Farao Merneptah se geduld is op

Skort alle onderhandelings met die Hebreërs op

MEMPHIS. – Die farao, wat allerweë daarvoor bekend is dat hy bereid is om na enige een se vertoë te luister, se geduld met die Israelitiese segsman Moses is op. Hy het hom gister weggejaag en met die dood gedreig as hy dit ooit weer in die paleis sou waag.

Moses en sy broer Aäron het die afgelope paar weke die farao tot die uiterste toe beproef met hulle eis dat hy die Israeliete moet toelaat om in die woestyn vir hulle god te gaan offer. Aanvanklik het die farao toestemming gegee dat hulle in die land self ’n offer kan bring, maar daarmee was Moses nie tevrede nie. Hy wil die offer drie dagreise ver die woestyn in gaan bring. Dit het die vermoede laat ontstaan dat daar meer agter die offerplan skuil as wat die Israeliete te kenne wil gee. Volgens ingeligte bronne vrees die farao dat die aandrang tot ’n offer slegs ’n rookskerm is, en dat die Israeliete die land wil verlaat.

In ’n besonder grootmoedige gebaar het die farao egter gister wel toestemming gegee dat hulle in die woestyn hulle offer kan bring, maar nog was dit nie genoeg vir Moses nie. Hy het daarop aangedring dat hulle al hulle vee ook moet saamvat, kwansuis omdat hulle nie vooraf kan bepaal watter offerdiere hulle god sal vereis nie. Dit was die laaste strooi vir die farao. Hy het verdere onderhandelinge opgeskort en Moses die paleis belet.

 

Nóg ’n natuurramp ruk die land tot stilstand

MEMPHIS. – ’n Stikdonker duisternis wat drie volle dae geduur het, het die land tot stilstand gedwing.

Die jongste natuurramp is die negende wat die land die afgelope paar weke getref het. Lesers sal die bloedwater nog goed onthou, en die paddas en muggies en steekvlieë wat daarop gevolg het. Toe het daar pes onder die vee uitgebreek sodat hulle in hulle duisende gevrek het. Dan was daar die swart roet wat die vreeslikste swere veroorsaak het, en daarna het die ergste haelstorm in menseheugenis die vlas- en garsoes vernietig. Wat ná die hael oorgebly het, het ’n sprinkaanplaag afgevreet. En nou het die duisternis die land drie dae lank lamgelê.

Gerugte doen nou die rondte dat Ra kwaad is en daarom die rampe gestuur het. Andere sien weer ’n verband tussen die rampe en die Israeliete se versoek om in die woestyn te gaan offer. Hulle wys daarop dat die rampe begin het net nadat hulle segsman Moses die farao die eerste keer besoek het. Dit is ook opmerklik dat die landstreek Gosen waar die Israeliete woon, nie deur een van die natuurramp getref is nie. Party mense beweer selfs dat die god van die Israeliete sterker is as Ra, en dat hy kwaad is omdat die farao nie sy volk wil laat gaan nie, vandaar die rampe.

Ondertussen steier die land onder die aanslag van die natuurrampe. ’n Soort volksdepressie het oor die mense toegesak, en ekonome wys daarop dat die land se ekonomie moeilik nog verdere rampe sal kan absorbeer.

 


Om sin te maak uit lyding

Waarom het God telkens die farao se hart verhard, sodat hy hardkoppig bly weier het dat die lsraeliete trek? Waarom het Hy nie sommer van die begin af sy volk verlos uit hulle ellende nie? Waarom moes hulle soveel jare lank onder die wrede tirannie van die Egiptenare ly? Moses was immers al tagtig jaar oud toe hy die volk se leier geword het, en dit beteken dat die onderdrukking minstens tagtig jaar lank geduur het!

Dis natuurlik nie so ’n eenvoudige saak om ’n antwoord op hierdie vrae te gee nie, net soos dit moeilik, ja meestal onmoontlik is om op baie van ons eie sinvrae te midde van ons swaarkry antwoorde te kry. Ons kan immers nie God se weë volledig begryp nie. Daarom roep Paulus in Rom. 11:33 en 34 uit: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?”

As ons egter in gedagte hou dat die volk lsrael hier in hulle geboorteskoene staan; dat hulle op die geloofspad maar net begin loop het en nog so min van God af weet en verstaan, dan begin God se handelinge in Egipte sin maak. Israel moes leer dat net God se wondermag en geen pogings van hulle eie nie, hulle kan bevry. Hulle moes leer dat Hy waarlik die almagtige God is, dat Hy inderdaad sterker as die Egiptiese songod Ra en die farao is, dat Hy ’n waarmaker van sy woord is, dat hulle op Hom kan vertrou. Hulle moes self ondervind soos Ps. 46:7 dit so duidelik stel: “Nasies kan raas en koninkryke wankel, maar as God sy stem laat hoor, smelt die aarde weg,” sodat hulle dit nooit weer sou vergeet nie.

Ons kom ook soms by ’n punt waar ons sê: Maar nou verstaan ek niks nie. Weet dan: God weet wat Hy doen, Hy het ’n plan met jou lewe, Hy is besig om jou te vorm sodat jy ’n beter en sterker kind van Hom kan word.