gesels en gedagtes hieroor gewissel, en selfs met die Vreemdeling wat saam met hulle geloop het, oor Hom gepraat. Hulle kon maar net nie alles vergeet nie, hulle hoop heeltemal afskryf nie, al hul verwagtinge aan gaande Jesus net so laat vaar nie.

Hulle kon hulle hoop nie heeltemal afskryf nie, maar tog is dit nie meer ’n lewende en vreugdevolle hoop nie. Dit is so ’n soort teleurgestelde hoop. Ons het so gehoop … maar nou weet ons nie meer so mooi nie. Kyk dan net wat het gebeur: Jesus is al drie dae in die graf! Hulle wil hoop, maar die harde werklikheid van wat gebeur het, die omstandighede waarin hulle is, laat hulle wanhoop. Hulle hoop strook net nie met die feite, met die werklikheid nie.

So gaan dit mos met ons ook, nie waar nie? Ons kan en wil nie ons geloof los nie, want ons hoop en glo tóg nog iets … maar ’n mens moet tog realisties ook wees. Julle ken almal hierdie soort twyfel. Dit is nie die twyfel of daar werklik ’n God is en of Jesus waarlik die waarheid gepraat het nie. Nee, dis ’n veel erger, verskrikliker en hopeloser twyfel, die twyfel van iemand wat waarlik glo en sy hoop op God gestel het, maar dan begin wonder of God regtig in hom spesifiek belangstel. Ek glo dat God almagtig is en die goeie in my lewe kan laat gebeur, maar wil Hy dit doen? Sal Hy vir mý spesifiek goed wees? Het God nie dalk moeg geword vir my nie? Hoekom sal Hy nou juis in mý behoeftes belangstel?

Daarom bid ek dat God vir my die pad moet oopmaak in my werk, dat God moet ingryp in my huwelik wat dreig om op die rotse te beland, dat God my in my finansiële krisis moet bystaan, dat Hy ’n groot probleem in my lewe moet oplos of ’n hartsbegeerte van my moet vervul – ek bid en vra al hierdie dinge, maar hier in my agterkop wonder ek: Sal God luister? Sal Hy my gebed verhoor? Ek sien dan so niks van sy ingrype nie – alles gaan maar aan soos altyd, asof God glad nie eens in my belangstel nie, asof Hy nie omgee wat met my gebeur nie.

En daarom weet ek nie meer wat om te glo nie – ek het so gehoop God sal my gebed verhoor, God sal my kind se hart verander, maar ek bid nou al so lank, en niks gebeur nie.

Ek dink op dié punt wil Luk 24 ons help, want dit is presies hieroor wat Jesus met die twee van Emmaus besig geraak het. God het nie die twee vertwyfelde volgelinge verlaat het nie, al het dit vir hulle so gevoel. Jesus kom stap saam met die twee op pad na Emmaus, en hoewel Hy hulle vermaan omdat hulle onverstandig is en traag is om te verstaan, verwerp Hy hulle nie. Inteendeel, Hy lei hulle geduldig, totdat hulle oë oopgaan om in te sien wat besig is om te gebeur. Want dit is wat hulle kortgekom het: die insig om die dinge wat gebeur het, te interpreteer en te verstaan; raak te sien dat God juis op hierdie manier besig was om hulle te verlos, soos hulle so vuriglik begeer en gehoop het.

En dít is ware geloof: die vermoë om agter die realiteit, agter die harde werklikheid, vir die onsienlike God raak te sien. Geloof is om jou nie só in die harde werklikheid van ons gebroke wêreld blind te staar dat jy nie meer ’n oog het vir God se teenwoordigheid en God se werke nie. Geloof is om die groter prentjie van God se besigwees in die wêreld te kan sien, iets te sien en te begryp van God se groter plan.

En juis dít het die Emmausgangers op daardie pad kortgekom: egte geloof, oop oë, die insig om God in die dinge wat gebeur, raak te sien. Daarom loop hulle en gesels selfs met die opgestane Here Jesus, en hulle besef dit nie! Daarom hoor hulle dat die vroue vertel dat die graf leeg is en dat die engele gesê het Jesus lewe, maar hulle glo dit nie – daar moet ’n ander verklaring vir die leë graf wees. Dit kan nie wees dat Jesus lewe nie. Almal weet tog dat ’n dooie nie weer lewendig kan word nie.

Maar toe Jesus saam met hulle begin stap en die Skrifte vir hulle begin verduidelik, en saam met hulle aan tafel aansit en die brood vir hulle breek, toe gaan hulle oë oop en toe sien hulle die eerste keer raak dat die Here Jesus by hulle is. Dat hulle hoop nie verydel is nie, al het dit so gelyk. En só open God vandag nog ons geloofsoë dat ons Hom in ons lewens kan raaksien – wanneer ons in sy Woord gaan delf sodat Hy die Skrifte vir ons kan verduidelik, en wanneer ons met Hom aan tafel gaan aansit in die Nagmaal en met Hom gemeenskap kan hê in die sakrament.

Toe die Here Jesus vir hulle die Skrifte uitgelê het en vir hulle God se vreemde verlossingsplan verduidelik het, dat die Christus móés ly, toe het hulle harte brandend geword, toe het die geloof begin daag dat God se weë dikwels vreemd en vir ons onbegryplik is. Toe het hulle geleer dat egte geloof, egte hoop op God nie afgelees kan word uit die voor-die-hand-liggende dinge nie. Geloof hou rekening met God se teenwoordigheid ten spyte van hoe dit ook mag lyk, al dui alles wat ons sien, op die teendeel. Egte geloof sien vir God raak, dwarsdeur alles en soms diep verborge agter alles. Geloof sien in die dood van Christus aan die kruis God se verlossingsplan met hierdie wêreld – hoe vreemd dit ook al mag wees. Want wat óns realisme noem, is dikwels blinde ongeloof. Geloof is om te reken met die lewende Christus, om jou lewe in te rig daarvolgens.

O, dat die Here ons oë só sal oopmaak, dat ons Hom sal sien in ons wêreld, in ons lewe van elke dag! Want die Here is nie weg nie. Hy lewe! Hy het werklik opgestaan, en ook vandag nog is Hy by ons.

Amen.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar