Sonder dat jy dit besef

Ons het ’n wonderlike avokado-boom in ons agterplaas. Elke jaar dra hy vrugte in oorvloed, en die beste van alles is dat ek nie na hom hoef te kyk nie. Hy is al mooi groot, en klaarblyklik is sy wortels diep en wyd sodat hy genoeg water kry. Ek hoef my glad nie daaroor te bekommer nie. Ek pluk net die vrugte as hulle ryp word. Wat daarby nog ’n bonus is, is dat die vrugte ryp word op ’n tyd dat vrugtevlieë en dié nare goggas nie aktief is nie, want die vrugte is gesond sonder dat ek ’n vinger verroer. Te heerlik.

Dit was die geval tot ’n paar jaar gelede. Ons het ’n besonder droë somer gehad. Ek het my voortuin gereeld met ’n emmer water gegee, en my kruietuin en granaat-heining en vyeboom. Maar die avokado sorg mos vir homself, het ek gedink. Tot ek een oggend met ’n groot skok sien die grond onder die boom lê besaai van die verdroogde vruggies. Die boom het alles afgegooi; die somerdroogte was net te straf. Feitlik die hele drag was tot niet. As ek maar net betyds aandag gegee het, het ek avokado’s gehad. Maar ek het nie aandag gegee nie, en sonder dat ek dit besef het, het die vrugte verdroog en doodgegaan.

Die geestelike lewe werk ook so. As jy nie voortdurend aan jou geestelike gesondheid werk nie, kwyn die vrug van die Gees (liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing; Gal 5:22-23) uit jou lewe sonder dat jy dit besef. Om ’n Bybelse uitdrukking te gebruik: veragter jy in die genade (Heb 12:15, OAV). Dan kom die droë takke van bitterheid en onvergenoegdheid en liefdeloosheid en kortgebakerdheid en sulke dinge ongemerk na vore.

Lydenstyd is ’n goeie tyd vir selfondersoek, en om die Gees die kans te gee om jou lewe te hernuwe, sodat sy vrug weer kan begin groei. Jy wil immers hoe langer hoe meer soos Jesus word, dan nie?