Hebreërs spel gevaar, sê farao

MEMPHIS. – Die farao het gister die ganse Egiptiese volk opgeroep om te help om die snelle aanwas onder die Israelitiese bevolking te stuit. Hy het gesê die Hebreërs se getalle neem sodanig toe dat dit ’n ernstige bedreiging vir die stabiliteit in die land kan word. Daarom beveel hy die hele volk om elke pasgebore Israelitiese seuntjie in die Nyl te gooi. Die dogtertjies mag egter bly lewe.

Die dekreet het ’n vloedgolf van verontwaardiging en selfs protes in humanitêre kringe tot gevolg gehad. Farao Sethos het hulle verseker dat dit die laaste uitweg is. “As ons nie baie gou dié aanwas hokslaan nie, sit ons binne ’n paar jaar met ’n nasionale ramp van ongekende omvang,” het hy gesê in antwoord op besware. Hy het statistieke aangehaal wat daarop dui dat die Hebreërs alreeds ’n getalsoorwig teenoor die Egiptenare het. Alleen is hulle nie veel werd nie, het hy gesê, maar as hulle hulle in geval van oorlog by die vyand skaar, is daar probleme.

Die farao het verduidelik dat hy reeds twee ander metodes probeer het om hulle getalle te beperk, maar dat beide dié maatreëls misluk het. Sy eerste plan was om die hele volk met dwangarbeid te onderdruk. Toe dit alleen nie die gewenste uitwerking gehad het nie, het hy die Israelitiese vroedvroue versoek om die seuntjies by geboorte dood te maak, maar hulle het nie hulle samewerking gegee nie. Dus het hy nou geen ander keuse nie as om dié drastiese maatreël in te stel.

Ons het verneem dat die Israelitiese leiers ’n dringende versoek tot die farao gerig het om hulle te woord te staan, maar volgens ’n paleiswoordvoerder is sy program tans te vol om hulle in te pas.

 

MENSESLAGTING IN NOB

GIBEA. – Vyf en tagtig priesters met hulle vrouens, kinders en al – dit is al die inwoners van die priesterdorpie Nob – is gister op bevel van koning Saul met die swaard uitgewis. Die teregstelling volg op beweringe deur Doëg die Edomiet dat die priesters van Nob teen die koning saamgesweer het deur die voortvlugtige Dawid seun van Isai te help ontsnap.

Die oorledenes behoort almal tot die familie van die priesterhoof Agimelek, seun van Agitub. Die enigste oorlewende is Agimelek se seun Abjatar, wat daarin geslaag het om te ontvlug. Ons het verneem dat hy hom intussen by Dawid aangesluit het.

In die summiere verhoor hier het Agimelek getuig dat hulle in goeie trou gehandel het toe hulle Dawid ontvang het, aangesien hulle onbewus daarvan was dat hy vir die koning gevlug het. Saul wou egter nie hulle storie glo nie, en het sy amptenare beveel om almal te dood. Niemand, selfs nie sy lojaalste amptenare, wou ’n hand teen die priesters oplig nie. Uiteindelik het Doëg toe man-alleen al die inwoners van Nob gedood.

Dié jongste vergryp van koning Saul laat die vraag ontstaan of hy nog geskik is om die volk te lei. Al meer mense is bekommerd daaroor dat sy obsessie oor Dawid besig is om sy gesonde oordeel aan te tas.

 

GEBOORTES

Ben Kehat. Amram die Leviet en Jogebed het die pragtigste seuntjie en boetie vir Aäron en Mirjam van die Here ontvang. Dank aan die God van ons vaders, en aan die vroedvroue Sifra en Pua.

 


Is die duiwel is los? Nog nooit!

’n Mens skrik eintlik as jy sien tot watter uiterstes die duiwel sal gaan om God se groot plan met hierdie wêreld te fnuik. Dit is duidelik dat hy hom nie steur aan enige reëls nie. Vir hom het ’n mens se lewe – of dit nou ’n priester, ’n vrou of ’n pasgebore babatjie is, maak nie verskil nie – geen betekenis nie.

Wat amper nog meer ontstellend is, is die feit dat hy daarmee wegkom. ’n Mens vra jouself die vraag af: hoekom laat God dit toe? Gee Hy dan nie om dat onskuldige mense gedood word nie?

God gee om, meer as wat ons ooit kan verstaan. In Ps. 116:15 staan dit immers uitdruklik: “Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.” En tog laat Hy toe dat sy kinders ly en selfs sterwe. Hoekom, weet ons nie.

Wat ons wel weet, is dat die duiwel nie die laaste woord inkry nie; dat hy nooit, al probeer hy hóé hard, sal wen nie. Daarom haas die verteller van die Eksodusverhaal hom om vir ons van die geboorte van Moses te vertel. Want hy wil vir ons sê: God is nie onkant betrap deur die gebeure nie. Hy het ’n plan waarby Hy farao se eie dogter betrek.

Natuurlik sou dit nog jare duur voordat Moses oud genoeg was vir God se plan. Maar hy wat glo, is bereid om op God te wag.