Hebreërs 12:1-3 Hoe haal ek die eindstreep?

Heb.12:1-3

Dis ’n pragtige beeld wat die Hebreërskrywer vir ons oproep in hierdie paar verse: die beeld van ’n Olimpiese Spele. Die mense van destyds was oor atletiek so gaande soos ons vandag oor rugby is. En nou beskryf hy vir ons die stadion, die skare wat gepak sit om te kyk, en die deelnemers.

En hy sê: ons, die Christene, is almal deelnemers in hierdie groot spele. Ons hardloop in die wedloop van die lewe. En op die pawiljoen sit die groot sporthelde van die verlede, die geloofshelde, om ons aan te moedig. Hulle roep daar van die pawiljoen af: Hardloop! Byt vas! Hou moed! Ons het dit gemaak, jy kan ook! Moenie moeg word en tou opgooi nie!

Dit laat my so dink aan my eie atletiekdae in die laerskool. ’n Mens doen seker altyd jou bes, maar as jou pa langs die baan staan en kyk en jou aanmoedig, dan probeer jy nóg harder. En so, sê die skrywer, is die geloofshelde van die Ou Testament ook langs die baan van die lewe om ons aan te moedig en te inspireer.

Maar dan skuif sy blik weg van die skare na die atlete self, en hy noem 3 vereistes waaraan elkeen van die deelnemers moet voldoen om te kan hardloop:
1. voorbereiding
2. vasbyt
3. fokus

1. Voorbereiding
Enige atleet wat sukses wil behaal, weet hoe noodsaaklik goeie voorbereiding is. Liggaamlik moet jy jou voorberei – ’n vet ou sal nie baie vr kom nie – maar jy moet ook die regte klere aanhê. ’n Mens kan tog nie met ’n lang jas of swaar stewels hardloop nie.
Só, sê hy, moet ons ons ook voorberei en elke las, elke stukkie onnodige bagasie, van ons afgooi. Dit is dinge wat nie as sodanig noodwendig sonde is nie, maar wat tog sonde kan word, omdat dit ons vordering op die geloofspad aan bande lê. Dinge soos my werk, my geld, my vriende, my aardse goed, wat só swaar kan begin weeg in my prioriteitslys dat ek nie meer vry is om te hardloop nie.
En dan praat hy ook nog van die sonde wat ons so maklik verstrik (of pootjie). Daar is niks wat mens só kan terughou in die wedloop van die geloof nie, as sonde – sonde wat ons vertroetel en nie mee wil breek nie – dit verstrik ons! As ons wil deelneem, sê die skrywer vir ons, moet ons goed voorberei wees en elke las afgooi.

2. Vasbyt
Hy noem dit hier volharding. U weet almal wat met die hasie gebeur het in sy wedloop teen die skilpad. Of dink maar wat met iemand soos Bruce Fordyce in die Comrades sal gebeur as hy halfpad besluit: Nou is ek moeg. Nou rus ek eers ’n bietjie. Sy spiere sal styf word – en afgesien daarvan dat hy kan vergeet om te wen, sal hy waarskynlik nie eers klaarmaak nie. Daarom staan hier: Ons moet met volharding, met deursettingsvermoë, hardloop. Wanneer ’n mens gaan staan om te rus, wanneer ’n mens eers ’n bietjie jou ywer bêre omdat jy voel: ek het nou eers genoeg gedoen vir die kerk of vir die Here, dis dan dat jy begin moeg en moedeloos word en uitsak. Want dit is natuurlik minder inspannend om op die kant te staan en kyk as om te hardloop, en as jy eers van die baan afgestap het, sukkel ’n mens om jouself weer sover te kry om verder te hardloop.

3. Fokus
Daar is nog ’n vereiste: Jy moet konsentreer! Ek onthou nog ons onderwyser wat gesê het: Moenie rondkyk as jy hardloop nie! Kyk na die wenpaal! (archegon) En dit sê die skrywer hier ook: Die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Die Here Jesus is as ’t ware die wenpaal. Kyk na Hom. Moenie rondkyk nie! As ’n mens bestuur en in die pad kyk, is die kans gering dat jy ’n ongeluk sal maak, en jy sal waarskynlik jou bestemming bereik. Maar as jy begin rondkyk, ry jy maklik van die pad af. En dit is dikwels ook ons probleem. Ons kyk rond, en dan sien ons die verleidinge van die sonde raak, en val vas in die sonde. Of ons sien hoe ander mense moeg raak en tou opgooi, en dan hou ons ook sommer op om te probeer. Die Bybel sê: Moenie rondkyk nie, kyk voor jou op die baan, kyk na Jesus!

Want Jesus is nie net die wenpaal nie, maar ook ons inspirasie (teleioten). Hy is immers die Een by uitnemendheid wat die Wedloop met volharding gehardloop het en tot die einde toe volgehou het. Ongelukkig is dit nie so duidelik uit ons vertaling nie, maar dieselfde woord volharding waartoe ons in vs 1 opgeroep word, word gebruik in vs 2 en 3 vir die manier waarop Christus die pad voor ons uitgeloop het. Hy het die kruis verduur (vs 2) en die vyandige optrede van sondaars verdra (vs 3).

In Rom.15:1-6 skryf Paulus pragtig hieroor en noem God daar die Bron van alle standvastigheid (=volharding) en bemoediging, en in 2 Tes.3:5 sê hy: Mag die Here julle gedagtes rig op die liefde van God en die volharding van Christus!

Daarom sê die Woord: Ons is nie alleen op die baan nie. Die Here is ook op die baan – Hy het dit al voor ons gehardloop en Hy hardloop elke dag saam met ons om ons aan te spoor en te versterk, sodat ons die wedloop kan voltooi. Moenie rondkyk en moedeloos word nie. Kyk na Jesus! Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

’n Mens se eie ingesteldheid het ’n baie groot invloed op jou prestasie. As ’n mens vooraf besluit: Dis darem baie erg!, dan ís dit baie erg. Ek kry die idee dat so baie van ons die stryd verloor lank voordat ons begin. Ons is só hard aan die sukkel met ons eie geestelike stryd en so besig, dikwels, om onsself te bejammer, dat ons baie naby aan moedverloor is. Pleks van opkyk – dan sal ons sien die wenpaal is net hier voor!

Maar verder nog: Baie van ons is dikwels so hard besig om te stry dat ons nie eens agterkom dat die Here by ons is om ons te help nie. Soos my ouma met die fiets …

Die Here wil nie dat ons alleen sal aansukkel nie. Hy wil ons help en die krag en moed gee. As ons net bereid is om op te kyk en dit te aanvaar!

Amen.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings