Hanna

Baie dinge het verander sedert sy die heel eerste keer saam met Elkana na Silo gekom het vir die Loofhuttefees. O, hulle kom steeds vir die hele week, en hulle bou nog altyd vir hulle takhutte om in te woon. Hulle neem nog altyd aan die verrigtinge deel en bring die voorgeskrewe offers met groot nougesetheid soos net Elkana dit kan doen.

Maar nou is daardie vrou by. En elke jaar nog ’n kind ekstra. Haar naam moes eerder Konyna gewees het, nie Peninna nie, want sy raak swanger as Elkana net na haar kýk.

“Dis jammer dat die fees maak dat Elkana nie by my mag kom lê nie,” sug Peninna en rek haar lui uit. “Hoekom is dit so dat ’n man onrein is as hy by sy vrou slaap, hè Hanna? Dis tog sy plig om by sy vrou te lê. Die Here het dan self gesê ons moet vrugbaar wees en vermeerder en die aarde vul. Dan kan dit tog nie verkeerd wees nie?” Sy sug weer gelate. “Ag ja. Maar sodra die fees verby is, moet hy by my kom slaap. Ek wéét sommer ek is reg om swanger te word.” Sy tik op haar buik. “Ja-nee, ek is gebóú om kinders te hê, dié is seker,” borduur sy voort, oënskynlik onbewus van die pyn wat haar woorde in Hanna se hart veroorsaak. Sy kelk haar borste – nog vol in die melk van die jongste telg, nou ’n jaar oud – met haar hande en sug: “Ek het genoeg melk vir ’n hele weermag. Elkana sê altyd ek moet vir hom ook ’n bietjie te drinke gee as hy by my kom lê, want dit sit die murg terug in sy pype.” Sy leun terug teen die paal agter haar rug en maak haar oë behaaglik toe. “Ag ja. Ek wens die fees is al om, dat Elkana ’n baba in my kan plant.”

Sy sit ’n rukkie so met oë toe, ’n salige glimlag om die mond. Dan vlieg haar oë oop en sy sit half verskrik regop, hand voor die mond. Kamma besorg vat sy aan Hanna se mou. “Ag, ekskuus jong, hier gaan ek aan oor babas en dinge, en jy het nog nooit enetjie gehad nie. Hoe ongevoelig van my. Ek hoop nie ek het jou seergemaak nie.”

“Nee,” jok sy en staan vinnig op. Sy sal nie haar trane sien nie! Maar buitekant die hut hyg sy van ontsteltenis. So ’n skynheilige klein vloek! Haar oë is blind van die trane toe sy tussen die feesgangers se blaarhutte deur na die veld loop. Sy wil net weg, weg van hierdie plek met sy feesvierings. Watter soort fees is dit as dit jou net hartseer maak? Watter soort God kom dien hulle hier as Hy so ongevoelig oor haar groot smart is?

Sy sluk hard om die bitterheid in haar mond weg te kry, maar dit bly in haar keel opstoot. Nog drie dae. Drie dae van hel voordat hierdie fees verby is en sy met haar lewe in Ramatajim kan aangaan.  Hoekom is die lewe so onregverdig? Sy sal ’n baie beter ma gewees het as wat daardie vrou ooit kan droom om te wees. Hoekom het Peninna die een kind op die ander, en sy moet dit sit en aanskou? Hoekom, hoekom, hoekom?!

Haar hand gly oor haar borste. Elkana drink graag aan haar óók, maar sy kon hom nog nooit met haar moedersmelk versterk nie. Haar borste is droog en leeg. Al waarvoor hulle deug is om haar man te plesier. Toe sy en Elkana nog alleen was, het sy gedink dis goed so. Die Here het hulle vir haar gegee om haar aantreklik te maak vir haar man. Maar noudat Peninna die een kleintjie op die ander het en sy sien hoe lustig hulle aan haar drink, kan sy nie meer haarself so troos nie. Borste is in die eerste plek daar om ’n kind te voed, maar nog nooit het ’n kindermondjie teen haar bors gelê nie.

Die son lê al laag in die weste toe Elkana haar daar in die veld kry. Hy lig haar ken met sy hand op sodat sy hom in die oë moet kyk. Sy stem is teer as hy vra: “Hoekom is jy dan so hartseer? Die fees was tog altyd vir ons ’n wonderlike tyd. Maar in die laaste tyd sien ek jou nooit meer glimlag as ons hier is nie. Ek sien net weemoed en trane in jou oë.”

“Ja, Elkana, wat weet jy?” dink sy bitter. Vandat Peninna in hulle lewe gekom het, is die offerfeeste in Silo vir haar een groot stuk hartseer, een lang uitgerekte herinnering dat sy kinderloos is. Sy kon dit nog op ’n manier hanteer dat sy haar man met daardie vrou moet deel, maar nou moet sy hom met ’n hele string kleintjies ook nog deel, en die stukkie wat vir haar oorbly, word al kleiner. Elke jaar as hulle die reis na Silo aanpak, is daar een mondjie meer om te voed in Peninna se kroos. En jaar na jaar buit Peninna elke moontlike en onmoontlike situasie uit om sout in haar wonde te vryf. Sy kan nie verstaan hoekom sy dit doen nie. Is dit nie vir haar genoeg dat sy vyf kinders vir Elkana gegee het terwyl sy wat Elkana se eerste vrou is kinderloos bly nie? Wat wil sy dan nóg hê?

Die jaarlikse optog na Silo wás altyd ’n kosbare tyd in haar lewe. Sy kon voel hoe die Here haar nuwe krag gee, en sy en Elkana het in dié tye lank en diep oor hulle verhouding met die Here gepraat. Sy het al so baie by hom geleer van geloof en hoe om elke dag voor die Here te lewe, en hoe die Here verwag dat jy teenoor jou medemens moet optree. Sy was gelukkig, al het sy maand na maand met teleurstelling wéér die bloed uit haar sien uitvloei. En toe Elkana later met Peninna trou om deur haar tog ’n erfgenaam te kry, was sy half verlig, want dit het die druk van haar afgeneem. Nie dat Elkana ooit lelik of ongeduldig met haar was omdat sy hom nie ’n seun kon gee nie, maar tog. Sy het geglo as Peninna eers ’n baba het, sal sy vervuld wees, want sy kon saam met Peninna bly wees oor die baba in hulle huis. Dat sy haar só lelik kon misgis!

Sy baklei met haarself, maar uiteindelik kan sy nie haar woorde keer nie. “Ek wil ’n baba hê,” sê sy sag. En toe – sy weet nie wat oor haar gekom het nie – gryp sy hom voor sy bors vas en ruk aan sy kleed. “Ek wil ’n baba hê,” skree sy half histeries in sy gesig. “Gee my ’n baba, of maak my dood! Ek wil nie langer leef sonder ’n baba nie.”

Saggies maak hy haar vuiste los waar hulle sy kleed vasgegryp het en druk haar arms om sy lyf sodat sy hom onwillig moet omhels. Hy druk haar teen hom vas en sê: “Dis mos nie vir my en jou om te besluit wanneer en of ons ’n baba moet hê nie, my Lief. Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie?”

***

Uiteindelik breek die laaste dag van die fees aan. Môre sal hulle genadiglik huis toe kan gaan.

Elkana lig die skottel met offervleis hemelwaarts. “Ons dank U, Here God, gewer van alle goeie gawes, dat U ons ook hierdie jaar geseën het sodat ons so saam kan wees om u goedheid te prys. Dankie dat ons nie meer swerwers in die woestyn is nie, maar dat U ons hierdie wonderlike land geskenk het as ’n blywende besitting. En dankie dat ons as ’n gesin saam hierdie offermaal in u teenwoordigheid mag geniet.”

Gesin! skreeu dit in haar binneste. Húlle is ’n gesin, maar sy is nie deel daarvan nie. Sy is ’n droë tak, onvrugbaar!

Na sy gebed deel hy die offervleis uit. Toe Peninna die skottel uit sy hande neem, glinster haar oë. Sy beduie na die bakkie met die enkele porsie vleis op wat haar man vir Hanna gegee het. “Is dit dan al wat sy van die hele offer kry?” vra sy met ’n pruilmond. “Siestog, Hanna, kan ek nie vir jou van my kinders se vleis gee nie?”

Hanna byt op haar tande om nie te gil nie, en antwoord dan so bedaard soos haar stukkende gemoed haar toelaat: “Dankie, maar dis nie nodig nie. Ek het genoeg.” Met teleurstelling hoor sy hoe haar stem bewe. Sy wil nie hê Peninna moet agterkom hoe seer sy is nie, maar die triomfantelike trek in Peninna se oë sê alles. Peninna wéét hoe haar hart pyn, en sy geniet elke oomblik daarvan.
Sy neem ’n happie van die offervleis, maar dit bly dik in haar mond. Uiteindelik wurg sy dit af en voel hoe die naarheid haar keel toetrek. Sy voel Elkana se hand op haar arm. Sy stem is oneindig teer as hy sê: “Moenie huil nie, Liefie.”

Toe kom die trane éérs.

“Mamma, hoekom huil tannie Hanna dan so?” vra Admael, Peninna se oudste.

“Nee, my ou grootman, ek verstaan dit ook nie,” antwoord Peninna, maar haar vermakerige glimlag vertel ’n ander storie.

Skielik is alles net te veel vir haar en sy storm by die blaarhut uit. Sy wil net wegkom, weg van daardie nare vrou, weg van die kindertjies se vraende ogies, weg van Elkana se teer blik. Maar hierdie keer loop haar voete nie veld se kant toe nie. Toe sy haar weer kom kry, staan sy voor die gebou waar die ark van die Here is. Die soet geur van wierook nooi haar in, en sy strompel oor die drumpel en val op haar knieë neer. Sy kniel woordeloos net binne die vertrek, terwyl die snikke deur haar lyf ruk. Na ’n lang ruk, toe haar snikke begin bedaar, bid sy. Sy stort haar hart voor die Here uit. Sy vertel Hom van haar begeerte om ’n baba te hê, en van Peninna se spot, en van Elkana se liefdevolle ondersteuning, al verstaan hy so min van haar seer.

Nadat sy dit alles vir die Here vertel het, kyk sy op, reg in die geel vlammetjie van die lamp van God, en dit word warm in haar hart. Met nuwe moed bid sy verder: “Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my ’n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie.”

’n Vreemde vrede kom lê in haar hart, en sy koester dit. Sy bly net so op haar knieë. Sy wil nie opstaan nie, bang dat haar vrede hier in die skemerte van die huis van God sal agterbly. Dan voel sy ’n hand op haar skouer, en dié trek haar ru op. “Hoe lank wil jy dronk bly? Loop word eers nugter voor jy die huis van die Here kom besoedel!”

Sy kyk verskrik op, vas in die hoëpriester Eli se streng gesig. “Nee, Eerwaarde, ek is nie dronk nie. Ek is maar net baie diep terneergdruk. Ek het my hart voor die Here uitgestort.” En toe sy oë streng bly, voeg sy by, dringend: “Moet tog nie dink ek is ’n slegte vrou nie, Eerwaarde! Dis oor my groot smart en leed dat ek so lank bly praat het.” Dis skielik vir haar baie belangrik dat dié waardige ou man haar sal glo.

Hy kyk haar op en af, en glimlag dan met haar. “Wees gerus en gaan nou maar, my dogter. Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het.”

Dis asof die son vir haar deurbreek, en sy prewel dankbaar: “Mag dit vir my wees soos u sê.”

Toe sy by hulle hut kom, is sy skielik honger. Sy maak haar porsie van die offervleis oor die vuur warm, en terwyl sy dit eet, begin haar hart sing. “Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het,” klink dit jubelend in haar ore.

***

Die volgende week is baie bedrywig. Die reis terug na Ramatajim neem ’n volle dag, en tuis is daar ’n honderd-en-een dinge wat moet aandag kry. Maar vir die eerste keer sedert Peninna op die toneel verskyn het, is Hanna nie emosioneel gedaan na die fees nie. ’n Glimlag bly huiwer om haar mondhoeke, totdat Elkana later opmerk: “Watter geheimsinnige saak amuseer jou so, Lief?”

Maar sy sê hom niks. Hy kan maar wag en sien wat gebeur.

Aan Peninna steur sy haar nie juis nie. Gelukkig woon hulle nie in dieselfde huis nie, sodat sy nie aldag en heeldag in haar hoef vas te kyk nie. Dis net saans wat hulle almal saam eet, maar dan is Elkana by en waag Peninna dit nie om haar steke te gee nie.

Drie weke later raak sy bewus van ’n swaar gevoel in haar buik, en ’n skielike angs pak haar beet. Dis weer tyd dat sy aan die bloei moet gaan, en soms voel dit presies net soos nou, besef sy benoud. Het die Here haar wéér in die steek gelaat? “Asseblief, Here God, moet my tog net nie nou los nie!” prewel sy oor en oor.

Sy wag ’n hele week gespanne op die eerste rooibruin vlekkies op haar klere. Elke oggend wat sy opstaan en steeds nie ’n teken van bloed gewaar nie, word die opgewondenheid in haar groter, totdat dit later vir haar voel sy gaan oopbars as sy die geheim langer vir haarself hou.

Toe sy later twee weke oor haar tyd is, wéét sy sy is swanger. Sy stap na die put waar Elkana besig is om die kleinvee te laat suip. Dit voel vir haar sy sweef, so gelukkig is sy.

Hy kyk verras om toe sy by hom kom en hom van agter omhels. “Dis nou ’n aangename verrassing,” glimlag hy, maar frons dan dadelik as hy vra: “Of is daar dalk iets verkeerd?”

“Nee,” stel sy hom gou gerus. “Ek het net ’n groot guns kom vra.”

“Enige iets vir die vrou van my hart.”

“Ou vleier!” Maar dan, met ’n vonkel in die oog, vra sy ernstig: “Sal jy omgee as ek nie volgende jaar saamgaan Silo toe vir die offer nie?”

“Ag nee,” sê Elkana, ineens ongelukkig. “Jy weet mos dis ’n familiefees en ek wil hê ons moet dit almal saam vier.”

“Peninna is nie altyd by nie,” kap sy teë en moet haarself dwing om nie te glimlag nie.

“Die keer of wat wat sy gemis het, was dit omdat sy ’n baba gehad het om te versorg, en jy weet dit baie goed.” Sy gesig is een groot vraagteken. Hy is nie gewoond dat sy hom met verkeerde sake pla nie.

“O,” sê sy en druk haar vuiste in haar sye, “as Peninna ’n babatjie het, mag sy hier bly, maar ek moet maar net altyd saamgaan, of ek nou ’n baba het of nie. Is dít hoe dit werk?”

“Wil jy vir my sê …?”

Sy kry nie geantwoord nie, want die volgende oomblik tel Elkana haar in sy arms op en draai met haar in die rondte. Toe hy haar weer neersit, doen hy dit versigtig, asof hy ’n kosbare vrag neersit. “Ek … Ek is bly,” is al wat hy uitkry, maar dis oorgenoeg, want die trane in sy oë sê meer as wat ’n duisend woorde kan.

  • Jy kan hierdie verhaal – en sy uiteinde – lees in 1 Samuel 1.
image_pdfimage_print

One Response to “Hanna

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings