2 Tim 3:10-17 God se verhaal

2 Tim 3:10-17

Laaste opdrag aan Timoteus

10Maar jy het my nagevolg in leer, lewenswandel en lewensdoel, in geloof, geduld, liefde en volharding, 11in vervolging en ontbering soos my te beurt geval het in Antiogië, Ikonium en Listra. Watter vervolging moes ek nie alles verduur nie! Maar die Here het my uit almal gered. 12Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word. 13Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger. Hulle mislei ander en word self mislei.

14Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeester was 15en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. 16Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, 17sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

Verbeel jou jy trek by ’n nuwe huis in; ’n ou Kaaps-Hollandse huis. Met die intrek klim jy ook op die solder, en daar ontdek jy ’n ou handgeskrewe manuskrip. Jy is nie ’n kenner nie, maar dit lyk vir jou alte veel na iets wat Shakespeare kon geskryf het. En soos jy begin lees, word jy al meer oortuig: dit ís ’n toneelstuk van Shakespeare, maar een wat jy glad nie ken nie. Maar jy ontdek nog ’n ontstellende ding daarby: daar is ’n klompie blaaie weg, in die vyfde, voorlaaste bedryf. Toe vat jy die manuskrip na ’n Shakespeare-kenner by die universiteit, en dié bevestig jou vermoede: dit ís die ware jakob: ’n werk van Shakespeare wat niemand van weet nie. En die drama-departement wil dit baie graag op die planke bring. Maar sonder die ontbrekende tonele in die vyfde bedryf is die toneelstuk natuurlik nie opvoerbaar nie. So iemand moet die ontbrekende tonele in die vyfde bedryf inskryf.

Nou, as dit nou jý was wat daardie ontbrekende tonele moes skryf, hoe sou jy weet wat om te skryf? Hoe sal jy te werk gaan?

  • ’n Mens sal heel eerste die bestaande gedeeltes moet lees, sodat jy die “plot” of intrige kan ken.
  • Jy sal ook goed na die laaste bedryf moet kyk, want jou stuk sal daarop moet uitloop.

As meer as een persoon die ontbrekende tonele skryf, sal hulle hierdie twee reëls moet honoreer, maar dit beteken nie dat hulle stories dieselfde sal wees nie. Daar sou baie variasies kon wees wat kan werk.

Ná hierdie langerige inleiding, kom ons kom terug na die Bybel. Hierdie is God se verhaal, en dis ook ingedeel in verskillende bedrywe en tonele. Dit begin by die skepping en bou op tot die herskepping, wanneer Christus weer sal kom en alles nuut gaan maak. Vir ons doel kan ons dit ses bedrywe maak:

1. Skepping – 2. Sondeval – 3. Israel – 4. Jesus – 5. Kerk – 6. Herskepping

Dit is God se verhaal, soos ons dit in die Bybel lees. Maar dié verhaal is nie klaar nie. Daar is tonele in die vyfde bedryf weg. Óns moet daardie ontbrekende tonele skryf. Om die waarheid te sê, ons is elkeen elke dag daarmee besig, en daar is nie net een manier waarop die tonele kan verloop nie. Ons het almal die vryheid om keuses te maak oor hoe en waar ons ons lewe voor God wil leef. Maar ons kan ook nie maak wat ons wil nie. Ons skryf nie in ’n leë boek, vanaf bladsy een nie. Die toneel wat ons skryf met ons lewens en ons keuses, moet inpas in God se groot verhaal. Dit moet voortbou, of improviseer, op dit wat in die vorige bedrywe gebeur het, en dit moet inpas in dit wat in die laaste bedryf gaan afspeel.

Daar is mense wat dit nie goed verstaan nie. Hulle dink ons roeping is om een van die vroeëre bedrywe weer en weer en weer op te voer. Daarom dink hulle jy leef reg as jy probeer om soos die Israeliete van ouds te leef en die sabbat te hou en al die OT-feeste te vier; of as jy soos die lidmate van die eerste gemeente in Jerusalem in Handelinge 4 leef waar jy al jou goed moet verkoop en aan ander uitdeel soos hulle gedoen het. Maar dis nie ons roeping nie, want ons pas nie daar in God se verhaal in nie. Ons pas in ’n later toneel in bedryf 5 in, en ons moet binne die raamwerk van die plot van God se verhaal ons lewe improviseer. Ons kan nie terugkeer na ’n bedryf wat reeds verby is nie.

Dit is hoekom ons ’n Bybel het; ’n Bybel met hierdie groot verhaal van God se besigwees met die wêreld en met ons; ’n verhaal wat afstuur op die herskepping. Die Bybel het nie net ’n klomp voorskrifte en wenke en so aan in nie; dit het veral verhale in, wat deel vorm van God se groot verhaal, en as ons dit nie ken nie, sukkel ons om ons eie lewe binne hierdie verhaal te laat inpas, want ons verstaan nie die plot of intrige van God se verhaal nie. In die woorde van Paulus (3:16): “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om … ’n regte lewenswyse te kweek …”

Nie alle dele van die verhaal is natuurlik ewe belangrik nie. Daar is bv. dele in die OT wat nie so prominent is nie, maar dit dra alles by tot die oploop van die verhaal na die eerste groot klimaks: JESUS. Hier, in bedryf 4, tree God verrassend genoeg self sy verhaal binne om die verhaallyne wat skeef geraak het oor die tyd, weer reg te trek. Natuurlik het Hy ook meer kom doen. Hy het kom afreken met Satan, wat God se verhaal, God se plan met die wêreld, wil laat ontspoor, of, as ’n mens die beeld van Openbaring 5 wil gebruik, wil laat vasval. En só het Hy ons kom bevry, sodat ons weer ons plek in die verhaal kan inneem.

Ek dink dis ’n baie belangrike ding om hier te verstaan: Jesus het ons kom bevry, sodat ons deel van God se verhaal kan word. Daar is mense wat dit nie reg verstaan nie en dink Jesus het gekom om deel van húlle verhaal te word. Dan eis hulle Jesus vir hulleself en hulle eie persoonlike agenda op. Hulle praat van Jesus as “my Jesus”, ’n soort pêl wat alles vir hulle uitsorteer. Dan word Jesus ’n soort gelukbringer, ’n towertante of “fairy godmother” wat al hulle probleme moet wegtoor. Sien, as jy só oor Jesus dink, verstaan jy Jesus se taak verkeerd. Hy is nie daar om jou persoonlike “genie” te wees nie. Hy is daar om jou in te nooi om deel van God se verhaal van hoop en redding vir die wêreld te word.

Verlossing beteken nie God is daar om al jou persoonlike probleme vir jou te hanteer en op te los nie. Daarom waarsku Paulus in ons gelese gedeelte vir Timoteus (vers 12) dat vervolging deel van sy lewe sal wees. Daarmee wil ek nie sê God wil nie deel van jou lewe wees nie, en jy mag of behoort nie persoonlike dinge vir God te vra of van Hom te verwag nie. Maar jy kan dit alleen doen as jy verstaan dat God jou wil inskakel in ’n baie groter plan. So kom ek sê dit weer: verlossing beteken nie jy betrek Jesus by jou lewe nie; dit beteken jy word deel van God se verhaal; jy is saam met ander verlostes op weg na bedryf 6, en dit wat jy nou doen – die waarheid waaraan jy vashou, die dwaling wat jy bestry, regte lewenswyse wat jy leef, die goeie wat jy doen (om nou maar Paulus se woorde aan Timoteus in vers 17 te gebruik) moet meewerk aan en uitloop op bedryf 6, na die groot herskepping wat wag.

Toe ek hierdie week aan hierdie skema gedink het, het ek opgewonde geraak. Ons is deel van God se verhaal! En ons kan daarin improviseer, ons eie unieke styl daarin uitleef. So kom lees die Bybel, dat ons die verhaal wat God geskryf het, só goed kan ken dat ons kan begin droom en begin improviseer en ons eie unieke stukkie kan bydra om God se verhaal te voltooi.

Amen.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings