1 Pet 2:19,21 Om Christus na te volg

1 Pet 2:18-25

Ek wonder partykeer of ons mooi verstaan wat dit beteken om ’n Christen te wees; of ons goed begryp hoe radikaal die eis van Jesus se koningskap oor ons lewens is. Ons wil so graag hê Christenskap moet ’n soort poort wees na ’n wonderlike wêreld waarin alles goed gaan en al ons probleme op ’n end is; ’n wêreld waarin ons gekoester word en ons ons knus kan baai in die oorvloedige sorg van die Here, wat ons Herder is. Soos een van die Christelike tydskrifte die Christelike leefstyl bemark: “Jou goedvoel-tydskrif”. Jy verdien dit om goed te voel.

Daarom weet ons nie wat om te maak met Jesus se antwoord aan die man wat na Hom toe gekom het en gesê het hy sal Hom volg, en dan antwoord Jesus (Matt 8:20): Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ’n rusplek vir sy kop nie. Ek meen, hoekom ontmoedig Jesus die man wat uit sy eie na Hom toe gekom het? Daarom is ons verleë saam met Petrus as Jesus by die laaste maaltyd wat Hy saam met hulle eet, ’n handdoek om sy lyf bind en hulle voete begin was. Ons is tog kinders van die Koning van die wêreld! Hoekom moet ons dan dienaars wees en die nek buig? Daarom weet ons ook nie wat om te maak as ons swaarkry nie. Hoe kan God dit toelaat? Hoekom doen Hy dit aan my? Gee Hy dan nie vir my om nie? Is Hy dan nie ’n God van liefde nie? Tel dit dan niks by Hom dat ek sy kind is nie? Gee dit my nie ’n soort voorsprong in die wêreld nie?

Die slagspreuk van die moderne wêreld is, in die woorde van die skoonheidshuis L’Oreal: Because I’m worth it! Ek verdien die beste, want ek is dit werd! Die probleem is net: daar sit ’n groot stuk arrogansie in hierdie lewenshouding wat skree teen Christelike ootmoed en nederigheid. Ek sien die anderdag ’n vrou met ’n T-hemp aan wat dit alles verwoord. Op die T-hemp staan: It’s all about me!

Die probleem begin wanneer jy nie die beste kry nie. Wanneer jy nie die bevordering kry wat jy verdien nie en iemand wat minder bevoeg as jy is, oor jou kop aangestel word; wanneer jou baas die krediet vir jou harde werk vir homself vat …

Dis ook verstaanbaar dat ’n mens soms so voel. Want party mense het net eenvoudig die manier om jou om elke hoek en draai seer te maak, al het jy regtig niks verkeerd gedoen nie. En later voel jy: so kan dit nie aangaan nie. Hierdie persoon moet op sy plek gesit word. Ek sal hom ’n bietjie in eie munt terugbetaal.

Petrus wil vanoggend vir ons kom sê: Dit is presies op hierdie punt dat die feit dat jy ’n volgeling van Jesus is, ’n verskil moet maak in die manier waarop jy reageer. Hy praat van ’n heeltemal ander soort lewenshouding as die goedvoel-mentaliteit waar dit meestal om myself en my eie regte en verwesenliking gaan. Hy noem ons “vreemdelinge en bywoners” (2:11). Hierdie wêreld is nie ons tuiste nie. Daarom moet ons die hele tyd daarteen waak om burgers van hierdie wêreld te wil wees, só deel van alles dat die norme en standaarde van hierdie wêreld op ons afgee, dat ons begin dink en lyk en optree soos hierdie wêreld. Ons ís anders as ander mense, en ons móét anders as die wêreld optree en dink en reageer.

Die meeste van die mense aan wie Petrus hierdie brief geskryf het, was slawe, mense wat in daardie dae absoluut geen regte gehad het nie. Slawe is destyds gereken as deel van iemand se besittings, saam met sy perd of donkie en skape en beeste. En die eienaar kon met sy besittings maak wat hy wou; hy kon hulle selfs doodmaak. Dit was sy volste reg. Nou kan ’n mens jou indink hoe ’n slaaf moes gevoel het as sy eienaar hom vals beskuldig of onskuldig straf, veral as hy nog probeer het om goed te doen.

Weet jy wat sê die Woord? Nie: siestog, arme jy nie. Nee, Petrus sê: Dis genade van God om te ly. Dis hoe dit werk!

Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ’n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg. Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit ’n leuen gekom nie. Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel (21-23).

Christus het nie kwaad met kwaad vergeld nie. Hy het nie rang getrek toe Hy gely het nie. Hy sê vir Petrus, daar in Getsemane: Sit jou swaard terug in sy plek … Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel. Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur? (Matt 26:52-54)

Petrus sê: Christus is vir ons ’n voorbeeld, en ons moet in sy voetspore volg. Soos Hy onskuldig gely het en nie terug baklei en beledig en gedreig het nie, so verwag God van ons om ook, as ons ly, nie terug te baklei nie.

Nou sê jy miskien daar in jou hart: Ja, maar jy ken nie my skoonpa nie. Jy ken nie my buurman nie. Jy weet nie wat het my kollega my aangedoen nie. Jy weet nie hoe my man kan word as hy kwaad is nie. Jy weet nie hoe dit voel as jy uit is tussen jou maats nie. En buitendien is jy nie realisties nie. Dit werk net nie so in die lewe vandag nie. As jy so maak, sal jy nêrens in hierdie lewe kom nie.

Die bekende Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer het gesê as Christus jou roep, roep Hy jou om te sterf. Daarom is Christen-wees dikwels nie afdraand-pad nie. Dit beteken soms steiltes en opdraandes. Maar ons het mos gekies om die Here te volg, dan nie? Hy het jou geroep om sy dissipel te wees, en jy het geantwoord: “Hier is ek!” Jesus het geroep, en waar Hy lei, daar sal ek meegaan. Selfs al loop die pad deur die donker dieptes. Ook dáár hoef ek nie bang te wees nie, want die Here is by my. Ek is veilig by die Herder en Beskermer van my lewe (v 25).

Sterf aan jouself. Hy meer en jy minder. Verloën jouself, neem jou kruis op en volg Jesus. Dís geloof. Dís navolging. Dis waartoe ons geroep is.

Amen.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings