Hoekom erediens?

Dié vraag bly die afgelope paar dae in my gedagtes maal. Hoekom die erediens bywoon as daar ook ander gestaltes van kerk is waar ek gevoed word en gebou word in my geloof, soos die kleingroep, of my betrokkenheid by ’n diensaksie?

Daar is talle gelowiges wat deesdae verkies om die erediens te mis, om verskillende redes, wat ook almal sekerlik legitiem is. Maar dan hoor ek weer die Hebreërskrywer wat ons maan om nie van die samekoms van die gemeente weg te bly soos party se gewoonte is nie (Heb 10:25).

Maar sedert ek oor dié vraag begin dink het die afgelope paar dae, doem ’n beeld ongevraagd by my op. Ek is ’n laerskoolkind, en ek sit saam met my broers en susters en my ma in die kerk in Rietvlei in die Transkei. My pa lei die diens in isiXhosa, en ek verstaan daar nie ’n woord van nie. Of nee, darem hier en daar. Maar nie so dat jy dit sal agterkom nie. Ons kinders het by my pa daaroor gekla; gesê ons verstaan niks nie, hoekom moet ons dan kerk toe gaan? My pa se antwoord was elke keer dieselfde. Hy het gesê hý weet ons verstaan nie veel nie, maar sy lidmate weet dit nie. Watter boodskap stuur ons vir die gemeentelede as hulle umfundise (predikant) se kinders nie Sondae kerk toe gaan nie? So het ons maar Sondag na Sondag kerk toe gegaan. En as ek vandag aan daardie tyd terugdink, kan ek eerlik nie sê dat dit vir my sleg was nie …

Ek dink ons maak te maklik verskoning om die erediens te mis. En op die ou end mis ons meer as net die erediens. Ons mis ’n geleentheid om in die Here Jesus se teenwoordigheid te wees (waar twee of drie in my Naam saam is …), ons mis die geleentheid om meer van God en sy Woord te leer, en boonop mis ons ’n geleentheid tot getuienis. Ander mense sien ons. Ander mense weet nie van die redes (verskonings) hoekom ons nie in die kerk is nie.

Wie weet, dalk praat die Here dié Sondag in die erediens net met jou …

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings