Egipte se elite-soldate sterf in natuurfrats

Militêre verslaggewer

PI-HAGIROT. – Die Egiptiese veiligheidsmagte het gister hier een van die ernstigste terugslae nog beleef toe ’n reusagtige fratsgolf die ganse elite-korps van die farao ingesluk het. Nie een van die soldate het dié watergraf vrygespring nie.

Farao Merneptah was met die room van sy leër op ’n krygstog om die vlugtende Hebreeuse slawe te gaan vang toe die ramp hulle tref. Hulle het die slawe gou ingehaal en teen die Rietsee vasgekeer. Die farao het op ’n hoogte stelling ingeneem om sy leër se vordering te volg. Dié besluit het hom van ’n gewisse dood gered.

Die vreesbevange slawe het die Rietsee ingevlug. In daardie stadium was die gety besonder laag, vermoedelik as gevolg van ’n sterk oostewind wat die gety teruggehou het. Die farao se dapper krygers het op hulle strydwaens agter die slawe aan die see ingejaag, en was op die punt om hulle vlug te stuit, toe die wind onverwags draai en die gety inkom. Die troepe het geen kans gehad om terug te val voor die aanstormende branders nie, het ’n sigbaar aangedane farao gesê. Dit is bekend dat ’n paar van sy seuns aanvoerders is in die koninklike strydwakorps.

Oor die lot van die slawe wou hy hom nie uitlaat nie. Hy het net skouerophalend gesê: “My mense het dit nie een oorleef nie. Dink jy daardie honde sou beter gevaar het?”

 

VISSERS ONTKOM WONDERBAARLIK

GERASA. – ’n Klompie vissers het laasnag op wonderbaarlike wyse ’n groot storm op die See van Galilea oorleef. Toe die uitgeputte, maar baie verligte vissers het vroeg vanoggend hier aangekom het, was die tekens van die nag se ontbering nog duidelik op hulle gesig.

Hulle vertel dat hulle laat gistermiddag in betreklik goeie weer van Kapernaum af uitgevaar het. Die weer het egter gaandeweg versleg, en kort voor lank het hulle hulle in ’n volskaalse storm bevind. Die reusagtige golwe het eenvoudig bo-oor die skuite gespoel, sodat hulle in ’n ommesientjie in groot moeilikheid was.

Die ongelooflike is dat die groep se leier, die rabbi Jesus van Nasaret, skynbaar onbewus van die storm was en rustig gelê en slaap het op die bank in die agterstewe van die skuit. In hulle paniek het sy volgelinge hom wakker gemaak. Volgens sy dissipels het hy toe met die wind en die see gepraat, en die storm het net daar bedaar!

Daarna – so vertel een van die dissipels, Simon bar Jona – het hy met hulle geraas omdat hulle bang was. “Ek sê vir jou, hy kan nie ’n gewone mens wees nie. Ek wonder of hy nie dalk die Messias is nie? Waar het jy al ooit gehoor dat die wind en die see na ’n mens luister?” het Simon gevra.

Die Bybelkoerant kan natuurlik nie hierop antwoord nie. Net die tyd sal leer wie en wat hierdie Jesus werklik is. Dat hy iemand besonders is, is egter seker. Die skares stroom agter hom aan, sodat hy by geleentheid selfs vanuit ’n skuitjie sy leringe moes verkondig. Dit is bekend dat mense van selfs so ver as Jerusalem af en uit Tirus en Sidon kom om hom te sien en na sy lering te luister.

 


Toe die Egiptiese strydwaens op hulle afstorm, raak die lsraeliete paniekbevange: Hier sterf hulle vandag nog in die woestyn, het hulle geglo. In skerp teenstelling is Moses die kalmte self. “Moenie bang wees nie,” antwoord hy die volk. “Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red … Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg” (Eks. 14:13-14).

Die rede vir die verskil in reaksie? Moses het iets raakgesien wat die lsraeliete gemis het. Hy het gesien dat God by hulle is; dat Hy die stryd vir hulle voer. Daarom raak hy nie bang en benoud nie. Baie jare later sou Dawid hierdie waarheid in sy trefferpsalm só verwoord: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig” (Ps. 23:4).

En dié Goeie Herder (Joh. 10) van wie Dawid in Ps. 23 gesing het, was juis by toe die storm op die see die dissipels oorval. Hy is nie paniekbevange soos hulle nie. Hy slaap in die rustige wete dat hulle veilig is in Gods hand. Daarom bestraf Hy sy dissipels oor hulle gebrek aan geloof, want sy goddelike teenwoordigheid het nie ’n verskil gemaak in hulle nood nie.

Maak jou geloof ’n verskil aan die manier waarop jy elke dag beleef? Bring God se teenwoordigheid kalmte in jou gemoed as ander begin om hande in die lug te gooi? Dawid sê (Ps. 27:1): “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?”

Die reddende Here waak ook vandag oor jou. As Hy die Rietsee in twee kon kloof en die stormsee kon laat bedaar, is die probleme wat jy vandag sal teëkom, nie vir Hom te groot nie.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings