Vyandelike volk trek saam op Jordaan-oewer

JERIGO. – Die koning het sy kommer uitgespreek oor die saamtrekking van die Israeliete op die oostelike oewer van die Jordaan by Sittim regoor Jerigo. Hy het gister ook die soldate op ’n gereedheidsgrondslag geplaas.

Die vrees dat Jerigo deur die Israeliete aangeval gaan word, is gister versterk deur gerugte dat twee Israelitiese spioene in die stad opgemerk is.

Hulle is onder andere by die huis van die prostituut Ragab opgemerk, maar toe die soldate ondersoek ingestel het, het hulle reeds haar huis verlaat. Die stadspoort is onmiddellik gesluit, en soldate het ook die pad na die Jordaan gefynkam. Padblokkades is by al die driwwe opgerig. Teen druktyd was die spioene nog op vrye voet.

Spanning loop intussen hoog, aangesien berigte uit die trans-Jordaangebied daarop dui dat die Israeliete ’n gedugte volk is wat boonop dikwels met bonatuurlike hulp oorwinnings behaal. ’n Woordvoerder van die koninklike lyfwag het egter die inwoners tot kalmte gemaan. In ’n verklaring gisteraand het hy gesê dis net ’n kwessie van tyd voordat die spioene vasgetrek word, aangesien hulle vreemd is en nie die omgewing goed ken nie. “As ons hulle eers gevang het, sal ons kan uitvind presies wat hulle plan is, en dan sal ons gereed wees wanneer die inval kom,” het hy gesê.

 

VROU FNUIK VLUGPLAN VAN GENERAAL

KEDES. – Die eer om die gevreesde generaal Sisera te dood, was nie vir Barak, aanvoerder van die Israelitiese leër, beskore nie. Sisera het aan die hand van ’n vrou gesterf.

Die vrou wat oornag ’n volksheldin in Israel geword het, is Jael eggenote van Geber, ’n Keniet wat in die omgewing woon. Geber het in die verlede goeie betrekkinge met koning Jabin gehandhaaf. Toe die Israeliete die oorhand in die veldslag kry, het Sisera by Geber kom skuiling soek. Jael het hom in haar eie tent weggesteek. Nadat sy vir hom dikmelk gegee het, het hy van uitputting aan die slaap geraak. Dit was tóé dat hierdie dapper vrou haar kans waargeneem het. Met ’n hamer en tentpen gewapen, het sy na Sisera gesluip, en die tentpen deur die slaap van sy kop geslaan, sodat sy hom in die grond vasgepen het.

Kort daarna het Barak opgedaag. Maar sy prooi was toe reeds dood.

 

Koning Jabin se weermag verpletter

KEDES. – Die Israelitiese stamme Sebulon en Naftali onder aanvoering van Barak seun van Abinoam en die profetes Debora vrou van Lappidot het gister die gedugte krygsmag van generaal Sisera, leërhoof van Jabin, totaal vernietig.

Barak het uit die rigting van Taborberg met tien duisend man aangeval. Voordat die geveg nog kon begin, het daar egter ’n hewige reënbui uitgesak. In die modderige grond was Sisera se groot troefkaart, naamlik sy nege honderd strydwaens, nutteloos. Party is selfs deur die Kisonspruit meegesleur, sodat Sisera se leër op die vlug geslaan het. Barak het hulle agtervolg en by Garoset-Gojim tot die laaste man toe afgemaai. Ook Sisera is gedood (lees die berig “Vrou fnuik vlugplan” elders in dié uitgawe).

Politieke waarnemers verwag dat dit etlike jare sal duur voordat koning Jabin, wat die afgelope twintig jaar die politieke toneel oorheers het, weer ’n faktor in Kanaän sal wees.

 


God kan jou gebruik!

’n Mens kan maar net wonder hoe die geskiedenis van die Godsvolk sou verloop het as daar nie op kritieke momente vroue na vore getree het om met geloofsmoed hulle deel te doen nie. Vroue soos Sara en Rebekka, en Mirjam; vroue soos Ragab en Debora en Jael. Geen wonder nie dat hulle name in die Bybel verewig word, ten spyte van die feit dat hulle in ’n wêreld gelewe het waarin die vrou eintlik geen plek gehad het nie. Die Jode het immers gebid: “Ek dank U dat ek nie ’n heiden is nie, of ’n hond nie, of ’n vrou nie.” Miskien het dit tyd geword om te bid: “Dankie, Here, dat daar vroue is!”

Die geskiedenis van Ragab en Jael onderstreep ’n baie belangrike feit: dat God dikwels op vreemde, onverwagse maniere werk om sy wil te laat geskied, en dat Hy daarvoor nie noodwendig die voor die hand liggende mense gebruik nie. Hy gebruik mense wat gewillig is om dit met Hom op sy pad te waag.

God kan ook vandag vir jou gebruik om ’n bres vir sy koninkryk te slaan, mits jy gewillig is. In God se hand kan jy wat die Here liefhet, “wees soos die son wat in sy volle krag skyn” (Rig. 5:31).




Moses sterf op Neboberg

SITTIM. – Moses seun van Amram, die leier van die jong volk Israel vir die afgelope veertig jaar, is dood. Hy het eergister vir oulaas sy geliefde volk gegroet en toe, op bevel van God, uit die Moabvlakte opgeklim na Neboberg toe.

Moses het in die verlede dikwels ’n berg uitgeklim om alleen in God se teenwoordigheid te vertoef, maar hierdie keer, het hy gesê, sal hy nie weer terugkeer nie. Hy gaan net kyk hoe die beloofde land lyk, en dan sal hy sterf. Sy opvolger, Josua seun van Nun, het gister ’n soekgeselskap die berg uit gestuur om sy liggaam te gaan haal vir die begrafnis, maar hulle het vanoggend onverrigter sake teruggekeer. Hulle kon sy spoor volg tot op die top van Pisgaberg regoor Jerigo, maar daar het die spoor eenvoudig doodgeloop. Josua het daarop verklaar dat hy aanvaar dat Moses dood is en dat God self hom begrawe het.

Afskeid

Voor sy dood het Moses op dramatiese wyse van sy volk afskeid geneem. Eers het hy die volk van God se teenwoordigheid in die nuwe land verseker, en toe sy opvolger, Josua seun van Nun, aangewys en hom die hande opgelê. Daarna het hy ’n boek aan die Leviete oorhandig waarin al die wette wat hy van God ontvang het, opgeteken is. Hy het die Leviete beveel om die boek langs die verbondsark van die Here te plaas as ’n blywende herinnering dat die Israeliete onder God se bevel staan. Daarna het hy ’n aangrypende lied vir die Israeliete geleer oor die liefde en trou van God ten spyte van die mens se ontrou. Hy het die hoop uitgespreek dat hierdie lied die volk gedurig sal terugtrek na God toe, elke keer as hulle dit sing. Toe het hy vir oulaas sy volk geseën, en daarna alleen die berg uitgeklim.

Van die begin af vir groot dinge bestem

Moses se lewe was van die begin af al bestem vir groot dinge. Hy het by geboorte dramaties die dood vrygespring toe sy moeder hom in die Nyl tussen die riete versteek het sodat farao se moordbendes hom nie kon kry nie. Daar het farao se dogter het hom gekry en as haar eie kind aangeneem. Op veertig het Moses egter na sy mense teruggekeer. Kort voor lank het hy met die Egiptiese slawedrywers gebots en moes hy vlug na Midian. Daar het hy veertig jaar lank gewoon en sy vrou, Sippora dogter van Jetro, ontmoet. Dit was ook hier wat hy die roeping ontvang het om die Israeliete uit die mag van Farao te bevry en na die land Kanaän te lei, ’n taak wat hy met groot onderskeiding verrig het.

 

“MOSES WAS ’N REUS ONDER DIE GROTES”

SITT1M. – Josua seun van Nun, die nuwe leier van die jong volk Israel, het vanoggend hier op ’n huldigingsdiens in ’n rede sy ontslape voorganger beskryf as “die grootste leier wat hierdie volk ooit kon droom om te hê”.

Hy het gesê Moses het die grondslag gelê vir ’n regeringstelsel en ’n gemeenskapslewe. Toe die Israeliete uit Egipte weggetrek het, was hulle net ’n ongeorganiseerde klomp slawe. Moses het hulle saamgesnoer tot ’n hegte volk. Dit was nie aldag maklik nie, en hy het dikwels met kwaai teenkanting te make gekry. “Ek het hom soms moedeloos gesien. Ek het hom soms sien huil van frustrasie. Ek het hom woedend gesien. Maar ek het nooit ooit gesien dat hy sy volk afskryf nie. Want Moses het sy mense met sy hele hart liefgehad,” het Josua gesê.

Daar was net een liefde in Moses se lewe groter as dié vir sy volk, en dit was sy liefde vir die Here. “Ek dink nie ek is verkeerd as ek vandag sê daar sal nie weer ’n profeet in Israel optree wat soos Moses is nie. Hy het die Here persoonlik geken. Ek het by hom geleer wat dit beteken om naby God te lewe. Mag dit ook tog elke dag van my waar wees,” het Josua bewoë sy rede afgesluit.

Josua het ’n routyd van dertig dae vir hulle ontslape leier aangekondig. Eers daarna sal hulle met die groot taak begin om die beloofde land in te trek.

 


Om die Here persoonlik te ken

Moses was ’n begenadigde mens; ’n unieke leier en bowenal ’n man wat in ’n baie besondere verhouding met God gestaan het. Tereg is dít die getuigskrif waarmee die Moses-geskiedenis afgesluit word (Deut. 34:10): “Daar het nie weer ’n profeet in Israel opgetree wat soos Moses was nie. Hy het die Here persoonlik geken.” Dit was die geheim van sy sukses: sy innige verhouding met God.

Ons het nie almal die unieke geleenthede wat Moses gehad het om ’n onuitwisbare merk in die geskiedenis van hierdie wêreld te maak nie. Van min van ons sal gesê kan word dat daar nie weer so iemand in die land sal wees nie. Maar die getuigskrif dat Moses die Here persoonlik geken het, kan ook, nee, móét ook van elke gelowige gesê word. Want wanneer die kind van God die Here daagliks in sy binnekamer ontmoet, leer hy Hom ken en groei hy gaandeweg al vaster aan Hom.

O, dat ons Hom só mag ken!




Die held van Karmel kies hasepad

SAMARIA. – Elia die Tisbiet, die profeet van die Here wat verlede week met leeuemoed vier honderd en vyftig profete van Baäl die stryd op Karmelberg aangesê en hulle uiteindelik almal met die hulp van die volk gedood het, het die land uit gevlug.

Sy verdwyning kon nie op ’n méér ongeleë tyd vir die aanbidders van Jahwe gekom het nie, aangesien hulle sy leiding nou baie nodig het. Ná die gebeure by Karmelberg het die hoop opgevlam dat Elia hulle sal kan lei in hulle verset teen die pogings van koningin Isebel om die land heeltemal onder die Baäldiens te bring. Klaarblyklik was dit ’n ydele hoop. Dit was juis ’n boodskap van Isebel wat Elia daartoe beweeg het om die land te verlaat.

Bybelkoerant kon nie daarin slaag om ’n onderhoud met Elia te voer nie, aangesien hy iewers in die woestyn gaan skuil het. Sy slaaf, wat hy in Berseba agtergelaat het, het egter aan ons gesê dat koningin Isebel met ’n boodskapper vir Elia laat weet het, en ons haal aan: “Mag die gode my om die lewe bring as ek nie môre teen hierdie tyd met jou gemaak het soos jy met die profete nie.” Volgens die slaaf het Elia bang geword en vir sy lewe gevlug.

Hy was glo baie depressief, en het gesê dit lyk vir hom hy stry ’n verlore stryd om die ware geloof weer terug te bring na sy mense toe. Die slaaf het ons meegedeel dat hy baie bekommerd oor sy meester is en wonder of hy hom weer lewend sal sien, aangesien Elia gesê het hy sien nie meer kans om voort te gaan nie. Hy het glo ook gesê die Israeliete het die verbond met God verbreek, en nou staan hy vingeralleen.

In ’n verdere verwikkeling het koningin Isebel vanoggend in ’n persverklaring die Israeliete gevra om kalm te bly en hulle nie te laat intimideer deur die lot van die Baälprofete op Karmelberg nie. Sy het hulle die versekering gegee dat sy geen moeite sal ontsien om die vyande van Baäl uit te roei nie. Sy het ook bekend gemaak dat sy haar vader, koning Etbaäl van Sidon, versoek het om nuwe Baälprofete na Israel te stuur om die leemte te vul wat die dood van die profete gelaat het.

Ondertussen val die reën nog onafgebroke oor die hele land, soos Elia op Karmelberg beloof het. Die boere juig, want die droogte is gebreek en hulle sal nou vir die eerste keer in drie jaar weer kan saai.

 

MOSES LAAT STROME WATER UIT ’N ROTS VLOEI!

MERIBAWATERS. – Moses het vandag hier sy volgelinge verstom toe hy vir hulle water uit ’n rots laat vloei het. Só baie was die water dat almal, ook die vee, na hartelus kon drink.

Die water het nie net die Israeliete se dors geles nie, maar ook hulle veglustigheid gedemp. Hulle was die laaste tyd baie wrewelrig teenoor Moses omdat hy hulle die woestyn ingebring het terwyl hulle in Egipte gewoond was aan volop water. Nadat hulle vanoggend weer begin mor het, het Moses eenvoudig sy kierie gevat en vir die mense gevra of hy vir hulle water uit die rots moet laat kom. Daarna het hy twee maal met die kierie teen die rots geslaan, en siedaar! ’n Kitsfontein.

 

Koning Dawid trou stil-stil

JERUSALEM. – Koning Dawid het vandeesweek hier in die huwelik getree met ’n vooraanstaande weduwee van die stad. Sy is Batseba dogter van Eliam, kaptein in die koninklike leër. Haar eerste man, Urija die Hetiet, was ook ’n offisier in die koninklike leër. Hy het vroeër vanjaar gesneuwel in gevegte om Rabba, die hoofstad van die Ammoniete.

Die huwelik is in die paleis gesluit, en daarna het ’n baie klein geselligheid gevolg. Slegs die intiemste vriende van die koning en sy nuwe bruid was aanwesig. Op ’n vraag waarom daar nie ’n groot bruilof gereël is nie, het die koning geantwoord: “Ek dink nie dit is gepas om ’n luisterryke troue te hê terwyl my soldate in ’n oorlog gewikkel is nie.”

 


Wie meen dat hy staan …

Selfs die grootstes onder die grotes struikel en val, want versoekings en sonde het nou maar eenmaal ’n manier om niemand oor te slaan nie. En dikwels kom dit juis op ’n tydstip dat jy dit die minste verwag. Moses het immers met die episode met Aäron se bloeiende staf opnuut weer die almag van God beleef; Elia se optrede op Karmel troon uit in die Bybelgeskiedenis as ’n geloofsdaad soos min; Dawid was op die toppunt van sy loopbaan as gesalfde van God.

Geen wonder nie dat Paulus in 1 Kor. 10:12 waarsku: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” Hy haas hom egter in die volgende vers om ons daarop te wys dat ons staande kán bly; dan nie in eie krag nie, maar deur die werk van God in ons lewe. Hy skryf: “God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie …”

Staan dan vas in God se krag. Ook vandag.




Elia daag 450 Baälprofete uit

SAMARIA. – Die omstrede profeet Elia die Tisbiet het dit weer gedoen! Hy het die ganse Baälprofetedom van die ryk – al vier honderd en vyftig van hulle – asook die vier honderd profete van Asjera wat onder koningin Isebel se beskerming is, tot ’n stryd op Karmelberg uitgedaag. Hy het ook die ganse volk Israel opgeroep om by Karmelberg saam te kom om getuies van die stryd te wees.

Elia het hom drie jaar gelede die gramskap van koning Agab op die hals gehaal toe hy aangekondig het dat dit nie weer sal reën voordat hy so sê nie. Sedertdien het dit inderdaad nog nie weer gereën nie en word die land deur een van die ernstigste droogtes in menseheugenis geteister. Toe het hy verdwyn, en koning Agab kon nooit daarin slaag om hom op te spoor nie, selfs nie eens in die buiteland nie. En gister het hy doodluiters na Obadja, die koninklike paleisopsigter, gegaan met die versoek om die koning te spreek!

Volgens Obadja het daar harde woorde tussen Elia en die koning geval. Elia het die blaam vir die droogte volledig op koning Agab gelê, omdat hy toegelaat het dat die Baälprofete hulle in die land vestig. Vandaar die uitdaging tot ’n stryd op Karmelberg. Politieke waarnemers sê egter dat die uitdaging bloot vertragingstaktiek van Elia is, omdat hy besef dat sy dae getel is. Hulle wys daarop dat die koning al meer as ’n jaar gelede belowe het dat hy hom sal doodmaak as hy hom in die hande kan kry. “Ek kan nie sien hoe hy uit dié penarie gaan loskom nie,” het een van koningin Isebel se vertrouelinge die situasie opgesom. “Hoe kan één mens honderde profete aandurf?”

Intussen sal ons maar moet wag tot volgende week om te sien wat die stryd op Karmelberg oplewer.

 

AÄRON SE KIERIE DRA AMANDELS!

KADES-BARNEA. – Die leiers van die twaalf Israelitiese stamme het vanoggend die verstommende storie vertel dat die priester Aäron se droë kierie uit die bloute gebot het en amandels begin dra het.

Hierdie ongelooflike verskynsel sal hopelik ’n einde bring aan ’n lang en onverkwiklike leierskapstryd in dié woestynvolk se geledere. Die stryd is onlangs op die spits gedryf deur die Leviet Korag seun van Jishar en die twee Rubeniete Datan en Abiram, seuns van Eliab, saam met twee honderd en vyftig ander verkose volksleiers. Korag het die alleenreg bevraagteken van Aäron om by die altaar offers te bring, terwyl Datan en Abiram geweier het om hulle aan Moses se gesag te onderwerp. Op ’n gebed van Moses het die Here die grond oopgeskeur sodat die opstandelinge én hulle gesinne ingesluk is.

Die volgende dag het die volk egter die verset verder gevoer en vir Moses en Aäron daarvan beskuldig dat hulle vir die mense se tragiese dood verantwoordelik is. Daarop het die Here ’n pes onder hulle ingestuur, wat eers opgehou het toe Aäron met ’n vuurpan vol wierook tussen hulle ingehardloop het om só vir die volk versoening te doen. Veertien duisend sewe honderd mense het van die plaag omgekom.

Gister het Moses toe die leiers van die twaalf stamme versoek om elkeen ’n kierie met sy naam op in die tent van ontmoeting neer te sit, sodat God self die hoëpriester kan aanwys en so ’n einde aan die stryd kan bring.

Vanoggend het Aäron se kierie amandels gedra.

 


Ander

As jy die gebeure van Num. 16 en 17 lees, verstaan jy hoekom Moses “’n uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op die aarde” (Num. 12:3) genoem word. Want terwyl hy male sonder tal deur die lsraeliete uitgeskel en selfs verwerp word, is dit eenvoudig verstommend hoe hy telkens vir hierdie einste volk by God pleit en vir hulle in die bres tree: In plaas daarvan om sy rug op hulle te draai, val hy op sy knieë en bid hy vir hulle (16:45). Want vir hom het dit nie gegaan om eie eer nie, maar om die gehoorsaamheid aan God.

Dít was ook Elia se stryd. Daarom bid hy aangrypend in 1 Kon. 18:37: “Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.”

Het jy ’n passie vir die heil van ander? Of haal jy maar jou skouers op en sê dis nie jou besigheid wat jou buurman of kollega aanvang nie? Gee jy om vir ander?




Verkenners keer terug uit Kanaän; opstand dreig

KADES (PARANWOESTYN). – Pandemonium het gistermiddag laat by die volksvergadering van die Israeliete uitgebreek toe die leiers wat die land Kanaän gaan verken het, aan die volk verslag gelewer het. Die opstand het ontstaan toe die meeste verkenners gesê het dit is onmoontlik om die land in te neem.

Die twaalf leiers is bykans sewe weke tevore deur Moses uitgestuur om die land Kanaän te gaan verken. Hulle het gister teruggekeer.

Die manne was dit eens dat die land inderdaad baie vrugbaar is. Om hulle berig te staaf, het hulle vrugte saamgebring, onder andere ’n druiwetros wat so groot is dat twee mans dit aan ’n stok moes dra!

Oor die inneembaarheid van die land was daar egter nie eenstemmigheid nie. Josua seun van Nun en Kaleb seun van Jefunne is vol vertroue dat hulle die land sal kan inneem. Die ander tien verkenners is egter nie so optimisties nie. Hulle wys daarop dat die inwoners van die land gedugte teenstanders is en boonop in groot, versterkte stede woon. Daar woon selfs reuse, vermoedelik afstammelinge van die Enakiete.

Toe die volksvergadering hierdie berig hoor, het daar pandemonium uitgebreek. Die volk het in verset teen Moses en Aäron gekom en hulle uitgeskel. Hulle wou met alle geweld ’n nuwe leier kies wat hulle na Egipte kon teruglei. Toe Josua en Kaleb tussenbeide probeer tree, het die opstandige skare gedreig om hulle met klippe dood te gooi.

Teen druktyd gisteraand was die vergadering nog aan die gang, en dit het in daardie stadium nie gelyk of die saak vreedsaam opgelos sal kan word nie.

 

Groot droogte kom glo van God af

SAMARIA. – ’n Paleiswoordvoerder het hier bekend gemaak dat die ernstigste droogte in menseheugenis wat die land tans teister, glo etlike maande gelede al deur die Tisbiet Elia, ’n bywoner uit Gilead, in die Naam van die Here aangekondig is. Elia het dié aankondiging aan koning Agab gedoen en onmiddellik daarna die land verlaat. Hy skuil tans vermoedelik by ’n weduwee in die stad Sarfat in Sidon.

 

OORLOGSWOLKE PAK SAAM IN NOORDE

JERUSALEM. – Paniek heers in die hoofstad hier sedert berigte die stad bereik het dat die Aramese koning Resin ’n oorlogsverdrag met die Israelitiese koning Peka seun van Remalja gesluit het om ’n veldtog teen Jerusalem te onderneem. Die Aramese troepe het reeds in Efraim aangekom, terwyl die Israelitiese magte besig is om op die noordelike grens van Juda saam te trek. Dit lyk in hierdie stadium of oorlog onafwendbaar is.

Berigte uit die paleis lui intussen dat die profeet Jesaja gister vir koning Agas by die boonste dam in die Bleikveld gaan spreek het waar hy besig was om die kanaal te ondersoek in voorbereiding vir ’n moontlike beleg van die stad. Jesaja wou glo die koning gerusstel dat daar niks van die veldtog sal kom nie, omdat die Here dit sal verhoed.

By navraag het koning Agas bevestig dat hy Jesaja teengekom het. Hy steur hom egter nie aan wat die man te sê gehad het nie, het die koning gesê. Jesaja het immers nie ’n benul van internasionale politiek nie. “Ek het ’n land om te regeer, en ons staan op die vooraand van ’n geweldige oorlog. Ek het nie tyd om na ouvroustories te luister nie,” het hy gesê.

 

 


Geloof

Geloof vra nie net van ons om te aanvaar dat daar ’n God is, al kan ons Hom nie sien nie. Geloof vra ook dat ons aanvaar dat Hy ons lotgevalle beskik. Geloof vra verder dat ons op grond van hierdie aanvaarding sal handel. Dat ons ons aan Hom sal toevertrou en ons lewe op grond van sy Woord sal inrig.

Dit was hierdie soort geloof wat die weduwee van Sarfat beweeg het om haar laaste bietjie meel en olie – dit wat letterlik tussen haar en haar seuntjie en ’n hongerdood gestaan het – te vat om vir die man van God ’n maal te berei. Want die Here, die God van Israel, het belowe dat Hy vorentoe sal sorg, totdat dit weer reën.

Dit was hierdie soort geloof wat die lsraeliete op die vooraand van hulle intog in die Beloofde Land gekort het. Hulle sien net die versterkte stede en die magtige krygers van die vyand, en word dan paniekbevange. Soos koning Agas baie jare later: “Hulle het gebewe soos die bome in die bos bewe in die wind” (Jes. 7:2). Vir hulle sê die Here: “Julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie” (Jes. 7:9).

Jy kan ook vandag standhou, selfs in uiterste beproewing, as jy gló. God is immers in beheer!




Godsdiensleier laat sy volgelinge skrik

Van ons Ou Testament redaksie

SINAIBERG. – Die geestelike leier van die Israeliete, Moses seun van Amram se gesig het só geblink na ’n tyd van geestelike afsondering in die teenwoordigheid van sy God op Sinaiberg dat sy volgelinge vir hom bang geword het. Hy was verplig om sy gesig met ’n sluier toe te maak voordat hy met hulle kon praat om die boodskap wat hy van sy God ontvang het, aan hulle oor te dra.

Dié sonderlinge verskynsel het hom afgespeel toe Moses na ’n tydperk van veertig dae en nagte in sy God se teenwoordigheid na sy volgelinge teruggekeer het. Blykbaar het hy in dié tyd geen kos geëet of water gedrink nie. Hy was weg om die sogenaamde Tien Gebooie of grondbeginsels van hulle godsdiens, deur sy God self op twee plat klippe gegraveer, in ontvangs te neem.

Dit is al die tweede keer dat Moses vir ’n tydperk van veertig dae in God se teenwoordigheid bly. Die vorige keer het hy ook die Tien Gebooie ontvang, maar toe hy teruggekeer het van die berg af, het hy ontdek dat die volk intussen vir hulle ’n goue beeld van ’n bulkalf opgerig het en dit aanbid het. Só ontsteld was hy oor die volk se geestelike dwaling dat hy die klippe waarop die gebooie gegraveer was, flenters gegooi het.

Hopelik sal dieselfde lot nie die tweede stel klippe ook tref nie.

 

RABBI JESUS DALK ’n HEILIGE?

Van ons Nuwe Testament redaksie

SESAREA-FILIPPI. – Die drie getrouste volgelinge van die omstrede rabbi Jesus van Nasaret glo vas dat hulle meester ’n heilige is. Dié oortuiging kom nadat Jesus na bewering voor die oë van Simon en die broers Jakobus en Johannes van voorkoms verander het. Sy gesig het glo begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.

Wat hulle verhaal nog vreemder maak, is dat Moses en Elia by dieselfde geleentheid aan hulle verskyn het en met Jesus gepraat het! Daarna het ’n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi. Die dissipels het toe ’n stem uit die wolk gehoor wat sê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.”

’n Woordvoerder van die Joodse Raad, die priester Aleksander, het die bewerings egter as “verregaande arrogansie” en “snert” afgemaak. Hy het gesê dit is ontstellend dat Jesus mense so kan mislei. “Dit is nie net verdigsel nie. Ons het hier met godslastering te doen. Maar wat kan jy anders verwag? Hierdie mense kom almal van Galilea af. Hulle weet nie van beter nie,” het hy gesê.

 

’n Nuwe boek verskyn

’n Balling op die eiland Patmos, ene Johannes, het pas ’n manuskrip voltooi van ’n boek wat hy bloot “Die Openbaring” noem. Die boek is geskryf in die apokaliptiese genre, en bevat naas ’n profesie oor die wêreldverloop tot aan die einde van die aarde se bestaan, ook ’n sewetal briewe aan die sewe gemeentes van Jesus Christus in Klein-Asië.

Volgens Johannes is die boek die vrug van ’n buitengewone visioen wat hy op die Patmosstrand gesien het toe Jesus van Nasaret aan hom verskyn het. “Dié ontmoeting het my hele lewe verander. Ek glo dit sal ook elkeen wat die boek lees so aangryp soos dit my aangegryp het,” het die vriendelike grysaard gesê.

Lees hiervan in Openb. 1.

 

 


Die glans van God

Die vlekkelose heiligheid van ons Heiland het slegs een keer tydens sy aardse lewe déúr sy menslike natuur gebreek, daar op die berg van verheerliking, toe Hy besig was om te bid (vgl. Luk. 9:29). Sy hele voorkoms het verander: sy klere ’n skitterende wit, sy gesig stralend soos die son. Dit was ook wat Johannes op Patmos gesien het: “Sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn” (Openb. 1:16).

Toe Moses op Sinaiberg in noue kontak met God gekom het, het iets van hierdie majesteitlike heiligheid aan hom afgegee. Daarom begin sy gesig dié heilige heerlikheid uitstraal.

Vandag is dit nog so. ’n Mens wat naby God lewe, verander. So iemand begin net eenvoudig iets van God se heerlikheid uitstraal. Jy sien dit in haar oë, jy hoor dit in haar praat, jy merk dit in haar optrede. Dit kan ook nie anders nie. “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem,” skryf Paulus as hy hierdie gebeurtenis in herinnering roep. “Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is” (2 Kor. 3:18).

Verlig die glans van ons hemelse Verlosser jóú gesig?