Stuur my!

Baie mense is aangegryp deur pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede, en veral sy instemmende aanhaling uit ’n lied van Hugh Masekela, “Thuma mina” (Send me). Onder andere het hy die volgende aangehaal:

I wanna be there when the people start to turn it around
When they triumph over poverty
I wanna be there when the people win the battle against AIDS
I wanna lend a hand
I wanna be there for the alcoholic
I wanna be there for the drug addict
I wanna be there for the victims of violence and abuse
I wanna lend a hand
Send me

Ek vermoed die opgewondenheid oor die president se woorde is enersyds omdat hy homself daarmee bereid verklaar het om self iets aan ons wye en droewe land te doen. Maar dieper as dit, glo ek, is dit omdat sy woorde resoneer met ons eie verstaan van wat die Here van ons verwag. Ek dink byvoorbeeld aan Jesaja 6:8, waar die Here vra: “Wie kan Ek stuur?” en dan antwoord Jesaja: “Hier is ek! Stuur my!” En agter die skerms was dit beslis ook die gesprek in die Drie-eenheid, waar God gekonfronteer is met die verdorwenheid van die mensdom. Toe het die Seun ook hand opgesteek en gesê: “Stuur My!” Jy kan alles daarvan lees in die bekende Johannes 3:16 en Filippense 2:5-11.

Hierin moet ons natuurlik die Here Jesus navolg. Ons moet óók die hand opsteek en sê: “Stuur my!” Dit is nie onderhandelbaar nie, of só verstaan ek in elk geval Jesus se woorde in Matteus 25:31-46, waar Jesus uitspel wat die dinge is wat Hom oortuig dat daar ’n opregte geloof in ons is: wanneer ons die hongeriges voed, die dorstiges iets gee om te drink, die vreemdelinge laat tuis voel, die naaktes klee, omsien na die siekes …
Jakobus noem dit ’n lewende geloof (Jakobus 2:14-26). Hy skryf dat geloof eers in ons dade volledig word, anders is ons soos ’n kadawer: ons lyk na die ware Jakob (en nou praat ek nie van ons vorige Nr 1 nie!), maar in werklikheid is jy geestelik dood.

In Flam 406 sing ons dit aangrypend:

Ek wil kom stil word, hier aan u voete;
ek wil kom hoor wat U vir my sê.
Ek wil kom oopmaak vir u Gees, Heer;
as ek my vrae voor U kom lê.

Want soveel mense sterf sonder Jesus –
en word mislei na die ewige dood.
Daar’s soveel oorvloed, selfsug en rykdom –
en ander ly in hongersnood.

Ek wil kom vra, Heer, wat van die kinders,
wat honger en lyding glad nie verstaan?
Wat van die mense wat stukkend en seer is?
Wat van die een wat eensaam vergaan?

As ek dan vra, Heer, “waar is U liefde?”
moet ek erken, dit lê nog by my!
Hier in my selfsug, stap ek gevoelloos
by al die nood en seer verby!

Maak my ’n beeld van Jesus se liefde
om in my wêreld U hande te wees.
Ek gee myself aan U as ’n offer
onder beheer van die Heilige Gees.

Hier staan ek voor U, net soos Jesaja.
Raak my nou aan met U heilige vuur,
sodat ek oral U liefde kan uitdra.
Hier is ek Heer, U kan my stuur!

Ons wag almal opgewonde om te sien hoe dinge kan verander, noudat pres, Ramaphosa sy hand opgesteek het. Maar uiteindelik is dit nie net hý wat sy hand moet opsteek nie. Dis ons almal. Trouens, ons het klaar almal ons hand opgesteek. Toe ons belydenis van geloof afgelê het, het ons onder andere beloof “om die Here te dien, sy Naam getrou te bely voor die mense en om aktief aan die werksaamhede van die kerk deel te neem.”

Dalk het ons dit al vergeet. Dalk het ons nie destyds verstaan wat ons belowe het nie. Dalk het ons langs die pad moeg geword. Hoe ook al, vandag is wéér ’n kans om soos Jesaja en Hugh Masekela en pres. Ramaphosa op te staan en te sê: “Hier is ek! Stuur my!”