Jakob, die man wat almal wou inloop

Sy verhaal

As dit net nie so donker was nie, kon hy gesien het met wie hy nou al die hele nag lank stoei. Maar hy is seker dit moet Esau wees. Wie anders sal hom stilletjies in die nag probeer oorweldig waar niemand dit kan sien nie? Dis net Esau wat so-iets sal doen. Sy broer het natuurlik geskrik toe hy sien hoe ’n groot geselskap hy by hom het, en besef dat hy nie sommer helder oordag van hom ontslae sal kan raak nie, Dis dié dat hy nou hier in die donker met hom wil afreken. Maar as Esau gedink het hy sal hom sommer so maklik oorweldig, maak hy ’n fout. Hy laat hom deur niemand wen nie; niemand nie!

’n Verblindende pyn skiet deur sy heup. Die vloek het hom op sy heupsening geslaan, en nou is sy heup lam.

“Los my, want die dag breek,” sê die man.

So maklik kom jy nie weg nie, ou broer! “Ek sal ou net los as jy my seën,” antwoord hy. As Esau hom nou seën, kan hy mos nie môre teen hom kom veg nie, en dan het hy sy doel bereik.

“Wat is jou naam?” wil die man weet.

Snaaks, Esau ken mos sy naam. Maar … dan is dit nie Esau nie! Wie sou dit tog kon wees? Moet hy dan vir die vreemdeling sê wat sy naam is? Dat hy Jakob is, dat sy naam ‘hakskeengryper’ is? Die bedrieër, wat nog altyd met sy skelmstreke bo uitgekom het? Dat hy sy broer Esau en sy pa Isak geflous het, en later ook sy oom Laban, sodat hy vandag met twee van Laban se dogters en byna die helfte van sy vee uit Haran terugkom?

“Jou naam,” dring die vreemdeling by hom aan.

Hy skud sy kop. Hy kan dit nie verstaan nie. Hy was nog nooit skaam vir sy naam nie. Hy was nog altyd trots daarop dat hy sy sake kon plooi, en dat ander moes weet dat hulle nie met hom kanse moet vat nie, want hulle sal tweede kom. Maar nou, teenoor hierdie vreemdeling, is dit skielik vir hom moeilik om te erken wie hy is, is dit vir hom verskriklik belangrik dat hierdie man ’n goeie indruk van hom moet hê. Sal hy vir hom sê hy is Abraham se kleinseun? Hy is die tweede seun van Isak? Dit sal tog ’n goeie indruk maak.

“Jou naam,” vra die man weer, hierdie keer dringender. “Wat is jou naam?”

Hy laat sy kop sak, en sê sag: “Jakob.”

Pas jy dalk in dié storie?

Ons lewe vandag in ’n uiters mededingende wêreld. Feitlik van ons geboorte af is ons in ’n kompetisie met ander mense gewikkel. Alles wat jy doen, word met ander mense se optrede en prestasies vergelyk. Wanneer ’n kind met sy rapport huis toe kom, staan nie net sy punte daarop nie, maar ook dié van die klasgemiddeld. Die kind se prestasie word beoordeel aan hoe hy teen ander opweeg. Op die sportveld neem jy nie deel vir die ontspanning nie, jy ding mee om ’n plek in die span. By die werk word jou prestasievlakke gemeet om te kyk of jy, of dalk iemand anders, die bevordering gaan kry. Selfs ’n eenvoudige motorrit kan maklik ontaard in ’n stryd om die motor voor jou verby te steek.

Jakob se verhaal wys vir ons dat die kompetisiegees so oud soos die lewe self is. Jakob was nie ’n slegte ou nie. Hy was maar net lief daarvoor om te wen, en dié ingesteldheid het ongelukkig dikwels sy gesonde oordeel aangetas. Dis dié dat hy dit oor sy hart kon kry om sy eie broer uit sy eersgeboortereg te kul, en sy pa te bedrieg. Later het hy van sy eie medisyne gekry toe sy skoonpa Laban hom lelik bedrieg het, en hy op die oggend ná sy huweliksnag ontdek dat sy bruid nie die skone Ragel is nie, maar haar oninteressante ouer suster Lea, wat al ’n taamlike tyd op die rak gesit het.

Dis ’n strik waarin ’n mens vandag nog kan trap: dat jy so meegevoer word deur ’n saak, dat jy later nie meer helder dink oor waarmee jy besig is nie. “Wen tot elke prys” het ongelukkig deel van die moderne samelewing geword. Daarom gebruik sportmanne stimulante, al weet hulle dat dit op die lang duur skadelik gaan wees. Daarom maak politici beloftes wat hulle onmoontlik kan nakom. Daarom steek kollegas mekaar in die rug. Gewone mense wat deur die strewe om te wen, in Jakoppe verander.

Hoe nou gemaak?

Op ’n manier moet ons van hierdie wen-tot-elke-prys-moraal ontslae raak, anders sal dit ons vernietig. Die goeie nuus is: dit kan. Dis wat met Jakob daardie nag by die Jabbokdrif gebeur het. God het hom daar voorgekeer. Na daardie nag se worsteling was Jakob nooit weer dieselfde nie. Hy is van sy siekte genees en het Israel geword: vors/stryder van God. Ons lees van geen enkele skelmstreek in sy verdere lewe nie.

Maar dit vra dat ek en jy, soos Jakob daardie nag, eerlik met onsself en eerlik voor God moet word, en ons Jakob-gesindheid bely. Dit vra dat God ons harte sal verander, ons sal verlos van die strewe om te wil wen tot elke prys. Dán kan ons ook bid soos die Spreuke-digter in Spreuke 30:7-9 (en dit opreg bedoel!):

Net twee dinge vra ek van U;
moet my dit tog nie weier nie;
daarna kan ek sterf:
moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie;
moet my nie arm maak of ryk nie,
gee my net die kos wat ek nodig het,
sodat ek nie te veel het en U verloën
en sê: “Wie is die Here?” nie,
en sodat ek nie arm word en steel
en my God se Naam oneer aandoen nie.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings