Lev 16 Versoening is duur

Jesus se kruisdood op Golgota is vir Christene oor al die eeue heen dié groot saak waaroor dit in die geloof gaan. Daarom is die kruis die belangrikste Christelike simbool in die kerk. Dis ook waar van hierdie kerkgebou. Die groot kruis hier agter kan ’n mens nie miskyk nie.

Die meeste Christene sal ook vir jou sê, as jy vra wat die kruis beteken, dat dit vertel dat Jesus vir ons sondes gesterf het. Ons weet dit almal. Ons weet dit so goed dat ons al aan die gedagte gewoond geraak het; dat ons gevaar loop om dit so half skouerophalend te sê, asof dit ’n vanselfsprekende feit is. Daarom is ons dikwels verleë oor sondebelydenis in die erediens, want ons weet nie eintlik wat om daarmee te maak nie. Ons is tog almal fatsoenlik en ordentlik. Ja, ons het ons foutjies en glipsies, maar dis tog maar net menslik.

Dit is ’n houding so oud soos die mensdom self. Dít is waaroor die hele instelling van die Groot Versoendag in Israel gegaan het: om die Israeliete gedurig daaraan te herinner dat hulle in ootmoed voor God moet leef, dat hulle nie sonder sy vergifnis en genade kan bestaan nie.

Net ter wille van die kinders: wat beteken “versoen”?

Ons gaan nie vanoggend stilstaan by alles wat op die Groot Versoendag gebeur nie, maar dit is ook nie nodig nie. Want bloot net by die lees van wat die Here hier beveel, is dit al glashelder duidelik: Sonde is ’n verskriklike ernstige saak, en iets waaraan almal skuldig is, van die hoëpriester en die ander priesters af, tot by die jongste kind. Ons het almal sonde, en kan daarom nie voor Hom bly leef solank ons sonde het nie, want God haat sonde. Iemand wat dit durf waag om ten spyte van sy sonde ongestoord voor die Here te bly leef, speel met vuur en leef onder sy oordeel. Aäron se twee priester-seuns, Nadab en Abihu, het dit probeer, en op die plek gesterwe (Lev 16:1; vgl Lev 10).

Sondevergifnis en versoening met God is nie ’n maklike, eenvoudige en goedkoop sakie wat sommer so vinnig afgehandel kan word nie. Dit is duur. Bitter duur, en baie ernstig. Geen Israeliet wat teenwoordig was terwyl al die rituele handelinge verrig word, sou daaraan kon twyfel nie. Eers moes die hoëpriester vir sy eie sondes versoening doen, en daarna vir die priesters, en laastens ook vir die hele volk.

Terloops, dis nogal merkwaardig dat die hoëpriester ’n bul moes vat vir hom en sy kollegas, terwyl ’n bok genoeg was vir die hele volk! Julle moet tog bid vir ons, die geestelike leiers van die kerk, liewe gemeente. Ons sondes dra ’n swaar gewig voor God.

Nadat die hoëpriester die volk van hulle sondes gereinig het, is die lewende bok, die bok vir Asasel, nader gebring. Die hoëpriester het dan sy twee hande op die kop van die bok geplaas, en al die oortredings en opstand, al die sondes van die Israeliete daar bo-oor die bok bely. So het hy op simboliese wyse die sonde van die volk op die kop van die bok oorgedra. Daarna is dié sondebok die woestyn ingejaag, en saam met hom het hy al die sondes van die volk weggedra die woestyn in.

Julle sien, vergifnis is nie ’n outomatiese proses nie. Versoening vereis ’n erkenning van skuld. Daarom moes die hoëpriester sy twee hande op die lewendige bok, die een vir Asasel, sit, en daar bo-oor die bok “ál die oortredinge en opstandigheid, al die sondes van die Israeliete” bely (vs 21).

Ek onthou, toe ons klein was, het my pa-hulle die gebruik gehad om, as ons stout was en hulle moes ons straf, hulle vir ons gevra het waarom ons gestraf word. En hulle was nie tevrede met ’n verduideliking soos “Ek was stout” nie. Ons moes presies sê hoekom ons stout was, en wat ons verkeerd gedoen het. Ek onthou nog goed dat die straf self vir ons baie minder van ’n probleem was as om te sê: ek was lelik met Ma, of: ek het nie geluister wat Pa gesê het nie. Want dit het beteken ek moes erken dat ek verkeerd was en verkeerd gedoen het, en dít is bitter moeilik.

Liewe gemeente, met ’n vae skulderkenning kan ons nooit volstaan nie. ’n Mens moenie dink jy kan maar net bid “en vergewe genadiglik al my sonde” en daarmee is die saak afgehandel nie. Die pyn wat óns sonde en skuld in God se hart bring, word nie so ligtelik weggevee nie. Lev 16 sê: daar kan eers versoening met God, en vergifnis, plaasvind as daar belydenis van eie skuld is. As ek ophou om te sê: dis nie my skuld nie. As ek voor God erken: Ek is skuldig. Ek het gesondig. Ek is jammer.

Opregte skuldbelydenis vra baie meer as dat ek net sê: “En vergewe genadiglik al my sonde”. Iemand wat met berou oor sy sonde voor God staan, bid: Here, ek het my vrou te na gekom. Ek het ’n leuen vertel. Ek was vandag oneerlik. Ek het nie my kant gebring nie. Ek is jammer. Vergewe my asseblief.

’n Mens wat dít nie goed verstaan nie, moet miskien weer ’n keer die reëlings vir die Groot Versoendag in Lev 16 lees, en dan verder blaai, en van die eintlike Groot Versoendag in die Nuwe Testament gaan lees: van Goeie Vrydag, toe die Sondebok wat God Self voorsien het, die Lam van God, buitekant die stad op Golgota die sonde van die wêreld weggedra het. Dáár, waar Hy tussen hemel en aarde gehang het, het ál die oortredinge en opstandigheid, al die sondes van die ganse wêreld, ook van jou en my, op sý hoof afgekom, en het Hy dit uitgehyg: “Dit is volbring!”

Só duur is betaal dat jy en ek voor God kan leef.

Amen.




Gebed vir Heilige Donderdag

Here Jesus, op hierdie heilige aand gaan ons gedagtes terug na daardie aand, soveel jare gelede, toe U die laaste keer met u dissipels die pasga gevier het. Ook hy wat U verraai het, was saam met U aan tafel. Ook hy wat U verloën het, was daar. Ook hulle wat weggevlug het in die nag …
Ons dink vanaand aan U worsteling in Getsemane, toe u sweet soos bloeddruppels geword het van angs oor dit wat U geweet het op U sou wag, die lydensbeker waarvan U weggedeins het, maar toe tóg gedrink het omdat dit die Vader se wil was, en omdat U ons liefhet.
Ons dan kom vanaand na U toe om U te eer, om onsself opnuut aan U te wy.

Here, u Woord leer ons dat:
U Uself nie as te Goddelik beskou het om mens te word nie,
U Uself nie as te hoog beskou het om verneder te word nie,
U Uself nie as te glansend beskou het vir ons duisternis nie,
U Uself nie as te regverdig beskou het vir ons skuld nie,
U Uself nie as te goed beskou het vir ons nood nie.
Help ons om te verstaan hoe ver u liefde vir ons strek,
maak ons verwonderd oor u gesindheid teenoor ons
en laat dieselfde gesindheid in ons kom woon
ter wille van u Naam op aarde.

Amen




Die mense vir wie Jesus gesterf het

Ons herdenk hierdie week die laaste paar dae van Jesus se aardse lewe.  Môre is Goeie Vrydag, die dag waarop Jesus gesterf het.

Watter holderstebolder week was sy laaste week op aarde nie!

  • Dit het begin met die intog in Jerusalem, toe die skare Hom geloof het as die Seun van Dawid wat in die Naam van die Here kom.
  • Direk daarna volg die konfrontasie met die owerhede nadat Jesus die tempel gereinig het.
  • ’n Soet druppel vir Jesus moes sekerlik gewees het toe die vrou Hom in Betanië gesalf het, hoewel die verontwaardiging van Jesus se dissipels daaroor ’n slegte nasmaak gelaat het.
  • Daarná het daar nog baie teleurstellings aan die hand van Jesus se dissipels gevolg:
    • Judas wat instrumenteel word in Jesus se gevangeneming;
    • die totale onbegrip van dissipels by die laaste pasga, toe Jesus hulle voete was terwyl hulle onder mekaar stry oor wie die belangrikste is;
    • hulle gebrek aan ondersteuning in Getsemane, waar Jesus die grootste toets van sy lewe moes deurworstel;
    • hulle afwesigheid by die verhoor om Hom te ondersteun;
    • Petrus se verloëning …

Die sober wyse waarop die Evangeliste die verhaal vertel, gryp mens aan die hart. Dís die mense vir wie Jesus sy lewe kom gee het. Na alles wat hulle saam met Hom deurgemaak het, na alles wat Hy hulle geleer het, mis die dissipels die punt geheel en al en bly hulle met hulleself en hulle eie ideale besig.

Dis waarvan ons bekeer moet word: hierdie soort beheptheid met onsself, want dit verblind ons só dat ons nie ander se nood kan raaksien nie, en veral nie kan sien waar God in ons wêreld besig is en waar ons betrokke kan raak nie.

Mag ek en jy nóg ’n keer hierdie Pase saam met Jesus sterwe aan onsself, want daarsonder gaan ons dit nie regkry om saam met Hom nuut te leef nie.




DIE MESSIAS HET GEKOM!

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Die stad van Dawid se inwoners het vandag hulle Messias met swaaiende palmtakke en lofliedere juigend ontvang.

Rabbi Jesus van Nasaret het vanoggend triomferend die stad ingery op die rug van ’n donkievul. Entoesiastiese volgelinge het hulle klere op die pad voor hom oopgegooi. Ander het weer groen takkies op die pad gelê, sodat hy nie op die stowwerige pad hoef te ry nie.

Die optog het al teen die Olyfberg begin toe Jesus se dissipels ’n donkie vir hom gebring het om op te ry. Hoe nader hulle aan die stad gekom het, hoe groter het die skare aangegroei. Hulle het God uit volle bors geprys oor al die wonderwerke wat hulle gesien het, en die eeue-oue psalm waarin die koning van Israel begroet word, aangehef: “Loof die koning, hy wat in die Naam van die Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!”

’n Baie ooglopende uitsondering op dié feesvierende skare was ’n klompie Fariseërs wat tevergeefs probeer het om die skare stil te maak. Een van die Fariseërs het openlik gesê dit is godslasterlik om ’n mens as Messias te huldig. ’n Ander Fariseër was weer besorg dat die oproer die Romeinse owerhede kan ontstig, en rabbi Jesus gesmeek om ter wille van die vrede die mense tot kalmte te maan.

Rabbi Jesus was sigbaar aangedaan oor die sonderlinge eer wat hom te beurt geval het. Hy was egter nie vir kommentaar beskikbaar nie. Een van sy dissipels, Judas Iskariot, het wel gesê hy dink die verlossing van die Jode is nou nie meer ver nie. “Die Messias sal sommer in ’n japtrap met die Romeine klaarspeel, glo vir my,” het hy met groot nadruk gesê.

Min Jode deel nie die versugting van die skare nie. Of alles sal verloop soos hulle verwag, is egter te betwyfel. Rabbi Jesus is sedert hy op die toneel verskyn het, veral in tradisionele godsdienstige kringe ’n erg omstrede figuur, en dit is ’n ope vraag of hulle sy leiding sal volg.

 

HOUTJUK, OF GEEN JUK?

Profete stry onder mekaar oor die toekoms

Van ons Ou Testament redaksie

JERUSALEM. – Twee profete het vanoggend hier in die teenwoordigheid van die priesters en die hele volk mekaar só weerspreek dat niemand presies weet wat die woord van die Here is nie.

Die aanleiding tot die teenstrydige uitsprake was ’n profesie van die priester-profeet uit Anatot, Jeremia seun van Hilkia. Hy het jukke met skeie en stroppe gemaak, en een daarvan op sy eie nek gesit. Die ander het hy na koning Sedekia van Juda, en ook die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon gestuur met die boodskap dat God dit so beskik het dat al hierdie koninkryke onder die juk van koning Nebukadnesar van Babel moet buig. Hy het bygevoeg dat dit valse profete is wat mense aanmoedig om teen Babel in opstand te kom. Net hulle wat hulle buig onder die gesag van Nebukadnesar sal in hulle vaderland kan bly. Die opstandelinge sal in ballingskap weggevoer word.

Die profeet Gananja seun van Assur uit Gibeon het skerp hierop gereageer. Hy het die juk van Jeremia se nek afgeruk en dit stukkend gebreek en geprofeteer: “So sê die Here: ‘So sal Ek oor twee jaar die juk verbreek wat deur koning Nebukadnesar van Babel gesit is op die nek van die nasies.’”

Jeremia is toe daar weg. Is hy ook verward?

 


Wie en wat moet jy glo?

Hoe weet jy of ’n woord van die Here is of nie? Hoe moes die Israeliete weet wie om te glo – Jeremia of Gananja? Albei profete het immers met groot stelligheid gesê: “So sê die Here.”

Dit was ook die vraag waarmee die Jode gekonfronteer is in die persoon en optrede van Jesus Christus. Want wat Hy gesê en gedoen het, het lynreg ingedruis teen die woord van die skrifgeleerdes en Fariseërs van sy tyd. Daarom probeer die Fariseërs die mense wat Jesus as Messias huldig, stilmaak.

Hoe weet ons vandag wat reg is en wat nie? Wat God se Woord is en wat mensewoord is?

’n Paar riglyne kan dalk help.

  1. Die belangrikste hiervan is dat jy die Here van die Woord persoonlik sal ken. Só begin jy ’n aanvoeling vir sy hart kry.
  2. Verder moet jy die Woord van die Here persoonlik ken. So kan jy ander uitsprake meet aan wat die Here in die verlede gesê en gedoen het. Hy sal immers nie vandag anders handel as voorheen nie. ’n
  3. Derde vereiste is dat jy die verkondiger moet ken: is hy (of sy) ’n persoon met integriteit, of praat hy mense na die mond?
  4. Vierdens moet jy jou eie hart ken. Wat wil jy bo alles hoor? Wat jy graag wil hê, of wat Gód sê? Jeremia begeer en bid (28:6) dat Gananja tog reg mag wees. Maar hy weet God sê anders, en daarom kan hy nie swyg nie.

Net as jy naby aan die Here en sy Woord lewe, gelei deur sy Gees, kan jy onderskei waarop dit neerkom.

Mag Hy jou op die regte pad lei, ook vandag.




Luk 19:28-40 Wat maak jy met Jesus?

Kyk, alles wat Jesus gedoen het, het Hy met ’n doel gedoen. So, toe Jesus daardie dag vir twee van sy dissipels stuur om vir Hom ’n donkie te gaan haal waarop Hy die stad kon inry, was dit ook nie sommer net nie. Dit was nie omdat Hy skielik te moeg was om self die stad in te stap nie. Nee, dit was om daarmee iets te sê van wie Hy is.

Terloops, Jesus ry op ’n jong donkie wat nog nooit iemand op sy rug gedra het nie, net soos Hy later dié week in ’n nuwe, ongebruikte graf neergelê is. Lukas gee vir ons dié besonderhede, want Hy wil hê ons moet raaksien dat ons hier met ’n koning te make het. ’n Koning gebruik nie tweedehandse ware nie; ander se oorskiet nie. Daarom ry Jesus op ’n jong donkie die stad in, om iets te sê van wie Hy is.

Jesus se volgelinge het dit goed verstaan. Daarom stap hulle nie maar net met Hom saam die stad in nie. Hulle trek hulle klere uit en gooi dit op die donkie vir ’n saal, en gooi dit voor Hom op die pad om te sê dat hulle hulleself voor Hom neerlê. Hulle begin lofliedere sing om Hom te prys, met woorde wat dit duidelik maak dat hulle verstaan dat Hy die Koning is, die beloofde Messias: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom!” sing hulle jubelend, en swaai palmtakke rond.

Die toneel van ’n belangrike persoon wat die stad met ’n prosessie ingery kom, was vir die mense van destyds natuurlik nie vreemd nie, soos ook nie vir ons vandag nie. Nou die dag nog kon ons vir pres Ramaphosa in daardie snaakse voertuig van hom sien, met die opening van die parlement. En koningin Elizabeth ry gereeld in haar koets. Konings en generaals het dit destyds ook gedoen, dikwels met ’n klomp van hulle onderworpe onderdane en slawe agter hulle aan, om te wys hoe belangrik hulle is. Net: ’n koning of ’n groot generaal sou nie op ’n donkie gery het nie. Hulle sou op die blinkste strydros gesit het, spoggerig getooi vir die okkasie.

Die kontras met Jesus se rydier is daarom baie opmerklik. Hy sit op ’n donkie. Matteus het die verband met Sagaria 9:9 vir ons uitgelig: “Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ’n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ’n donkie …”

Nie op ’n oorlogsperd nie, maar op ’n donkie. Want Jesus kom nie Jerusalem binne as krygsheer nie. Hy kom as die lydende kneg van die Here, die Een wat minder as ’n week later wéér op ’n heuwel buite die stad sou wees, maar hierdie keer nie op ’n donkie se rug nie. Hierdie keer aan ’n kruis vasgespyker. En voor hom uit sou daar dan nie ’n jubelende skare volgelinge wees nie, maar ’n uitjouende skare vervolgers.

Lukas teken hier vir ons ’n prentjie van wat gebeur het met Jesus se intog in die stad, want hy wil hê ons moet onsself ook daar na die Olyfberg verplaas. Hy vra as ’t ware vandag vir ons: by watter groep mense skaar jy jou? Waar lê jou hart? Watter soort volgeling van Jesus is jy? Is jy een van dié wat jou klere voor Jesus neersit? Wat jubelend saam met Hom op pad is?

Daar is nog mense, behalwe Jesus en sy volgelinge, in die toneel wat Lukas vir ons teken. Dis die eienaars van die donkie, wat hulle eiendom gewillig en met vreugde tot Jesus se beskikking stel.

En dan is daar ook ’n aantal Fariseërs. Hulle jubel nie saam nie. Hulle is bekommerd oor wat hulle sien. Die Skrifverklaarders sê dit is moontlik dat hierdie Fariseërs nie teen Jesus gekant was nie. Hulle was ook volgelinge, maar hulle is bang vir die reaksie van die owerhede op die skare se gejubel. Netnou hoor die Romeinse owerhede dit, en dan vertolk hulle dit as ’n opstand. So, maak liewer die mense stil, Jesus, voor daar moeilikheid kom. Ons wil nie probleme hê nie. Bly uit die moeilikheid, ter wille van die vrede. Dis mense wat aan Jesus wou voorskryf wat en hoe Hy behoort op te tree, en wat aanvaarbaar is en wat nie.

Vandag hoor ’n mens nog sulke stemme. Ons moet onthou dat ons nie die enigste mense in die land is nie, sê hulle. Daar is ook Moslems, en Hindoes, en ateïste en so, en ons moenie iets doen wat hulle dalk kan aanstoot gee nie. Daarom, los liewer die godsdiensoefening by die saalbyeenkomste, of die Bybelklasse op skool. En moenie aandring op Christelike feesdae op die nasionale kalender nie. Moenie ’n vergadering met gebed open nie, want nie almal glo soos jy nie.

Dan is daar nog die omstanders ook. Hulle neem nie deel aan die optog nie. Hulle maak nie beswaar nie. Hulle doen niks. Hulle kyk net, asof Jesus en sy saak nie juis belangrik is nie. Of miskien moet hulle nog besluit hoe hulle oor Hom voel.

Ek het ’n idee dít is die mense wat ’n paar dae later saam geskreeu het: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Want Jesus se aansprake het hulle ongemaklik gemaak. Jesus se woorde en dade het hulle gedwing om te kies waar hulle met Hom staan, en hulle wou nie kies nie. Dit was makliker om Hom uit die weg te ruim, dan is hulle probleem opgelos.

Waar staan jy vandag? Dís die vraag wat ons in die Lydenstyd opnuut vir onsself, en teenoor die Here, moet antwoord. My eerste reaksie op dié vraag was: Maar natuurlik is ek deel van die volgelinge van Jesus, wat met opgewondenheid juigend agter Hom aanstap. En ek glo dit is julle reaksie ook vanoggend. Natuurlik is Jesus ons Koning. Natuurlik volg ons Hom juigend, jubelend.

Maar wag net gou. Was Petrus nie een van dié wat Jesus met oorgawe gevolg het nie? Wat op ’n keer voortvarend gesê het hy sal by Jesus staan, al verlaat álmal Hom? En Judas Iskariot was óók daar om takke te swaai!

Jy sien, dis maklik om hier in die kerk te sê: “Ja, Here, ek volg U!” Maar Jesus se pad loop soms anders as wat óns sou kies. Hy lei nie altyd soos ons dink reg is nie. Hy maak nie noodwendig soos ons wil hê Hy moet nie. Dis die moeilikheid met Jesus, as julle my sal verskoon dat ek dit so stel: Hy is sy eie baas. Hy volg sy eie kop. Ons het Hom net nooit in die sakkie nie. Daarom maak Hy nie die skare stil ter wille van die vrede nie. Daarom gaan Hy die stad in en dop die tempelplein om. En stap Hy ses dae later met ’n kruis op sy rug uit die stad uit.

As ons Hóm wil volg, het dit implikasies vir ons hele lewe. Het dit implikasies vir die manier waarop ons in ons huise met ons dierbares saamleef. Het dit implikasies vir die manier waarop ek my werk doen, my sake doen, my werknemers behandel, en my kollegas en my seniors. Dit het implikasies vir hoe ek betrokke is in die koninkryk. Dit vra dat ek die stang vasbyt en nie wegskram van die eise van die evangelie nie, dat ek offers moet bring, offers van tyd en moeite en energie en geld. As ons Hom wil volg, gaan dit ons kos.

Lydenstyd keer ons voor, want dit gaan oor lyding: Jesus se lyding vir ons, maar ook ons navolging op sý pad. Ons staan vandag aan die vooraand van Groot Lydensweek. Gaan ons opnuut kies om Hom te volg, al weet ons dit gaan ons kos? Dís die vraag wat ek en jy in die komende week voor Goeie Vrydag moet antwoord.




Paulus neem afskeid van Timoteus

uit “God se storie”

Lukas en Timoteus bly tot laat dié middag by Paulus. Hulle praat nie baie nie; alles wat gesê moes word, is reeds gesê. Toe dit tyd word dat hulle moet gaan, sê Paulus: “Ek wil hê julle moet vir oulaas saam met my bid.” 

Sonder om vir hulle te wag, gaan staan hy op sy knieë. Toe Lukas en Timoteus langs hom kniel, bid hy: “Here Jesus, ek dank U dat ek aan U kan behoort; dat U my voorgekeer het op die pad na Damaskus; dat U my gekies het om ’n werktuig vir U te wees. Ek dank U dat U my werk geseën het, sodat ek vandag baie geestelike kinders het wat U liefhet en U dien.

“Ek wil nou vir hulle bid, o God, dat U deur die werking van u Gees aan hulle al die wysheid en die insig sal skenk, sodat hulle tot volle kennis sal kom van wat u wil is. Ek bid dat hulle tot u eer sal leef deur net te doen wat U verlang. Ek bid dat hulle vrugte sal dra deur goeie werke, en sal toeneem in die kennis van God. Ek bid dat U aan hulle al die krag sal gee om in alle omstandighede met geduld te volhard.

“Ek dank U, ons hemelse Vader, dat U ons geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat U vir die gelowiges weggebêre het in die ryk van die lig. Dankie dat U ons uit die mag van die duisternis weggeruk het en ons onder die heerskappy gestel het van u Seun. Dankie, Here Jesus, dat ons die verlossing deur U verkry het, en die vergewing van sondes.

“Hou u kerk vas, Here Jesus! Hou hulle staande teen die aanslae van die Bose, en seën hulle wat in u kerk werksaam is. Ek bid veral vir hierdie twee broers van my, wat my tot aan die einde in my beproewing bygestaan het. U weet hoeveel hulle liefde vir my beteken. Ek dank U dat U hulle vir my geleen het, en nou wil ek hulle aan U teruggee, met die gebed dat hulle nog lank vrugbaar sal wees in u wingerd. Seën die pennevrug van my liewe broer Lukas. En seën die dienswerk van my kind Timoteus. Maak hom sterk in u diens, Here, dat hy steeds ’n ywerige en kosbare werktuig vir U mag wees.”

Paulus se hande bewe toe hy hulle op Lukas en Timoteus se kop sit, en hy moet eers sy keel skoonmaak voordat hy verder kan gaan, maar sy stem is sterk toe hy sê: “Die genade van ons Here, Jesus Christus, en die liefde van God ons Vader, en die gemeenskap van die Heilige Gees bly by julle twee!”

Timoteus ruk soos hy huil, maar hy dwing die woorde uit: “Here Jesus, dankie dat U broer Paulus vir ons gegee het. Dankie dat U hom so vrugbaar in u diens gebruik het. Dankie dat hy my pa in die geloof kan wees, en dat ek so baie by hom kon geleer het. Maak my soos hy, Here! Gee my die geloofsmoed en liefde om soos hy te stry vir u saak, elke dag van my lewe. En wees met hom, vannag, en môreoggend, as hy alleen sal wees. Help hom dat sy geloof nie sal wankel nie, en dat hy tot aan die einde met vreugde sal leef, sodat hy ook in sy sterwe vir U sal verheerlik. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid, tot in alle ewigheid. Amen.”

“Amen!” sê Paulus en Lukas tegelyk.

Toe is dit tyd om te groet. Paulus omhels eers vir Lukas en toe vir Timoteus. “Dankie, baie, baie dankie vir jou gebed, my kind. Elke woord het in my hart gaan lê, en vannag, as ek alleen is, sal ek dit weer bid saam met jou. Maar moenie oor my huil nie, Timoteus. Wees saam met my bly, want môre stap ek oor na die hemelsale, waar ons Heer en Koning vir my wag. Ek is nie bang nie, want die Here hou my vas, soos jy nou vir my gebid het.”

Dis weer stil in die sel toe die deur toeklap. Paulus is kalm en tevrede. Die Here het hom versterk.