Joh 20:24-29 Tomas, ‘n twyfelaar wat glo

Ek wonder darem hoekom Tomas nie by die ander dissipels was toe die Here die eerste Sondag aan hulle verskyn het nie. Sou hy by voorbaat al besluit het alles is verby omdat Jesus dood is? Dat alles wat hulle saam met Jesus beleef het, wonderlik was, maar dat die lewe aangaan en hulle nou moet ophou met dié bende-speel-besigheid?

Ons sal nooit weet nie. Al wat ons weet, is dat hy nie by was toe Jesus sy dissipels kom opsoek het nie. En hy glo nie sy mede-dissipels toe hulle hom sê dat hulle die Here gesien het nie. Hoor wat sê hy vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”

En wat doen Jesus dan? Interessant dat Jesus nie vir hom gaan soek waar hy op sy eie was nie, nie waar nie? Jesus wag totdat hy weer by die ander is voordat Hy met hom praat. Laat mens nogal wonder oor die mense wat sê hulle kan die Here baie beter in die natuur of waar ook al dien as hier waar Jesus se dissipels bymekaar is. Want dis hier waar Hy ons wil ontmoet!

In elk geval, toe Jesus weer na die dissipels kom en Tomas hierdie keer by is, draai Hy Hom dadelik na Tomas toe en doen alles in sy vermoë om Tomas die geleentheid te gee om homself te oortuig dat Jesus werklik uit die dood opgestaan het. Jesus verstaan dat Tomas sukkel om te glo, en Hy buig Homself agteroor en help hom om te glo. En die wonder gebeur dan, as Tomas van aangesig tot aangesig voor die Here Jesus te staan kom, want Tomas het in die gekruisigde Jesus nou sy Here en sy God ontdek.

Tomas glo nie – totdat hy die lewende Here Jesus persoonlik ontmoet. Voor dit gebeur het, het hy nie besef waarom dit gaan nie, maar as hy die Here Jesus as ’n lewende Christus ontmoet, verdwyn alle twyfel uit sy hart, verdwyn alle vrae en skeptisisme. In die teenwoordigheid van die lewende God is daar nie plek vir twyfel nie, maar net vir ’n lewende en ware geloof.

’n Mens kry natuurlik verskillende soorte twyfel. Jy kry die twyfel van die mens wat nie glo dat Jesus die Seun van God is nie. Die mens wat twyfel aan God se bestaan. Maar dan kry jy die mens wat dit glo, wat glo dat God bestaan, wat glo dat Jesus die Verlosser is, maar wat twyfel daaraan of God hom of haar liefhet. Wat in God glo, maar tog nie vrede in die hart het nie, omdat die sorge van die lewe, die vrae oor môre se brood en oormôre se werk hom of haar platdruk. So ’n mens lewe met ’n swaar las op die gemoed, want alhoewel hy bid en al sy kommer en vrese vir God op sy knieë gee, staan hy daarvandaan op en wroeg maar voort. Die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, hou nie wag oor so-iemand se hart en gedagtes nie.

Maar watter soort twyfel ons ook al kry, dit kom alles eintlik maar neer op ongeloof: jy glo nie dat God vir jou sal sorg nie. Jy wil dit met jou hart weet, maar die werklikheid sê ’n ander storie, en jy glo eerder wat jou verstand vir jou sê.

Miskien is daar iemand vanoggend in die kerk wat ook sukkel om te glo. Dan moet u vanoggend die evangeliewoord hoor: Christus begryp dit, en Hy verstaan jou in jou ongeloof en twyfel, en Hy wil ook vir jou, soos vir Tomas, help en tot ’n nuwe geloof bring, selfs al is dit vir jou moeilik om te glo en te aanvaar dat Hy leef.

Dit is hoe Hy is: Christus verstaan ons, ook as ons twyfel.

