Mark 10:32 PASSIE VIR DIE WIL VAN GOD

Markus 10:32-45

Vers 32: Op pad Jerusalem toe het Jesus voor hulle uit geloop. Dit het die dissipels verontrus en die mense wat agterna gekom het, laat bang word.

Die gedeelte waaruit ons vanoggend gelees het, speel af in die laaste dae voor Jesus se kruisiging. Hy en sy dissipels is op reis na Jerusalem vir die paasfees; die laaste paasfees wat Hy saam met hulle sou bywoon. Reeds twee keer vantevore het Hy vir sy dissipels vertel dat die mense Hom sal doodmaak, en hoewel die dissipels dit nie eintlik verstaan het nie, het hulle geweet daar wag probleme op hulle in Jerusalem. Moontlik het dit gemaak dat hulle die reis sleepvoet aangepak het.

Ons moet ’n prentjie in ons kop probeer kry van die mense op reis na die fees. Daar is duisende pelgrims op pad na Jerusalem, en hulle reis in groepe, deels ter wille van veiligheid, maar ook ter wille van die geselligheid. Dikwels het hulle saam pelgrimsliedere gesing (ons het ’n paar van hulle in ons Bybel in Ps 120-132); hulle het saam geëet en op dieselfde plek oornag. Die reis was vir hulle reeds deel van hulle geestelike feesviering.

In een van dié groepe – waarskynlik een van die groter groepe – is Jesus en sy dissipels ook. Oral waar Hy gegaan het, het die mense mos maar saamgekoek om Hom te hoor en te sien optree, of om gehelp te word.

Markus vertel vir ons (32) dat Jesus al voor die groep uit gebeur het. Die dissipels rem terug, want hulle wil nie graag in Jerusalem aankom nie. Hulle weet daar wag moeilikheid. Maar nie Jesus nie. Hy loop voor hulle uit; só dat die dissipels verontrus raak, ongemaklik, bang.

Ek skat Jesus se maag was óók op ’n knop oor wat in die stad op Hom gewag het. Want, anders as die dissipels, het Hy presies geweet wat gaan gebeur. Hy sê dit ook in soveel woorde vir hulle toe Hy hulle opsy neem (33-34): “Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel het Hom aan die heidene uitlewer. Dié sal met Hom spot en op Hom spoeg en Hom slaan en Hom doodmaak. En drie dae later sal Hy uit die dood opstaan.”

Jesus weet wat op Hom wag, en hoe aaklig dit sal wees, maar tog skram Hy nie weg soos die dissipels nie; loop Hy vooruit, haastig om daar te kom. Want Hy weet dis God se plan, en daarom wil Hy dit gaan uitvoer. God se wil was eerste prioriteit in sy lewe; dit kry voorrang bo alles, selfs ook bo sy eie wil. Want ons moet nie vir een enkele oomblik dink dat dit vir Hom maklik was nie. In Getsemane worstel Hy presies oor hierdie saak; bid Hy dat God die lydensbeker van Hom moet wegneem. Hy wou nie sterwe nie; in dié opsig was Hy waarlik mens, soos ons. Hy was benoud en beangs oor wat vir Hom gewag het. Maar Hy beur voort, want, so het Hy in Getsemane gebid: “Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.” (Mark 14:36)

En die dissipels? Vir hulle het dit nie gegaan oor God se wil nie. Nee, toe hulle hoor van die opstanding, begin hulle dadelik planne maak oor wat húlle sal wees in die koninkryk wat Jesus gaan oprig. Jakobus en Johannes sien dadelik ’n geleentheid om die ander voor te spring en begin beding vir ereplekke aan Jesus se sy as Hy eers koning is. Hulle het nie ’n saak met God se wil nie. Hulle is besig met hulle eie dinge.

Dis natuurlik nie ’n nuwe neiging nie. Dis juis die rede hoekom Adam en Eva in Eden daardie verbode vrug geëet het: hulle wou soos God wees (Gen 3:5). Hulle wou hulle eie baas wees; sélf besluit wat is reg en wat is verkeerd. Dit is hoe ons is. Ons wil ons eie wil laat geld. Maar dis presies nie hoe dit in die geloof werk nie. Jesus leer ons immers bid: “Laat u wil geskied.” God se wil, nie my eie nie.

Natuurlik mag ek ook my eie begeertes voor God bring. Natuurlik mag ek vir Hom sê wat ek graag wil. Om die waarheid te sê, God nooi ons op talle plekke in die Bybel uit om presies dit te doen, met die belofte daarby dat Hy hoor en verhoor. Dis die wonderlike van kind van God wees: dat ons ’n hemelse Vader het wat vir ons omgee en sorg en ons behoeftes en begeertes in ag neem.

Maar ons wil bly altyd ondergeskik aan God se wil. Ons is nie God se kinders sodat God ons kan pamperlang en alles lekker en gerieflik vir ons kan inrig nie. Ons is God se kinders sodat ons deel kan wees van sy koninkryk, nie om aan sy regter- en linkerkant te sit en vernaam te lyk nie, maar om die wêreld vir Hom te wen.

Ek wonder of ons dit aldag goed verstaan. Ek wonder of ons regtig goed begryp dat God ons roep om navolgers te wees, nie konings nie. Navolgers wat Jesus se passie vir God se wil moet deel. Navolgers wat worstel met die vraag: wat wil Gód hê moet ek doen? Waar kan ek vir Hom werk en leef? Watter bydrae kan ek lewer dat die koninkryk sal kom in die wêreld?

Ek moet bely dat ek dikwels in myself nié hierdie passie vir God se wil vind nie. Dat ek ook maar soos die dissipels is en eerder mý wil wil doen, want dis makliker en lekkerder (so dink ek). Dit vra nie opoffering en moeite en tyd van my nie.

Ons moenie onsself bedrieg en dink dis genoeg om aan die kerk te behoort en Sondae in die kerk te sit en gereeld dankoffer te gee nie. Die Here roep ons om Hom te volg; om iets van sy passie vir God se saak uit te leef. Om myself vir Hom te gee; my tyd, my kundigheid, my gawes, my geld.

Ek wil afsluit deur te lees hoe Paulus die nuwe lewe in Christus beskryf, in Romeine 12:1-8. Ek wil hê dat jy die oë toemaak terwyl dit gelees word, en vra jouself af: hoe lyk die offer wat jý vir God bring?

Romans 12:1–8

Die nuwe lewe in Christus

12 En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

3Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. 4Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. 5Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar. 6Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe van profesie is, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely. 7As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee. 8As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid.

Amen.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings