Farao sit Israeliete op hulle plek

MEMPHIS. – Met briljante staatsmanskap het farao Merneptah vandeesweek die opstand in die Israelitiese gemeenskap in die kiem gesmoor. Die Israeliete het onder die dekmantel van godsdiens op vakansie aangedring.

Die voorbokke in die opstand is twee broers, Moses en Aäron. Hulle het in die naam van hulle god die vryheid geëis om ’n godsdienstige fees drie dagreise ver die woestyn in te gaan vier, wel wetende dat die koninklike bouprogram dit nie kan bekostig nie.

Die farao se antwoord was ’n duidelike nee. Hy het hulle daarvan beskuldig dat hulle lui is en net ’n verskoning soek om hulle mense van die werk af weg te hou. As strafmaatreël het die farao sy slawedrywers beveel om die verskaffing van strooi aan die Israeliete te staak. Hulle moet dus nou self die strooi vind om bakstene te maak. Die kwota bakstene wat hulle op ’n dag moet lewer, bly egter onveranderd.

In ’n perskonferensie het die farao dit duidelik gestel dat hy hom nie sal laat rondstoot deur die god van die Hebreërs nie. Hy het onder luide gelag gesê: “Ek het nie die naam van hulle god in die Boek van die Engele gevind nie. Hoekom moet ek dan na hom luister? Ek is nie bang vir ’n god van slawe nie!”

Intussen lyk dit asof die farao se taktiek om die opstand te onderdruk deur verdeeldheid onder die slawe te saai, reeds begin vrugte afwerp. Die Israelitiese opsigters het gister by hom kom kla oor die wegneem van die strooikwota, maar hy het hulle die rug toegekeer. Toe hulle uit die paleis kom, was daar ’n hewige rusie tussen hulle en Moses en Aäron. Die opsigters het hulle daarvan beskuldig dat hulle net moeilikheid gebring het. Hulle het die twee broers selfs in die naam van hulle god vervloek.

Nóg Moses en Aäron, nóg die opsigters wou ons te woord staan. Dit lyk asof die arbeidsonrus op ’n end is.

 

Reusebeeld van Nebukadnesar sal luisterryk onthul word

BABEL. – Die koninklike perssekretaris het vandag die reëlings bekend gemaak vir die onthulling van die goue standbeeld van koning Nebukadnesar.

Dié dertig meter hoë standbeeld is pas voltooi en word tans in die Duradal hier naby opgerig. Dit sal volgende week ingewy word.

Die koning het opdrag gegee dat al sy amptenare, die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs, die raadgewers, die tesourieamptenare, die regters, die landdroste, en al die hoofamptenare van die provinsie, hierdie luisterryke geleentheid moet bywoon. Wanneer die koninklike orkes ’n fanfare aanhef, sal hulle almal voor die beeld buig en dit aanbid.

Om gehoorsaamheid aan hierdie opdrag te verseker, word ’n groot brandoond ook op die terrein opgerig. Wie nie op die teken van die orkes buig en die beeld aanbid nie, sal onmiddellik in die brandende oond gegooi word.

Koning Nebukadnesar het ook al sy onderdane genooi om die verrigtinge by te woon. Hy het gesê hy wil hierdeur aan sy onderdane die geleentheid bied om aan hom die nodige eer te bring.

Die koning het die gedagte aan die reusebeeld gekry toe hy onlangs ’n visioen gehad het waarin hy ’n reusagtige beeld gesien het. Volgens droomverklaarders was die beeld ’n voorstelling van sy grootheid as koning. Die beeld wat hy nou laat oprig, wil uitdrukking gee aan sy glorie en roem as die magtigste koning ter aarde.

  • Lees meer hiervan in Dan. 3.

 


Een wat sterker is

Die Bybel vertel vir ons die verhaal van God se besig wees met hierdie wêreld en met die mense van sy wêreld. Dit vertel ook van Satan se pogings om God se wêreld te skaak en vir homself in te palm.

Wat dié verhaal so ’n heerlike leeservaring maak, is die fyn humor waarmee dit vertel word. Die Bybelskrywers word nooit moeg daarvoor om die komiese sy van Satan se “staatsgreeppogings” teen die almag van God uit te beeld nie.

Wanneer Moses voor die farao staan, koggel dié duiwelshandlanger hom uit. Hy wat die groot en deurlugtige farao is, het immers nog nooit eens van die God van die Hebreërs gehoor nie. Aan so ’n onbekende god hoef jy jou tog nie te steur nie? Met slim taktiek wys hy dat die beleid “verdeel en heers” glad nie so nuut is soos wat ons soms dink nie. Maar as Moses ontsteld oor die verloop van sake God in sy gebed verwyt, stel God hom gou gerus: “Ek is die Here!” (Eks. 6:1). Die farao dink maar net hy is in beheer. In werklikheid speel hy netjies in God se hand.

Met net sulke fyn humor word die verhaal van Nebukadnesar se beeld vertel. Dit begin waar almal beveel word om hom te aanbid. Maar aan die einde is hý die een wat hom neerbuig en vir God aanbid! “Aan die God van Sadrag, Mesag en Abednego kom die eer toe …” sê hy in Dan. 3:28.

Hierdie wêreld in die kloue van Satan? Nog nooit! Gód is in beheer!




Safenat-Paneag verwelkom sy vader in Egipte

GOSEN. – Die hoof van die GVE het gister hier aangekom om sy vader, Jakob seun van Isak, in Egipte te verwelkom. Dit was ’n aandoenlike oomblik toe die twee mekaar na ’n skeiding van meer as twintig jaar weer gesien het. Hulle het mekaar omhels en lank so gestaan en huil. Daarna het die waardige ou man, wat reeds honderd en dertig jaar oud is, kopskuddend vir sy seun gesê: “Nou kan ek maar sterf. Ek het jou gesien. Jy lewe nog!”

 

FILISTYNSE MAGTE IN DIE SPOOKLAAGTE VERPLETTER

JERUSALEM. – Met briljante krygsvernuf het koning Dawid die militêre oorheersing van die Filistyne in die Kanaänitiese vlaktes finaal verbreek. Die Filistyne het die afgelope drie eeue die oorhand op militêre gebied gehad met hulle beter krygstuig en strydwaens, sodat die Israeliete baie swaar geleef het, veral in die vrugbare vlaktes waar hulle geen teenvoeter vir die strydwaens gehad het nie. Net in die onbegaanbare bergland kon hulle hul man staan. Die Israeliete het gehoop dat koning Saul hulle van dié oorheersing kon bevry, maar hy kon nooit werklik die Filistyne se houvas breek nie. Nou het koning Dawid egter die onmoontlike reggekry. Die slag van Spooklaagte was waarskynlik die laaste geveg teen die Filistyne.

 

Minister in sop na minagting van dekreet

BABEL. – Die aangewese eerste minister van die Ryk van Mediërs en Perse, Beltsasar, is gisteraand laat in ’n leeukuil gegooi omdat hy koning Darius se bidverbod verbreek het.

Die bidverbod is onlangs met ’n koninklike dekreet ingestel op aanbeveling van die ander twee ministers en die goewerneurs-generaal, raadgewers en administrateurs van die ryk. Daarvolgens moet enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid behalwe vir die koning, in ’n leeukuil gegooi word. Daarby is die dekreet as ’n wet van die Mediërs en Perse uitgevaardig en derhalwe onherroeplik. Beltsasar, beter bekend as Daniël onder sy volksgenote, het egter die dekreet verontagsaam. Hy is ’n toegewyde Jood en het soos tevore drie maal elke dag tot sy God, die God van die hemel, gebid. Hy is op heter daad betrap waar hy gebid het en voor die koning gedaag.

Dié verwikkeling het as ’n groot skok vir die koning gekom. Dit is bekend dat koning Darius groot vertroue in Beltsasar gehad het. Toe hy aan bewind gekom het, het hy hom aangestel as een van sy drie ministers aan wie die honderd en twintig goewerneurs-generaal van die ryk verantwoordelik was. Beltsasar het egter deur sy buitengewone bekwaamheid so uitgeblink bo die ander ministers en die goewerneurs-generaal dat die koning besluit het om hom oor die hele koninkryk aan te stel.

Allerhande vrae het intussen ontstaan oor die afdwingbaarheid van ’n wet van Mediërs en Perse. Dit is duidelik dat dié wet as ’n strik misbruik is in ’n fyn uitgewerkte set van Beltsasar se vyande om van hom ontslae te raak. Koning Darius het die vonnis so lank moontlik uitgestel, maar het uiteindelik geen ander keuse gehad nie as om Beltsasar in die leeukuil te laat gooi. So is die ryk van een van sy knapste burgers beroof, en dit teen die koning se sin in.

  • Lees alles hieroor in Dan. 6.

 


Die voorreg van aanbidding

Ek onthou uit my kinderdae ’n dominee wat elke Sondag iewers in sy kanselgebed die Here gedank het “vir die voorreg van aanbidding”. Vir my as jong seun het dié mooiklinkende woorde nie veel beteken nie. Vandag weet ek van beter. Gebed ís ’n onuitspreeklike groot voorreg. Sonder gebed sou ons geloof versmoor. G’n wonder nie dat gebed die asemhaling van die siel genoem word. Daniël het dít goed begryp. Die hele boek Daniël is trouens een groot getuienis van sy en sy drie vriende se volhardende ywer om God, en Hom alleen, te aanbid. Vir hierdie voorreg het hy geen kompromieë toegelaat nie, selfs al sou dit sy lewe kos. Dit sien ons ook in die lewe van Jakob, wat nie sommer halsoorkop op ’n wa klim om sy lankverlore seun te gaan ontmoet nie. Nee, voordat hy vertrek, bring hy eers ’n offer om só vir God te raadpleeg. En Dawid, teen hierdie tyd ’n gesoute en uitgeslape militaris wat behoort te weet hoe om te veg, pak ook nie ’n enkele geveg aan voordat hy God geraadpleeg het nie. Aanbidding is inderdaad ’n voorreg. Het jy al in verwondering voor God daaroor gejuig?




Tien Kanaänitiese spioene weer vas

AVANIS. – Die tien Kanaänitiese mans wat enkele maande gelede op aanklag van spioenasie in hegtenis geneem is, is vanoggend hier vir die tweede keer gevang, slegs enkele ure nadat hulle in die stad aangekom het. Die klag is hierdie keer diefstal.

Die “jongste broer”, Benjamin, vir wie hulle gaan haal het om hulle onskuld te bewys, het die GVE-hoof, Safenat-Paneag, se silwer beker gesteel. Dit het ondertussen ook aan die lig gekom dat hulle nooit vir hulle graan betaal het nie – nie met hulle eerste besoek nie, en ook nie vir hulle aankope gister nie.

Die diefstal is ontdek toe bediendes opgeruim het ná ’n banket wat Safenat-Paneag gehou het ter ere van die Kanaäniete. Hy wou hulle van sy goeie guns verseker ná die stief behandeling wat hulle op hulle vorige besoek gekry het. Toe is hulle van spioenasie verdink. Dit blyk egter nou dat Safenat-Paneag se aanvanklike vermoede nie ongegrond was nie.

Die aangeleentheid het ’n interessante wending geneem toe die tien “ouer broers” geweier het dat slegs die skuldige, Benjamin, gevang word en as slaaf in diens van die GVE-hoof agterbly. Hulle het daarop aangedring om saam met hulle jongste broer na Avanis terug te keer.

Die Kanaäniete sal waarskynlik more deur Safenat-Paneag self verhoor word. Een van die elf, Juda, het te kenne gegee dat hy hulle laak sal behartig.

 

KONING NEBUKADNESAR SIEK

BABEL. – ’n Woordvoerder van die paleis het bekend gemaak dat koning Nebukadnesar ongesteld is. Al sy afsprake is onbepaald uitgestel.

Die woordvoerder wou nie bekend maak wat die aard van sy siekte is nie, wat die vermoede laat ontstaan dat dit vry ernstig kan wees. Allerlei gerugte wat daarop dui dat die siekte een of ander vorm van geestesversteuring kan wees, doen ook die rondte. ’n Paleisamptenaar wat om verstaanbare redes nie sy naam genoem wil hê nie, het gesê dat hy die koning gister in die paleistuin aangetref het. Die koning het op sy knieë gestaan en gras eet. ’n Ander amptenaar het weer laat in die nag iemand wat soos die koning lyk, onder die bome sien rondkruip. Sy het snaakse steungeluide gehoor, maar was te bang om verder ondersoek in te stel.

Die perssekretaris in die kantoor van Beltsasar, die hoof van die wysheidsleraars, het op navraag die gerug bevestig dat die koning ’n jaar gelede ’n droom gehad het waarin hy gewaarsku is dat ’n vreemde siekte hom kan oorval.

 


Soms is dit nodig dat God moet ingryp om ons van ons arrogansie te verlos. Want magslus en grootheidswaan is immers die oersaad vir die sonde. Was dít nie die lokaas wat Satan vir Eva uitgehou het in Eden nie? “… as julle van daardie boom eet … sal julle soos God wees (Gen. 3:5).

In hierdie wêreld is daar baie groot manne, manne met baie mag tot hulle beskikking. Dit was altyd so, en goed so. ’n Wêreld sonder gesagstrukture sal in chaos ontaard. Maar mag mag nooit sonder verantwoordelikheid uitgeoefen word nie.

’n Baie interessante (maar daarom nie minder tragies nie!) stukkie geskiedenis in hierdie verband is die rare siekte van Nebukadnesar. Nebukadnesar se ongelooflike mag het na sy kop toe gegaan. Die raad van Daniël aan hom is insiggewend: “Daarom, U Majesteit, luister na my raad: breek met u sonde en u ongeregtigheid, doen wat reg is en bewys barmhartigheid teenoor dié wat in nood is. Dan sal u voorspoed aanhou” (Dan. 4:27). Nebukadnesar se sonde was dat hy sy mag sonder deernis en barmhartigheid uitgeoefen het. Totdat God hom gestuit het.

Maar nie net die gemenes onder ons swig voor die versoeking van magsmisbruik nie; selfs die geloofsreuse uit die ou tyd was nie immuun teen die verleiding wat mag bring nie. Toe sy broers voor hom, die onderkoning van die magtige Egipte, buig, dink Josef: Nou het ek hulle in my mag. Destyds het hulle vir my gelag, maar nou sal ek hulle wys. Totdat God ingryp en hy tot sy skaamte moes ontdek: Juda is groter as ek, want hy dink aan pa Jakob se welstand, en ek net aan my eie kleinlike wraak. Watter hartroerende pleitrede lewer Juda nie in Gen. 44 nie!

Nie net maghebbers het gesag nie. Jy staan ook in ’n gesagsposisie teenoor ander. Gebruik dit tog met ootmoed!




Tien in hegtenis op spioenasieaanklag

AVANIS. – Die hoof van die GVE, Safenat-Paneag, het bekend gemaak dat hy eergister tien Kanaänitiese mans by die hoofgraansilo hier in hegtenis laat neem het op ’n aanklag van spioenasie.
Na bewering het hulle Egipte kom verken met die oog op ’n aanval later vanjaar. Hulle het glo veral belang gestel in die groot graanvoorraad. Dit is bekend dat die hongersnood in Kanaän in die jongste tyd ernstige afmetings begin aanneem.

Die mans ontken ten sterkste dat hulle spioene is. Hulle beweer dat hulle almal seuns van een pa is en dat hulle slegs kom graan koop het vir hulle familie. Hulle sê verder dat hulle nog ’n jonger broer het wat in Kanaän agtergebly het. Dié storie was egter ’n bietjie dun na Safenat-Paneag se sin, en hy het hulle summier in die tronk laat gooi. Hy het gesê een van die tien kan na hulle sogenaamde huis in Kanaän gaan om die jongste broer te gaan haal terwyl die ander nege in die tronk bly, maar van dié aanbod het hulle tot nog toe nie gebruik maak nie.

Die verhoor word môre hervat.

 

Magtige Babiloniese Ryk tuimel

BABEL. – Die eens magtige Babiloniese Ryk is daar nie meer nie. Dit het gisteraand tot ’n val gekom toe koning Belsasar in ’n sluipmoordaanslag omgekom het.

Die man wat hiervoor verantwoordelik was, is Darius die Mediër. Sy nuwe ryk sal bekend staan as die Ryk van Mediërs en Perse. Bitter min is tans oor dié twee en sestigjarige seun van Ahasveros bekend. Dat hy ’n administrateur van formaat is, is egter seker. Binne enkele ure nadat hy die troon bestyg het, het hy bekend gemaak dat hy die hele staatsadministrasie gaan verander. Hy het dit in die vooruitsig gestel dat hy honderd en twintig goewerneurs-generaal gaan aanstel, asook drie ministers.

Min mense sal kla oor die regrukplanne van die nuwe koning. Sy voorganger, Belsasar, was nie juis bekend vir sy sober administrasie nie. Dit was juis op een van sy uitspattige swelgpartye saam met sy duisend hoofamptenare dat hy vermoor is.

Intussen het ons verneem dat Belsasar enkele ure voor sy dood ’n bonatuurlike waarskuwing gekry het dat sy ryk gaan val, maar hy het hom klaarblyklik nie daaraan gesteur nie. Ooggetuies praat van ’n geheimsinnige hand wat op die muur van die banketsaal ’n onverstaanbare boodskap geskryf het. Ten einde raad is ene Daniël laat roep om die boodskap uit te lê. Daniël was vroeër ’n hoogaangeskrewe raadgewer en droomuitlêer van die groot koning Nebukadnesar, maar was nie in Belsasar se guns nie. Die boodskap het glo gelui dat Belsasar se dae getel is. Enkele ure later is hy vermoor.

  • Lees van dié drama in Dan. 5.

 


Om oor na te dink

Die wiel draai. Wat vandag onder is, sal nie noodwendig altyd onder bly nie. En natuurlik ook omgekeerd. Daarom het ons ’n spreekwoord wat lui: “Moenie sê: fonteintjie, ek sal nooit weer uit jou drink nie.” Want niemand van ons kan die toekoms voorsien nie, en ons ondervinding leer ons dat die lewe soms eienaardige kinkels het.

In die Bybel lees ons nogal heelwat van hierdie kinkels. Vandag se twee berigte is voorbeelde hiervan. Van ’n eens magtige ryk wat oornag in duie stort. En van tien broers wat gelag het oor die droom van hulle jonger boetie dat hulle eendag voor hom sal buig. En toe gebeur dit, al was dit omtrent twintig jaar later eers. Maar Josef het dadelik dié gewraakte drome onthou (Gen. 42:9).

Wat die Bybel ons in hierdie verhale wil laat verstaan, is dat die wiel nie sommer net draai soos hy lus het nie. God se hand sit agter dié wiel. Dis Hy wat Josef onderkoning van Egipte gemaak het. Dis Hy wat Belsasar geweeg en te lig bevind het. Die wêreld loop nie sommer so blindelings voort, en party van ons is gelukkig en ander ongelukkig nie. God is in beheer.

Daarom sê Dawid in Ps. 31:15 en 16: “Maar ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God. My tye is in u hand.” Want hy het ontdek dat dit God is wat sy tye reël.

God reël ook jóú tye. Ook vandag, en môre, net soos Hy gister gereël het. Daarom kan jy met gerustheid op Hom vertrou, elke oomblik.




TROUE VAN DIE JAAR

Van ons Ou Testament redaksie

Rebekka dogter van Betuel

LAGAI-ROÏ-FONTEIN. – Daar heers groot opgewondenheid in sosiale kringe hier oor die huwelik aanstaande week tussen Isak, seun van die skatryk Abraham seun van Tera, en die beeldskone Rebekka, dogter van Betuel van Haran in Mesopotamië. Heelwat jong dames sal waarskynlik in die volgende paar dae trane van teleurstelling moet wegpink, aangesien Isak, die enigste erfgenaam van Abraham se groot sakeryk, allerweë beskou is as die hubaarste man in Kanaän.

Rebekka is die kleindogter van Abraham se broer Nahor, wat in Mesopotamië agtergebly het toe Abraham hom destyds in Kanaän kom vestig het. Sy het gister saam met Abraham se hoofslaaf, Eliëser, hier aangekom.

Eliëser is vroeër vanjaar deur Abraham na Mesopotamië gestuur met die opdrag om ’n vrou vir sy seun Isak te soek. Op die vraag hoe hy te werk gegaan het om dié moeilike opdrag uit te voer, het Eliëser geantwoord dat dit net gebedsverhoring is. “Ek het haar glad nie gesoek nie. God het haar reguit na my toe gestuur. Wonderlik, nè?”

 

Koning Saul en sy drie seuns sneuwel

GILBOA. – Die ganse Israel is in rou gedompel toe hulle koning Saul seun van Kis en sy drie seuns Jonatan, Abinadab en Malkisua op die slagveld hier gesneuwel het in een van die grootste nederlae nóg teen die Filistyne.

Die verpletterende nederlaag kom as geen verrassing nie, aangesien die moraal van die koning en sy manskappe reeds baie laag was voor die stryd, sodat hulle eintlik nie weerstand gebied het teen die Filistyne nie. Onbevestigde berigte lui dat koning Saul in ’n desperate poging om die situasie te beredder, selfs ’n dodebesweerder besoek het sodat hy die gestorwe siener Samuel kon raadpleeg. Blykbaar het dit nie lig vir hom gebring nie, want hy was daarna meer terneergedruk as ooit.

Politieke ontleders sê dat koning Saul eintlik sy eie ondergang bewerk het. Hy kon nooit werklik die mas opkom teen die Filistyne nie. Daarby het hy die enigste man wat die Israeliete met sukses teen hulle aangevoer het, Dawid seun van Isai, uit die land gedryf uit vrees dat hy sy koningskap van hom sou afneem. Ironies genoeg lyk dit na ’n uitgemaakte saak dat dit presies is wat nou sal gebeur, aangesien Saul se enigste oorlewende seun, die jong Es-Baäl wat hom nou opvolg, nie ’n sterk leier is nie.

  • Lees van hierdie stormagtige geskiedenis in 1 Sam. 28 en 31.

 

Jong Joodse balling red land se slimstes

BABEL. – ’n Onbekende jong Joodse balling wat onlangs as koninklike raadgewer aangestel is, Beltsasar, of ook bekend as Daniël, het die land se slimkoppe van ’n gewisse dood gered toe hy ’n droom vir koning Nebukadnesar uitgelê het.

Die koning het ’n droom gehad wat hom hewig ontstel het, omdat hy aangevoel het dat die droom ’n boodskap van die gode is. Hy wou nie die droom bekend maak nie, en het van sy raadgewers verwag om nie net die uitleg nie, maar ook die droom self aan hom bekend te maak, sodat hy kon seker wees sy raadgewers versin nie ‘n antwoord nie. Geeneen van die towenaars, voorspellers, goëlaars en sterrekykers kon dit egter doen nie. Daarop is ’n proklamasie uitgevaardig dat al die koninklike raadgewers doodgemaak moet word. Dit was tóé dat Beltsasar na vore getree het en die droom en uitleg aan die koning bekend gemaak het. Die doodsbevel is daarna opgehef.

 


Om oor na te dink

Die Bybel is vol daarvan dat ons ’n lewende God aanbid – ’n God wat ’n hoorder is van die gebed. En dan nie net gebede oor die groot dinge van die lewe nie – dit natuurlik ook. Daarom vertel die Bybel ons hoedat God op Daniël en sy drie vriende se ernstige gebede ’n antwoord gee wat nie net Daniël en sy vriende nie, maar ook baie ander mense se lewe gered het.

Maar God verhoor nie net gebede oor kwessies van lewe en dood nie. Hy wil ook in ons alledaagse lewe betrokke wees. Daarom lees ons van die vrome ou slaaf Eliëser wat in gebedsafhanklikheid sy meester se opdrag uitvoer.

God wil hê dat ons Hom moet raadpleeg oor alles. Tog val Saul se dringende gebede voor die slag van Gilboa op dowe ore, want gebed is nie bedoel as ’n kitsoplossing vir al ons probleme nie. Nee, gebed is die vrug van ’n lewe van innige verbondenheid met God. Wanneer gebed gebêre word net vir die krisistye in ons lewe, wanneer dit bloot ’n “laaste uitweg” is en nie deel is van ’n lewe van afhanklikheid voor die lewende God nie, kan dit gebeur dat die bidder – soos Saul – die verskriklikste antwoord sal kry: “Ek ken jou nie” (vgl. Matt. 25:12).