Hervorming 500

Vanjaar vier ons die 500ste jaar van die Hervorming. Vandag, 31 Oktober, is dit presies 500 jaar sedert Martin Luther sy 95 stellinge opgeplak het om kerklui uit te nooi tot ’n gesprek oor dinge in die destydse kerk wat hom diep ontstel het. Hy is uiteindelik vanweë sy standpunt deur die pous uit die kerk geban en voëlvry verklaar, maar sy insigte kon nie so maklik uitgewis word nie, en het tot die onstaan van die Protestantse beweging en ’n nuwe kerk gelei.

Ek wonder of dit nie tyd is om weer ’n keer op te staan en soos Luther helder en duidelik te sê dinge in die kerk is nie reg nie. Ek praat veral vanuit die NG Kerk-konteks, en as ek aan die NG Kerk dink, huil ek in my hart oor ’n kerk wat iewers langs die pad sy oog van die Here Jesus afgehaal het. Ja, die kerk is met baie dinge besig, maar ek wonder of dit werklik dinge is wat ons allerheiligste geloof koester en voed.

Ek hoor ongelukkig te veel keer van lidmate wat verward en ontuis is in die kerk. Oor die naweek het ek weer met iemand gesels wat al twee jaar in die Paarl woon, en steeds nie ’n gemeente kan vind waarin hy en sy vrou tuis voel nie. Hulle kla dat geloofsgoedere wat vir hulle lief en dierbaar is, net eenvoudig verdwyn het. Dis eintlik hoe die gesprek begin het. Hy het vir my gevra hoekom dominees deesdae nie meer die wet en die geloofsbelydenis in die erediens hanteer nie. Hy vertel van ’n dominee wat in plaas van die Twaalf Artikels (wat hy nooit in die erediens lees nie) sy eie geloofsbelydenis voorgelees het. Die dominee het glo gesê die Twaalf Artikels werk nie meer nie want mense sê dit soos ’n papegaai op. Toe sê die man vir my: “Maar dis mý geloofsbelydenis. Die dominee het nie die reg om dit so eenkant toe te vee nie.” Inderdaad.

Ek hoor al minder dat daar oor die Here Jesus gepraat word in die kerk. Die diskoers gaan oor alles anders – die gay debat, vroueregte, sosiale verantwoordelikheid, die jeug … – alles dinge wat inderdaad belangrik is, maar wat glo ons nog oor Jesus Christus? Is Solus Christus nog vir ons ’n passie? Of is dit belangriker om nice te wees teenoor ander? Is Sola Scriptura nog die enigste rigsnoer van ons lewe? Of het memes op sosiale media, en Google en Youtube en Twitter ons hoofbronne geword? Want dit is helaas die “voedsel” wat deesdae in te veel eredienste aan lidmate opgedis word..

Ek is bekommerd oor die kerk, want ek beleef dit dat die kerk nie meer die moed het om te sê wat gesê moet word nie. Die kerk laat sy lidmate in die steek omdat niemand bereid is om die sweep te klap nie. Voorhuwelikse en buite-egtelike seks, egbreuk, saamwoon, geestelike koudheid, geestelike onkunde, noem maar op! – alles word stilswyend gedoog, want ons wil tog nie aanstoot gee nie. Maar intussen val die kerk uitmekaar. Van die vier solas wat ons so entoesiasties ophaal, is daar net een wat baie moderne gelowiges nog omhels, en dit helaas erg verwronge: Sola Gratia. Soos Voltaire indertyd al gesê het: God sal vergewe. Dis mos sy werk.

500 jaar ná die Hervorming móét ons onsself afvra waar ons staan. Hardloop ons nog die wedloop met volharding, die oog gevestig op Jesus? Of het ons geestelik moeg geword? (Hebreërs 12:1-3)