Paulus neem afskeid van Timoteus

uit “God se storie”

Lukas en Timoteus bly tot laat dié middag by Paulus. Hulle praat nie baie nie; alles wat gesê moes word, is reeds gesê. Toe dit tyd word dat hulle moet gaan, sê Paulus: “Ek wil hê julle moet vir oulaas saam met my bid.” 

Sonder om vir hulle te wag, gaan staan hy op sy knieë. Toe Lukas en Timoteus langs hom kniel, bid hy: “Here Jesus, ek dank U dat ek aan U kan behoort; dat U my voorgekeer het op die pad na Damaskus; dat U my gekies het om ’n werktuig vir U te wees. Ek dank U dat U my werk geseën het, sodat ek vandag baie geestelike kinders het wat U liefhet en U dien.

“Ek wil nou vir hulle bid, o God, dat U deur die werking van u Gees aan hulle al die wysheid en die insig sal skenk, sodat hulle tot volle kennis sal kom van wat u wil is. Ek bid dat hulle tot u eer sal leef deur net te doen wat U verlang. Ek bid dat hulle vrugte sal dra deur goeie werke, en sal toeneem in die kennis van God. Ek bid dat U aan hulle al die krag sal gee om in alle omstandighede met geduld te volhard.

“Ek dank U, ons hemelse Vader, dat U ons geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat U vir die gelowiges weggebêre het in die ryk van die lig. Dankie dat U ons uit die mag van die duisternis weggeruk het en ons onder die heerskappy gestel het van u Seun. Dankie, Here Jesus, dat ons die verlossing deur U verkry het, en die vergewing van sondes.

“Hou u kerk vas, Here Jesus! Hou hulle staande teen die aanslae van die Bose, en seën hulle wat in u kerk werksaam is. Ek bid veral vir hierdie twee broers van my, wat my tot aan die einde in my beproewing bygestaan het. U weet hoeveel hulle liefde vir my beteken. Ek dank U dat U hulle vir my geleen het, en nou wil ek hulle aan U teruggee, met die gebed dat hulle nog lank vrugbaar sal wees in u wingerd. Seën die pennevrug van my liewe broer Lukas. En seën die dienswerk van my kind Timoteus. Maak hom sterk in u diens, Here, dat hy steeds ’n ywerige en kosbare werktuig vir U mag wees.”

Paulus se hande bewe toe hy hulle op Lukas en Timoteus se kop sit, en hy moet eers sy keel skoonmaak voordat hy verder kan gaan, maar sy stem is sterk toe hy sê: “Die genade van ons Here, Jesus Christus, en die liefde van God ons Vader, en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by julle twee!”

Timoteus ruk soos hy huil, maar hy dwing die woorde uit: “Here Jesus, dankie dat U broer Paulus vir ons gegee het. Dankie dat U hom so vrugbaar in u diens gebruik het. Dankie dat hy my pa in die geloof kan wees, en dat ek so baie by hom kon geleer het. Maak my soos hy, Here! Gee my die geloofsmoed en liefde om soos hy te stry vir u saak, elke dag van my lewe. En wees met hom, vannag, en môreoggend, as hy alleen sal wees. Help hom dat sy geloof nie sal wankel nie, en dat hy tot aan die einde met vreugde sal leef, sodat hy ook in sy sterwe vir U sal verheerlik. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid, tot in alle ewigheid. Amen.”

“Amen!” sê Paulus en Lukas tegelyk.

Toe is dit tyd om te groet. Paulus omhels eers vir Lukas en toe vir Timoteus. “Dankie, baie, baie dankie vir jou gebed, my kind. Elke woord het in my hart gaan lê, en vannag, as ek alleen is, sal ek dit weer bid saam met jou. Maar moenie oor my huil nie, Timoteus. Wees saam met my bly, want môre stap ek oor na die hemelsale, waar ons Heer en Koning vir my wag. Ek is nie bang nie, want die Here hou my vas, soos jy nou vir my gebid het.”

Dis weer stil in die sel toe die deur toeklap. Paulus is kalm en tevrede. Die Here het hom versterk.