Hebreërs spel gevaar, sê farao

MEMPHIS. – Die farao het gister die ganse Egiptiese volk opgeroep om te help om die snelle aanwas onder die Israelitiese bevolking te stuit. Hy het gesê die Hebreërs se getalle neem sodanig toe dat dit ’n ernstige bedreiging vir die stabiliteit in die land kan word. Daarom beveel hy die hele volk om elke pasgebore Israelitiese seuntjie in die Nyl te gooi. Die dogtertjies mag egter bly lewe.

Die dekreet het ’n vloedgolf van verontwaardiging en selfs protes in humanitêre kringe tot gevolg gehad. Farao Sethos het hulle verseker dat dit die laaste uitweg is. “As ons nie baie gou dié aanwas hokslaan nie, sit ons binne ’n paar jaar met ’n nasionale ramp van ongekende omvang,” het hy gesê in antwoord op besware. Hy het statistieke aangehaal wat daarop dui dat die Hebreërs alreeds ’n getalsoorwig teenoor die Egiptenare het. Alleen is hulle nie veel werd nie, het hy gesê, maar as hulle hulle in geval van oorlog by die vyand skaar, is daar probleme.

Die farao het verduidelik dat hy reeds twee ander metodes probeer het om hulle getalle te beperk, maar dat beide dié maatreëls misluk het. Sy eerste plan was om die hele volk met dwangarbeid te onderdruk. Toe dit alleen nie die gewenste uitwerking gehad het nie, het hy die Israelitiese vroedvroue versoek om die seuntjies by geboorte dood te maak, maar hulle het nie hulle samewerking gegee nie. Dus het hy nou geen ander keuse nie as om dié drastiese maatreël in te stel.

Ons het verneem dat die Israelitiese leiers ’n dringende versoek tot die farao gerig het om hulle te woord te staan, maar volgens ’n paleiswoordvoerder is sy program tans te vol om hulle in te pas.

 

MENSESLAGTING IN NOB

GIBEA. – Vyf en tagtig priesters met hulle vrouens, kinders en al – dit is al die inwoners van die priesterdorpie Nob – is gister op bevel van koning Saul met die swaard uitgewis. Die teregstelling volg op beweringe deur Doëg die Edomiet dat die priesters van Nob teen die koning saamgesweer het deur die voortvlugtige Dawid seun van Isai te help ontsnap.

Die oorledenes behoort almal tot die familie van die priesterhoof Agimelek, seun van Agitub. Die enigste oorlewende is Agimelek se seun Abjatar, wat daarin geslaag het om te ontvlug. Ons het verneem dat hy hom intussen by Dawid aangesluit het.

In die summiere verhoor hier het Agimelek getuig dat hulle in goeie trou gehandel het toe hulle Dawid ontvang het, aangesien hulle onbewus daarvan was dat hy vir die koning gevlug het. Saul wou egter nie hulle storie glo nie, en het sy amptenare beveel om almal te dood. Niemand, selfs nie sy lojaalste amptenare, wou ’n hand teen die priesters oplig nie. Uiteindelik het Doëg toe man-alleen al die inwoners van Nob gedood.

Dié jongste vergryp van koning Saul laat die vraag ontstaan of hy nog geskik is om die volk te lei. Al meer mense is bekommerd daaroor dat sy obsessie oor Dawid besig is om sy gesonde oordeel aan te tas.

 

GEBOORTES

Ben Kehat. Amram die Leviet en Jogebed het die pragtigste seuntjie en boetie vir Aäron en Mirjam van die Here ontvang. Dank aan die God van ons vaders, en aan die vroedvroue Sifra en Pua.

 


Is die duiwel is los? Nog nooit!

’n Mens skrik eintlik as jy sien tot watter uiterstes die duiwel sal gaan om God se groot plan met hierdie wêreld te fnuik. Dit is duidelik dat hy hom nie steur aan enige reëls nie. Vir hom het ’n mens se lewe – of dit nou ’n priester, ’n vrou of ’n pasgebore babatjie is, maak nie verskil nie – geen betekenis nie.

Wat amper nog meer ontstellend is, is die feit dat hy daarmee wegkom. ’n Mens vra jouself die vraag af: hoekom laat God dit toe? Gee Hy dan nie om dat onskuldige mense gedood word nie?

God gee om, meer as wat ons ooit kan verstaan. In Ps. 116:15 staan dit immers uitdruklik: “Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.” En tog laat Hy toe dat sy kinders ly en selfs sterwe. Hoekom, weet ons nie.

Wat ons wel weet, is dat die duiwel nie die laaste woord inkry nie; dat hy nooit, al probeer hy hóé hard, sal wen nie. Daarom haas die verteller van die Eksodusverhaal hom om vir ons van die geboorte van Moses te vertel. Want hy wil vir ons sê: God is nie onkant betrap deur die gebeure nie. Hy het ’n plan waarby Hy farao se eie dogter betrek.

Natuurlik sou dit nog jare duur voordat Moses oud genoeg was vir God se plan. Maar hy wat glo, is bereid om op God te wag.




Farao vier sy geboortedag met ’n groot onthaal

Van ons Ou Testament redaksie

AVANIS. – Die farao het gister sy verjaarsdag luisterryk gevier toe hy al sy amptenare op ’n reusebanket onthaal het. Kos en drank was daar in oorvloed, en die danseresse het met hulle skoonheid en grasie die gaste van al hul sorge laat vergeet.

Die hoogtepunt van die onthaal was weer eens die openbare verhoor van die farao se persoonlike gevangenes. Vanjaar is daar twee baie prominente gevangenes voor die farao gebring: die hoofkelner en die hoofsjef van die paleis, wat al geruime tyd in die koninklike tronk aangehou is. Die sjef is ter dood veroordeel: hy moet aan ’n paal hang totdat die voëls sy bene kaal gevreet het. In ’n grootmoedige gebaar wat ’n dawerende applous uitgelok het, het die farao die hoofkelner begenadig en weer in sy pos aangestel. Hy het onmiddellik sy werk hervat en vir die res van die banket die farao bedien.

Die Bybelkoerant het na afloop van die fees ’n kort onderhoud met die gelukkige kelner gevoer. Hy het gesê hy is nie eintlik verbaas oor die uitslag nie. Hy het drie dae tevore ’n droom gehad waarin die gode hom verseker het dat hy in sy amp herstel sal word. Hy sê hy voel nogal sleg oor die sjef, want hulle het lank ’n sel gedeel en goeie vriende geword. Oor sy tyd in die tronk wou hy nie veel uitwei nie. “Dis ’n verskriklike plek daardie. Bid net dat jy nooit daar kom nie.”

 

Dawid steeds voortvlugtig; ontwyk koning Saul net-net

GORESA. – Dawid seun van Isai, sy ouers en sy hele familie asook talle meelopers het gister inderhaas hiervandaan na die Maonwoestyn gevlug. Dit volg op berigte dat die Siffiete sy skuilplek aan koning Saul verklap het.

Dit is al die hoeveelste wegkruipplek waaruit Saul vir Dawid gejaag het. Dawid het, nadat hy in onguns by die koning geraak het, eers in Gat gaan skuil, toe in die Adullam-grot, en daarvandaan na Mispe in Moab. Hy is kort daarna na die Geretbos in Juda. Daarvandaan het hy na Keïla getrek nadat hy die stad uit die mag van die Filistyne bevry het, maar ook daar het Saul hom uitgejaag, en hy het na bergskuilings in die Sifwoestyn gevlug. Later het hy hom hier in Goresa kom vestig.

Ons korrespondent in die koninklike leër berig intussen dat die soldate vir Dawid die bynaam “Vlakhaas” gegee het omdat hy elke keer uit ’n nuwe gat moet vlug. Een van die soldate het skertsend opgemerk: “Hy is so bang vir ons koning, as hy net die naam Saul hoor, hardloop hy al!”

 

VERRAAIER ONTSNAP

Van ons Nuwe Testament redaksie

DAMASKUS. – Saul van Tarsus het laasnag spoorloos verdwyn, ten spyte van uitgebreide maatreëls deur die Joodse gemeenskap hier om hom te vang sodra hy die stad probeer verlaat.

Saul, ’n Joodse rabbi, het enkele dae gelede uit Jerusalem na Damaskus gekom met aanbevelingsbriewe van die hoëpriester. Sy oogmerk was om aanhangers van “Die Weg” in hegtenis te neem en na Jerusalem te neem vir ’n verhoor voor die Joodse Raad.

Saul het hom met sy aankoms hier egter nie, soos verwag is, by die sinagoge aangemeld nie. Onbevestigde berigte lui dat hy by ene Judas van Reguitstraat tuis was. Hy is glo ook by byeenkomste van die sekte opgemerk. Voorts het hy die Jode woedend gemaak toe hy in die sinagoges die dwaalleer van die sekte, naamlik dat Jesus van Nasaret die Seun van God is, verdedig het. Dit het hulle laat besluit om hom te vermoor, maar nou het hy ontsnap.

“Die Weg” is ’n sekte wat onlangs in Jerusalem gestig is. Saul se veldtog in Jerusalem teen die sekte was só geslaag dat talle Jerusalem uit vrees vir hulle lewe verlaat het. Party van hulle het hulle in Damaskus kom vestig; gevolglik het die sekte nou ook hier die stad posgevat.

 


Om oor na te dink

Hoekom gaan dit soms met jou sleg? Daar is mense wat sal sê: dit is omdat jy nie naby genoeg aan die Here lewe nie. Die Here wil tog vir ons net die beste gee.

Maar dan moes dit mos met Josef ook net goed gegaan het! Hy het immers ’n onbesproke rekord in Egipte gehad. En tog beland hy in “hierdie gat”, soos hy die tronk noem (Gen. 40:15), al was die Here by hom. So lees ons in Gen. 39:21: “Terwyl Josef daar in die tronk was, was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind …”

Ook van Dawid lees ons dat hy telkens weer “bang voor Saul (moes) wegvlug” (1 Sam. 23:26). Dit was ook Paulus se ondervinding ná sy bekering. En van hulle albei getuig die Bybel ondubbelsinnig dat hulle naby die Here geleef het.

As alles in jou lewe nie verloop soos jy dit graag wil hê nie, beteken dit nie dat God jou vergeet het of dat daar sonde in jou lewe is wat jy eers moet aflê voordat dit beter kan gaan nie. Dikwels (meestal) is daar nie ‘n eenvoudige verklaring vir jou swaarkry nie, behalwe dat dit deel is van die gebroke werklikheid waarin ons leef. En natuurlik, dat Satan sy bes doen om God se kinders seer te maak. Die regte vraag in lyding is nie: “Hoekom gebeur dit met my?” nie. Die regte vraag is: “Hoe gaan ek hierdeur kom?” Dáárop is daar ‘n antwoord. God belowe dat Hy jou nie in jou swaarkry sal los nie. Dit was immers Jesus se laaste woorde voor sy hemelvaart: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.... En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”




Jong seun ontvang ’n openbaring van God

SILO. – ’n Seun het hier daarop aanspraak gemaak dat God in die nag aan hom verskyn het met ’n boodskap aan sy mentor, die hoëpriester Eli.

Die seun, Samuel, is ’n gewilde helper vir diegene wat hulle offers na die altaar bring, aangesien Eli se twee eie seuns, Hofni en Pinehas, nie die aanbidders goed behandel nie en dikwels aanspraak maak op meer as hulle regmatige deel van die offer. Onbevestigde berigte lui dat die boodskap wat Samuel van God ontvang het, juis oor hierdie twee seuns handel.

Toe Eli om kommentaar genader is, was hy vol lof vir die skrander seun. “Hy gaan dit nog ver bring, kan ek julle verseker,” het hy opgemerk. Hy wou nie veel sê oor berigte dat God ’n oordeel oor sy twee seuns aangekondig het nie. “Hy is die Here, laat Hom doen soos Hy wil,” was sy enigste antwoord.

Samuel het op ’n baie besondere wyse in die tabernakel beland. Sy moeder, Hanna, was onvrugbaar. Nadat sy ’n gelofte teenoor die Here afgelê het, het sy egter swanger geraak, en is Samuel gebore. Toe hy gespeen is, het sy hom na Eli gebring soos sy aan God beloof het, sodat hy sy lewe in diens van God kan wy.

Die oudstes van die stad hier is vol hoop dat Samuel die geestelike leier van die Israeliete sal word. Daar is ’n groot honger na die woord van die Here, het hulle gesê, maar dit lyk nie of Eli se seuns die leisels by hulle bejaarde vader sal kan oorneem nie. “As God aan Samuel verskyn het, is dit die antwoord op ons gebede,” het ’n man bewoë opgemerk.

 

JODE KAN TERUGKEER NA VADERLAND

BABEL. – Daar was gister uitbundige vreugde in die stad se Joodse gemeenskap toe koning Kores ’n proklamasie uitgevaardig het wat hulle in staat stel om na hulle vaderland terug te keer en die tempel in Jerusalem te herbou.

Die terugkeer lui ’n nuwe tydvak vir die Jode in nadat hulle 70 jaar lank hier in ballingskap gelewe het. Hulle is destyds deur die groot Babiloniese koning Nebukadnesar hierheen gebring as deel van sy beleid om volke te hervestig om so stabiliteit in sy ryk te bewerkstellig. As strafmaatreël het hy ook die groot tempel wat koning Salomo nog gebou het, met die grond gelyk gemaak.

 

Daar was nie altyd ’n aarde nie, sê Teo Loog

JERUSALEM. – ’n Bekende geleerde in die stad, prof. Teo Loog, het gisteraand op ’n vergadering van die argeologiese vereniging gesê al sy navorsing dui daarop dat daar nie altyd ’n aarde was nie.

“Wat my besonderlik opgeval het in my navorsing oor die verhale van die oertyd, is dat daar geen volk is wat nie in sy oorgelewerde tradisies ’n verhaal het oor die ontstaan van alle dinge nie. In die meeste verhale is die wêreld soos ons hom ken, die gevolg van ’n oerstryd tussen die skeppergod en die god van chaos,” het hy gesê. In die korpus van skeppingsverhale is die verhaal wat in die Bybel opgeteken is egter uniek in dié sin dat hierdie verhaal nie weet van enige stryd rondom die skepping nie. Genesis, die eerste boek in die Bybel, praat net van een God, Jahwe, wat van die begin af daar was. Volgens die Bybel het alles wat ons om ons sien, deur ’n magswoord uit sy mond ontstaan. Vóór die skepping was daar egter niks. Net God.

“Dit laat jou gedagtes duisel om te dink aan ’n heelal met niks – geen aarde, geen son, sterre, niks. Net God. En tog was dit eers so,” aldus prof. Loog.

 


Om oor na te dink

Jy begin vandag met ’n nuwe jaar. Dit is daarom goed om weer ’n slag stil te word met die wonderlike troos dat God die God is van nuwe beginne. Hy kan iets nuuts begin waar alles vir ons verlore of hopeloos lyk. Miskien is jou moed laag. Miskien lê daar uitdagings voor wat vir jou te groot voel om te hanteer. Onthou dan: God kan wondere doen!

Hy het aan die begin uit niks ’n heel nuwe wêreld gemaak. Hy het in Eli se dae met ’n jong seun nuut begin. Hy het die ballinge ’n nuwe kans gegee. Hy kan ook deur sy wondermag in jóú lewe iets nuuts begin. Hy kan in sy wondergenade vir jou deure laat oopgaan waarvan jy nooit eers kon droom nie!

Dit het Dawid laat uitroep: “U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is” (Ps. 16:11). Hy kan vir jou vreugde en vrede bring wat alle verstand te bowe gaan (vgl. Fil. 4:7). Vandag kan vir jou die begin wees van ’n nuwe lewe – ’n lewe waarin God telkens op ’n nuwe wyse werk.

Glo dit! Leef daaruit! Van vandag af!




TROUE VAN DIE JAAR

Van ons Ou Testament redaksie

Rebekka dogter van Betuel

LAGAI-ROÏ-FONTEIN. – Daar heers groot opgewondenheid in sosiale kringe hier oor die huwelik aanstaande week tussen Isak, seun van die skatryk Abraham seun van Tera, en die beeldskone Rebekka, dogter van Betuel van Haran in Mesopotamië. Heelwat jong dames sal waarskynlik in die volgende paar dae trane van teleurstelling moet wegpink, aangesien Isak, die enigste erfgenaam van Abraham se groot sakeryk, allerweë beskou is as die hubaarste man in Kanaän.

Rebekka is die kleindogter van Abraham se broer Nahor, wat in Mesopotamië agtergebly het toe Abraham hom destyds in Kanaän kom vestig het. Sy het gister saam met Abraham se hoofslaaf, Eliëser, hier aangekom.

Eliëser is vroeër vanjaar deur Abraham na Mesopotamië gestuur met die opdrag om ’n vrou vir sy seun Isak te soek. Op die vraag hoe hy te werk gegaan het om dié moeilike opdrag uit te voer, het Eliëser geantwoord dat dit net gebedsverhoring is. “Ek het haar glad nie gesoek nie. God het haar reguit na my toe gestuur. Wonderlik, nè?”

 

Koning Saul en sy drie seuns sneuwel

GILBOA. – Die ganse Israel is in rou gedompel toe hulle koning Saul seun van Kis en sy drie seuns Jonatan, Abinadab en Malkisua op die slagveld hier gesneuwel het in een van die grootste nederlae nóg teen die Filistyne.

Die verpletterende nederlaag kom as geen verrassing nie, aangesien die moraal van die koning en sy manskappe reeds baie laag was voor die stryd, sodat hulle eintlik nie weerstand gebied het teen die Filistyne nie. Onbevestigde berigte lui dat koning Saul in ’n desperate poging om die situasie te beredder, selfs ’n dodebesweerder besoek het sodat hy die gestorwe siener Samuel kon raadpleeg. Blykbaar het dit nie lig vir hom gebring nie, want hy was daarna meer terneergedruk as ooit.

Politieke ontleders sê dat koning Saul eintlik sy eie ondergang bewerk het. Hy kon nooit werklik die mas opkom teen die Filistyne nie. Daarby het hy die enigste man wat die Israeliete met sukses teen hulle aangevoer het, Dawid seun van Isai, uit die land gedryf uit vrees dat hy sy koningskap van hom sou afneem. Ironies genoeg lyk dit na ’n uitgemaakte saak dat dit presies is wat nou sal gebeur, aangesien Saul se enigste oorlewende seun, die jong Es-Baäl wat hom nou opvolg, nie ’n sterk leier is nie.

  • Lees van hierdie stormagtige geskiedenis in 1 Sam. 28 en 31.

 

Jong Joodse balling red land se slimstes

BABEL. – ’n Onbekende jong Joodse balling wat onlangs as koninklike raadgewer aangestel is, Beltsasar, of ook bekend as Daniël, het die land se slimkoppe van ’n gewisse dood gered toe hy ’n droom vir koning Nebukadnesar uitgelê het.

Die koning het ’n droom gehad wat hom hewig ontstel het, omdat hy aangevoel het dat die droom ’n boodskap van die gode is. Hy wou nie die droom bekend maak nie, en het van sy raadgewers verwag om nie net die uitleg nie, maar ook die droom self aan hom bekend te maak, sodat hy kon seker wees sy raadgewers versin nie ‘n antwoord nie. Geeneen van die towenaars, voorspellers, goëlaars en sterrekykers kon dit egter doen nie. Daarop is ’n proklamasie uitgevaardig dat al die koninklike raadgewers doodgemaak moet word. Dit was tóé dat Beltsasar na vore getree het en die droom en uitleg aan die koning bekend gemaak het. Die doodsbevel is daarna opgehef.

 


Om oor na te dink

Die Bybel is vol daarvan dat ons ’n lewende God aanbid – ’n God wat ’n hoorder is van die gebed. En dan nie net gebede oor die groot dinge van die lewe nie – dit natuurlik ook. Daarom vertel die Bybel ons hoedat God op Daniël en sy drie vriende se ernstige gebede ’n antwoord gee wat nie net Daniël en sy vriende nie, maar ook baie ander mense se lewe gered het.

Maar God verhoor nie net gebede oor kwessies van lewe en dood nie. Hy wil ook in ons alledaagse lewe betrokke wees. Daarom lees ons van die vrome ou slaaf Eliëser wat in gebedsafhanklikheid sy meester se opdrag uitvoer.

God wil hê dat ons Hom moet raadpleeg oor alles. Tog val Saul se dringende gebede voor die slag van Gilboa op dowe ore, want gebed is nie bedoel as ’n kitsoplossing vir al ons probleme nie. Nee, gebed is die vrug van ’n lewe van innige verbondenheid met God. Wanneer gebed gebêre word net vir die krisistye in ons lewe, wanneer dit bloot ’n “laaste uitweg” is en nie deel is van ’n lewe van afhanklikheid voor die lewende God nie, kan dit gebeur dat die bidder – soos Saul – die verskriklikste antwoord sal kry: “Ek ken jou nie” (vgl. Matt. 25:12).




Godsman vertrek om sy seun te offer

Van ons Ou Testament redaksie

BERSEBA. – Die bekende en eerbiedwaardige handelaar Abraham seun van Tera het eergister te midde van groot spanning hiervandaan vertrek na ’n onbekende bestemming. Hy het net sy seun Isak en ’n paar slawe saamgevat. Volgens ingeligte bronne na aan die gesin, het hy ’n opdrag van God ontvang om die seun te gaan offer op ’n plek wat God hom sal wys.

Lesers sal onthou dat ons ’n tyd gelede berig het oor die opspraakwekkende geboorte van dié einste seun. Wat ons destyds nie vermeld het nie, is dat Isak gebore is nadat God herhaaldelik belowe het dat Hy aan Abraham en Sara ’n nageslag gaan gee. Die egpaar het uiteindelik 25 jaar lank op hierdie beloofde kind gewag. Dit is dus te begrype dat hierdie opdrag om die seun te gaan offer, as ’n groot skok gekom het.

Sara, Abraham se vrou, was nie vir kommentaar beskikbaar nie. Sy is glo ongesteld en het haar in haar tent teruggetrek en laat niemand naby haar toe nie.

 

DAWID VLUG LANDUIT

GAT. – Dawid, die briljante jong krygsheer van die Israeliete, het ’n groot opskudding veroorsaak toe hy gister as vlugteling in hierdie Filistynse stad aangekom het. Dit volg nadat daar ’n ernstige vertrouensbreuk tussen Dawid en sy skoonpa, koning Saul, ontstaan het.

Politieke kenners is dit eens dat die kanse op versoening tussen die koning en sy skoonseun gering is. Hulle wys daarop dat koning Saul dit nie kan bekostig om Dawid te vrye teuels te gee nie. Hy is ’n dinamiese krygsheld wat deur baie gesien word as die enigste een wat Israel van die Filistynse bedreiging kan red nadat die koning nie daarin kon slaag om hulle te onderwerp nie. Dit was immers hy wat destyds die Filistynse reus Goliat feitlik kaalhand verslaan het. Daar word al klaar gefluister dat hy die volgende koning van Israel moet word. Hardnekkige gerugte doen ook die ronde dat die siener Samuel hom reeds as die nuwe koning gesalf het. Dawid wou dit egter nie bevestig óf ontken nie.

Dit is ’n vraag of Dawid veilig sal wees in Gat. Die moontlikheid is nie uitgesluit dat koning Akis hom as ’n politieke speelbal kan gebruik om die Israeliete se moraal te breek nie. Dit lyk in elk geval of Dawid vir die afsienbare toekoms baie fyn sal moet trap as hy sy lewe liefhet.

 


Om oor na te dink

Laat ons maar vir mekaar sê: ons verstaan nie God se weë nie. Hoe kan jy dit verstaan dat Hy van ’n pa kan verwag om sy kind, ’n kind vir wie hy jare gewag het, te gaan offer? En dan moet hy boonop drie dae lank reis voordat hy by die plek kom waar hy die offer moet bring! Is dít die dankie wat die vrome Abraham kry na al sy opofferings? Is dít hoe ’n God van liefde lyk?

Vir Dawid was dit ewe onverstaanbaar dat hy, wat gesalf is tot koning van Israel, as banneling vir etlike jare by die gehate Filistyne moes gaan skuil. Speel God dan nou kat en muis met hom?

Jy sit moontlik ook met vrae in jou hart oor dinge wat God toegelaat het in jou lewe, dinge wat jy moeilik kan rym met ’n beeld van ’n liefdevolle Vader wat alles vir ons feil het.

Uit Abraham en Dawid – en ook ander gelowiges uit die ou tyd – se lewe leer ons egter ’n baie groot les: Hulle het aangegaan om agter God aan te loop ten spyte van die onverstaanbare dinge wat oor hulle pad gekom het. Daarom sien ons vir Abraham met sy seun op pad na die berg Moria. Daarom weier Dawid volstrek om ’n hand teen Saul te lig, al kon hy by verskeie geleenthede maklik sy lewe neem.

Dít is ware geloof: om aan God vas te hou en Hom te bly gehoorsaam, al verstaan jy nie sy pad met jou nie. Om aan te hou omdat jy weet: al verstaan ék nie wat aangaan nie, Gód weet wel wat Hy doen. Geloof is om Hom te vertrou, met jou lewe te vertrou. Om te glo, soos Abraham, dat God wel op sy eie wyse sal voorsien (Gen. 22:8), al kan jy nie lig en uitkoms sien nie.

Om die pad agter God aan te loop, is soms bitter moeilik. Maar vir die gelowige is dit die enigste pad. Kom ons loop daarop met oorgawe!




HUWELIKSKLOKKE VIR BOAS EN RUT

BETLEHEM. – Boas, ’n gesiene boer van die stad, het gister in die stadspoort bekend gemaak dat hy en Rut, ’n jong weduwee en skoondogter van Naomi en wyle Elimelek, eersdaags in die huwelik gaan tree.

Rut het inwoners se verbeelding aangegryp deur die liefdevolle wyse waarop sy haar skoonma bygestaan het ná die tragiese heengaan van hulle albei se mans. Dit is ook hoe haar en Boas se paaie gekruis het. Sy het as armlastige gars gaan optel om haar en haar skoonma aan die lewe te hou, en toevallig by Boas se lande uitgekom. Boas het haar opgemerk, en toe hy verneem wie dit is, sy snyers opdrag gegee om ekstra are te laat val sodat sy genoeg kan hê. Daarby het hy ook nog vir haar gevra om vir die duur van die oes by sy werksters te bly, sodat sy nie dalk op ’n vreemde se land gemolesteer sal word nie.

Die een ding het tot die ander gelei, en vandag is die hele stad saam met Rut bly oor die goeie nuus. Rut was nie vir kommentaar beskikbaar nie, maar Naomi is oorstelp van vreugde. “Ek het gedink die Here het ons vergeet, en kyk nou net hoe wonderlik sorg Hy vir ons,” het sy gesê.

Boas wou nie veel oor die hele aangeleentheid sê nie, behalwe dat hy van die begin af met geen bybedoeling vir Rut gehelp het nie. “Ek het gehoor van alles wat sy vir haar skoonma gedoen het na die dood van haar man en dat sy haar ouers en haar geboorteland verlaat het om haar skoonma by te staan. Daarom wou ek haar help, want ek het sommer geweet sy moet iemand besonders wees. En ek was nie verkeerd nie.”

 

Vrou kom tot haar man se redding

KARMEL. – Die flinke optrede van ’n vrou, Abigajil vrou van Nabal die Kalebiet, het gister hier ’n bloedbad voorkom toe sy haar oor die krygsheer Dawid en sy manne ontferm het.

Nabal, ’n skatryk boer van Maon, het vroeër Dawid grof beledig toe hy by hom gaan aanklop het vir kos. Dit ondanks die feit dat Dawid en sy manne ’n geruime tyd lank Nabal se veewagters en vee beskerm het. Dawid was woedend en het met 400 gewapende manne opgeruk om wraak te neem. Sy oogmerk was om elke manlike lid van Nabal se huis te dood. Abigajil het daarvan te hore gekom en sonder haar man se medewete Dawid voorgekeer voordat hy haar man kon bereik. Sy het namens Nabal, wat sy as ’n dwaas bestempel het, vir Dawid om verskoning gevra en aan hulle kos voorgesit. Dawid het daarop van sy plan afgesien en hulle in vrede gelaat.

Nabal het vanoggend eers van haar optrede gehoor. Hy was só ontsteld dat hy ’n beroerteaanval gekry het. Sy toestand is bedenklik.

  • Lees alles hiervan, en ook die interessante uiteinde van die verhaal, in 1 Sam. 25.

 

PERSOONLIK

Abraham en Sara het gistermiddag onverwags drie onbekende besoekers ontvang. Vir die geleentheid het hy ’n kalf laat slag, terwyl sy 16 kg meel ingesuur het vir roosterkoeke. Die gaste is eers laat die middag verder.

Rabbi Jesus en sy vriende gaan môreaand by die Fariseër Simon, ’n bekende in tempelkringe, eet. Ons korrespondent verwag dat dit ’n uithanggeleentheid sal wees.

 


Om oor na te dink

Die eerste ding wat in ’n mens se gedagtes opkom wanneer jy aan die geloofslewe dink, is die groot geloofsake: ons persoonlike verhouding met die Here Jesus, ons getuienis teenoor ander, ons standvastigheid in versoeking. En dit is natuurlik uiters belangrike bestanddele in ’n gesonde geloofslewe.

Abraham en Sara was in Gen. 18 by ’n laagtepunt in hulle geloof. Té lank al moes hulle leef van beloftes van ’n groot nageslag. Nou was hulle te oud daarvoor: hy 99, sy 89. G’n wonder nie dat Sara uitbars van die lag toe God sy belofte van ’n seun herhaal. Iets wat egter opval in hierdie gebeurtenis is dat, al was hulle op ’n geestelike laagtepunt, hulle tog nie in die klein dingetjies hulle geloof prysgee nie. Let tog op met hoeveel oorgawe en oordadigheid ontvang hulle die vreemdelinge! Hierin leer hulle vir ons ’n baie groot les: Geloof word nie net in die groot dinge uitgeleef nie. In die alledaagse omgang met ander kry ons geloof sin en inhoud.

Dit was ook die geval met Boas in sy optrede teenoor Rut, en Abigajil.

So anders is Simon die Fariseër. Jesus huiwer nie om die vinger op die wond te lê nie: wanneer die ootmoed en dankbaarheid teenoor God uitbly, ly die verhouding met die medemens ook.