Mark 12:41-44 Dankbaarheid

Mark 12:41-44

Hoekom sal ’n brandarm weduwee haar laaste bietjie geld vir die kerk gee? Hoekom gee jý geld vir die kerk?

’n Diaken vertel my hoe hy destyds vreeslik met ’n spesifieke lidmaat gesukkel het, want dán was hy nie by die huis nie, of hy het toevallig nie geld in sy beursie nie, of ’n ander verskoning. Maar op ’n dag trap die diaken die lidmaat vas en sê hy gaan nie loop voordat die lidmaat sy bydrae gee nie. Toe haal die man sy beursie uit, vat ’n munt en skiet dit oor die tafel na die diaken en sê: “Dè, vat die geld en loop!” Die diaken was al moeg vir die man se dinge. Hy vang toe die geld en skiet dit na die lidmaat terug en sê: “As dít jou dankbaarheid teenoor die Here is, wil ek dit nie hê nie.” Toe draai hy net daar om en loop. Laat die aand, toe hy van sy rondtes by sy huis kom, sit die man hom en inwag, in trane. Hy sê hy het nooit besef dat die geld iets sê oor sy dankbaarheid nie.

Ek wonder wat die mense gedink het wat hulle geld by die tempel in die skatkis gegooi het. Destyds het daar ’n priester by die kis gesit, en elke bydrae beoordeel. Dié wat baie gebring het, is hemelhoog geprys. Soms is die groot bydrae selfs met trompetgeskal ontvang. En as die bydrae volgens die priester nie watwonders was nie, is die persoon behoorlik die kop gewas.

Jesus roep sy dissipels, en ons, om saam met Hom óók by die skatkis te gaan sit en kyk. Ons sien hoe die rykes baie kom ingooi, en ons hoor hoe die priester hulle prys. En dan, terwyl ons nog so kyk, kom ’n versukkelde weduwee daar aan. Sy het twee geldstukkies in haar hand. Dit was baie min werd. Sy bring dit huiwerig, want sy wéét dit is omtrent niks. Maar sy bring dit ook met trots, want sy gee dit vir die Here, uit dankbaarheid vir sy sorg.

Ek sien sommer hoe die priester sy bolip smalend optrek vir dié onbenullige bydrae. Alles in die lewe word mos gemeet aan die geldwaarde daarvan. Hoe groter die waarde, hoe beter; hoe duurder, hoe beter; hoe spoggeriger, hoe beter. Die versoeking is groot dat ons hier in die kerk óók so oor mense en hulle bydraes dink. ’n Vername, welgestelde lidmaat se stem tel eenvoudig meer as ’n eenvoudige lidmaat wat nie veel het om by te dra nie. Ons sal so ’n lidmaat eerder in ag neem as die arm lidmaat sonder status.

Ek sien Jesus se hartseer uitdrukking as Hy die priester se afkeuring beleef, en veral as Hy die vroutjie sien, hoe sy ineenkrimp onder die priester se afkeur. Ek sien Hom in my geestesoog, hoe Hy opstaan en die vrou om die skouers vat, vir haar dankie sê dat sy dit vir sy Vader gegee het; hoe Hy die vrou haar menswaardigheid teruggee in ’n omgewing en ’n sisteem waar alles dit uitskreeu dat sy nie waardig is nie.

Jy sien, God kyk anders na ons en na dinge, en ons moet by Jesus leer om soos Hy te kyk. God skeer ons nie almal oor dieselfde kam nie. God druk ons nie almal in dieselfde boksies nie; Hy verwag nie van ons almal dieselfde nie. Dis tog wat die gelykenis van die goue muntstukke ons leer. Van een verwag Hy vyf, van die ander een twee, en van nog een net een.

Dit is vir my baie interessant dat die Here Jesus nie vir die vroutjie voorkeer en sê Hy weet sy het net die twee geldstukkies en dat sy die een vir haarself moet hou nie. As jy jou offer vir die Here bring, gaan Hy dit ontvang in dieselfde gees as wat jy dit gee: met dankbaarheid.

Daar is nog iets wat ons in hierdie toneel moet raak sien, en daarmee sluit ek af. Die vrou het alles wat sy gehad het, gegee. Sy het haar beursie letterlik omgedop, in die geloof dat God vir haar vorentoe sal voorsien. Met jou dankoffer soek jy nie agterdeure en uitkomkanse nie. Lees gerus wat Dawid hieroor sê in 2 Sam 24:24: “Ek bring nie offers aan die Here wat my niks kos nie.” ’n Dankbare mens offer tot dit seermaak, tot jy dit voel. ’n Dankoffer is nie oorskiet, iets wat jy bring omdat jy daarsonder kan klaarkom nie. Dit is jou beste wat jy weggee vir God, of dit nou ’n paar sent of ’n paar duisend rand is. En God ontvang dit van jou, omdat Hy jou hart ken. Want uiteindelik is die dankoffer wat ons bring, maar net die een kant van ons offer, die sigbare kant van ’n lewe, ’n hart, wat jy aan God weggee.

Wat ’n voorreg om jouself só volledig op God te werp!

Amen.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings