Hebreërs 3:14 Keuses

Heb 3:7-19

Ek het as kind in die Transkei gewoon het, waar my pa sendeling was. En daar was baie lidmate in sy gemeente wat nie kon sê hoe oud hulle is nie. Hulle het nie hulle geboortedatum geken nie. Hulle het nie eens geweet hoe oud hulle was nie. Maar dit was nie vir hulle belangrik nie. Wat vir hulle belangrik was, was die feit dat hulle gesond is en lewe. Presies wanneer hulle gebore was, dit was nou nie eintlik so belangrik nie. Dit is immers nie nodig om jou geboortedatum te ken om te weet jy lewe nie!

Is dit nie ook maar waar van ons geestelike lewe nie? Nie die vraag: “Presies wanneer het ek ’n kind van God geword?” nie, hoewel dit natuurlik goed is om dit te weet. Maar dit is tog nie die noodsaaklike vraag wat ons moet kan beantwoord nie. Die vraag wat ons moet kan beantwoord, is: Is ek vandag ’n gelowige? Beteken dit vandag vir my iets dat ek aan God behoort? Is Hy vandag vir my ’n werklikheid?

Presies hieroor handel dit ook in ons gelese gedeelte. Dit gaan hier om die belangrikheid van vandag in jou lewe, die belangrikheid daarvan om elke dag as gelowige te lewe. Nie minder as 3 keer nie herhaal hy die woordjie vandag:

Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie … (7,8)
Maar solank daar nog ’n vandag is, moet julle mekaar elke dag aanspoor … (13)
Vandag as julle sy stem hoor … (15)

Hoekom lê hy soveel klem op vandag? Omdat vandag verbygaan, omdat die tyd ’n mens kan inhaal, omdat uitstel daartoe kan lei dat dit afstel word, en so gebeur dit, voor jy jou oë uitvee, dat genadetyd verbygaan. Eendag mag daar dalk nie meer ’n vandag oor wees nie.

Dit gaan in hierdie vandag om die beslissende betekenis van elke nuwe dag, elke nuwe situasie, elke nuwe oomblik in die lewe van Christenmense, vir ons verhouding met God. Dit is nie genoeg om te kan sê: Ja, ek het die Here aangeneem, destyds, op skool, in standerd sewe op die CSV-kamp of wat ook al nie. Dit is nie genoeg om net te kan sê: Ja, eens op ’n tyd was ek tog ernstig met die kerk, was ek aktief betrokke by Christelike werksaamhede, was ek nogal entoesiasties oor dissipelskap nie. Natuurlik is dit goed as ’n mens dit ook kan sê, as daar ’n tyd in jou lewe ’n geestelike oplewing was, ’n tyd van ernstige toewyding en verdieping. Dit kan selfs goed wees om ’n spesifieke datum te hê waarop ’n mens vir die eerste keer tot egte geloof gekom het.

Maar, en dit is die punt wat die skrywer vir ons onderstreep: dit is nie genoeg nie! Dit is ook nie die belangrikste vraag nie. Die belangrikste vraag is: Wat van vandag? Het ek vanoggend my lewe aan Hom gewy? Behoort ek vandag aan Hom, dien ek Hom nóú, in die hede, in my lewe, in my betrokkenheid die gemeente, in my verhoudings, in my huwelik, in my gesin, in die opvoeding van my kinders, in my werk, in my keuses, in my lewenswaardes, in my gesprekke, in my najaag van belange, in my politieke prioriteite? Behoort ek vandag nóg aan die Here?

In die lewe voor die Here is daar nie plek vir ontspan en agteroor sit nie. In ons lewe voor die Here help dit jou nie om jou te beroep op jou destydse bekering en jou destydse geloof, en meen dit sal genoeg wees om jou huidige gebrek aan toewyding uit te kanselleer nie. Vir die Hebreërskrywer is dit juis die dodelike erns van ongeloof. Die geloof is ’n pad, en ’n mens moet daarop bly, saam met die Godsvolk, deur die woestyn, op weg na die belofte, anders val jy uit.

Dit is waarteen die skrywer hier waarsku. Daarom vra hy uitdruklik in vers 16 wie dit was wat aanvanklik “gehoor” het en tog later in die woestyn omgekom het, en antwoord dan self: Was dit nie hulle wat oorspronklik onder leiding van Moses opgetrek het en dus gered is uit Egipte nie? Mense wat dus kon terugkyk na ’n tyd in hulle lewe toe hulle naby God was!

’n Goeie begin is nog geen waarborg nie! Daarom sê hy in vs 14: “Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.” Die volhou elke dag is belangrik. Vandag is die belangrikste.

Ek dink nie ons besef elke dag goed hoe belangrik, hoe beslissend, die dinge is wat ons doen of sê of kies nie. So verwys die Hebreërskrywer in 13:2 bv amper terloops na mense wat gasvry was en, sonder dat hulle dit besef het, engele as gaste gehuisves het! Só het die ryk man elke dag by Lasarus verbygeloop, sonder om te weet hy stap elke dag eintlik by God verby!

Die dae, elke dag, elke oomblik, is belangriker as wat ons dink. Dit is vol keuses wat ons maak, vir of teen God. Geloof is om elke dag te volhard, tot die dag dat ons woestynreis deur hierdie wêreld verby is. Want dan, so sê die Here Jesus, sal ons hoor (Matt 25:21): “Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!”

Maak dít nie die aanhou oor en oor die moeite werd nie?

Amen

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings