Vandag

Almal weet van die uitdrukking carpe diem, wat beteken “gryp/pluk/geniet die dag”. Dit kom uit ’n gedig van Horatius (65-8vC). Die volledige versreël lui: carpe diem, quam minimum credula postero (gryp die dag, en plaas so min moontlik vertroue in môre/die toekoms). Ek het aan hierdie woorde gedink toe ek in Markus 3:1-6 lees hoe Jesus ’n man met ’n verdorde hand genees het – op die sabbatdag in die sinagoge.

Daar was goeie redes hoekom Jesus die man liewers nie toe moes gehelp het nie. Dit was immers die heilige sabbat, wanneer jy geen werk mag doen nie (die vierde gebod). Die Fariseërs het Hom met arendsoë dopgehou, want Hy was al klaar omstrede omdat Hy sy dissipels toegelaat het om op die sabbatdag koringare af te pluk om te eet. Boonop was dit in die sinagoge, waar mense bymekaar was om God te aanbid, en die genesing sou mense se aandag van hulle aanbidding weggetrek het. Maar ten spyte van hierdie omstandighede genees Jesus die man.

Hoekom wag Hy nie liewer tot die volgende dag nie? Vir ’n meer geleë geleentheid nie? Nog ’n dag sou seker nie veel van ’n verskil gemaak het nie, of hoe?

’n Gelykenis wat Jesus vertel het, het by my opgekom toe ek oor dié Skrifgedeelte begin nadink: die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (Luk 10:30-37). Die priester en die Leviet wat by die vernielde man langs die pad verbygeloop het, het waarskynlik goeie redes gehad hoekom dit vir hulle ongeleë was om die man te help. Maar die Samaritaan, soos Jesus, het die geleentheid aangegryp en ’n verskil gemaak.

Die kans om ’n verskil te maak in iemand se lewe, in die koninkryk van God, wag nie noodwendig vir ’n goeie tyd in ons besige skedule nie. Dikwels moet ’n mens ander goed eenkant toe stoot om daarvoor tyd te maak, ander (ook belangrike) goed los omdat die geleentheid nóú opgeduik het. Môre, soos Horatius sê, is ’n onseker saak. Môre kan te laat wees.

Vandag, het Jesus geleer, en gedoen. Kom ons volg Hom daarin.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings