Heb 11:15-16 Ongeloof beteken om terug te draai

Die Hebreërbrief gaan oor die saak van geloof; dis een lang oproep tot ons om te bly glo. Hy praat ook oor ongeloof. Ongeloof, sê die Hebreërskrywer vir ons, beteken om om te draai, terug te draai van jou pad agter God aan, moeg te word om Hom te volg.

Om hierdie feit te onderstreep, wys die skrywer ons op die voorbeeld van die Israeliete in die woestyn, ná die uittog uit Egipte, op pad na die Beloofde Land. En dan sê hy: “Moet … nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het …” (3:8). Want dit het die gevolg gehad dat hulle nie God se beloftes ontvang het nie, soos 3:11 duidelik sê, waar die Here praat: “Toe het Ek in my toorn ’n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.”

Die boek waarsku dus vir ons om nie agter te bly en die genade weer te verloor nie. Israel in die woestyn is die voorbeeld van ongehoorsaamheid, van hoe die gemeente nié moet wees nie. Heb 3:19 sê: “Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie.”

Hier is ons by die kern van wat die skrywer in hierdie boek wil sê: Hy is bang daar is gemeentelede, soos die volk destyds in die woestyn, wat sal agterbly en uiteindelik die genade sal verloor. Ondanks ’n goeie begin, as gevolg van die moeilike omstandighede, kan hulle ook uitgeput word en dan begin terugdraai en sodoende gaan hulle uitval uit die genade. Dan gaan hulle tog nie die beloftes van die Here ontvang nie.

Hoekom vergelyk die skrywer die gemeente se omstandighede met dié van die volk in die woestyn? Omdat ons in ’n soort woestynsituasie leef. Ons leef in ’n wêreld van beproewings, nood, onsekerheid, vervolging, teenstand, probleme, bekommernisse – in ’n situasie waarin God se beloftes nog maar beloftes is en nog nie in vervulling gegaan het nie. Ook ons leef in ’n situasie waar ons nog nie aangekom het nie. Ook ons is nog op pad na die eintlike bevryding en rus. En nou lyk dit dikwels asof die beloftes en die redding ook nie so ’n groot verandering gebring het nie en in elk geval nie veel van ’n verbetering is nie.

Dit was juis Israel se beproewing in die woestyn: Dit het vir hulle gelyk asof dit slegter gegaan het as voorheen, in Egipte. Hulle het begin terugverlang na die vleispotte en die slawediens. Hulle het begin vergelykings tref en begin twyfel of die redding werklik ’n verbetering was.

Daarom begin hulle wonder of dit regtig die moeite werd is om te glo. Dit is ’n vraag wat elkeen van ons elke dag óók opnuut moet beantwoord, ook al is ons nie eers daarvan bewus nie. Dit is die een vraag wat skuil agter elke nuwe keuse wat ons maak: is dit die moeite werd is om Christene te wees; gaan ons getrou bly aan Christus, of nie.

Hierdie vraag beantwoord jy met elke keuse: of ek my medemens gaan liefhê of haat, sal vergewe of verwyt, sal aanneem of verwerp; of ek my eie belang sal soek of dié van die ander, of ek myself sal bevoordeel, of myself sal verloën, of ek wil heers en of ek sal dien. Dit is die vraag wat skuil agter ons vrees dat ons in die moeilikheid gaan beland, gekritiseer of verwerp gaan word as ons volgens ons Christelike oortuigings optree.

En juis omdat hierdie soort versoekings so baie is, juis omdat dit nie so glashelder duidelik is dat dit wel voordelig is om Christen te wees nie, daarom beland ons maklik in die situasie van Israel in die woestyn. Daarom raak ons ook so maklik geestelik afgemat, begin ons twyfel. Later is ons nog teenwoordig in die kerk, maar in die hart, in jou oortuigings en keuses nie meer by Christus, sy Woord en sy gemeente nie. Daarom verlang ons al terug na die verlede, na ‘n ander lewe, omdat dit beter, voordeliger, makliker, begin lyk … Totdat jy later self nie eers meer teenwoordig is in die kerk nie, nie meer die bidure bywoon nie, nie meer Bybel lees en bid nie, omdat jy diep in jou hart klaar gekies het vir Egipte, besluit het dat dit nie die moeite werd is om Christus te volg nie.

Nou is dit baie opvallend dat Hebreërs sonde nie eintlik vir ons teken soos wat ons meermale oor sonde dink nie, asof dít die oortreding van die een of ander gebod of ’n spesifieke daad is nie. Hy sê sonde is hierdie één ding: om afvallig van Christus en sy gemeente te word. Sonde is afval, om jou plek in die Godsvolk prys te gee, en terug te draai. Dít is sonde. Dié groot sonde! Die hart agter elke ander stuk sonde. Dit is ’n keuse teen Christus, terug na Egipte. En al die klein keusetjies saam, al die enkele sondetjies saam, word later ’n gewoonte, ’n leefstyl, wat ’n mens net nie meer kan of wil breek nie. Dit word ’n leefstyl los van die kerk en los van Christus.

En die rede daaragter, sê hy, is omdat ons ons visie van die toekoms, van die beloftes van God, van Jesus Christus, verloor het. Omdat dit nie meer vir ons wonderlik is nie. Omdat ons nie meer daarvan droom nie. Omdat ons ons oë nie meer op Christus hou nie, Hom nie meer liefhet nie. Daarom word die hede vir ons so swaar en daarom twyfel ons of geloof die moeite werd is en daarom dryf ons weg. ’n Mens verloor eers jou visie van God en Jesus en sy koninkryk, en in die proses raak jy los van Christus, raak jy al hoe meer afvallig.

Ons teksvers sê in 11:15 dit is die situasie waarin ons maklik kan beland. As die gelowiges bly terugkyk en terugdink het, sou hulle die geleentheid, die kanse by die duisende gehad het om om te draai. As ’n mens eers jou geloofsvisie begin verloor, as die beloftes van God vir jou begin vervaag, dan kom daar talle geleenthede in jou lewe waar dit heeltemal voor-die-hand- liggend is om weg te breek van Christus en sy gemeente af, waar dit net eenvoudig beter lyk om nie langer saam op pad te bly nie. Die keuses kom aan die begin so onskuldig en onopvallend voor, maar dit word uiteindelik beslissende keuses, finale keuses, onherroeplike keuses, ook vir ons, omdat dit ons voete plaas op ’n pad waarop daar feitlik geen omdraai is nie.

In elke mens se lewe kom daar baie sulke oomblikke, goeie kanse om terug te draai, om Christus te verlaat, om sy gemeente te verlaat, omdat ’n ander pad vir ons beter of makliker mag lyk. As ons oë in sulke omstandighede nie helder gevestig is op God en sy beloftes en die koninkryk van die hemel nie, sal die keuse vir ons te aanloklik lyk, en sal ons dit aangryp.

Ons behou ons deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het (3:14).

Amen.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings