It’s all about me

Ek dink die woord “selfbehep” beskryf die algemene ingesteldheid van die moderne mens baie goed. Alles draai om myself – my persoonlike regte, my geluk, my bevrediging. Dit gaan om ek en myself. Ek is die heel belangrikste persoon in my lewe. Daarom neem ek kwistig selfies en plaas dit op sosiale media dat almal kan sien hoe oulik ek is. Die advertensiemaatskappye het natuurlik al lankal hieruit begin munt slaan, soos die slagspreuk van een kosmetiese maatskappy dit uitbasuin: “Because I’m worth it!”

Ek sien anderdag in ’n winkelsentrum ’n vrou met ’n T-hemp aan wat presies dit in groot letters uitblaker: “It’s all about me”. I, me and myself. Pure narsisme. Ongelukkig is dit net hier waar die kinkel in die kabel lê. As dit maar net om myself gegaan het, was dit ongemaklik, maar nou gaan dit om myself ten koste van ander. Die wêreld draai om my, en na die duiwel met die res. As ek nie van jou hou nie, noem ek jou toksies en sny ek jou uit my lewe uit.

Dis nou die moderne wêreld, en ons moet dit so aanvaar. Ons kan tog nie aan ander voorskryf hoe hulle moet dink oor hulleself nie. Maar as dit in die kerk so begin gaan, is die kerk diep in die moeilikheid, want die kerk is nie ’n plek waar selfbeheptheid sonder skroom uitbasuin behoort te word nie. Die groot gebod is immers nie dat ek God en myself moet liefhê nie, en ook nie dat ek myself en my naaste moet liefhê nie. Dit is dat ek God en my naaste moet liefhê. “Myself” kom alleen by om te sê hoe ek ander moet liefhê – met net sulke oorgawe soos wat ek myself liefhet. Daarom dat Dawid in Psalm 131 bely: “Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here.”

Ek gril vir die soort Skrifuitleg wat doodluiters verkondig dat Jesus eintlik in Matteus 22:37-40 sê ons moet onsself liefhê. Ek sien en hoor en lees ongelukkig té gereeld dat dié verwronge uitleg (inleg!) aan Jesus se woorde opgedring word. En dit terwyl Jesus in Matteus 16:24 presies die teenoorgestelde gesê het: Ek moet myself verloën. Ek moet my kruis opneem en Jesus volg!

Dit gaan nié in hierdie lewe alles oor my nie. Die wêreld draai nie om my nie. Ek mag nie in die middel van my denke staan en almal en alles aan myself meet nie. Dit is nie hoe ek die evangelie verstaan nie. Dit gaan alles oor Jesus. Hý behoort die middelpunt van my verlange, van my lewe, my denke, my ideale, my drome, my alles te wees. Jesus. Nie ek nie.

Paulus sê dit in soveel woorde in Kolossense 1:16 en 17: “Alles is deur Hom (Christus) en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand.” Jy kan gerus die hele lied lees wanneer jy ’n tydjie het. Johannes die Doper het dit al verstaan vóór Jesus se kruis en opstanding. In Johannes 3:30 sê hy: “Hy moet meer word en ek minder.” Dit is die hart van die evangelie.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings