Om na te dink oor God se goedheid

Die woorde van Dawid in Ps 27:4 bly die laaste ruk in my gedagtes draai: “Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag: dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe en daaroor na te dink in sy tempel.” Miskien het Paulus dié woorde van Dawid in gedagte gehad toe hy in Fil. 4:8 geskryf het: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is , alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig,” of soos hy dit in Kol. 3:2 stel: “Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is …”

In ons moderne, gejaagde lewe is Dawid se versugting baie tydig. Sonder nadenke oor die goedheid van God, of dan die bekoorlikheid, die skoonheid van God (as ons meer letterlik vertaal) kan ons godsdiens maklik vervlak in ’n saai pligpleging sonder enige persoonlike verhouding met God, sonder verwondering, iets wat ons vinnig wil afhandel sonder om ons daarin te verdiep.

Die Hervormers se groot vraag was: “Hoe kry ek ’n genadige God?” Vir hulle was die skuld-vraag die heel belangrikste van almal, en hulle was waarskynlik reg, want solank ons skuld tussen ons en God staan, sal ons nie by Hom uitkom nie. Maar geloof gaan nie net om die skuld-vraag nie, want dit kan daartoe lei dat ons net met ons sonde besig bly, en ons vergifnis, en ons nie verder kom as sondebelydenis nie.

Nadenke oor die goedheid van God is iets heeltemal anders. Dit dwing ons om tyd te maak om oor God self na te dink, nie net oor wat ons van Hom kan kry nie, maar ook Wie Hy is.

Wie is Hy vir jou? Dit is die vraag waaroor jy en ek helderheid moet kry. Want Hy is veel meer as net die Een wat ons skuld vergewe. Hy is die lig, die bron van die lewe, die fontein waaruit alles wat goed is, vloei; Hy is liefde, Hy is kunstenaar by uitnemendheid, Hy is vol verrassings …

O, dat ek my lewe lank mag nadink oor God se skoonheid en goedheid!

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings