Efes 1:16b-20 Hemelvaart bring hoop en moed

Dit is vandag hemelvaart: die dag waarop ons die feit herdenk dat Jesus hemel toe opgevaar het. Dis ’n feesdag, want dit is as ’t ware die troonsbestyging van ons Here. Hy heers nou as Koning op die troon aan die regterhand van die Vader, soos ons elke Sondag weer opnuut bely.

Die implikasie is geweldig. Ons groot Koning regeer vanuit die hemel, nie net oor die kerk nie, maar oor die ganse skepping, hoog bo elke vorm van gesag wat daar ook mag wees, sê Paulus in vers 21. Nie Donald Trump of Cyril Ramaphosa of wie ook al nie – Jesus Christus is Koning. Hý regeer.

Wat gebeur by hemelvaart? Dit is die Seun van God wat terugkeer na sy hemelse tuiste. Maar die Seun van God wat terugkeer hemel toe, is nie meer dieselfde as toe Hy aarde toe gekom het nie. Julle weet mos hoe skryf Johannes in Joh 1 van die Woord wat van die begin af daar was, by God en Self ook God, en dat dié Woord mens geword het. En dis nou hierdie mensgeworde Woord, die Seun van God wat ’n menslike natuur bygekry het, ’n mens geword het, wat nou terugkeer hemel toe. ’n Mens keer terug hemel toe! Een van ons! Ons oudste Broer is nou in die hemel, en daarom kan ons weet ons gaan ook eendag daar kom. Hy het die pad hemel toe vir ons oopgemaak. Paulus praat in die gedeelte wat ons gelees het, daarvan as die hoop wat Christus vir ons gegee het, en van die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het.

Daarom: Christus se hemelvaart wil ons gerusstel oor die lewe ná hierdie een. Dit wil vir ons sê: ons hét ’n toekoms! Kyk, Jesus is klaar daar! Daar ís ’n hemel wat wag, en ’n wederkoms, en ons gaan ook daar uitkom, net soos ons Here wat ons vooruit gegaan het om vir ons plek gereed te maak. Die hemelvaart gee vir ons uitsig op die ewigheid. Ons is op pad hemel toe! Daar wag ’n heerlike erfenis op almal wat glo: ’n ewige lewe by God.

Hemelvaart maak die toekoms vir ons oop; gee vir ons lig in die tonnel. Dis die eerste ding waarvoor Paulus in hierdie gedeelte bid (vers 18): dat die gemeente ’n helder visie sal hê op die hoop; dat hulle kan weet watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat op ons wag.

Maar dis nie al waarvoor hy bid nie. Hy bid ook dat ons sal verstaan dat God ons nou, aan hierdie kant van die graf en die wederkoms, terwyl ons nog in hoop en verwagting lewe, nie los dat ons maar voortploeter en aansukkel nie.

Dit laat my nou dink aan die storie van Chris, ’n man wat die groot droom gehad het om Europa toe te gaan, maar nie sommer so nie; nee, hy wou met ’n skip na Europa te vaar. Miskien het u dit al gehoor, maar dan moet u maar weer luister, en weer in u hart huil saam met Chris. Chris het lank gespaar om genoeg bymekaar te sit om sy droom te verwesenlik, maar toe hy uiteindelik die kaartjie klaar gekoop het, is sy spaargeld totaal op. Hy het niks oorgehad om tydens die vaart te bestee nie. Maar toe maak hy ’n plan. Hy is lief vir kaas, en hy besluit toe om genoeg kaas te koop om vir hom vir die hele vaart te hou. En so, op die skip, eet hy elke dag sy porsie kaas. Maar ai, die kosgeure wat darem uit daardie eetsalon kom! Hoe langer die vaart, hoe lekkerder ruik dit en hoe slegter smaak die kaas. En toe, op die laaste dag van die vaart, kan Chris dit glad nie meer hou nie. Rotterdam se liggies is al in op die horison sigbaar, en vroeg die volgende dag sal hulle in die hawe invaar. Toe loop Chris na die hoofkelner en soebat hom om hom toe te laat om net vir die één ete in die salon te gaan eet. Hy sê hy sal enige iets doen – vloere skrop, borde was, tafel afdek, kajuite skoonmaak, enige iets – as hy net een bord kos in die salon kan gaan eet. Die kelner is totaal verbyster met Chris se versoek. “Maar Meneer,” sê hy, “het u dan nie geweet die etes is ingesluit by u kaartjie nie?”

Jy sien, as jy nie wéét jy kan in die eetsalon gaan eet nie, sit en wurg jy aan jou stuk kaas in plaas daarvan om die heerlike disse te geniet. Dan raak jou reis ’n nagmerrie, ’n marteling.

En dis die tweede ding waarvoor Paulus vir die gemeente bid: hy bid dat hulle – ons – oë sal oopgaan en God ons wysheid gee, sodat ons Hom kan ken en kan verstaan, nie net watter heerlike erfenis op ons wag nie, maar ook watter ongelooflike krag Hy tot ons beskikking gestel het. Hy beskryf dié krag so (vers 19b-21): Dit is die selfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo alle bose magte en enige ander vorm van gesag waarvan daar sprake mag wees, nie net in hierdie bedeling nie maar ook in die bedeling wat kom.

Liewe gemeente, die fantastiese krag wat Christus uit die dood opgewek het en Hom in die hemel ingevoer het, daardie selfde ongelooflike krag werk in jou en my deur die werk van die Heilige Gees! Ons kán oorwinnend lewe! Ons hoef nie sommer om te val as Satan net aan ons tik nie. Ons hoef nie só te wees nie! Ons kan op ons voete bly en voortstorm ondanks die listige aanslae van Satan, want Jesus leef. Hy is Koning. Hy regeer aan die regterhand van die Vader, en al die krag van God is ook ons deel, as ons maar net daaruit wil lewe. Dit wil die Gees van God in ons doen.

Hemelvaart wil ons help om te verstaan wie ons is, en wat besig is om met ons te gebeur, en waarheen ons op pad is. Wat as ’n mens nie verstaan wie jy in Christus is nie, kan jy nooit voluit lewe soos jy behoort nie.

∙ As jy nie weet van die heerlike erfenis wat vir jou wag nie, as jy sonder hoop leef, raak jy moedeloos.
∙ En as jy nie verstaan dat God elke dag met al sy wonderlike krag in jou werk nie, lewe jy soos ’n sukkelaar en wurg aan die stukkie kaas, terwyl daar ’n feesmaal vir jou staan en wag.

Dis hemelvaart. Jesus is Koning. Hy regeer, en Hy kom weer! En Hy het sy Gees gestuur om in ons te woon en te werk, ons met hoop en krag te vul, sodat ons oorwinnend kan leef totdat Hy weer kom.

Amen.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings