Spyt kom altyd te laat

Ek lees vanoggend Psalm 106, waarin vertel word van die Israeliete wat nie die beloofde land ingegaan het nie. Vers 24-25 vertel:

Hulle het ’n waardevolle land versmaai
en die belofte van die Here nie geglo nie;
hulle het in hulle tente gesit en mor
en nie na die Here geluister nie.

Ek is nogal jammer vir hulle. Hulle is weg uit Egipte. Hulle het die eerste treë na ware vryheid gesmaak. Maar uiteindelik het hulle nie aangekom nie; vasgevang tussen Egipte en Kanaän.

Toe wonder ek sommer hoe hulle daaroor gevoel het. Sou hulle vir God kwaad gewees het daaroor? Seker. Dis mos in ons aard om iemand anders te blameer vir die gevolge van ons eie besluite, en uiteindelik vir God, ook al erken ons dit nie eers aan onsself nie. En dit was net een verkeerde besluit, die keer toe hulle nie na Josua en Kaleb wou luister nie, maar die ander tien verspieders se doemwoorde geglo het. Een verkeerde besluit, wat verreikende en onomkeerbare gevolge gehad het.

Dit is hoe dit dikwels gaan. Daardie een besluit wat jou hele toekoms onherroeplik verander. Waaroor jy agterna die hare uit jou kop wil trek. Maar dis te laat. Jy het dit klaar gedoen.

“As ons net daardie dag kon oor kry,” het die Israeliete sekerlik dikwels daarna gesug.

Maar dit moet ons ook raak sien: die noodlottige besluit het nie uit die bloute oor hulle gekom nie. Voor daardie dag was daar talle ander dae waarin hulle óók keuses moes maak, en helaas verkeerd gekies het. Die verhaal van die goue kalf kom byvoorbeeld nou by my op. Die psalmdigter gee die rede ondubbelsinnig in vers 21-22:

So het hulle vir God, hulle redder, vergeet,
Hy wat groot dinge in Egipte gedoen het,
wonderdade in die land van Gam,
magtige dade by die Rietsee.

’n Mens kan natuurlik nie vooraf weet of ’n besluit wat jy neem, een van daardie beslissendes gaan wees nie. Dit ontdek jy maar eers mettertyd. Maar as jy elke dag naby die Here leef, biddend dat Hy jou sal lei, doelbewus soekend na sy wil vir jou lewe, sal jy nie in dieselfde slaggat as die Israeliete val nie. Dan sal die Here se leiding in jou lewe, ook deur die pad wat jy tot hiertoe gekom het, jou nie ontgaan nie. Daarvoor kan jy die Gees vertrou. Hy het immers gekom om ons in die hele waarheid te lei (Joh. 16:13).

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings