1 Pet 1:17-23 Losgekoop deur Christus

1 Pet 1:17-23

Ek dink om goed te verstaan wat die Here in hierdie gedeelte vir ons wil sê, moet ons eers weer ons gedagtes verfris oor wat ’n slaaf is. Waaraan dink julle as julle die woord slaaf hoor?

’n Slaaf was ’n besitting wat jy gekoop het, soos wat jy vir jou ’n perd sal koop om mee te ry, of ’n motor vandag. So het ’n mens in daardie dae ook slawe gehad wat vir jou moes werk. Hulle het aan jou behoort, en moes alles doen wat jy sê. Hulle was nie vry om te gaan waar hulle wil, of te doen wat hulle wil, of te trou of so nie. Hulle moes altyd by hulle baas bly en alles doen wat die baas sê.

’n Tyd gelede het ek hierdie verhaal gehoor:
Op ’n keer, terwyl pres. Abraham Lincoln van Amerika deur die land gereis het, kom hy in ’n dorp met die naam Charleston in die staat Suid-Carolina. Terwyl hy so deur die middedorp stap, kom hy op ’n slaweveiling af. ’n Mens kan jou dit amper nie indink hoe dit moes gewees het nie. Mense het op die slawe gebie, soos boere vandag nog op veeveilings op skape en beeste bie om hulle te koop. Die hele veiling waar die arme slawe soos diere uitgestal en verkoop is, het die Amerikaanse president diep ontstel. En toe doen hy ’n baie ongewone ding. Hy stap nader en terwyl die mense bie op ’n slavinnetjie, begin hy saam te bie. Dit was die een bod teen die ander, en die prys het opgegaan en opgegaan, totdat dit later baie hoër as gewoonlik is. Maar Lincoln het nie opgehou nie, totdat die bod uiteindelik op hom toegeslaan is.
Hy het betaal, en toe die meisie na hom gebring is, het sy senuweeagtig vir hom gevra wat hy van plan is om met haar te gaan doen. “Ek gaan jou vrylaat,” het Lincoln tot haar verbasing gesê.
“Vry? Vry om wat te doen?” wou sy verbaas weet.
“Wel, vry om te maak wat jy wil,” het hy geantwoord.
“Beteken dit ek kan gaan waar ek wil?” vra sy.
“Ja!”
“Sê wat ek wil en wees wat ek wil?”
“Ja!” het Lincoln haar elke keer verseker.
Die slawemeisie het so ’n oomblik nagedink, en toe het sy Lincoln se hand vasgegryp, hom in die oë gekyk, geglimlag, en gesê: “In daardie geval wil ek by Meneer bly!” Want sy het geweet dat hierdie man, wat so baie betaal het om haar vry te koop, baie, baie goed vir haar sou wees en vir haar sou sorg.

Die Bybel sê ons was almal soos daardie slavinnetjie. Ons was slawe van die sonde. Ons kon nie maak wat ons wil nie, want die sonde het oor ons baas gespeel. Ons moes alles doen wat die duiwel en die sonde wou hê. Maar toe het die Here Jesus gekom en ons losgekoop van die sondemag. In die gedeelte wat ons gelees het, staan dit dat ons nie met geld losgekoop is nie. Ons is losgekoop met sy eie bloed (vers 18-19).

Dit het natuurlik op Golgota gebeur. Daar het Hy in ons plek gehang om vir ons te betaal – verskriklik duur betaal. Hoor wat staan daar in vers 19: “Julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.”

Dink julle vir ’n oomblik in in hoe jou lewe sou wees as jy nié vrygekoop was nie, maar ’n slaaf van die sonde en sinloosheid; as elke versoeking jou baas was; as jy niks en niemand gehad het om voor te lewe nie.

Die Heidelbergse Kategismus vra in vraag 1 wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe, waarop die baie bekende antwoord volg:
Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.”

Die 2e vraag sluit hierby aan: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
Drie dinge: Ten eerste hoe groot my sonde en ellende is; ten tweede hoe ek van al my sonde en ellende verlos kan word en ten derde hoe ek God vir so ’n verlossing dankbaar moet wees.

Die slavinnetjie het geweet. En dit lyk my Petrus het ook nie daaroor gehuiwer nie. Hy omraam as ’t ware die uitspraak dat ons losgekoop is, met twee riglyne hieroor.

  • Hy skryf in vers 15 en 16: Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.” En in die volgende vers spel hy dit ’n bietjie verder uit: … lewe dan in eerbied vir Hom …
  • En in vers 22 skryf hy: Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê.

Hoe lewe ’n mens wat verstaan dat hy losgekoop is deur die bloed van Jesus? Hoe lyk ons dankbaarheid? Petrus sê

  • so ’n mens leef ’n heilige lewe, in eerbied vir God, en
  • so ’n mens leef in liefde met ander.

Christus het die dood oorwin. Hy het opgestaan. Hy het ons met sy bloed losgekoop uit ons oorgeërfde sinnelose bestaan. Daarom kan ons as ver-los-te mense leef. Daarom kan ons ook nuut leef, oorwinnend leef, dankbaar leef. En ons kan nie net nie, ons word daartoe geroep en uitgedaag. Kom ons doen dit!

Amen.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings