Gal 2:1-10 Deur God verlos … saam met ander

Galasiërs 2:1-10

Sondag het ons gesien dat God ons verlos het sodat ons nuwe mense kan wees. Ons het gesê Christus het nie net vir ons sondes gesterf nie, maar ook vir ons sondigheid, ons sondige geaardheid, sodat ons regtig nuut kan word.

Aan mekaar verbind

Die feit dat ons nuut geword het, het natuurlik implikasies vir ons hele lewe. Een van hierdie implikasies is dat die Here ons nie net aan Homself vasbind as Hy ons nuut maak nie, maar dat Hy ons ook aan mekaar vasbind. Ons is nie alleen God se kinders op hierdie aarde nie; ons is dit saam met ander. En daarom kan ons ook nie elkeen maak net soos ons wil, elkeen sy eie koers inbeur sonder om die ander kinders van God om ons in ag te neem nie.

Presies dit is wat hierdie Bybelgedeelte ons wil leer. Die apostel Paulus vertel hier hoedat hy, gedring deur ’n openbaring van God, na Jerusalem gegaan het. Die Heilige Gees het hom nie toegelaat om langer in isolasie van die gemeente in Jerusalem sy werk voort te sit nie. Hoekom nie? Omdat God hom nodig gehad het om belangrike insigte oor die evangelie met die Christene in Jerusalem te deel.

Nuwe perspektiewe

Paulus het, uit die aard van sy bediening van die evangelie aan nie-Jode, baie sterk onder die indruk gekom van die radikale breuk wat die Christendom met die Joodse godsdiens gemaak het. Paulus het ontdek: jy hoef nie eers ’n Jood te word voordat jy ’n Christen kan wees nie. Ook nie-Jode, so het hy gesien, word deur Gods genade gered, ten spyte van die feit dat hulle nie besny is nie. Maar in Jerusalem het hulle dit nog nie goed verstaan nie, omdat daar in Jerusalem eintlik nie Christene was wat nie ook Jode was nie. Almal in die gemeente in Jerusalem was Jode. En daarom het hulle aanvaar dat, om ’n Christen te kan wees, jy eers ’n Jood moet word, of ten minste jou laat besny en die Joodse wette nakom.

Omdat Paulus in ander omstandighede gewerk het, onder ’n gemeenskap wat hoofsaaklik uit nie-Jode bestaan het, het hy tot die ontdekking gekom dat die Joodse wette ’n onnodige bagasie is om saam te sleep; trouens, dit kan selfs jou vaste vertroue op Christus alleen in die wiele ry (ons gaan DV Woensdagaand weer hierby uitkom). Daarom stuur God hom na Jerusalem, sodat die gelowiges daar ook hierdie nuwe vryheid wat Christus gebring het, kan ontdek.

Paulus kon seker gesê het dis nie sy besigheid as die Christene in Jerusalem die spoor byster is nie. Maar omdat hulle deur hulle liefde vir die Here Jesus aan mekaar vasgebind is, doen hy dit nie; gaan worstel hy en Barnabas saam met hulle oor wat die waarheid van die evangelie presies beteken.

Mekaar nodig

Ek wonder of ons altyd goed begryp dat ons saam met ander agter Christus moet aanloop. Dat ons mekaar nodig het om uiteindelik by die waarheid uit te kom: die waarheid van God se wil vir ons vandag, hier en nou. Te lank het ons in SA in isolasie geleef, die rug gekeer op ander en gedink ons het niemand nodig nie. Ons sal self regkom, dankie. Toe die hele wêreld se kerke met ons praat oor ons regverdiging van apartheid, het ons eenvoudig die skouers opgetrek en gesê hulle weet nie waarvan hulle praat nie. Maar te lank het ons ook geleef in isolasie van die ander Christene in ons land, mense wat in ander omstandighede as ons leef, en daarom anders na die evangelie kyk, en ander waarhede oor God se wil vir ons ontdek. Enige iemand wat al deel gehad het aan ’n Bybelstudiegroep, sal weet hoe wonderlik dit is om te hoor wat God aan die ander lede in die groep openbaar, dinge wat ek misgekyk het. Maar saam met ander verstaan ons ’n groter stuk van die waarheid. Dáárom is dit ook belangrik dat ons ons Engelse en bruin en swart broers en susters die hand moet gee. Ons het hulle nodig. Hulle het ons nodig. Net só sal ons helder en duidelik hoor wat God se wil vir ons in SA is.

’n Voorreg

Daar is nog iets wat ons in hierdie gedeelte moet raaksien, en dit is die gesindheid waarmee die apostel Paulus sy Christenskap uitgeleef het. Ek kry dikwels die idee ons dink ons bewys God ’n guns om in Hom te glo. En as ons nog iets vir Hom doen, is ons éérs in ons skik met onsself. Hoor wat sê Paulus in hierdie gedeelte (vs 9): “Toe hulle dan ingesien het dat God my hierdie voorreg gegee het …” Paulus het nie sy bediening as ’n las gesien, ’n werk wat hy moes doen nie. Vir Hom was dit ’n voorreg, ’n guns, staan dit letterlik hier in die Grieks, ’n guns wat God aan hom bewys dat hy deel mag wees van God se werk op aarde.

Dáárom dat hy moeite doen, al die pad van Antiochië af kom om sy broers en susters in Jerusalem te ontmoet, hulle die hand te reik, en saam met hulle oor die wil van God te worstel. Want as jy begryp dat dit ’n wonder-genade is, ’n voorreg, om vir God te mag werk, dan sê jy nie: “As hulle wil weet wat ek oor hierdie saak dink, moet hulle na my toe kom nie.” Nee, as God se wil belangrik is, as Hý belangrik is, dryf sy liefde jou uit na jou mede-gelowiges, is geen moeite te veel nie; trouens, is dit nie ’n klomp moeite om te worstel met ander om by die waarheid uit te kom nie; nee, is dit ’n voorreg.

Mag God tog deur sy Gees ons oë oopmaak vir die wonderlike voorreg om sy kinders te mag wees. En mag Hy ons oë daarvoor oopmaak dat ons mekaar nodig het, sodat ons mekaar kan help om saam by die waarheid van die evangelie uit te kom.

Amen.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings