Word ek nou oud?

My een kind sê anderdag vir my ’n vriend van haar speel gereeld die Lotto, en wat dink ek daarvan. Haar lyftaal en stemtoon het dit duidelik gemaak wat sy dink ek behóórt daarvan te sê, maar ek het nie. Ek het net my skouers opgetrek.

’n Paar jaar gelede sou ek baie sterker gereageer het. Ek kom agter dat ek in die laaste tyd minder sterk oor sake voel; minder geneë is om my nek oor iets uit te steek, en ek wonder daaroor. Is dit omdat ek ouer word en die wysheid van die jare my help? Of is dit dalk dat ek moeg is van standpunt inneem omdat daar soveel dinge om ons is wat verkeerd is? Of omdat ek bang is vir die reaksie van mense as ek wél standpunt inneem? Is dit omdat ek meer soos Jesus word, wat nie gekom het om die mense te veroordeel nie, maar om hulle te red? Dat ek voel liefde, nie oordeel nie, sal my verder bring? Aan die ander kant: Jesus het nie gehuiwer om baie sterk standpunt in te neem nie, en Hy het mense selfs “slange” en “addergeslag” genoem (Matt. 23:33).

Ek weet nie. Ek hoop my huiwering om mense te veroordeel kom van geestelike volwassenheid, maar ek lees onlangs navorsing van die Barna-groep in die VSA wat my weer oor dié vrae laat dink het: Six Megathemes Emerge from Barna Group Research in 2010. Onder die opskrif 5. The postmodern insistence on tolerance is winning over the Christian Church skryf hulle dat moderne mense in die VSA, uit vrees dat ander sal sê hulle is veroordelend, al minder vrymoedigheid het om standpunt in te neem. Voeg daarby dat moderne mense ook nie juis meer die Bybel ken nie, en dit maak dat ’n groot aantal moreel en geestelik twyfelagtige gedragspatrone en filosofieë deesdae selfs in die kerk verdra word. CK Chesterson het iewers opgemerk: “Verdraagsaamheid is die deug van iemand wat geen oortuigings het nie.”

Ek hoor hulle sê daar is nou ’n elfde gebod wat al tien ander gebooie vervang: “You must by nice to people.” En ‘n lidmaat merk op dat sy nie in die kerk wil hoor dat sy verkeerd is nie; sy wil hoor hoe oulik sy is.

Dit kan dus wees dat my traagheid om my uit te spreek oor morele en etiese kwessies nie die produk is van geestelike volwassenheid nie, maar van die tydsgees. En dán het ek (en ons almal) baie rede tot kommer.

image_pdfimage_print

One Response to “Word ek nou oud?

  • Goeie skrywe Jaco.Toe ek al die vrae sien toe dink ek dadelik aan Titus 2 en veral vers 15(NLV).Die leun het die waarheid geword in vandag se lewe.As my kind vir my ‘n vraag gevra het oor die lotto,sal ek eenvoudig vir hom/haar meegedeel het,”laat dit wat jy het, vir jou genoeg wees”Ek dink ons moet ook altyd Matt 25:13 onthou.(NLV)

    Groetnis.

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings