Raaiselagtige beeld

Laat ek dit maar reguit sê: ek verstaan God nie aldag nie. Ek verstaan nie hoe Hy met mense werk nie; hoe Hy met sy eie kinders werk nie, mense wat Hy liefhet. Hoe kan Hy dan toelaat dat slegte dinge met sy kinders gebeur? Hoekom bly Hy soms stil as hulle in hulle nood na Hom toe vlug en soebat en smeek om uitkoms, om ‘n antwoord? Jesus het ons tog Self genooi om te vra, en vir ons sal gegee word (Lukas 11:9-10). Hy het vir ons die gelykenis vertel van die weduwee en die onregverdige regter, om te sê God is nie soos die onregverdige regter nie, ons hoef nie gedurig in sy ore te kerm nie, want Hy weet wat ons nodig het nog voordat ons vra (Lukas 18:1-8).

Dis dán dat ek verleë staan voor mense wat vrae vra oor God se voorsienigheid, want ons mooiklinkende antwoorde dat God weet wanneer die regte tyd is, of dat Hy soms nee sê omdat Hy iets beters vir jou in gedagte het, of dat Hy soms wag-‘n-bietjie antwoord – ons blink gepoleerde antwoorde klink maar bra hol as jy iemand wat diep teleurgesteld is in die manier waarop God nié sorg nie, moet troos. Dan het ek, die man wat veronderstel is om die Bybel te ken en God se paaie te kan wys vir mense, nie antwoorde nie. Dan huil ek maar saam met mense oor hulle teleurstellings en sê simpel goed soos dat ons nie God se weë kan verstaan nie.

Hoe wens ek nie ons kon Hom en sy weë verstaan het nie! Hoe wens ek nie ons kon iets van sy Goddelike logika begryp het! Maar helaas, ek sit ook maar met die vrae. Een troos het ek darem, en dit is dat groter teoloë as ek ook oor dié goed gewonder het. Selfs die apostel Paulus skryf in 1 Kor 13:12 dat ons nou nog in ‘n dowwe spieël kyk en ‘n raaiselagtige beeld sien; dat ons eendag in die hiernamaals eers alles sal verstaan. Dan sê ek vir myself, as ‘n man soos Paulus ook nie alles kon verstaan nie, hoekom sal ek?

Maar watter troos bring ‘n mens vir iemand wat moedeloos op uitkoms gebid en gewag is?

Dít: dat God se weë, onbegryplik soos dit ook al mag wees, tóg sin maak vir wie aan Hom vasklou, selfs in die donkerste dieptes. Want die swaarkry wat ongevraagd oor ons pad kom, wat God toelaat in ons lewe, al het Hy dit nie noodwendig gestuur nie, dié einste swaarkry word in God se hande ‘n instrument waardeur Hy ons vorm en verander om al hoe meer soos sy Seun te lyk (vgl. 2 Kor. 3:18). Deur ons swaarkry word ons op ‘n manier ingebind in Jesus se lyding, kry ons deel aan Hom, in só ‘n mate dat dit iets is wat Paulus selfs begeer (Fil. 3:10)!

Geen wonder nie dat mense wat só met God worstel, geestelik groei. Ek sien dat mense wat swaarkry, ondanks hulle vrae en frustrasies nader aan God groei – mits hulle natuurlik mét God worstel, en nie die rug op Hom draai nie. Op ‘n manier wat ek nie verstaan nie, is dit régtig so dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet (Rom 8:28). So verander ons wonder oor dié dinge uiteindelik in verwondering oor God.

Mag ek en jy elke dag nader aan God groei, en ook groei in verwondering!

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings