Watter kleur moet die tossels aan die togas wees?

Die NG Kerk was die afgelope maande gereeld in die nuus om die verkeerde rede: onderlinge twis oor die gay kwessie. Só erg is dit dat die saak in die hof gedraai het, en ons wag nou op die uitspraak van ‘n wêreldse hof wat oor geloofsake ‘n beslissing moet fel. Dis om van te huil.

Persoonlik dink ek dit is die gevolg van ’n kerk en kerkleiers wat die kluts kwyt is. Maar dan: waarmee moet die kerk in hierdie jaar van onse Here besig wees?

Dis natuurlik ’n baie aktuele vraag, want as die kerk dit verkeerd kry, kan dit rampspoedige gevolge hê. In 1917, terwyl die Rooi Rewolusie deur Rusland gebrand het, was die Russies-Ortodokse kerk by ’n sinode besig om te stry oor watter kleur die tossels op die priesters se togas moet wees.

Soms voel dit vir my ons is ook met sulke vrae besig. Ek kry ’n tyd gelede ’n epos van ’n beswaarde broer. Hy het die epos aan elke predikant en kerkkantoor van die NG Kerk in die land gestuur. Ek kan my net indink in hoeveel tyd en onkoste daar moes ingaan, net om al die epos-adresse in te tik. En dan praat ek nie eers van die ellelange dokument wat hy opgestel het nie. Die rede vir sy epos? Hy het dit teen die kerkleiding oor die sogenaamde dwaalleer in die kerk. Bewerings word selfs gemaak dat die kerk gaan skeur. Op sy baie aktiewe blog, kom ek toe agter, sweep hy en sy geesgenote mekaar op oor alles en nog wat wat volgens hulle in die kerk verkeerd is, van ewolusie en die Roomse gevaar tot by die vraag of die duiwel ’n persoon is en wie almal eendag in die hemel sal kom.

Nou kyk, ek het niks teen regsinnigheid nie. Natuurlik is dit belangrik dat ons getrou bly aan die Bybel. Ek sê ook nie dit maak nie saak wat ’n mens glo nie. Ek is diep ontsteld en bekommerd oor teoloë en predikante wat nie meer die belydenis dat Jesus ’n maagdelike geboorte gehad het, of uit die dood opgestaan het, kan of wil onderskryf nie. Ek dink nie die kerk help meer haar lidmate om die Bybel as die lamp vir hulle voet en die lig op hulle pad te waardeer en te gebruik nie. Daarom het ek simpatie met mense wat beswaard is oor wat in die kerk aangaan. Maar hierdie soort reg-of-weg teologie staan my nie aan nie. Dit het die reuk van teologiese meerderwaardigheid, van ek-is-reg-en-julle-verkeerd. Die broer sien homself as ’n soort moderne Martin Luther wat teen die stroom van dwaling in ’n eensame stryd van protes voer. Maar ek mis die liefde van die Here by hom en sy vriende, wat almal wat nie soos hulle dink nie, sonder skroom hel toe stuur. Asof hulle, en net hulle, presies verstaan wat die Bybel leer. Hoe het Paulus nou weer in 1 Kor. 13 geskryf? “Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ’n stuk klinkende metaal, ’n galmende simbaal geword.”

Maar om terug te kom by die Russiese kerk in 1917: Is hierdie geredekawel oor teologiese bysake die soort ding waarmee die kerk hom in 2018 in Suid-Afrika behoort besig te hou? Gaan dit ons help in ’n tyd waarin die land ondergaan oor korrupsie, misdaad, armoede, geweld, vreemdelinge-haat en noem maar op? Of is dit die soort dwase in sinlose strydvrae waarteen Paulus ons waarsku in 2 Tim. 2:23?

Waarmee moet ons ons dan as Christene in hierdie dae besig hou? Beslis nie deur onder mekaar te stry en mekaar verdag te maak nie en hof toe te sleep nie. Johannes die Doper het ook hierdie vraag gevra. Hy was in die tronk, en het gewonder oor Jesus, want Jesus se optrede het nie ingepas in die reg-of-weg teologie wat hy verkondig het nie. Jesus se antwoord aan hom (Mat 11:4-6) is veelseggend: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig. En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.” As ek dit in ander woorde kan sê: Kyk na Jesus. Vind jou inspirasie in Hom. Laat Hý jou leer. Laat Hý jou prioriteite bepaal. Laat Hý jou wys waar en hoe jy vandag kerk moet wees.

Jy gaan dit nie geGoogle kry nie. Meme’s gaan jou nie help nie. Ook nie Youtube-videotjies nie. Jy sal dit in die bladsye van die Heilige Woord van God ontdek, waar jy op Jesus se spoor loop en dieselfde gesindheid as Hy ontwikkel; waar jy jou verdiep en verbly in die Waarheid. Dáár sal jy, sal ons, die kerk se agenda vir die wêreld ontdek; of liewer, Gód se agenda: in die Bybel, op weg agter Jesus aan. Jy sal dit nie kry of hoor waar kerkleiers onder mekaar stry oor die gay-kwessie nie, maar waar die kerk besig is om ‘n verskil te maak, soos Hy gemaak het.

Jesus het ’n daadwerklike verskil in mense se daaglikse lewens gemaak. Dít is hoe Hy sy roeping verstaan het. Of, soos Paulus in Rom. 13:8 geskryf het: “Wees aan niemand iets verskuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê.”As dít ons benadering is, sal ons ophou om met mekaar te stry en iets vir die koninkryk en vir die land beteken.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings