Gal. 5:22,23 Deur God verlos om vrug te dra

Galasiërs 5:19-26

Donderdagaand by die Pinkster het ons gehoor God het ons vry gemaak. Ons is nie meer slawe van die wet nie, ons kan regop loop. Dit beteken natuurlik nie dat ons nou kan maak soos ons lus het nie. Dit help my om hierdie paradoks te verstaan deur myself te sien as een van God se kinders. In my eie gesin het ons nie geskrewe reëls nie. Dit beteken nie dat ons kinders sonder gebondenheid grootgeword het nie. Omdat hulle ons liefhet, wil hulle graag doen wat ons gelukkig sal maak, en wil hulle veral nie vir ons teleurstel of hartseer maak nie. Só werk dit ook met ons as kinders van God. Ons is vry van die slawejuk van die wet, maar die wet van die liefde bind ons aan God. En in dié verhouding wil ons Hom gelukkig maak, en vrug dra.

God wil ook hê ons moet vrug dra. En daarom gee Hy baie aandag aan ons, sodat ons gelukkig kan wees. En daarom het Hy ook op Pinksterdag die Heilige Gees gestuur om by ons te kom bly. Die Heilige Gees wil ons kom help om vrug te dra, soos ons in vers 22 en 23 gelees het.

Want uit ons eie kan ons nie vrug dra nie. Uit ons eie kom net slegte dinge na vore. Paulus maak hier ’n hele lys daarvan. Jy hoef nie eers te probeer om dit te doen nie; dis net vanself daar. Julle weet goed hoe dit werk.

Ek noem net ’n paar goed uit hierdie lys in vers 19-21: losbandigheid, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, afguns, dronkenskap …

Hierdie aaklige dinge sit in elkeen van ons gewortel! Dis vanself daar. Dis deel van die sondige mens wat ons is. Jy hoef niks te doen om dit deel van jou lewe te maak nie. As jy jou weer kom kry, is dit net daar. En jy raak nie daarvan ontslae nie. Amper soos onkruid. As jy weer sien, is dit daar.

En dit is hoekom die Gees gekom het: God het die Gees gestuur om ’n ander soort karakter in ons te vestig – die karakter van Jesus. Hoe langer die Gees in ons werk, hoe helderder begin Jesus se karakter in ons na vore kom en verdring dit die praktyke van die sondige natuur in ons lewe. Paulus noem dit die vrug van die Gees:

liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Dit is nie iets wat vanself deel van ons geaardheid is nie. Dis iets wat God in ons laat gebeur deur sy Gees, en waaraan ons onder die Gees se leiding hard moet werk, anders gaan dié vrug nie groei nie.

Let wel: VRUG. Dit wat hier staan, is nie ’n klomp verskillende soorte vrugte en jy kan kies van watter jy hou en watter nie vir jou werk nie. Dit is die een enkele vrug van die Heilige Gees wat in ons lewens moet wees. Soos ’n appel rooi is en stewig en krakerig is as jy hom hap, en hy lekker soet smaak en ’n heerlike geur het, is die vrug van die Gees ook: dit het ’n hele verskeidenheid eienskappe. Almal moet teenwoordig wees om die appel appel te maak.

As al die eienskappe nie teenwoordig is in ons lewens nie, dan dra ons nog nie regtig die vrug van die Gees nie. Dan is die vrug onvolledig, soos ’n bitter appel, of ’n appel wat sleg ruik, of pap is. ’n Mens wat liefde en vreugde en vrede het, maar ongeduldig is en nie nederig nie, dra nog nie die vrug van die Gees nie! Kom ons lees daarom weer hoe dié vrug lyk: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Dis Pinksterfees. Die Gees het gekom om dié besondere vrug in ons lewens te laat groei, en ek en jy moet Hom toelaat, ons moet ons aan sy werk in ons oorgee, dat Hy ons kan verander om soos Jesus te word.

Om te kan vrug dra, moet jy aan jouself sterf. Soos Jesus gesê het, ons moet ons ou natuur kruisig. Dis mos wat Jesus gedoen het: Hy is gekruisig. En ons wil soos Hy word. Daarom is ons vanoggend aan die nagmaalstafel – sodat Hy meer in ons kan word, en ons minder.

Daarom, as jy jou hand na die tekens uitsteek om dit te ontvang, en dit eet en drink, sê jy daarmee: Here, ek weet ek is nie wat ek moet wees nie. Voed my vanoggend, word meer in my, dat ek soos Jesus kan word.

Amen.

image_pdfimage_print

Lewer kommentaar

Volg my

Kry kennisgewings