Nee, Jesus verwerp nie die mens wat sukkel om te glo nie. Hy kom hom tegemoet. Maar as Hy hom tegemoet gekom het, verwag Hy van hom om te glo. Dan sê Hy vir hom: Nou moet jy ophou twyfel en begin glo. soos dit hier in v 27 staan: “… moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.” Want Christus ken ons, Hy weet dat ’n mens verlief kan raak op twyfel, dat dit ’n gewoonte kan word om te twyfel. Dit kan so maklik gebeur dat ’n mens vasgevang raak in jou twyfel, dat jy jou nie daarop instel om ten volle te glo nie. Daarom sê Hy vir Tomas hier dat hy moet ophou twyfel, want hoewel die Here ons twyfel begryp, is Hy nie tevrede om dit maar daarby te laat nie. Hy wil hê dat ons sal ophou twyfel en kom tot dié geloof wat openlik kan bely soos Tomas bely het: “My Here en my God!”

Hoe gebeur dit? Hoe kom ’n mens tot ’n ware geloof? Kom ons kyk na wat hier met Tomas gebeur het. Op die oog af kan ’n mens maklik dink dat Tomas tot geloof gekom het omdat hy die Here gesien het. Dit kan egter nie wees nie. Die feit dat hy die Here gesien het, kon wel daartoe gelei het dat hy aan almal kon erken dat Jesus uit die dood opgestaan het, maar dit is ook waarby dit sou bly. En dit is nog nie ware geloof nie. Ware geloof kan net tot stand kom in ’n lewende ontmoeting met die opgestane Here. Net Christus kan dit gee: die opgestane Christus met sy skeppende, lewegewende woord. Tomas het tot geloof gekom omdat hy voor die lewende Here te staan gekom het en omdat Jesus met hom gepraat het. Ware geloof kom wanneer jy die Here Jesus Christus nie net as die Here van die Bybel nie, maar veral ook as die Here van jou hart en jou lewe erken en bely. Dit is eers dan dat jy tot ware aanbidding kom, dit is eers dan dat Christus vir jou ’n werklikheid word, en dat jy in aanbidding en in verrukking voor Hom neerval en uitroep: My Here en my God! Daarom, as jy twyfel, soek dié plekke op waar jy Christus kan ontmoet: jou binnekamer, Bybelstudie, die kerk …

Miskien dink u nou: ja, maar vir Tomas was dit maklik. Die Here Jesus het dan in lewende lywe daar voor hom gestaan! Maar weet u, vir die eerste dissipels was dit ook maar nie vanselfsprekend dat hulle sou glo as hulle die Here sien nie. Ons lees van talle mense wat die Here Jesus persoonlik gesien het, met Hom gesels het, saam met Hom geëet het, en tog nie in Hom geglo het nie. Ons hoef nie onsself te bejammer omdat ons nie die Here van aangesig tot aangesig kan sien nie. Inteendeel, dit is vir ons, en nie vir die eerste dissipels nie, wat die Here hier gelukkig noem (v 29). Want ons het alles wat nodig is om die Here as Verlosser te leer ken. Ons het Christus se Woord (v 30-31) en sy Heilige Gees (v 22), en daardeur kan ons ook, net soos die eerste dissipels, vir Christus persoonlik ontmoet en leer ken, en kan ons dus tot geloof kom. Daarom sê die Here hier in vs 29: “Glo jy nou omdat jy My gesien het? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”

Broer en suster, vandag het ons van Tomas gelees. Tomas was ’n man wat vir drie jaar lank elke dag met die Here Jesus saamgeleef het, wat alles wat die Here Jesus gedoen en gesê het, self ervaar het, en tog, ten spyte van al hierdie dinge, nog altyd nie besef het dat hy met die lewende God te make het nie, totdat hy die opgestane Christus op daardie Sondag vir die eerste keer met geloofsoë raakgesien het. En toe kon hy nie anders as om al sy twyfel net so te laat staan en voor Christus in aanbidding te buig nie. En u? Hoe lank weet u al van die Here Jesus? Hoe lank ken u Hom al? Het u kennis al oorgegaan in geloof? Het u al die Here ontmoet as die lewende, opgestane Christus, die Seun van die allerhoogste God? Het u al in ware aanbidding voor Hom neergeval, soos Tomas die Twyfelaar?

Die Here Jesus is nie meer in die graf nie. Hy het opgestaan. Hy lééf. Ook vandag nog lewe Hy. Ook vandag nog kom Hy ons tegemoet deur sy Woord en Gees om ons tot ’n lewende geloof in Hom te bring. Kom, laat ons voor Hom neerbuig en saam met Tomas uitroep: My Here en my God!

Amen.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings