Help dit om te bid?

Wat verwag jy gaan gebeur as jy bid? Ek het ’n gesprek met iemand gehad oor die manier waarop God beskik oor ons lewens. Volgens hom het God voor Hy die wêreld gemaak het, alles klaar en vas bepaal. Alles is dus op ’n groot bloudruk uitgespel, en nou loop dinge soos God dit bepaal het. Dit klink baie vroom en gee ’n mens die gerustheid dat God in beheer is en presies weet wat gaan vir wat. En daar ís verse in die Bybel wat ’n mens hierdie indruk gee, bv waar Paulus skryf dat God ons in Christus Jesus reeds voor die grondlegging van die wêreld uitverkies het om heilig en sonder gebrek voor Hom te wees (Efes 1:4), of waar Dawid skryf dat daar nog nie eers ’n woord op sy tong is nie, of die Here weet al wat dit gaan wees (Ps 139:4).

Maar as dit so is, as alles reeds lank voor ons bestaan al vasgestel is, het dit dan enige sin om te bid? Want God het mos klaar besluit. Hy gaan tog nie sy besluit verander omdat ek dit vra nie? Of hoe dan nou?

’n Mens moet versigtig wees om een aspek van God se regering te verabsoluteer, want dan trek jy die prentjie skeef. Ja, God beskik oor alles, en Hy het ons voor die bestaan van die wêreld af al gekies om Syne te wees. Dit mag ons glo. Maar die Bybel praat ook daarvan dat God op ’n dinamiese wyse by ons lewens betrokke is, dat Hy elke dag ons daaglikse brood voorsien. Die Here Jesus het ons Self uitgenooi om te bid, sodat ons kan ontvang (Matt 7:7). Dit laat dit weer lyk asof daar dinge in die hier en nou is wat nie klaar vas besluit is nie.

’n Mens moet aan albei waarhede vashou: dat God se besluite voor die tyd reeds geneem is, én dat Hy ons en ons daaglikse gebede en besluite ernstig neem. Logies lyk dit teenstrydig, maar dis die uitdaging van die geloof.

So, terwyl ek rus in die wete dat God op ’n manier wat my verstand te bowe gaan, reeds weet en beskik oor my lewe, wil ek sy uitnodiging om my sorge na Hom toe te bring, ook ernstig neem. Want God neem ons gebede ernstig. Dis wat Openbaring 8 vir ons vertel.

Openbaring 8:1-6 speel in die troonsaal van die hemel af (hoofstuk 4 en 5 vertel die detail vir ons). Die saal is gevul met die klanke van aanbidding en lof: Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom! Só klink dit voortdurend op van die serafs, die engele, die ouderlinge, die verloste skare. Onophoudelik.

Jesus staan met ‘n boekrol in die hand, waarin God se beplanning vir die wêreld opgeteken is. Dit is met sewe seëls verseël, maar Hy, as Oorwinnaar, en nét Hy, kan die seëls breek. Eenkant staan die sewe aartsengele, elkeen met ’n trompet in die hand, gereed om die begin van die einde aan te kondig. Dan breek Jesus die laaste seël van die boekrol oop, sodat die afhandeling van die wêreldgeskiedenis kan ontvou. Alles is nou in plek. God se beplanning kan uitrol in die wêreld.

Of tog nie! God lig sy hand op, en skielik word dit doodstil in die hemel. Die trompette blaas nie. Die weerlig hou op met dreun. Die serafs staak hulle gebede, die engele en gelowiges hou op om God se lof te sing.

’n Volle halfuur lank is dit stil in die hemel. In dié gewyde stilte kom ’n engel nader met ’n goue wierookbak waarin daar wierook is, gemeng met die gebede van die kerk. Hy bring die bak met die gebede tot voor die troon en offer dit daar op die goue altaar aan God. Die wierook vul die troonsaal, en die gebede van die kerk styg op na God op die troon.

Toe al die gebede voor die troon opgestyg het, knik God. Die engel vat die leë wierookbak, maak dit vol met die vuur van die altaar en gooi dit op die aarde uit. Die sewe engele lig hulle trompette en blaas om die begin van die einde aan te kondig.

Wat gebeur hier? Hoekom maak God die hemel stil? Sodat Hy die gebede van sy kinders goed kan hoor! Hy wil nie die geskiedenis laat uitrol voordat Hy eers gehoor het wat sy kinders daaroor bid nie. Hy wil eers hoor wat ek en jy dink voordat Hy optree!

Ons gebede maak ’n verskil! God luister daarna, en slaan daarop ag! Ons kán maar, ons mág maar, ons móét ons gebede tot God rig, want Hy luister met gespitste ore na elke gebed wat na Hom opgaan.

Dit laat ’n mens klein voel, nie waar nie? En dankbaar dat ons só ’n God dien. Natuurlik gee dit ons ook ’n geweldige verantwoordelikheid, want die vraag waaroor ek wonder, ook as ek na my eie gebede luister, is of dit vir God die moeite werd is om na my gebede te luister. Sal Hy uit wat ek en jy bid, weet hoe Hy die wêreld moet regeer? Hoe Jesus sy kerk moet lei en rig?

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings