Om rus in God te vind

As ons aan die drie-enige God dink, dink ons aan die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Die eerste Persoon in die Drie-eenheid is die Vader. Ons noem God ons Vader, veral omdat die Here Jesus ons geleer het om só aan God te dink. Hy het ons immers in sy groot gebed geleer om te bid tot ons Vader wat in die hemel is. En dit is ook reg so. God ís ons hemelse Vader, die sterk God wat ons bewaar en beskerm van dag tot dag.

Maar as ons nét in manlike terme oor God dink, verskraal ons ons verstaan van wie God is. Want God is nie net ons Vader nie. God is ook ons Moeder, die sagte God, wat met liefdevolle deernis na ons omsien, ons in moederarms wil toevou en troos in tye van angs en nood. Dis hoe Dawid in Psalm 131 aan God dink: “Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind,” sê hy in vers 2. Jesus het by geleentheid ook hierdie moederlikheid van God geopenbaar, toe Hy oor Jerusalem geween het (Lukas 13:34): “Jerusalem, Jerusalem! … hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke …”

Dawid help ons in Psalm 131 nie net om nuut oor God te dink, ook as ons hemelse Moeder, nie. Hy gee ook vir ons leiding oor hoe ons dit kan regkry om in God as ons hemelse Moeder rus te vind, só rus te vind dat ons in God se arms tot bedaring kan kom. In vers 3 skryf hy: “Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.” Wag op die Here. Wat Dawid hier sê, is dat dit nie is asof ’n mens sommer vanself jou rus in God kan vind nie; jy moet op die Here wag – jy moet jou verwagting op God stel; jy moet ingestel, gefokus wees op God en God se sorg en ontferming en deernis vir jou.

In Psalm 16:8 sê Dawid dit op ’n ander manier: “Ek hou die HERE altyd voor oë …” (BDV). Die NAV het ons darem nie ‘n guns bewys om dié vers te vertaal met: “Ek het die Here altyd by my” nie; so asof ons dit eenvoudig passief kan beleef. Nee! Jy moet jou aktief instel op die HERE se teenwoordigheid, jou daarop toelê om van God bewus te bly. Jy moet God in die oog hou. Anders gaan jy sukkel om in jou hemelse Moeder tot bedaring te kom en te rus, sodat sy jou kan troos.

Hier in die tyd van Epifanie is ons juis besig om te dink daaraan dat God in Jesus tussen ons verskyn het; dat God Immanuel is, God by ons. Dit is die grondhouding van gelowiges: om bewus te wees van God se teenwoordigheid onder ons; ons fokus (weer) op God in te stel, om God voor oë te hou, op God te wag. As jy dit doen, sal jy weldra ondervind dat ons Moeder se arms sag om jou vou om jou rus te gee.

Mag jy getroos in die arms van ons hemelse Moeder lewe!