Lank lewe koning Dawid!

Koning Dawid met sy geliefde lier

Van ons Ou Testament redaksie

HEBRON. – Die twaalf stamme van Israel is vandeesweek uiteindelik weer verenig toe ’n afvaardiging van die noordelike stamme vir Dawid kom versoek het om ook húlle koning te wees. Die ryk is sewe jaar gelede in twee geskeur toe die noordelike stamme, ná die dood van koning Saul, sy seun Es-Baal tot koning uitgeroep het. Die stam Juda het egter hulle held Dawid koning gemaak in Hebron.

Politieke waarnemers het Dawid geprys vir sy briljante diplomasie. Hy het geduldig gewag op die regte geleentheid om die ryk onder sy septer te verenig, en in die proses groot druk van sy volgelinge om die noordelike stamme met geweld te verower, weerstaan. Dié geleentheid het uiteindelik aangebreek toe twee bendeleiers, Baäna en Rekab, koning Es-Baäl van die noordelike stamme in sy slaap vermoor het.

Daar wag ’n groot taak op die nuwe koning om die guns van die noordelike stamme te wen, aangesien daar in die afgelope aantal jare herhaaldelik botsings tussen hulle en die stam van Juda was. Die feit dat Dawid nie aandadig is aan die dood van Es-Baäl nie, tel egter baie in sy guns. Kenners wys ook daarop dat die kwessie van ’n hoofstad nog ’n turksvy kan word, aangesien Hebron te ver in die suide lê en te onmiskenbaar deel van Juda se grondgebied is om deur die noorde as hoofstad aanvaar te word. ’n Stad soos Jerusalem sou die ideale oplossing wees, maar ongelukkig is dit in die hande van die Jebusiete en ’n haas oninneembare vesting.

 

Jakob koop grond naby Sigem

SIGEM. – Jakob seun van Isak het vanoggend in die stadspoort ’n transaksie beklink waarvolgens hy ’n stuk grond hier naby vir honderd geldstukke by die seuns van Gamor gekoop het. Dit is die eerste stuk grond wat hy in Kanaän besit sedert hy hom ná ’n afwesigheid van twee dekades weer in die land kom vestig het.

 

SIEKE NA 38 JAAR OP DIE SABBAT GENEES

JERUSALEM. – Die jong rabbi Jesus van Nasaret het die Fariseërs en Skrifgeleerdes die harnas ingejaag toe hy op die heilige Sabbat ’n siek man by die Bad van Betesda genees het.

Die man was al ag en dertig jaar lank siek. Hy was ’n bekende gesig by dié bron, waar talle gestremdes lê in die hoop dat die genesende krag van die water hulle gesond sal maak. Hulle glo dat die eerste een wat in die water kom as dit begin borrel, gesond sal word. In al die jare wat die man daar lê, kon hy egter nooit daarin slaag om eerste in die water te kom nie, omdat niemand hom ingehelp het nie. Maar nou is dit iets van die verlede.

Ondertussen het ons verneem dat die Joodse leiers besluit het om die hele aangeleentheid verder te voer. “Ons kan nie toelaat dat die Sabbat so ontheilig word nie,” het ’n woordvoerder ons meegedeel. Daar word selfs gefluister dat Jesus godslasterlike dinge kwytgeraak het en die dood verdien.

Oor die vraag of hy werklik die dood verdien, moet ons lesers self besluit. Ons weet in elk geval van minstens een man wat nie hieroor met die Joodse leiers sal saamstem nie.

 


Om oor na te dink

Die spreekwoord sê: “Hy wat glo, word nie haastig nie.” Want op God se tyd gebeur wat Hy oor ons lewe beskik, al moet ons dan sewe jaar, of twintig, of selfs ag en dertig jaar daarop wag. Die digter van Ps. 130 het iets hiervan verstaan. Daarom roep hy ons op (vs. 7): “Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker.”

Vir die moderne mens is dit baie moeilik om te wag, want ons hele samelewing stel ons daarop in om dinge in ’n kits te kry: selfhelpwinkels, kitskoffie, kitsbanke. Met die druk van ’n knoppie of die afdraai van ’n proppie het ek wat ek wil hê. En onbewustelik dra ons hierdie kitsmentaliteit ook in ons geloofslewe in; bid ons oor ’n saak en verwag blitssnel ’n antwoord, net om telkens weer te ontdek dat God nie ’n kitsgod is nie. Want kits is ongelukkig (gewoonlik) nie gelyk aan kwaliteit nie.

Ons, wat altyd haastig is, gee dikwels nie om om kwaliteit in te boet vir die voordeel wat spoed bring nie. Maar God gee om. Hy wil nie oppervlakkige kits-Christene hê nie. Hy wil ons bring daar waar ons deur die tyd ryp geword het. Hy gee nie om om te wag sodat ons kans kan kry om geestelik te groei nie. Daarom moes Jakob in Haran gaan leer dat die beloofde land ’n gawe is, nie iets wat jy met ’n gekonkel kan inpalm nie. Daarom moes Dawid wag totdat God die hart van die hele land vir hom oopmaak, en moes die sieke van Betesda wag totdat die groot Geneesheer self by hom kom siekebesoek doen. As hy vroeër al gesond geword het, het hy dalk nooit vir Jesus leer ken nie …

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings