Egipte in rou gedompel

Spesiale Ou Testament rampverslaggewer

MEMPHIS. – ’n Ramp van ongekende omvang het die hele land getref toe duisende mense en selfs diere laasnag op ’n onverklaarbare wyse gesterf het. Geen huis het die dood vrygespring nie, selfs nie eens die farao s’n nie. Kroonprins Rameses is ook dood.

Die sterftes moet met mekaar verband hou, want sover vasgestel kan word, het al die sterftes om middernag plaasgevind. Wat dit nog vreemder maak, is dat slegs die eersgeborenes dood is, van die kroonprins af tot by die eersgeborenes van die krygsgevangenes in die tronk. Selfs die slavinne se eersgeborenes het omgekom.

In ’n nag van ongekende smart het weeklagte en gekerm uit letterlik elke huis in Egipte sedert middernag opgeklink, en van vroegoggend af is die strate vol mense wat rondskarrel om alles gereël te kry om hulle geliefdes te begrawe.

Ons korrespondent in Gosen berig egter dat daar in dié provinsie nie ’n enkele sterfgeval is nie. Hy sê die Israeliete moes vooraf gewaarsku gewees het, want al die families het gisteraand lammers geslag en van die bloed aan hulle huise se deure geverf, glo “om die dood uit die huis te hou”.

Bybelkoerant het ook verneem dat die farao laasnag dringend vir Moses en Aäron, die leiers van die Israelitiese arbeidsopstand, ontbied het. Dit versterk die vermoede dat die doodsramp moontlik verband hou met hulle eis om ’n godsdienstige fees in die woestyn te gaan hou.

Daar begin nou ook van verskillende oorde af stemme opgaan teen die farao se halsstarrige weiering om aan die Israeliete se eis toe te gee. “Die prys raak nou net eenvoudig te hoog. Ons kan nie só aangaan nie,” het ’n gesiene inwoner vanoggend in trane gesê toe hy sy oudste seun begrawe het.

 

STAD SIT BESTE VOET VOOR VIR PAASFEESGANGERS

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Die stad van Dawid is gereed om die duisende paasfeesgangers te akkommodeer. Dít is die boodskap van die hoëpriester Kajafas, voorsitter van die reëlingskomitee vir dié belangrikste fees op die Joodse kalender.

Spesiale reëlings is getref vir die verwagte toeloop van pelgrims. Mense wat verblyf soek, kan aanklop by die spesiale inligtingskantoor op die tempelplein. ’n Volledige lys van alle beskikbare slaapplek is daar verkrygbaar. Verder is daar lammers vir die Paasmaaltyd te koop, asook duiwe vir die bring van offers. Geldwisselaars staan ook gereed om besoekers se Griekse en Romeinse munte om te sit in die vereiste Joodse geld vir die tempelbelasting.

Intussen het die eerste pelgrims uit die Noorde vandag hier begin aankom vir die week lange feesvierings, wat die Israeliete se verlossing uit Egipte meer as 1200 jaar gelede in herinnering roep.

 

PERSOONLIK

Die rabbi Jesus van Nasaret en sy dissipels sal vir die duur van die Paasfees in Betanië by sy vriend Lasarus en dié se susters, Maria en Marta tuis gaan. Hulle beplan om die Paasmaaltyd saam in Jerusalem te vier.

 


Jesus is ons Paaslam

Die Paasfees was van die begin af die grootste fees van die Israeliete, want dit het hulle herinner aan die grootse verlossing uit die Egiptiese slawerny. Dit is terselfdertyd ook ’n fees om die geboorte van die volk lsrael te vier, want dit was eers na die Uittog dat die lsraeliete tot ’n volk met ’n eie identiteit saamgesnoer is.

As die Seun van God kom om ’n nuwe verlossing in die wêreld tot stand te bring, ’n verlossing wat sou uitloop op die ontstaan van die nuwe Godsvolk, die nuwe lsrael in hierdie wêreld, is dit nie verbasend nie dat dit juis op die Joodse Paasfees geskied. Hy self is nou die Paaslam wat geslag word. Sy bloed, sy liggaam laat die dood by ons verbygaan, soos Hy in Joh. 6:55 sê: “My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank.” Daarom neem Hy die Paasmaaltyd en omvorm dit vir sy dissipels – en ons – tot ’n nuwe feesmaal: die Nagmaal, die grootste fees vir die Christendom.

Laat ons dan, soos die Israeliete as hulle die Paasfees vier, soos Christus en sy dissipels ook daardie nag met die instelling van die Nagmaal (Mark. 14:26), met ons hele lewe saamsing aan die Groot Lofsang: “Loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie …” (Ps. 118). Want Hy het nie net lsrael uit Egipte bevry nie. Hy het ons uit die dood verlos. Loof die Here!

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings