Die held van Karmel kies hasepad

SAMARIA. – Elia die Tisbiet, die profeet van die Here wat verlede week met leeuemoed vier honderd en vyftig profete van Baäl die stryd op Karmelberg aangesê en hulle uiteindelik almal met die hulp van die volk gedood het, het die land uit gevlug.

Sy verdwyning kon nie op ’n méér ongeleë tyd vir die aanbidders van Jahwe gekom het nie, aangesien hulle sy leiding nou baie nodig het. Ná die gebeure by Karmelberg het die hoop opgevlam dat Elia hulle sal kan lei in hulle verset teen die pogings van koningin Isebel om die land heeltemal onder die Baäldiens te bring. Klaarblyklik was dit ’n ydele hoop. Dit was juis ’n boodskap van Isebel wat Elia daartoe beweeg het om die land te verlaat.

Bybelkoerant kon nie daarin slaag om ’n onderhoud met Elia te voer nie, aangesien hy iewers in die woestyn gaan skuil het. Sy slaaf, wat hy in Berseba agtergelaat het, het egter aan ons gesê dat koningin Isebel met ’n boodskapper vir Elia laat weet het, en ons haal aan: “Mag die gode my om die lewe bring as ek nie môre teen hierdie tyd met jou gemaak het soos jy met die profete nie.” Volgens die slaaf het Elia bang geword en vir sy lewe gevlug.

Hy was glo baie depressief, en het gesê dit lyk vir hom hy stry ’n verlore stryd om die ware geloof weer terug te bring na sy mense toe. Die slaaf het ons meegedeel dat hy baie bekommerd oor sy meester is en wonder of hy hom weer lewend sal sien, aangesien Elia gesê het hy sien nie meer kans om voort te gaan nie. Hy het glo ook gesê die Israeliete het die verbond met God verbreek, en nou staan hy vingeralleen.

In ’n verdere verwikkeling het koningin Isebel vanoggend in ’n persverklaring die Israeliete gevra om kalm te bly en hulle nie te laat intimideer deur die lot van die Baälprofete op Karmelberg nie. Sy het hulle die versekering gegee dat sy geen moeite sal ontsien om die vyande van Baäl uit te roei nie. Sy het ook bekend gemaak dat sy haar vader, koning Etbaäl van Sidon, versoek het om nuwe Baälprofete na Israel te stuur om die leemte te vul wat die dood van die profete gelaat het.

Ondertussen val die reën nog onafgebroke oor die hele land, soos Elia op Karmelberg beloof het. Die boere juig, want die droogte is gebreek en hulle sal nou vir die eerste keer in drie jaar weer kan saai.

 

MOSES LAAT STROME WATER UIT ’N ROTS VLOEI!

MERIBAWATERS. – Moses het vandag hier sy volgelinge verstom toe hy vir hulle water uit ’n rots laat vloei het. Só baie was die water dat almal, ook die vee, na hartelus kon drink.

Die water het nie net die Israeliete se dors geles nie, maar ook hulle veglustigheid gedemp. Hulle was die laaste tyd baie wrewelrig teenoor Moses omdat hy hulle die woestyn ingebring het terwyl hulle in Egipte gewoond was aan volop water. Nadat hulle vanoggend weer begin mor het, het Moses eenvoudig sy kierie gevat en vir die mense gevra of hy vir hulle water uit die rots moet laat kom. Daarna het hy twee maal met die kierie teen die rots geslaan, en siedaar! ’n Kitsfontein.

 

Koning Dawid trou stil-stil

JERUSALEM. – Koning Dawid het vandeesweek hier in die huwelik getree met ’n vooraanstaande weduwee van die stad. Sy is Batseba dogter van Eliam, kaptein in die koninklike leër. Haar eerste man, Urija die Hetiet, was ook ’n offisier in die koninklike leër. Hy het vroeër vanjaar gesneuwel in gevegte om Rabba, die hoofstad van die Ammoniete.

Die huwelik is in die paleis gesluit, en daarna het ’n baie klein geselligheid gevolg. Slegs die intiemste vriende van die koning en sy nuwe bruid was aanwesig. Op ’n vraag waarom daar nie ’n groot bruilof gereël is nie, het die koning geantwoord: “Ek dink nie dit is gepas om ’n luisterryke troue te hê terwyl my soldate in ’n oorlog gewikkel is nie.”

 


Wie meen dat hy staan …

Selfs die grootstes onder die grotes struikel en val, want versoekings en sonde het nou maar eenmaal ’n manier om niemand oor te slaan nie. En dikwels kom dit juis op ’n tydstip dat jy dit die minste verwag. Moses het immers met die episode met Aäron se bloeiende staf opnuut weer die almag van God beleef; Elia se optrede op Karmel troon uit in die Bybelgeskiedenis as ’n geloofsdaad soos min; Dawid was op die toppunt van sy loopbaan as gesalfde van God.

Geen wonder nie dat Paulus in 1 Kor. 10:12 waarsku: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” Hy haas hom egter in die volgende vers om ons daarop te wys dat ons staande kán bly; dan nie in eie krag nie, maar deur die werk van God in ons lewe. Hy skryf: “God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie …”

Staan dan vas in God se krag. Ook vandag.




Elia daag 450 Baälprofete uit

SAMARIA. – Die omstrede profeet Elia die Tisbiet het dit weer gedoen! Hy het die ganse Baälprofetedom van die ryk – al vier honderd en vyftig van hulle – asook die vier honderd profete van Asjera wat onder koningin Isebel se beskerming is, tot ’n stryd op Karmelberg uitgedaag. Hy het ook die ganse volk Israel opgeroep om by Karmelberg saam te kom om getuies van die stryd te wees.

Elia het hom drie jaar gelede die gramskap van koning Agab op die hals gehaal toe hy aangekondig het dat dit nie weer sal reën voordat hy so sê nie. Sedertdien het dit inderdaad nog nie weer gereën nie en word die land deur een van die ernstigste droogtes in menseheugenis geteister. Toe het hy verdwyn, en koning Agab kon nooit daarin slaag om hom op te spoor nie, selfs nie eens in die buiteland nie. En gister het hy doodluiters na Obadja, die koninklike paleisopsigter, gegaan met die versoek om die koning te spreek!

Volgens Obadja het daar harde woorde tussen Elia en die koning geval. Elia het die blaam vir die droogte volledig op koning Agab gelê, omdat hy toegelaat het dat die Baälprofete hulle in die land vestig. Vandaar die uitdaging tot ’n stryd op Karmelberg. Politieke waarnemers sê egter dat die uitdaging bloot vertragingstaktiek van Elia is, omdat hy besef dat sy dae getel is. Hulle wys daarop dat die koning al meer as ’n jaar gelede belowe het dat hy hom sal doodmaak as hy hom in die hande kan kry. “Ek kan nie sien hoe hy uit dié penarie gaan loskom nie,” het een van koningin Isebel se vertrouelinge die situasie opgesom. “Hoe kan één mens honderde profete aandurf?”

Intussen sal ons maar moet wag tot volgende week om te sien wat die stryd op Karmelberg oplewer.

 

AÄRON SE KIERIE DRA AMANDELS!

KADES-BARNEA. – Die leiers van die twaalf Israelitiese stamme het vanoggend die verstommende storie vertel dat die priester Aäron se droë kierie uit die bloute gebot het en amandels begin dra het.

Hierdie ongelooflike verskynsel sal hopelik ’n einde bring aan ’n lang en onverkwiklike leierskapstryd in dié woestynvolk se geledere. Die stryd is onlangs op die spits gedryf deur die Leviet Korag seun van Jishar en die twee Rubeniete Datan en Abiram, seuns van Eliab, saam met twee honderd en vyftig ander verkose volksleiers. Korag het die alleenreg bevraagteken van Aäron om by die altaar offers te bring, terwyl Datan en Abiram geweier het om hulle aan Moses se gesag te onderwerp. Op ’n gebed van Moses het die Here die grond oopgeskeur sodat die opstandelinge én hulle gesinne ingesluk is.

Die volgende dag het die volk egter die verset verder gevoer en vir Moses en Aäron daarvan beskuldig dat hulle vir die mense se tragiese dood verantwoordelik is. Daarop het die Here ’n pes onder hulle ingestuur, wat eers opgehou het toe Aäron met ’n vuurpan vol wierook tussen hulle ingehardloop het om só vir die volk versoening te doen. Veertien duisend sewe honderd mense het van die plaag omgekom.

Gister het Moses toe die leiers van die twaalf stamme versoek om elkeen ’n kierie met sy naam op in die tent van ontmoeting neer te sit, sodat God self die hoëpriester kan aanwys en so ’n einde aan die stryd kan bring.

Vanoggend het Aäron se kierie amandels gedra.

 


Ander

As jy die gebeure van Num. 16 en 17 lees, verstaan jy hoekom Moses “’n uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op die aarde” (Num. 12:3) genoem word. Want terwyl hy male sonder tal deur die lsraeliete uitgeskel en selfs verwerp word, is dit eenvoudig verstommend hoe hy telkens vir hierdie einste volk by God pleit en vir hulle in die bres tree: In plaas daarvan om sy rug op hulle te draai, val hy op sy knieë en bid hy vir hulle (16:45). Want vir hom het dit nie gegaan om eie eer nie, maar om die gehoorsaamheid aan God.

Dít was ook Elia se stryd. Daarom bid hy aangrypend in 1 Kon. 18:37: “Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.”

Het jy ’n passie vir die heil van ander? Of haal jy maar jou skouers op en sê dis nie jou besigheid wat jou buurman of kollega aanvang nie? Gee jy om vir ander?




Verkenners keer terug uit Kanaän; opstand dreig

KADES (PARANWOESTYN). – Pandemonium het gistermiddag laat by die volksvergadering van die Israeliete uitgebreek toe die leiers wat die land Kanaän gaan verken het, aan die volk verslag gelewer het. Die opstand het ontstaan toe die meeste verkenners gesê het dit is onmoontlik om die land in te neem.

Die twaalf leiers is bykans sewe weke tevore deur Moses uitgestuur om die land Kanaän te gaan verken. Hulle het gister teruggekeer.

Die manne was dit eens dat die land inderdaad baie vrugbaar is. Om hulle berig te staaf, het hulle vrugte saamgebring, onder andere ’n druiwetros wat so groot is dat twee mans dit aan ’n stok moes dra!

Oor die inneembaarheid van die land was daar egter nie eenstemmigheid nie. Josua seun van Nun en Kaleb seun van Jefunne is vol vertroue dat hulle die land sal kan inneem. Die ander tien verkenners is egter nie so optimisties nie. Hulle wys daarop dat die inwoners van die land gedugte teenstanders is en boonop in groot, versterkte stede woon. Daar woon selfs reuse, vermoedelik afstammelinge van die Enakiete.

Toe die volksvergadering hierdie berig hoor, het daar pandemonium uitgebreek. Die volk het in verset teen Moses en Aäron gekom en hulle uitgeskel. Hulle wou met alle geweld ’n nuwe leier kies wat hulle na Egipte kon teruglei. Toe Josua en Kaleb tussenbeide probeer tree, het die opstandige skare gedreig om hulle met klippe dood te gooi.

Teen druktyd gisteraand was die vergadering nog aan die gang, en dit het in daardie stadium nie gelyk of die saak vreedsaam opgelos sal kan word nie.

 

Groot droogte kom glo van God af

SAMARIA. – ’n Paleiswoordvoerder het hier bekend gemaak dat die ernstigste droogte in menseheugenis wat die land tans teister, glo etlike maande gelede al deur die Tisbiet Elia, ’n bywoner uit Gilead, in die Naam van die Here aangekondig is. Elia het dié aankondiging aan koning Agab gedoen en onmiddellik daarna die land verlaat. Hy skuil tans vermoedelik by ’n weduwee in die stad Sarfat in Sidon.

 

OORLOGSWOLKE PAK SAAM IN NOORDE

JERUSALEM. – Paniek heers in die hoofstad hier sedert berigte die stad bereik het dat die Aramese koning Resin ’n oorlogsverdrag met die Israelitiese koning Peka seun van Remalja gesluit het om ’n veldtog teen Jerusalem te onderneem. Die Aramese troepe het reeds in Efraim aangekom, terwyl die Israelitiese magte besig is om op die noordelike grens van Juda saam te trek. Dit lyk in hierdie stadium of oorlog onafwendbaar is.

Berigte uit die paleis lui intussen dat die profeet Jesaja gister vir koning Agas by die boonste dam in die Bleikveld gaan spreek het waar hy besig was om die kanaal te ondersoek in voorbereiding vir ’n moontlike beleg van die stad. Jesaja wou glo die koning gerusstel dat daar niks van die veldtog sal kom nie, omdat die Here dit sal verhoed.

By navraag het koning Agas bevestig dat hy Jesaja teengekom het. Hy steur hom egter nie aan wat die man te sê gehad het nie, het die koning gesê. Jesaja het immers nie ’n benul van internasionale politiek nie. “Ek het ’n land om te regeer, en ons staan op die vooraand van ’n geweldige oorlog. Ek het nie tyd om na ouvroustories te luister nie,” het hy gesê.

 

 


Geloof

Geloof vra nie net van ons om te aanvaar dat daar ’n God is, al kan ons Hom nie sien nie. Geloof vra ook dat ons aanvaar dat Hy ons lotgevalle beskik. Geloof vra verder dat ons op grond van hierdie aanvaarding sal handel. Dat ons ons aan Hom sal toevertrou en ons lewe op grond van sy Woord sal inrig.

Dit was hierdie soort geloof wat die weduwee van Sarfat beweeg het om haar laaste bietjie meel en olie – dit wat letterlik tussen haar en haar seuntjie en ’n hongerdood gestaan het – te vat om vir die man van God ’n maal te berei. Want die Here, die God van Israel, het belowe dat Hy vorentoe sal sorg, totdat dit weer reën.

Dit was hierdie soort geloof wat die lsraeliete op die vooraand van hulle intog in die Beloofde Land gekort het. Hulle sien net die versterkte stede en die magtige krygers van die vyand, en word dan paniekbevange. Soos koning Agas baie jare later: “Hulle het gebewe soos die bome in die bos bewe in die wind” (Jes. 7:2). Vir hulle sê die Here: “Julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie” (Jes. 7:9).

Jy kan ook vandag standhou, selfs in uiterste beproewing, as jy gló. God is immers in beheer!




Keiser Augustus kondig sensus af

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Keiser Augustus het in ’n proklamasie sy ganse ryk beveel om deel te neem aan ’n sensus in die komende jaar. Kragtens die proklamasie is elke burger van die Romeinse Ryk verplig om hom te laat registreer.

Die Joodse Raad het sy misnoeë met die sensus in geen onduidelike taal laat blyk nie. ’n Woordvoerder van die Raad het gesê die sensus is net nóg ’n manier van die keiser om sy belastinggaarders te help om elke beskikbare oortjie uit die arme burgers uit te wurg. ’n Ander ewe bedenklike rede vir die sensus is om jong manne op te spoor sodat hulle opgeroep kan word vir diensplig. Talle Joodse seuns sal waarskynlik kort na die sensus oproepinstruksies kry vir Augustus se weermag.

PRIESTER STOM; VOLK WAG VERGEEFS

JERUSALEM. – ’n Priester met die naam Sagaria uit die diensgroep van Abia het verlede week na bewering ’n rare ondervinding gehad toe die engel Gabriël glo aan hom verskyn het.

Volgens Sagaria was hy besig om in die tempel wierook op die altaar te brand toe die engel aan hom verskyn het met die goeie nuus gebring dat sy vrou Elisabet ’n seun gaan hê. Aangesien hy en Elisabet albei al oud is, was dié nuus te goed om waar te wees, en hy het ’n bewys van die engel gevra vir die egtheid van die boodskap. Daarop het die engel Sagaria stom laat word.

Intussen het die volk vergeefs buite gestaan en wag dat Sagaria hulle moes kom seën. Toe hy uiteindelik buitentoe kom, kon hy nie met hulle praat of hulle seën nie.

Adonia smee komplot

Van ons Ou Testament redaksie

JERUSALEM. – Dit was ’n dag van hoogspanning, verwarring en drama gister in die hoofstad toe prins Adonia homself tot koning uitgeroep het. Uiteindelik is dit egter Salomo wat koning Dawid opvolg.

Adonia is die tweede seun van koning Dawid se vrou Gaggit wat homself koning maak. Enkele jare gelede was sy ouer broer, Absalom, in die nuus toe hy óók sy pa van die troon probeer stoot het. Lesers sal onthou dat Absalom destyds in die daaropvolgende gevegte gesneuwel het.

Adonia het die steun van die hoof van die leër, genl. Joab seun van Seruja, en die priester Abjatar, vir sy plan gekry. Hy het ’n groot feesmaal by Sogeletrots langs Rogelfontein gehou en behalwe Joab en Abjatar ook al die ander prinse daarheen uitgenooi, asook al die generaals en ander manne van aansien in Juda. Tydens die fees het Adonia homself tot koning verklaar.

Die priester Sadok en die hoof van die koninklike lyfwag, kapt. Benaja seun van Jojada, asook die profeet Natan en ander hoë amptenare wat na aan koning Dawid is, is egter nie na die feesmaal genooi nie. Toe hulle van die komplot verneem en dit aan die bejaarde koning meedeel, het hy blitsvinnig opgetree. Hy het opdrag gegee dat die priester Sadok en die profeet Natan vir Salomo, sy seun by koningin Batseba, tot koning salf en hom op sy troon laat sit. Voor Adonia sy oë kon uitvee, was Salomo met die volle seën van koning Dawid die nuwe koning.

Toe Adonia se handlangers van Salomo se kroning hoor, het hulle almal die hasepad gekies en hulle “koning” Adonia aan sy eie lot oorgelaat.


Om oor na te dink

Op die eerste bladsye van sy Evangelie beskryf Lukas vir ons hoe God soos ’n meesterskaakspeler die bord regkry vir die grootste skuif in die geskiedenis van die wêreld: die koms van sy Seun na hierdie aarde. Ons lees van die geboorteaankondiging van Johannes die Doper – die Elia wat sou kom (Mal. 4:5) om die pad vir die Messias voor te berei (Jes. 40:3-5).

Ons lees ook van ’n sensus wat keiser Augustus uitskryf. Sonder dat hy dit besef, is hy daardeur besig om die wiele aan die rol te sit om Josef en Maria in Betlehem te kry, want dis dáár, in die geboortestad van Dawid, waar die Lig vir die wêreld gebore moes word. Die Kind wat na hierdie wêreld kom, kom immers om die troon van sy voorvader Dawid te bestyg, kragtens die belofte van God eeue tevore (1 Kon. 2:4; vgl. 2 Sam. 7:16). Hierdie belofte het met Salomo se kroning gedeeltelik in vervulling gegaan, maar dit was eers met Christus se koms dat die belofte in sy volle reikwydte vervul is.

As die Seun van God na hierdie wêreld kom, is dit nie sommer ’n sakie waaroor God vinnig ’n besluit geneem het, of ’n noodmaatreël om te probeer red wat daar te redde is op aarde nie. Nee, Christus kom ooreenkomstig die eeue oue Raadsplan van God, kragtens beloftes wat Hy van die begin af aan sy volk gemaak het. Want God het van die begin af besluit om nie toe te laat dat hierdie wêreld uit sy hande glip nie: “Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie,” het Jesus immers self gesê (Joh. 10:29).




Vrou word soutpilaar

Van ons Ou Testament redaksie

SOAR. – ’n Man het hier beweer dat sy vrou in ’n soutpilaar verander het toe hulle uit Sodom gevlug het net voor die verwoestende ramp die stad getref het.

Lot, ’n broerskind van die bekende donkiehandelaar Abraham van Hebron, is glo die aand voor die ramp deur twee onbekende mans ingelig oor die dreigende gevaar. Die mans het hom en sy gesin beveel om so vinnig moontlik pad te gee. Hulle moes vlug sonder om om te kyk, want, het die mans gesê, God gaan die stad straf oor sy sonde.

’n Entjie van die stad af het sy vrou glo omgedraai omdat sy van die kosbaarhede wat hulle in die huis moes agterlaat, wou gaan haal. Dit was toe dat sy in ’n soutpilaar verander het. Slegs Lot en sy twee dogters het die ramp oorleef.

 

NABOT GESTENIG

JISREËL. – Die boeregemeenskap hier is met skok vervul oor die dood van een van die gesiene boere van dié vrugbare vlakte. Nabot, die eienaar van ’n spogfamilieplaas net langs die koning se somerpaleis, is met klippe doodgegooi nadat hy skuldig bevind is aan Godslastering. Hy het ook die koning gevloek, het die plaaslike hof bevind.

Hardnekkige gerugte doen egter die ronde dat sy dood ’n goed beplande set van koningin Isebel is om die grond van Nabot in die hande te kry. Dit is ’n algemeen bekende feit dat koning Agab lankal sy oog op die wingerd het, aangesien dit aan sy paleisgronde grens. Hy het juis verlede week ’n aanbod vir die grond aan Nabot gemaak, maar Nabot het geweier. Die koning was volgens gerugte baie teleurgesteld omdat hy nie daarin kon slaag om die grond te bekom nie.

Koning Agab het net na Nabot se dood op die grond beslag gelê.

 

Generaal gesond; Elisa se kneg siek

SAMARIA. – Die wonderbaarlike genesing van genl. Naäman waaroor ons verlede week berig het, het ’n tragiese nadraai gehad toe Elisa se kneg, Gehasi, melaats geword het.

Sover vasgestel kan word, het Gehasi melaats geword kort nadat genl. Naäman vertrek het. Blykbaar wou die profeet geen vergoeding van die generaal aanvaar omdat hy hom gesond gemaak het nie. Gehasi het toe sonder sy meester se medewete ’n betaling van 68 kg silwer en twee stelle klere van Naäman gevra en dit in sy kamer versteek. Die profeet het dit uitgevind en aangekondig dat Gehasi as straf self melaats sal word.

Hy het Gehasi uit sy diens ontslaan.

 

Mededeelsaamheid kenmerk gemeente

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Ou inwoners van die stad praat met groot lof van die nuwe gemeente van Jesus. “Dit is verbasend dat hierdie mense alles vir mekaar oorhet, en dit terwyl die meeste van hulle mekaar maar onlangs eers leer ken het,” het een teenoor ons opgemerk.

Toe Bybelkoerant ondersoek ingestel het, kon ons nie anders as om dit ook op te merk nie. Niemand hou sy goed net vir homself nie. Party lede van die gemeente verkoop selfs hulle eiendom om uit die opbrengs ander lede te kan ondersteun.

 


Om oor na te dink

Dit is nie nodig om die verwoestende gevolge van materialisme (vir jouself én ander) uit te spel nie; uit hierdie paar gedeeltes is dit duidelik genoeg. As jou besittings jou god word, is daar min vryheid oor om agter die Here Jesus aan te loop. Die ywer na meer maak jou blind vir die nood van ander, want jy leef net vir jouself en jou goed. Wanneer jy ontdek dat alles wat jy het, in elk geval aan God behoort, dat dit net aan jou geleen is om met vreugde te geniet, gaan jou hart oop vir ander, en word dit moontlik om ander lief te hê.

Is jou aardse besittings jou hoogste goed?