Vir wie is die preek bedoel?

Twee manne het een Sondag kerk toe gegaan. Die een was Koos. Koos was ’n baie getroue lidmaat en ’n gereelde kerkganger. Sy plek was nooit leeg in die kerk nie. Hy het altyd in die tweede ry van voor gesit. Almal in die kerk het hom goed geken. Die ander een was die stinkryk ou Jan. Hy het nooit sy voet in die kerk gesit nie. Niemand het van hom gehou nie, want hy was ’n skelm sakeman wat mense gereeld ingeloop het en nogal danig daaroor kon spog ook.

Koos en ou Jan het dié dag toevallig gelyk by die kerk aangekom vir die diens. Toe Koos vir Jan sien, het hy sy kop geskud en gewonder wat die vent nou eintlik by die kerk kom maak. En hy was sommer omgekrap ook, want net die vorige week het ou Jan hom hoeka weer met ’n slenter gevang. En toe ou Jan vir Koos sien, het hy weggekoes en by die eerste die beste bank, heel agter in die kerk, in die hoek ingeskuif en kop onderstebo gaan sit, want hy het geweet Koos is vies vir hom.

Daardie Sondag het die dominee baie ernstig met die gemeente gepraat en gesê dat die mense hulle tot God moet bekeer en moet breek met hulle ou lewe en met hulle eiegeregtigheid. En almal in die kerk het in hulle gedagtes aan ou Jan gedink en hom veroordeel. En ou Jan het daar agter in die hoek gesit en sy kop in skaamte laat sak. Net ná die diens het hy vinnig uit die kerk geglip en eenkant gaan staan en wag tot al die mense weg is. Toe gaan sien hy die predikant. Hy het met diepe berou sy sonde voor die Here bely en kragdadig tot bekering gekom.

Koos het huis toe gegaan en tee gedrink, en toe bel hy die dominee. Hy het hom bedank vir die mooi en ernstige boodskap, en bygevoeg dat dit darem ’n goeie ding is dat ou Jan ook in die kerk was, want die hele tyd in die diens het hy gedink: nou sê die dominee die ou skelm darem lekker. Hy wou toe ook by die dominee weet of hy ou Jan spesiaal uitgenooi het na die diens, aangesien hy dan sy hele preek so op hom toegespits het. Hy sê hy wat ’n getroue kerkganger is en gereeld elke maand sy dankoffer vir die kerk gee, is so bly dat hy deur die genade van die Here nie so ’n slegte lewe lei soos ou Jan nie.

Toe antwoord die predikant: “Koos, ja, ek het nie ou Jan spesiaal kerk toe genooi nie. Hy het uit sy eie vandag kerk toe gekom. Om die waarheid te sê, ek het nie gedink dit is nodig om iemand te nooi nie, want die man vir wie ek die preek spesiaal gemaak het, is in elk geval elke Sondag in die kerk. Hy sit altyd in die tweede ry van voor af.”


Jy kan hierdie verhaal gaan lees soos Jesus dit vertel het in Lukas 18:9-14

Die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar

9Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: 10“Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ’n Fariseër en die ander een ’n tollenaar. 11Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. 12Ek vas twee keer in die week en ek gee ’n tiende van my hele inkomste.’

13“Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’

14“Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings