Matt 10:29-31 Niks sonder julle Vader nie

Matteus 10:29-30

29“Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. 30Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. 31Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

“Dit was God se wil, en ons moet ons daarin berus.” Dit is die welmenende trooswoorde wat mense dikwels vir iemand sê wat iets verskrikliks oorgekom het. En nou kry ’n mens boonop ’n uitspraak van Jesus wat dit wil laat lyk of dit maar reg is dat ons so sê en troos. Ons teksgedeelte sê dit immers duidelik: 29“Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. 30Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. 31Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.” (83-vertaling)

Dit was ook hoe die opstellers van die Heidelbergse Kategismus oor die saak gedink het. In vraag 1 vra hulle: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?” en dan kom daardie wonderlike antwoord: “Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.”
Julle sien: weer die wil van ons hemelse Vader – selfs wanneer dit kom by ons hare en of dit gaan uitval of nie.

Kom ek sê dit sommer reguit: ek dink nie ons moet só oor die wil van God dink nie. Natuurlik is God se wil belangrik. Ons bid daarom in die Ons Vader (Matt 6:10): “Laat u wil geskied”; en Jesus het dit gebid in Getsemane (Matt 26:39): “Nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil”. Ons gerigtheid as gelowiges behoort ook te wees dat ons God se wil sal doen. Daarom lees ons die Bybel, kom ons kerk toe, en herinner ons mekaar gereeld aan wat in die Tien Gebooie staan. Maar of ’n mens se hare uitval en of ’n mossie op die grond val, is darem sekerlik nie op dieselfde manier terug te voer na God se wil nie.

En daarom dink ek nie die vertalers van die 83-Bybel het ons hier ’n guns bewys nie. Want in die 53-vertaling het ons teksvers só gelees:
29 Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.
En in die Nuwe Lewende Vertaling staan: 29Julle weet dat twee mossies vir ’n skamele sent verkoop word. Tog beland nie een van hulle hulpeloos op die grond sonder dat julle Vader daarvan weet nie.
Dis al beter, maar nog nie heeltemal wat Jesus gesê het nie. Die BDV vertaal dit daarom soos die 1953-vertaling dit gehad het, nader aan die Grieks: 29Word twee mossies nie vir ’n assarion verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie.

Ek wonder nogal hoekom die 83-vertaling in vers 29 “die wil van” ingevoeg het, want dit staan nie in die Grieks nie. Daar staan niks van die wil van die Vader nie! Daar staan dat ’n mossie nie sonder die Vader op die grond val nie. Want dis die punt: Daar waar dinge gebeur, daar waar die tekkie die teer slaan, soos hulle sê, daar is die Vader teenwoordig! Hy weet nie maar net daarvan nie, Hy is by wanneer dit gebeur. Maar dis nie asof Hy alles wil nie; asof Hý besluit, goed, nou gaan die mossie val, of nou gaan Ek soveel van dié een se hare laat uitval nie, of ja, daardie een gaan nou siek word of ’n ongeluk maak of iemand vermoor of iets nie.

Kom ons sê dit vir mekaar: God se wil en hoe dinge van dag tot dag gebeur, is nie met ’n eenvoudige reguit lyn te verbind nie. Natuurlik hou alles met God se wil verband. Natuurlik kan ons, en moet ons ook, iewers in alles wat om ons gebeur en met ons gebeur die hand van God sien. Maar om dit met ’n reguit lyn aan God se wil te bind? Ek wonder darem.

Ek dink ons praat te maklik van die wil van God, asof ons nou juis presies weet wat God wil of nie wil nie. Of ons praat van die wil van God om Hom daarmee te blameer vir wat verkeerd is in ons lewe. Soos die man wat vir my gesê het toe sy vrou hom verlaat omdat hy nie vir behandeling wil gaan oor sy drankprobleem nie: “Nouja, as dit dan God se wil is, moet ons maar skei.” Of – en dis vir my net so erg – die vrou van wie ek gelees het wat sê dat dit die Here se wil was dat die plaasaanvallers haar man vermoor het, en daarom berus sy.

Liewe gemeente, dís nie God se wil nie! Hoe kan ons selfs net so dink?! Dis die werk van goddelose misdadigers. Dit beteken natuurlik nie dat God onbetrokke en afgetrokke gestaan en toekyk het toe dit gebeur het nie. Nee, Hy was daar! Hy was daar om die arme vrou vas te hou, te vertroos, krag te gee. Dís wat Jesus hier vir ons wil sê: niks gebeur sonder die Vader nie.

Dis ook wat Dawid bely in Psalm 23, nie waar nie? Dat God daar is wanneer die donker dieptes dreig om hom in te sluk. Dít, dié wete, dra hom deur die noutes. Of soos Paulus in Rom 8:31 en verder jubel: As God vir ons is, kan niks of niemand dit keer nie en kan niks of niemand ons van sy liefde skei nie.

Dís die troos van Matt 10:29-31: “Word twee mossies nie vir ’n assarion verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie. En julle – selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dan nie bang wees nie, julle is meer werd as baie mossies.”

Ons Vader is daar vir ons! Hy weet alles van ons af, selfs hoeveel hare ek het of nie het nie. Daarom kan ons ontspan en die lewe voluit leef: Die Here is by ons. Hý sorg. Dít is die Goeie Nuus waarmee Jesus ons die lewe instuur.

Amen.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings