Op 21 en 22 Op weg met hoop

Dis nogal merkwaardig dat hierdie woorde van ons teksvers die eerste woorde is wat God self in die boek Openbaring praat. En net soos die eerste keer wat ons God in die Bybel hoor praat, in Gen 1, is God hier ook weer besig om te skep. In Gen 1 het Hy alles deur sy magswoord tot stand gebring, en hier in Op 21 herskep Hy alles, maar Hy dit nuut.

Mense wonder nogal dikwels oor dié nuwe skepping, en vra dan vrae soos: “Hoe is die lewe na die dood vir die gelowiges?” “Sal ons mekaar herken?” “Hoe sal dit op die nuwe aarde lyk?” “Sal ons daar moet werk ook?” ’n Kind het gesê hy wil nie in die hemel wees nie, want almal daar is dood. Een ou (nie ’n kind nie!) het selfs gesê as dit die hele tyd in die hemel soos ’n kerkdiens moet wees en ons daar moet sing soos in die kerk en stilsit en so, dan wil hy liewer nie daar wees nie. Ek kan nou weer nie sê dat die singery vir my na ’n verskrikking klink nie!

Maar al dié vrae oor hoe dit in die nuwe skepping van God sal lyk en wees, bring ons nie regtig baie ver nie. Die Bybel sê immers in 1 Kor 2:9: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,” en wat in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet. Ons weet eenvoudig net nie hoe hierdie fantastiese nuwe skepping van God sal wees nie, behalwe dat dit vas en seker is (21:6 – Dit het klaar gebeur ) en dat dit onnodig is om jou daaroor op te werk soos die ou wat vrees dit sal soos een lang kerkdiens wees. Daar sal immers geen trane wees nie (21:4).

Die boek Openbaring lig die sluier vir ons so effentjies op. Maar omdat hy praat van ’n wêreld wat ons nie ken nie, kan hy die hemel nie presies vir ons beskryf nie, want ons het nie woorde vir wat in die hemel is nie. Ons taal skiet tekort as ons oor die hemel praat. Daarom moet ons verstaan dat wat hier staan, nie letterlik so bedoel word nie. Hy gebruik hy beelde om die hiernamaals mee te beskryf; beelde wat assosiasies by ons oproep; beelde om die heerlikheid wat vir ons na hierdie lewe wag, mee te beskryf.

Die eerste beeld wat ek wil uitlig wat Openbaring gebruik om die lewe hierna te beskrywe is ’n prysuitdeling. Op 21:7 sê: Elkeen wat die oorwinning behaal, sal dit alles kry, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees. Ag, die hele boek Openbaring is hiervan vol. Ek noem net enkeles:

  • 2:7 Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is.
  • 2:26 Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat Ek wil hê, sal Ek mag en gesag oor die nasies gee … Daarby sal Ek vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee.
  • 3:5 Elkeen wat die oorwinning behaal, sal wit klere dra, Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort.
  • 3:12 Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.
  • 3:21 Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos Ek ook die oorwinning behaal het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

Daar is natuurlik ’n verskil tussen God se prysuitdeling en ’n prysuitdeling soos by ’n skool bv. By ’n gewone prysuitdeling is dit net ’n paar wat met al die pryse wegstap. By God se prysuitdeling kry elkeen wat glo, die prys. Elkeen wat die oorwinning behaal, elkeen wat glo, elkeen wat volhard tot die einde toe!

Nog ’n beeld wat Openbaring hier gebruik, is dié van ’n bruilof. Op 21:2 praat van die nuwe Jerusalem wat soos ’n bruid is wat vir haar man versier is.

By ’n bruilofsfees is daar natuurlik nie plek vir hartseer en trane nie, of enige gebrek nie. (God) sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan. Daar is niks en niemand oud en op en afgeleef nie, want God sorg ook daarvoor, soos God self in vs 5 belowe: Kyk, Ek maak alles nuut. Wanneer die Here alles kom nuut maak, sal dit soos ’n bruilofsfees wees. Daar is vreugde en blydskap, daar is fees!

In 22:1-5 is nog ’n beeld: dié van die Tuin van Eden, die woonplek wat ons verloor het toe sonde in die wêreld ingekom het. Die boom van die lewe staan daar, en sy vrugte is vir ons almal. God se vervloeking is dan verby (22:3), spanning tussen mense is weg ((22:2 – genesing vir die nasies).

En in hierdie herstelde paradys kom wandel God nie net in die aandwindjie soos in die Tuin van Eden nie; nee, Hy is permanent daar. In 21:3 staan: God self sal by hulle wees as hulle God. Dit roep ’n ander assosiasie by my op: Kersfees. Dit is immers wat Kersfees volgens die Matteus- Evangelie is: God is by ons, soos Matteus in sy Kersverhaal geskryf het (1:24): Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem. Die naam beteken God by ons.

Hoekom vertel die Bybel ons hiervan? Om ons nuuskierigheid te bevredig? Om ons lus te maak?

Dalk dit ook, maar die eintlike rede is: om ons moed te gee. Om ons te laat vasbyt, te volhard (Rom 8:25). Friedrich Nietzsche het gesê: “He who has a why to live can bear almost any how.” Hierdie vertelling oor wat op ons wag, is die hoekom. Ons byt vas, omdat ons weet dinge sal nie altyd bly soos dit nou is nie. Daar wag iets onvergelykliks beter. Eendag sal ons by die Here wees in sy nuwe wêreld, sal ons Hom met ons eie oë sien, sal alle trane van ons wange afgedroog wees, sal ons nuutgemaak wees. Dit gee ons uitsig; verander die eindelose tonnel van die lewe wat voor ons uitstrek, omdat daar ’n lig anderkant skyn; omdat God daar is.

Die Bybel noem dit HOOP. Kom ons lewe dan met hoop!

Amen.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings