Prins vermoor slawedrywer; vlug landuit

MEMPHIS. – Die koningshuis is in ’n ernstige krisis gedompel toe prins Moses van moord op ’n slawedrywer aangekla is.

Die moord is gepleeg toe Moses die bouwerke gaan besigtig het waar die Hebreërs dwangarbeid verrig. Hy het gesien hoe een van die toesighouers ’n weerbarstige slaaf regsien. Hy het daarop die Egiptenaar doodgeslaan en sy lyk onder die sand toegekrap. Toe die moord rugbaar geword het, het hy na Midian gevlug om aan die woede van sy oupa te ontkom. Farao Sethos het hom in sy afwesigheid ter dood veroordeel.

Dit is bekend dat farao Sethos nie besonder geheg is aan Moses nie. Moses is naamlik nie ’n eie kleinseun van hom nie. Een van sy dogters het hom as baba aangeneem, en hoewel die paleis dit tot nog toe nie wou bevestig nie, is hy na bewering ’n Hebreër.

Die farao waarsku al vir baie jare dat die Hebreërs ’n bedreiging vir die volksveiligheid inhou. Baie Egiptenare het destyds die wenkbroue gelig oor die maatreëls wat hy ingestel het om hulle getalle te beperk. Die jongste voorval bevestig nou dat die farao se optrede teen die Hebreërs oor die jare geregverdig was. Daar het ná die moord trouens verskeie stemme opgegaan dat daar nou eens en vir altyd ’n plan gemaak moet word met die Hebreeuse gemeenskap in Egipte.

 

Man sterf tragies; ark bly by die Filistyne

JERUSALEM. – ’n Optog wat as ’n triomfmars van koning Dawid bedoel is, het tragies geëindig toe een van die sleutelfigure op ’n onverklaarbare wyse sterf het.

Die tragedie het hom afgespeel toe koning Dawid die verbondsark na Jerusalem wou bring. Die ark het vir etlike dekades gestaan in die huis van Abinadab by Kirjat-Jearim, ’n Filistyns-beheerde dorpie ongeveer twaalf kilometer van Jerusalem af. Die ark, wat vir die Israeliete ’n simbool van God se teenwoordigheid is en nog op bevel van hulle groot leier Moses gemaak is, het jare gelede in vreemde hande beland toe die Filistyne dit in die slag van Afek gebuit het, op dieselfde dag dat die priester Eli en sy twee seuns Hofni en Pinehas gesterf het. Gedurende die hele regeringstyd van koning Saul was daar nie ’n geleentheid om die ark terug te bring nie. Nadat koning Dawid die Filistyne in die Spooklaagte beslissend verslaan het, is hy nou in ‘n posisie om hierdie heilige simbool na Jerusalem te bring.

Ussa langs die wa met die verbondsark

In ’n optog wat soos ’n militêre triomfmars uitgevoer is, het Dawid die ark gaan haal. Sy hele leër het hom vergesel. Die ark is op ’n nuwe wa gelaai, en die twee seuns van Abinadab het vir oulaas die ark wat vir soveel jare in hulle pa se huis gestaan het, vergesel. Toe die osse by die dorsvloer van Nakon struikel, het die een seun, Ussa, met sy hand gekeer dat die ark van die wa afgly. Toe hy egter aan die ark raak, het hy dood neergeslaan.

Die koning, wat in daardie stadium voor die ark uit gedans het, was so ontsteld dat hy die optog net daar gekanselleer het. Die ark staan nou by die Filistyn Obed-Edom.

Dit is nog nie bekend wat die oorsaak van Ussa se dood is nie.

 


Nie halsoorkop nie

Moses het, namate hy grootgeword het, algaande besef dat daar ’n besondere verantwoordelikheid op sy skouers rus om sy mense te help. Hy het immers op ’n baie spesiale manier in die paleis van die onderdrukker beland. En toe hy by sy mense kom en die haglike omstandighede sien, spring hy sommer net daar in om iets te doen. Ongelukkig het hy in sy voortvarendheid die verkeerde opsie gekies, en moes hy vlug. Dit sou nog jare duur (veertig jaar volgens Hand. 7:30!) voordat daar weer ’n geleentheid gekom het om sy mense te help.

Dawid moes ook op die harde manier leer dat goeie bedoelings alleen nie genoeg is om ’n saak suksesvol deur te voer nie. Dawid het nie sy huiswerk gedoen nie. In die Bybel is daar uitvoerige voorskrifte oor hoe die verbondsark vervoer moet word (lees gerus Num. 4:5, 6 en 15). Onder andere beveel God dat die ark deur priesters in ’n gewyde optog gedra sal word met spesiale draaghoute. Nooit mag die ark soos ’n trofee op ’n wa gelaai word nie!

“Julle krag lê in stil wees en vertroue hê,” is die raad wat die Here by monde van Jesaja (30:15) aan sy volk gee as hulle halsoorkop in ’n saak wil indons. Want eers as jy jou fyn instel op God se leiding, eers as jy “op die Here wag” (Ps. 131:3), eers dán kan jy met vertroue ’n saak aanpak en dit suksesvol deurvoer, soos Dawid drie maande later gedoen het. Dit moes Moses ook leer. Daarvoor moes hy jare in die skool van die vrome priester Jetro in Midian gaan bly.

Stel jou tog fyn in op God se leiding!




Safenat-Paneag verwelkom sy vader in Egipte

GOSEN. – Die hoof van die GVE het gister hier aangekom om sy vader, Jakob seun van Isak, in Egipte te verwelkom. Dit was ’n aandoenlike oomblik toe die twee mekaar na ’n skeiding van meer as twintig jaar weer gesien het. Hulle het mekaar omhels en lank so gestaan en huil. Daarna het die waardige ou man, wat reeds honderd en dertig jaar oud is, kopskuddend vir sy seun gesê: “Nou kan ek maar sterf. Ek het jou gesien. Jy lewe nog!”

 

FILISTYNSE MAGTE IN DIE SPOOKLAAGTE VERPLETTER

JERUSALEM. – Met briljante krygsvernuf het koning Dawid die militêre oorheersing van die Filistyne in die Kanaänitiese vlaktes finaal verbreek. Die Filistyne het die afgelope drie eeue die oorhand op militêre gebied gehad met hulle beter krygstuig en strydwaens, sodat die Israeliete baie swaar geleef het, veral in die vrugbare vlaktes waar hulle geen teenvoeter vir die strydwaens gehad het nie. Net in die onbegaanbare bergland kon hulle hul man staan. Die Israeliete het gehoop dat koning Saul hulle van dié oorheersing kon bevry, maar hy kon nooit werklik die Filistyne se houvas breek nie. Nou het koning Dawid egter die onmoontlike reggekry. Die slag van Spooklaagte was waarskynlik die laaste geveg teen die Filistyne.

 

Minister in sop na minagting van dekreet

BABEL. – Die aangewese eerste minister van die Ryk van Mediërs en Perse, Beltsasar, is gisteraand laat in ’n leeukuil gegooi omdat hy koning Darius se bidverbod verbreek het.

Die bidverbod is onlangs met ’n koninklike dekreet ingestel op aanbeveling van die ander twee ministers en die goewerneurs-generaal, raadgewers en administrateurs van die ryk. Daarvolgens moet enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid behalwe vir die koning, in ’n leeukuil gegooi word. Daarby is die dekreet as ’n wet van die Mediërs en Perse uitgevaardig en derhalwe onherroeplik. Beltsasar, beter bekend as Daniël onder sy volksgenote, het egter die dekreet verontagsaam. Hy is ’n toegewyde Jood en het soos tevore drie maal elke dag tot sy God, die God van die hemel, gebid. Hy is op heter daad betrap waar hy gebid het en voor die koning gedaag.

Dié verwikkeling het as ’n groot skok vir die koning gekom. Dit is bekend dat koning Darius groot vertroue in Beltsasar gehad het. Toe hy aan bewind gekom het, het hy hom aangestel as een van sy drie ministers aan wie die honderd en twintig goewerneurs-generaal van die ryk verantwoordelik was. Beltsasar het egter deur sy buitengewone bekwaamheid so uitgeblink bo die ander ministers en die goewerneurs-generaal dat die koning besluit het om hom oor die hele koninkryk aan te stel.

Allerhande vrae het intussen ontstaan oor die afdwingbaarheid van ’n wet van Mediërs en Perse. Dit is duidelik dat dié wet as ’n strik misbruik is in ’n fyn uitgewerkte set van Beltsasar se vyande om van hom ontslae te raak. Koning Darius het die vonnis so lank moontlik uitgestel, maar het uiteindelik geen ander keuse gehad nie as om Beltsasar in die leeukuil te laat gooi. So is die ryk van een van sy knapste burgers beroof, en dit teen die koning se sin in.

  • Lees alles hieroor in Dan. 6.

 


Die voorreg van aanbidding

Ek onthou uit my kinderdae ’n dominee wat elke Sondag iewers in sy kanselgebed die Here gedank het “vir die voorreg van aanbidding”. Vir my as jong seun het dié mooiklinkende woorde nie veel beteken nie. Vandag weet ek van beter. Gebed ís ’n onuitspreeklike groot voorreg. Sonder gebed sou ons geloof versmoor. G’n wonder nie dat gebed die asemhaling van die siel genoem word. Daniël het dít goed begryp. Die hele boek Daniël is trouens een groot getuienis van sy en sy drie vriende se volhardende ywer om God, en Hom alleen, te aanbid. Vir hierdie voorreg het hy geen kompromieë toegelaat nie, selfs al sou dit sy lewe kos. Dit sien ons ook in die lewe van Jakob, wat nie sommer halsoorkop op ’n wa klim om sy lankverlore seun te gaan ontmoet nie. Nee, voordat hy vertrek, bring hy eers ’n offer om só vir God te raadpleeg. En Dawid, teen hierdie tyd ’n gesoute en uitgeslape militaris wat behoort te weet hoe om te veg, pak ook nie ’n enkele geveg aan voordat hy God geraadpleeg het nie. Aanbidding is inderdaad ’n voorreg. Het jy al in verwondering voor God daaroor gejuig?




Lank lewe koning Dawid!

Koning Dawid met sy geliefde lier

Van ons Ou Testament redaksie

HEBRON. – Die twaalf stamme van Israel is vandeesweek uiteindelik weer verenig toe ’n afvaardiging van die noordelike stamme vir Dawid kom versoek het om ook húlle koning te wees. Die ryk is sewe jaar gelede in twee geskeur toe die noordelike stamme, ná die dood van koning Saul, sy seun Es-Baal tot koning uitgeroep het. Die stam Juda het egter hulle held Dawid koning gemaak in Hebron.

Politieke waarnemers het Dawid geprys vir sy briljante diplomasie. Hy het geduldig gewag op die regte geleentheid om die ryk onder sy septer te verenig, en in die proses groot druk van sy volgelinge om die noordelike stamme met geweld te verower, weerstaan. Dié geleentheid het uiteindelik aangebreek toe twee bendeleiers, Baäna en Rekab, koning Es-Baäl van die noordelike stamme in sy slaap vermoor het.

Daar wag ’n groot taak op die nuwe koning om die guns van die noordelike stamme te wen, aangesien daar in die afgelope aantal jare herhaaldelik botsings tussen hulle en die stam van Juda was. Die feit dat Dawid nie aandadig is aan die dood van Es-Baäl nie, tel egter baie in sy guns. Kenners wys ook daarop dat die kwessie van ’n hoofstad nog ’n turksvy kan word, aangesien Hebron te ver in die suide lê en te onmiskenbaar deel van Juda se grondgebied is om deur die noorde as hoofstad aanvaar te word. ’n Stad soos Jerusalem sou die ideale oplossing wees, maar ongelukkig is dit in die hande van die Jebusiete en ’n haas oninneembare vesting.

 

Jakob koop grond naby Sigem

SIGEM. – Jakob seun van Isak het vanoggend in die stadspoort ’n transaksie beklink waarvolgens hy ’n stuk grond hier naby vir honderd geldstukke by die seuns van Gamor gekoop het. Dit is die eerste stuk grond wat hy in Kanaän besit sedert hy hom ná ’n afwesigheid van twee dekades weer in die land kom vestig het.

 

SIEKE NA 38 JAAR OP DIE SABBAT GENEES

JERUSALEM. – Die jong rabbi Jesus van Nasaret het die Fariseërs en Skrifgeleerdes die harnas ingejaag toe hy op die heilige Sabbat ’n siek man by die Bad van Betesda genees het.

Die man was al ag en dertig jaar lank siek. Hy was ’n bekende gesig by dié bron, waar talle gestremdes lê in die hoop dat die genesende krag van die water hulle gesond sal maak. Hulle glo dat die eerste een wat in die water kom as dit begin borrel, gesond sal word. In al die jare wat die man daar lê, kon hy egter nooit daarin slaag om eerste in die water te kom nie, omdat niemand hom ingehelp het nie. Maar nou is dit iets van die verlede.

Ondertussen het ons verneem dat die Joodse leiers besluit het om die hele aangeleentheid verder te voer. “Ons kan nie toelaat dat die Sabbat so ontheilig word nie,” het ’n woordvoerder ons meegedeel. Daar word selfs gefluister dat Jesus godslasterlike dinge kwytgeraak het en die dood verdien.

Oor die vraag of hy werklik die dood verdien, moet ons lesers self besluit. Ons weet in elk geval van minstens een man wat nie hieroor met die Joodse leiers sal saamstem nie.

 


Om oor na te dink

Die spreekwoord sê: “Hy wat glo, word nie haastig nie.” Want op God se tyd gebeur wat Hy oor ons lewe beskik, al moet ons dan sewe jaar, of twintig, of selfs ag en dertig jaar daarop wag. Die digter van Ps. 130 het iets hiervan verstaan. Daarom roep hy ons op (vs. 7): “Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker.”

Vir die moderne mens is dit baie moeilik om te wag, want ons hele samelewing stel ons daarop in om dinge in ’n kits te kry: selfhelpwinkels, kitskoffie, kitsbanke. Met die druk van ’n knoppie of die afdraai van ’n proppie het ek wat ek wil hê. En onbewustelik dra ons hierdie kitsmentaliteit ook in ons geloofslewe in; bid ons oor ’n saak en verwag blitssnel ’n antwoord, net om telkens weer te ontdek dat God nie ’n kitsgod is nie. Want kits is ongelukkig (gewoonlik) nie gelyk aan kwaliteit nie.

Ons, wat altyd haastig is, gee dikwels nie om om kwaliteit in te boet vir die voordeel wat spoed bring nie. Maar God gee om. Hy wil nie oppervlakkige kits-Christene hê nie. Hy wil ons bring daar waar ons deur die tyd ryp geword het. Hy gee nie om om te wag sodat ons kans kan kry om geestelik te groei nie. Daarom moes Jakob in Haran gaan leer dat die beloofde land ’n gawe is, nie iets wat jy met ’n gekonkel kan inpalm nie. Daarom moes Dawid wag totdat God die hart van die hele land vir hom oopmaak, en moes die sieke van Betesda wag totdat die groot Geneesheer self by hom kom siekebesoek doen. As hy vroeër al gesond geword het, het hy dalk nooit vir Jesus leer ken nie …




Seun bedrieg sy pa met sy ma se hulp; vlug

Van ons Ou Testament redaksie

BERSEBA. – Die eersgeboorteseën, ter wille waarvan ’n seun sy eie pa bedrieg het, het ’n holle nagalm gehad toe die einste seun kort daarna vir sy lewe die land uit moes vlug. Dit is maar een in ’n hele reeks voorvalle waarin die tweelingseuns van Isak, Esau en Jakob, betrokke was.

Hoewel Esau die oudste seun is, en dus die eersgeborene van Isak en Rebekka, het Jakob en sy ma dit nooit aanvaar nie. Toe Isak dus vir Esau vra om ’n wildsbokkie te gaan skiet en dit vir hom voor te berei omdat hy die eersgeboorteseën aan hom wil gee voordat hy sterf, het Rebekka vinnig vir Jakob gehelp om hom te vermom soos sy broer. Met vleis wat sy gaargemaak het, het sy vir Jakob na haar man gestuur. Isak se oë was al so sleg dat hy nie besef het dis die verkeerde seun wat voor hom staan nie. So het Jakob die seën ontvang wat vir Esau bedoel was.

Na berigte het Esau wraak gesweer, en was Jakob verplig om te vlug. Of die eersgeboorteseën nou vir hom iets werd sal wees, sal net die tyd leer.

 

Bringer van goeie boodskap tereggestel

SIKLAG. – ’n Jong Amalekiet is gisteraand hier tereggestel nadat hy aan Dawid die goeie nuus gebring het dat sy grootste vyand, koning Saul, op die slagveld gesneuwel het.

Volgens sy eie getuienis was die man ’n ooggetuie van die Israeliete se verpletterende neerlaag. Hy het gesien hoedat kroonprins Jonatan omkom, en het op koning Saul afgekom waar hy dodelik gewond op Gilboaberg lê nadat hy klaarblyklik in sy eie spies geval het. Op die koning se versoek het die Amalekiet hom doodgemaak en sy kroon en armband gevat en vir Dawid gebring, onder die indruk dat dit goeie nuus sal wees vir die man wie se lewe so lank deur Saul bedreig is.

Dawid was egter so ontsteld dat hy sy klere geskeur en tot die aand toe gerou en getreur en gevas het. Daarna het hy beveel dat die jong man summier tereggestel moet word. Toe hy die vonnis uitspreek, het Dawid gesê, en ons haal aan: “Jy het jou dood gesóék, want jy het jouself veroordeel toe jy gesê het: Dit is ek wat die gesalfde van die Here doodgemaak het!”

 

MAN SE AFGEKAPTE OOR AANGEHEG

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Die omstrede rabbi Jesus van Nasaret het lede van die tempelwag laasnag hier verstom toe hy ’n oor wat met ’n swaard afgekap is, weer vasgesit het.

Dié uitsonderlike gebeurtenis het plaasgevind toe die tempelwag Jesus in die Tuin van Getsemane in hegtenis geneem het op ’n aanklag van godslastering. Een van Jesus se dissipels, Simon bar Jona, het ’n swaard uitgepluk om sy rabbi te verdedig, en die hoëpriester se slaaf Malgus se oor afgekap. Jesus het Simon skerp tereggewys omdat hy hom teen die inhegtenisname verset het, en daarna Malgus se oor genees.

In ’n onderhoud ná die voorval het Malgus gesê dit was ’n ongelooflike ervaring. “Die pyn was onmiddellik weg toe hy aan my geraak het, en ek verbeel my boonop ek hoor nou beter as voorheen!” het hy met ’n glimlag bygevoeg.

 


Om oor na te dink

Sedert Petrus Malgus se oor afgekap het, moes Jesus al talle en talle wonde genees wat deur sy eie dissipels veroorsaak is – dikwels in hulle oorywerigheid om aan God se plan gestalte te gee in hul lewe of in die wêreld. Petrus het immers nie sy swaard getrek ter wille van homself nie, maar ter verdediging van sy Meester. En Rebekka en Jakob was ook nie heeltemal uit die koers toe hulle die eersgeboorteseën van Esau wou wegneem nie – hy het immers sy reg aan Jakob verkwansel vir ’n pot lensiesop. En het God nie self aan Rebekka gesê nie – reeds vóór die tweeling se geboorte – “die oudste sal die jongste dien” (Gen. 25:19-34)?

Die probleem is net: hulle het nie ’n oog daarvoor gehad dat God op ’n ánder manier sy Koninkryk wil laat kom in hulle lewe nie. Hulle het nie vir God die kans gegee om die heil op sy manier uit te werk in hulle wêreld nie.

In dié opsig het Dawid besondere genade ontvang om te wag totdat God self sy beloftes aan hom waar maak. Hoewel hy dikwels in ’n posisie was om Saul te dood en só die troon te gryp wat hom as God se gesalfde toegekom het, het hy konsekwent geweier, omdat hy iets daarvan verstaan het wat die Here baie jare later by monde van sy profeet Sagaria vir ons leer: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige” (Sag. 4:6).

Bid dat God deur sy Gees ook aan jou dié besondere genade sal gee. Net só kan sy Koninkryk kom, ook in jou lewe.