Gal 2:11-14 Deur God verlos … om by die waarheid te bly

Galasiërs 2:11-14

Dis eintlik ’n baie interessante en eg-menslike stuk geskiedenis wat hier beskryf word. Petrus was die eerste apostel wat werklik tot die ontdekking gekom het dat nie-Jode, net soos Jode, volwaardige lede van Christus se kerk op aarde kan wees. Daarvan lees ons in Hand 10 en 11. God self moes hom met ’n openbaring as ’t ware tot bekering bring oor hierdie saak. Dis ook hy wat op die vergadering in Jerusalem die deurslag gegee het sodat die ander na Paulus en Barnabas geluister het. Maar by ’n latere geleentheid val Petrus weer oor hierdie einste saak vas. Paulus sê sommer reguit dat hy gehuigel het en van die reguit pad van die evangeliese waarheid afgewyk het.

’n Mens kan amper nie glo dat Petrus, van alle mense, só ’n fout kon maak nie. Petrus, die rotsman, op wie se belydenis die kerk gebou is! Kan dit dan moontlik wees, wil ons uitroep.

Hier sien ons ’n baie belangrike waarheid: Sekere dinge is nou maar eenmaal só diep in ons in gegraveer deur ons opvoeding, of is deur jare só in ons harte vertroetel, dat ’n mens telkens maar weer daaroor tot bekering moet kom. Dit kan so maklik gebeur dat jy glo jy het met hart en siel van ’n sondige standpunt of ’n sondige gewoonte afgesien, net om later maar weer te ontdek dat jy nog steeds met dieselfde probleem worstel. Soos Petrus, wat hier in Antiogië struikel oor ’n hekkie wat hy, so het hy waarskynlik gedink, lankal oorgesteek het.

Die verleiding van die sonde is nie iets waarmee ons ooit klaar is nie. Dikwels, in ’n onbewaakte oomblik, slaan die versoeking toe, en kan dit maklik met jou gebeur soos met Petrus dat jy gly.

Paulus tree hier baie sterk op, en wys Petrus daar voor almal tereg. ’n Mens sou kon sê Paulus moes Petrus eerder eenkant geneem het en hom waar hulle alleen is, reggehelp het. Maar dit wat verkeerd was, het nie net vir Petrus geraak nie. Dit het die hele gemeente geraak, en daarom was daar nie ’n ander uitweg nie. Paulus het gesien dat die waarheid van die evangelie in gedrang is, en daarom moes hy streng optree.

Die maklikste sou sekerlik wees om stil te bly. Die maklikste sou wees om te redeneer: Dis nie my besigheid nie. Maar die bloed van ons Here Jesus bind ons aan mekaar vas, maak ons vir mekaar verantwoordelik, vra dat ons moet omsien na mekaar, mekaar moet help om by die waarheid te bly. Daarom swyg Paulus nie.

In die Hebreër-brief kom die skrywer telkens hierop terug dat ons aan mekaar verbind is, dat ons verantwoordelik is vir mekaar en vir mekaar sorg moet dra:

  • Heb 3:13 Maar solank daar nog ’n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.
  • Heb 10:24 Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.
  • Heb 10:25 Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.
  • Heb 12:15 Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie.
  • Heb 12:16 Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het.

Miskien is dit die rede waarom ons land so vinnig in die moeras van sedelike en morele verval insink: omdat ons nie na mekaar omsien nie. Omdat ouers nie genoeg moeite met hulle kinders maak nie. Omdat jongmense nie na mekaar omsien nie. Omdat mense ander pad kyk as die sonde hier langs hulle voort woeker.

  • As my kind nie lus het om kerk toe te kom nie, los ek hom, want ek is nie lus vir baklei nie.
  • As my vriende ’n wegbreek-naweek saam beplan en hulle nie voorsorg tref vir die vlees nie, soos die Bybel sê, dan bly ek maar stil. Dis immers húlle lewe.
  • As my getroude kollega ’n verhouding aanknoop met die sekretaresse, kyk ek maar ander pad. Of as die manne ’n bietjie plesier het ná die wedstryd, is dit hulle saak.
  • As die paartjie in die woonstel langsaan saam woon sonder dat hulle getroud is, bly ek maar stil.
  • As my vriend ’n skandalige loon aan sy werkers betaal, sê ek niks.

Ek is bevrees, ons het so op onsself ingestel geraak dat ander mense net nie meer vir ons saak maak nie. Ons volg die weg van die minste weerstand. Die Bybel wys ons vanaand daarop: Ons mag nie diegene om ons vergeet en agter laat nie. Ons is verantwoordelik om mekaar te help om op die regte pad te bly, soos Paulus vir Petrus hier gehelp het.

Paulus vertel nie vir ons wat die uiteinde van die saak was nie. Klaarblyklik is die saak net daar opgelos, sonder dat dit ’n breuk tussen die twee groot apostels veroorsaak het. Want Petrus was nie te groot en te belangrik om foute te maak nie. Daarom kon hy later in een van sy briewe met groot agting en deernis van sy kollega en vriend Paulus skryf (2 Pet 3:15,16: “En beskou die geduld wat ons Here met ons het as geleentheid om gered te word. So het ons geliefde broer Paulus immers ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskrywe. Hy skryf dit ook in al sy briewe waarin hy oor hierdie saak handel.”)

Broer en suster, God het ons verlos, nie net sodat ons hemel toe kan gaan nie. Hy het ons aan mekaar verbind, sodat ons mekaar kan help om agter Hom aan te stap, sodat ons na mekaar kan omsien. Kom ons doen dit dan, nie in ’n gees van veroordeling en foutvinderigheid nie, maar in liefde en besorgdheid vir mekaar en vir die eer van die Here.

Amen.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings