Israelitiese leier stel nuwe “wonderkos” bekend

SINWOESTYN. – Die leier van die Israelitiese trekgeselskap, Moses, het vandeesweek ’n veldkos bekend gestel wat as stapelvoedsel in die behoeftes van sy mense sal voorsien terwyl hulle in die woestyn vertoef.

Dié kos, wat die volk “manna” gedoop het (letterlik vertaal beteken dit “wat is dit dié?”), het ’n heerlike soet heuningsmaak. Dit lyk op die oog af baie soos vlokkies ryp of balsemgom, en word vroeg soggens in die veld “geoes”, voordat die son dit kan wegsmelt. Dit kan rou geëet word, of gemaal of gestamp word om meel te kry waarmee gekook en gebak kan word.

Voedingskundiges is gaande oor dié wonderkos. Die manna is ’n volledig gebalanseerde en uiters veelsydige produk. Twee liter manna is genoeg om in ’n volwassene se voedselbehoefte vir ’n dag te voorsien. Die aangename heuningkoeksmaak van die rou manna behoort selfs die suikertande tevrede te stel, en as dit gaargemaak is, smaak dit weer soos oliekoeke.

Die enigste groot nadeel is dat die manna ’n baie kort raklewe het – dit hou net ’n dag, of as dit gaar is, twee dae op die meeste. Daarna kry dit miet in en ruik baie sleg. Voedseltoksikoloë het gewaarsku dat die manna liefs nie te lank gehou moet word nie, want dit kan voedselvergiftiging veroorsaak.

Ondertussen het die Israeliete ook ’n ander verrassing gekry: ’n groot swerm kwartels het gister vlak by die kamp verbygetrek. Talle van die voëls het sommer tussen die tente gaan sit. Die mense het hierdie kans met mening aangegryp en soveel kwartels gevang as wat hulle maar kon. Teen die aand het die heerlike geur van gebraaide kwartels oor die hele kamp gehang.

Na die manna en kwartels sal die woestynlewe nooit weer dieselfde wees nie …

Lees hieroor in Eks. 16 en Num. 11:4-35.

 

KONING SAUL SE NAGESLAG IN ERE HERSTEL

JERUSALEM. – Koning Dawid het vanoggend hier ’n bevel uitgevaardig waarvolgens die familiegrond van sy voorganger, Saul, aan dié se kleinseun Mefiboset teruggegee is.

Mefiboset het sedert die dood van sy oom, Saul se vierde seun Es-Baäl, geskuil in die huis van Makir seun van Ammiël in Lo-Dabar. Koning Dawid het egter nou dié nasaat van sy eertydse vervolger onder sy sorg geneem. Hy het al die grond in Gibea wat aan Mefiboset se oupa Saul behoort het, aan hom teruggegee en hom boonop genooi om as howeling voortaan by die paleis te eet. Die koning het ook Saul se eertydse amptenaar Siba opdrag gegee om die grond vir Mefiboset te bestuur.

Mefiboset, wat sedert sy vyfde jaar kreupel is aan albei sy voete, is die seun van Jonatan, Saul se eersgeborene. Dit is bekend dat daar destyds, toe koning Dawid nog ’n kaptein in Saul se leër was, ’n besondere band tussen hom en Jonatan was, en dat hulle by meer as een geleentheid aan mekaar trou beloof het. Selfs nie eens koning Dawid se ernstige afkeer van gebreklike mense kon verhoed dat hy sy belofte aan sy eertydse boesemvriend nakom nie.

Lees hiervan in 2 Sam. 9 en 4:4.

 

Ek het net my plig gedoen, sê koningin

SUSAN. – In ’n eksklusiewe onderhoud met Die Bybelkoerant het koningin Ester ontken dat sy ’n heldin is.

Sy het ons te woord gestaan toe dit aan die lig gekom het dat sy die banket waarop Haman in hegtenis geneem is, spesiaal gereël het. Daar het sy sy plan om die Joodse volk uit te wis aan haar man, koning Ahasveros, onthul.

Dit is bekend dat die koning enige iemand wat ongenooid in sy teenwoordigheid verskyn, sonder meer kan laat doodmaak. Tog het die dapper koningin dit gewaag om ongenooid na hom te gaan en hom na die banket genooi. Die voortbestaan van haar volk was immers op die spel. Die beeldskone koningin het net skaam geglimlag toe ons haar vertel dat sy oornag ’n volksheldin geword het. “Ek het net my plig gedoen,” was haar reaksie.

Lees hiervan in Ester 4.

 


Gawes verg verantwoordelikheid

Gawes en voorregte – en hoe oorlaai ons hemelse Vader ons nie daarmee nie! – mag maar, nee móét geniet word, maar dan altyd met die nodige verantwoordelikheid. Dít was die boodskap van Mordegai aan sy niggie Ester. Dit was ook die beweegrede agter Dawid se herstel van Saul se nageslag.

Dit was egter iets wat die jong Israelitiese nasie nog moes leer. In plaas daarvan dat hulle die gawes van kwartels en manna met blye vreugde geniet, vergryp hulle hulle daaraan. Elkeen het minstens ’n ton vleis bymekaargemaak (Num. 11:32)! En aan God se voorskrifte rondom die gebruik van die manna steur hulle hulle min. Geen wonder nie dat God hulle aan hulle eie gulsigheid oorgee en talle daardeur omkom nie.

God se gawes vereis verantwoordelikheid. Kom ons eer Hom vandag deur sy gawes só met vreugde te geniet.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings