’n Liefdelose God?

Anderdag op RSG se Praatsaam-program het ’n ateïs kans gekry om sy mond uit te spoel oor alles in die Bybel wat vir hom belaglik is. Hy het glo die Bybel deurgelees en tot die slotsom gekom dat die Bybel vertel van ’n liefdelose, wrede God (in Wie hy natuurlik nie glo nie).

Ek het nie die hele gesprek geluister nie. Ek het net die laaste kwartier gehoor, maar ek kon daarin dieselfde argumente hoor wat ateïste oor en oor herhaal, onder andere dat hy Christene en hulle geloof respekteer en vra dat ons sy nie-geloof moet respekteer. Maar in dieselfde asem maak hy wat ons glo, af as belaglik (sy woord).

Maar dit daar gelaat. Ek het weer gedink oor die stelling dat God ’n liefdelose, wrede God is. Hy het onder andere na Openbaring verwys toe hy dit gesê het. En dit is waar: daar ís baie meer geweld in die Bybel as waarmee ons gemaklik is. Ons lees van oorloë en die banvloek en wraak, dikwels in die Naam van God en in opdrag van God. Hoe moet ons daaroor dink?

Ek wil begin deur te sê: Dis natuurlik maklik om in jou lugversorgde kantoor te sit en dan baie stellig te wees oor iets wat geskryf is in ’n tyd waarvan jy min of niks weet. Die lewe voor die moderne era wás eenvoudig baie meer gewelddadig as waarmee ons sal kan saamleef. Lewens was goedkoop. Maar dit was so ter wille van oorlewing. Krygshere het ’n skrikbewind gevoer en mense sonder ’n greintjie genade aan sy mag onderwerp. Dís byvoorbeeld die wêreld waarin koning Dawid die Koninkryk van Israel moes stabiliseer. Dis die wyse waarop die Romeine die destydse wêreld onderwerp het. Van Jesus se twaalf dissipels het net Johannes ’n natuurlike dood gesterf; die ander is almal deur die Romeine doodgemaak.

Dis in só ’n klimaat wat die Bybel geskryf is en waarin die geloof beskerm en uitgebou moes word. As Dawid nie geveg het soos hy geveg het nie, sou die volk Israel heel moontlik ophou bestaan het, sou daar nie ’n koninkryk tot stand kon kom waarin die geloof beskerm en uitgebou is nie.

Tog teken die Bybel nie net ’n prentjie van geweld, van moord en doodslag nie. Die lyn van God se protes dat sy wêreld só geword het, loop reg deur die Bybel. In die Noag-verhaal staan dat die geweld en korrupsie God diep gegrief het (Gen 6:6). God weier dat Dawid vir Hom ’n tempel bou, juis omdat hy te veel bloed vergiet het (1 Kron 22:8).

Dit het die Godsvolk lank gevat om dit te verstaan. As die hele wêreld van geweld leef, ís dit moeilik om jou daarvan los te maak. Maar geleidelik het die wete tog gegroei, en toe Jesus gekom het om God se bedoeling aan ons bekend te maak, kon die kerk dit nie meer misverstaan nie: dat God liefde wil hê en liefde eis. Dit moet gelowiges se kenmerk wees, sê Jesus (Joh 13:35). Dis ook hoe Hy ons voorgeleef het. Johannes het dit goed verstaan, want later in sy brief skryf hy dat God liefde is (1 Joh 4:7-8). Trouens, Jesus se koms na die wêreld was op sigself een groot stuk protes van God teen die geweld van die wêreld (Joh 3:16).

Dis danksy die Evangelie, danksy Jesus se boodskap, dat ons samelewing vandag op ander waardes gebou is as die samelewing van destyds. Dit is omdat die kerk uiteindelik, ná eeue, God se hart oor dié saak verstaan het, dat ’n ateïs vandag die luukse het om sonder vrees vir geweld sy gal te kan braak.

Ek het ook die Bybel deurgelees, van Genesis tot Openbaring, en die God wat ek in die Bybel leer ken het, is nie ’n gewelddadige God nie, maar ’n God wat my só liefhet dat Hy alles gegee het sodat ek met Hom versoen kan wees en sy liefde vir my kan beleef.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings