Egipte se elite-soldate sterf in natuurfrats

Militêre verslaggewer

PI-HAGIROT. – Die Egiptiese veiligheidsmagte het gister hier een van die ernstigste terugslae nog beleef toe ’n reusagtige fratsgolf die ganse elite-korps van die farao ingesluk het. Nie een van die soldate het dié watergraf vrygespring nie.

Farao Merneptah was met die room van sy leër op ’n krygstog om die vlugtende Hebreeuse slawe te gaan vang toe die ramp hulle tref. Hulle het die slawe gou ingehaal en teen die Rietsee vasgekeer. Die farao het op ’n hoogte stelling ingeneem om sy leër se vordering te volg. Dié besluit het hom van ’n gewisse dood gered.

Die vreesbevange slawe het die Rietsee ingevlug. In daardie stadium was die gety besonder laag, vermoedelik as gevolg van ’n sterk oostewind wat die gety teruggehou het. Die farao se dapper krygers het op hulle strydwaens agter die slawe aan die see ingejaag, en was op die punt om hulle vlug te stuit, toe die wind onverwags draai en die gety inkom. Die troepe het geen kans gehad om terug te val voor die aanstormende branders nie, het ’n sigbaar aangedane farao gesê. Dit is bekend dat ’n paar van sy seuns aanvoerders is in die koninklike strydwakorps.

Oor die lot van die slawe wou hy hom nie uitlaat nie. Hy het net skouerophalend gesê: “My mense het dit nie een oorleef nie. Dink jy daardie honde sou beter gevaar het?”

 

VISSERS ONTKOM WONDERBAARLIK

GERASA. – ’n Klompie vissers het laasnag op wonderbaarlike wyse ’n groot storm op die See van Galilea oorleef. Toe die uitgeputte, maar baie verligte vissers het vroeg vanoggend hier aangekom het, was die tekens van die nag se ontbering nog duidelik op hulle gesig.

Hulle vertel dat hulle laat gistermiddag in betreklik goeie weer van Kapernaum af uitgevaar het. Die weer het egter gaandeweg versleg, en kort voor lank het hulle hulle in ’n volskaalse storm bevind. Die reusagtige golwe het eenvoudig bo-oor die skuite gespoel, sodat hulle in ’n ommesientjie in groot moeilikheid was.

Die ongelooflike is dat die groep se leier, die rabbi Jesus van Nasaret, skynbaar onbewus van die storm was en rustig gelê en slaap het op die bank in die agterstewe van die skuit. In hulle paniek het sy volgelinge hom wakker gemaak. Volgens sy dissipels het hy toe met die wind en die see gepraat, en die storm het net daar bedaar!

Daarna – so vertel een van die dissipels, Simon bar Jona – het hy met hulle geraas omdat hulle bang was. “Ek sê vir jou, hy kan nie ’n gewone mens wees nie. Ek wonder of hy nie dalk die Messias is nie? Waar het jy al ooit gehoor dat die wind en die see na ’n mens luister?” het Simon gevra.

Die Bybelkoerant kan natuurlik nie hierop antwoord nie. Net die tyd sal leer wie en wat hierdie Jesus werklik is. Dat hy iemand besonders is, is egter seker. Die skares stroom agter hom aan, sodat hy by geleentheid selfs vanuit ’n skuitjie sy leringe moes verkondig. Dit is bekend dat mense van selfs so ver as Jerusalem af en uit Tirus en Sidon kom om hom te sien en na sy lering te luister.

 


Toe die Egiptiese strydwaens op hulle afstorm, raak die lsraeliete paniekbevange: Hier sterf hulle vandag nog in die woestyn, het hulle geglo. In skerp teenstelling is Moses die kalmte self. “Moenie bang wees nie,” antwoord hy die volk. “Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red … Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg” (Eks. 14:13-14).

Die rede vir die verskil in reaksie? Moses het iets raakgesien wat die lsraeliete gemis het. Hy het gesien dat God by hulle is; dat Hy die stryd vir hulle voer. Daarom raak hy nie bang en benoud nie. Baie jare later sou Dawid hierdie waarheid in sy trefferpsalm só verwoord: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig” (Ps. 23:4).

En dié Goeie Herder (Joh. 10) van wie Dawid in Ps. 23 gesing het, was juis by toe die storm op die see die dissipels oorval. Hy is nie paniekbevange soos hulle nie. Hy slaap in die rustige wete dat hulle veilig is in Gods hand. Daarom bestraf Hy sy dissipels oor hulle gebrek aan geloof, want sy goddelike teenwoordigheid het nie ’n verskil gemaak in hulle nood nie.

Maak jou geloof ’n verskil aan die manier waarop jy elke dag beleef? Bring God se teenwoordigheid kalmte in jou gemoed as ander begin om hande in die lug te gooi? Dawid sê (Ps. 27:1): “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?”

Die reddende Here waak ook vandag oor jou. As Hy die Rietsee in twee kon kloof en die stormsee kon laat bedaar, is die probleme wat jy vandag sal teëkom, nie vir Hom te groot nie.




“Huis toe” na 430 jaar!

ETAM. – Die Israeliete het laat gistermiddag by hierdie dorpie op die rand van die woestyn kamp opgeslaan nadat hulle vroeër vandeesweek uit Rameses in Egipte vertrek het. Dié uittog beëindig ’n verblyf van altesaam vierhonderd en dertig jaar in Egipte.

Hulle voorvader Jakob, ook bekend as Israel, het destyds tydens ’n geweldige droogte in Kanaän besluit om tydelik in Egipte te gaan bly op uitnodiging van sy seun Josef. Josef was toe onderkoning van Egipte en in beheer van die opgebergte graan. Die “tydelike verblyf” het uiteindelik meer as vier eeue geduur, en die eens trotse nomades is tot slawerny verneder.

Hierdie hartseer hoofstuk in die Israeliete se geskiedenis is nou uiteindelik op ’n end. Verlede week het hulle leiers Moses en Aäron daarin geslaag om die farao van Egipte se toestemming te kry om Egipte te verlaat.

Kommer bestaan egter oor die roete wat hulle gekies het. Hulle beoog naamlik om met die woestynpad langs na die land Kanaän te trek. Kenners van die woestyn wys daarop dat dit moeilik sal wees vir só baie mense om genoeg kos en water in die woestyn te vind. Hulle leier Moses is egter vol vertroue dat dit met hulle goed sal gaan in die woestyn. “Ons God het dié roete aangewys. Wie is ons om te stry?” het hy op waarskuwings gereageer.

 

’n TEMPEL VIR JAHWE IN JERUSALEM

JERUSALEM. – Koning Dawid het gistermiddag op ’n perskonferensie bekend gemaak dat hy ’n tempel vir Jahwe in die stad gaan oprig.

Ter motivering van dié besluit het hy gesê dat hy ongemaklik daaroor voel om self in ’n pragtige paleis te woon, terwyl die ark van God in ’n tent staan. Daarom het hy sy argitekte opdrag gegee om in samewerking met die profeet Natan ’n tempel te ontwerp. Natan het net ná die koning se aankondiging ’n model van die beoogde tempelkompleks onthul. Afgesien van die tempel self, wat uit ’n voorhof, ’n heilige deel en ’n allerheiligste deel sal bestaan, maak die model ook voorsiening vir voorraadkamers en skatkamers, asook woonkwartiere vir die priesters en Leviete.

Koning Dawid voorsien nie dat die tempel gou voltooi sal word nie, aangesien hy geen koste en moeite gaan ontsien nie. “Die huis wat vir die Here gebou gaan word, moet indrukwekkend groots wees, ’n roem en ’n sieraad vir alle lande,” het hy gesê. Net die beste materiaal sal gebruik word – goud uit Ofir, die suiwerste silwer, en sederhout wat hy spesiaal vir dié doel uit Tirus en Sidon gaan invoer.

 

SPESIALIS-VAKMANNE

Die koninklike bouheer verlang die dienste van ervare persone om die volgende poste so gou moontlik te vul:

  • klipkappers
  • messelaars
  • skrynwerkers
  • goud- en silwersmede
  • brons- en ystersmede

Die vergoedingspakket sluit ’n aantreklike salaris, 20 dae jaarlikse verlof en ’n vakansiebonus in.

Aansoekvorms en nadere besonderhede is verkrygbaar van:
Die Hoof, Personeeldienste,
Paleisadministrasie, Jerusalem.

 


God ken alleen die regte pad

Soms maak jou lewe totaal ander draaie as wat jy ooit voorsien het. Terwyl die Israeliete so gou moontlik in Kanaän wil aankom, het God ander planne: Hy het hulle “nie die pad na die land van die Filistyne toe laat vat nie, hoewel dit die kortste was … Daarom het God die volk met ’n ompad laat gaan, met die woestynpad …” (Eks. 13:17,18). Want Hy het geweet watter gevare op die kortpad op die jong volk wag.

God het ook ander planne met sy tempel gehad as Dawid. Dit sou Dawid nie beskore wees om self die tempel te bou nie. Sy hande was vol bloed (1 Kron. 22:8); sy seun Salomo was daarom die regte persoon om die tempel te bou.

Dit moes vir Dawid ’n groot teleurstelling gewees het dat God hom die voorreg ontsê om die tempel te bou. Tog eindig hierdie hoofstuk (2 Sam. 7) nie op ’n hartseer noot nie, maar met ’n loflied! Want Dawid het geleer dat God se Raad reg en goed is. Daarom juig hy, hou hy vas aan God se beloftes vir hom en sy nageslag.

Ons pad – met kronkels en al – loop op die hemelstad uit, omdat dit God is wat die pad vir ons beplan. Kom ons volg sy pad met gehoorsaamheid en blydskap.




Egipte in rou gedompel

Spesiale Ou Testament rampverslaggewer

MEMPHIS. – ’n Ramp van ongekende omvang het die hele land getref toe duisende mense en selfs diere laasnag op ’n onverklaarbare wyse gesterf het. Geen huis het die dood vrygespring nie, selfs nie eens die farao s’n nie. Kroonprins Rameses is ook dood.

Die sterftes moet met mekaar verband hou, want sover vasgestel kan word, het al die sterftes om middernag plaasgevind. Wat dit nog vreemder maak, is dat slegs die eersgeborenes dood is, van die kroonprins af tot by die eersgeborenes van die krygsgevangenes in die tronk. Selfs die slavinne se eersgeborenes het omgekom.

In ’n nag van ongekende smart het weeklagte en gekerm uit letterlik elke huis in Egipte sedert middernag opgeklink, en van vroegoggend af is die strate vol mense wat rondskarrel om alles gereël te kry om hulle geliefdes te begrawe.

Ons korrespondent in Gosen berig egter dat daar in dié provinsie nie ’n enkele sterfgeval is nie. Hy sê die Israeliete moes vooraf gewaarsku gewees het, want al die families het gisteraand lammers geslag en van die bloed aan hulle huise se deure geverf, glo “om die dood uit die huis te hou”.

Bybelkoerant het ook verneem dat die farao laasnag dringend vir Moses en Aäron, die leiers van die Israelitiese arbeidsopstand, ontbied het. Dit versterk die vermoede dat die doodsramp moontlik verband hou met hulle eis om ’n godsdienstige fees in die woestyn te gaan hou.

Daar begin nou ook van verskillende oorde af stemme opgaan teen die farao se halsstarrige weiering om aan die Israeliete se eis toe te gee. “Die prys raak nou net eenvoudig te hoog. Ons kan nie só aangaan nie,” het ’n gesiene inwoner vanoggend in trane gesê toe hy sy oudste seun begrawe het.

 

STAD SIT BESTE VOET VOOR VIR PAASFEESGANGERS

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Die stad van Dawid is gereed om die duisende paasfeesgangers te akkommodeer. Dít is die boodskap van die hoëpriester Kajafas, voorsitter van die reëlingskomitee vir dié belangrikste fees op die Joodse kalender.

Spesiale reëlings is getref vir die verwagte toeloop van pelgrims. Mense wat verblyf soek, kan aanklop by die spesiale inligtingskantoor op die tempelplein. ’n Volledige lys van alle beskikbare slaapplek is daar verkrygbaar. Verder is daar lammers vir die Paasmaaltyd te koop, asook duiwe vir die bring van offers. Geldwisselaars staan ook gereed om besoekers se Griekse en Romeinse munte om te sit in die vereiste Joodse geld vir die tempelbelasting.

Intussen het die eerste pelgrims uit die Noorde vandag hier begin aankom vir die week lange feesvierings, wat die Israeliete se verlossing uit Egipte meer as 1200 jaar gelede in herinnering roep.

 

PERSOONLIK

Die rabbi Jesus van Nasaret en sy dissipels sal vir die duur van die Paasfees in Betanië by sy vriend Lasarus en dié se susters, Maria en Marta tuis gaan. Hulle beplan om die Paasmaaltyd saam in Jerusalem te vier.

 


Jesus is ons Paaslam

Die Paasfees was van die begin af die grootste fees van die Israeliete, want dit het hulle herinner aan die grootse verlossing uit die Egiptiese slawerny. Dit is terselfdertyd ook ’n fees om die geboorte van die volk lsrael te vier, want dit was eers na die Uittog dat die lsraeliete tot ’n volk met ’n eie identiteit saamgesnoer is.

As die Seun van God kom om ’n nuwe verlossing in die wêreld tot stand te bring, ’n verlossing wat sou uitloop op die ontstaan van die nuwe Godsvolk, die nuwe lsrael in hierdie wêreld, is dit nie verbasend nie dat dit juis op die Joodse Paasfees geskied. Hy self is nou die Paaslam wat geslag word. Sy bloed, sy liggaam laat die dood by ons verbygaan, soos Hy in Joh. 6:55 sê: “My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank.” Daarom neem Hy die Paasmaaltyd en omvorm dit vir sy dissipels – en ons – tot ’n nuwe feesmaal: die Nagmaal, die grootste fees vir die Christendom.

Laat ons dan, soos die Israeliete as hulle die Paasfees vier, soos Christus en sy dissipels ook daardie nag met die instelling van die Nagmaal (Mark. 14:26), met ons hele lewe saamsing aan die Groot Lofsang: “Loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie …” (Ps. 118). Want Hy het nie net lsrael uit Egipte bevry nie. Hy het ons uit die dood verlos. Loof die Here!




Farao Merneptah se geduld is op

Skort alle onderhandelings met die Hebreërs op

MEMPHIS. – Die farao, wat allerweë daarvoor bekend is dat hy bereid is om na enige een se vertoë te luister, se geduld met die Israelitiese segsman Moses is op. Hy het hom gister weggejaag en met die dood gedreig as hy dit ooit weer in die paleis sou waag.

Moses en sy broer Aäron het die afgelope paar weke die farao tot die uiterste toe beproef met hulle eis dat hy die Israeliete moet toelaat om in die woestyn vir hulle god te gaan offer. Aanvanklik het die farao toestemming gegee dat hulle in die land self ’n offer kan bring, maar daarmee was Moses nie tevrede nie. Hy wil die offer drie dagreise ver die woestyn in gaan bring. Dit het die vermoede laat ontstaan dat daar meer agter die offerplan skuil as wat die Israeliete te kenne wil gee. Volgens ingeligte bronne vrees die farao dat die aandrang tot ’n offer slegs ’n rookskerm is, en dat die Israeliete die land wil verlaat.

In ’n besonder grootmoedige gebaar het die farao egter gister wel toestemming gegee dat hulle in die woestyn hulle offer kan bring, maar nog was dit nie genoeg vir Moses nie. Hy het daarop aangedring dat hulle al hulle vee ook moet saamvat, kwansuis omdat hulle nie vooraf kan bepaal watter offerdiere hulle god sal vereis nie. Dit was die laaste strooi vir die farao. Hy het verdere onderhandelinge opgeskort en Moses die paleis belet.

 

Nóg ’n natuurramp ruk die land tot stilstand

MEMPHIS. – ’n Stikdonker duisternis wat drie volle dae geduur het, het die land tot stilstand gedwing.

Die jongste natuurramp is die negende wat die land die afgelope paar weke getref het. Lesers sal die bloedwater nog goed onthou, en die paddas en muggies en steekvlieë wat daarop gevolg het. Toe het daar pes onder die vee uitgebreek sodat hulle in hulle duisende gevrek het. Dan was daar die swart roet wat die vreeslikste swere veroorsaak het, en daarna het die ergste haelstorm in menseheugenis die vlas- en garsoes vernietig. Wat ná die hael oorgebly het, het ’n sprinkaanplaag afgevreet. En nou het die duisternis die land drie dae lank lamgelê.

Gerugte doen nou die rondte dat Ra kwaad is en daarom die rampe gestuur het. Andere sien weer ’n verband tussen die rampe en die Israeliete se versoek om in die woestyn te gaan offer. Hulle wys daarop dat die rampe begin het net nadat hulle segsman Moses die farao die eerste keer besoek het. Dit is ook opmerklik dat die landstreek Gosen waar die Israeliete woon, nie deur een van die natuurramp getref is nie. Party mense beweer selfs dat die god van die Israeliete sterker is as Ra, en dat hy kwaad is omdat die farao nie sy volk wil laat gaan nie, vandaar die rampe.

Ondertussen steier die land onder die aanslag van die natuurrampe. ’n Soort volksdepressie het oor die mense toegesak, en ekonome wys daarop dat die land se ekonomie moeilik nog verdere rampe sal kan absorbeer.

 


Om sin te maak uit lyding

Waarom het God telkens die farao se hart verhard, sodat hy hardkoppig bly weier het dat die lsraeliete trek? Waarom het Hy nie sommer van die begin af sy volk verlos uit hulle ellende nie? Waarom moes hulle soveel jare lank onder die wrede tirannie van die Egiptenare ly? Moses was immers al tagtig jaar oud toe hy die volk se leier geword het, en dit beteken dat die onderdrukking minstens tagtig jaar lank geduur het!

Dis natuurlik nie so ’n eenvoudige saak om ’n antwoord op hierdie vrae te gee nie, net soos dit moeilik, ja meestal onmoontlik is om op baie van ons eie sinvrae te midde van ons swaarkry antwoorde te kry. Ons kan immers nie God se weë volledig begryp nie. Daarom roep Paulus in Rom. 11:33 en 34 uit: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?”

As ons egter in gedagte hou dat die volk lsrael hier in hulle geboorteskoene staan; dat hulle op die geloofspad maar net begin loop het en nog so min van God af weet en verstaan, dan begin God se handelinge in Egipte sin maak. Israel moes leer dat net God se wondermag en geen pogings van hulle eie nie, hulle kan bevry. Hulle moes leer dat Hy waarlik die almagtige God is, dat Hy inderdaad sterker as die Egiptiese songod Ra en die farao is, dat Hy ’n waarmaker van sy woord is, dat hulle op Hom kan vertrou. Hulle moes self ondervind soos Ps. 46:7 dit so duidelik stel: “Nasies kan raas en koninkryke wankel, maar as God sy stem laat hoor, smelt die aarde weg,” sodat hulle dit nooit weer sou vergeet nie.

Ons kom ook soms by ’n punt waar ons sê: Maar nou verstaan ek niks nie. Weet dan: God weet wat Hy doen, Hy het ’n plan met jou lewe, Hy is besig om jou te vorm sodat jy ’n beter en sterker kind van Hom kan word.




Farao sit Israeliete op hulle plek

MEMPHIS. – Met briljante staatsmanskap het farao Merneptah vandeesweek die opstand in die Israelitiese gemeenskap in die kiem gesmoor. Die Israeliete het onder die dekmantel van godsdiens op vakansie aangedring.

Die voorbokke in die opstand is twee broers, Moses en Aäron. Hulle het in die naam van hulle god die vryheid geëis om ’n godsdienstige fees drie dagreise ver die woestyn in te gaan vier, wel wetende dat die koninklike bouprogram dit nie kan bekostig nie.

Die farao se antwoord was ’n duidelike nee. Hy het hulle daarvan beskuldig dat hulle lui is en net ’n verskoning soek om hulle mense van die werk af weg te hou. As strafmaatreël het die farao sy slawedrywers beveel om die verskaffing van strooi aan die Israeliete te staak. Hulle moet dus nou self die strooi vind om bakstene te maak. Die kwota bakstene wat hulle op ’n dag moet lewer, bly egter onveranderd.

In ’n perskonferensie het die farao dit duidelik gestel dat hy hom nie sal laat rondstoot deur die god van die Hebreërs nie. Hy het onder luide gelag gesê: “Ek het nie die naam van hulle god in die Boek van die Engele gevind nie. Hoekom moet ek dan na hom luister? Ek is nie bang vir ’n god van slawe nie!”

Intussen lyk dit asof die farao se taktiek om die opstand te onderdruk deur verdeeldheid onder die slawe te saai, reeds begin vrugte afwerp. Die Israelitiese opsigters het gister by hom kom kla oor die wegneem van die strooikwota, maar hy het hulle die rug toegekeer. Toe hulle uit die paleis kom, was daar ’n hewige rusie tussen hulle en Moses en Aäron. Die opsigters het hulle daarvan beskuldig dat hulle net moeilikheid gebring het. Hulle het die twee broers selfs in die naam van hulle god vervloek.

Nóg Moses en Aäron, nóg die opsigters wou ons te woord staan. Dit lyk asof die arbeidsonrus op ’n end is.

 

Reusebeeld van Nebukadnesar sal luisterryk onthul word

BABEL. – Die koninklike perssekretaris het vandag die reëlings bekend gemaak vir die onthulling van die goue standbeeld van koning Nebukadnesar.

Dié dertig meter hoë standbeeld is pas voltooi en word tans in die Duradal hier naby opgerig. Dit sal volgende week ingewy word.

Die koning het opdrag gegee dat al sy amptenare, die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs, die raadgewers, die tesourieamptenare, die regters, die landdroste, en al die hoofamptenare van die provinsie, hierdie luisterryke geleentheid moet bywoon. Wanneer die koninklike orkes ’n fanfare aanhef, sal hulle almal voor die beeld buig en dit aanbid.

Om gehoorsaamheid aan hierdie opdrag te verseker, word ’n groot brandoond ook op die terrein opgerig. Wie nie op die teken van die orkes buig en die beeld aanbid nie, sal onmiddellik in die brandende oond gegooi word.

Koning Nebukadnesar het ook al sy onderdane genooi om die verrigtinge by te woon. Hy het gesê hy wil hierdeur aan sy onderdane die geleentheid bied om aan hom die nodige eer te bring.

Die koning het die gedagte aan die reusebeeld gekry toe hy onlangs ’n visioen gehad het waarin hy ’n reusagtige beeld gesien het. Volgens droomverklaarders was die beeld ’n voorstelling van sy grootheid as koning. Die beeld wat hy nou laat oprig, wil uitdrukking gee aan sy glorie en roem as die magtigste koning ter aarde.

  • Lees meer hiervan in Dan. 3.

 


Een wat sterker is

Die Bybel vertel vir ons die verhaal van God se besig wees met hierdie wêreld en met die mense van sy wêreld. Dit vertel ook van Satan se pogings om God se wêreld te skaak en vir homself in te palm.

Wat dié verhaal so ’n heerlike leeservaring maak, is die fyn humor waarmee dit vertel word. Die Bybelskrywers word nooit moeg daarvoor om die komiese sy van Satan se “staatsgreeppogings” teen die almag van God uit te beeld nie.

Wanneer Moses voor die farao staan, koggel dié duiwelshandlanger hom uit. Hy wat die groot en deurlugtige farao is, het immers nog nooit eens van die God van die Hebreërs gehoor nie. Aan so ’n onbekende god hoef jy jou tog nie te steur nie? Met slim taktiek wys hy dat die beleid “verdeel en heers” glad nie so nuut is soos wat ons soms dink nie. Maar as Moses ontsteld oor die verloop van sake God in sy gebed verwyt, stel God hom gou gerus: “Ek is die Here!” (Eks. 6:1). Die farao dink maar net hy is in beheer. In werklikheid speel hy netjies in God se hand.

Met net sulke fyn humor word die verhaal van Nebukadnesar se beeld vertel. Dit begin waar almal beveel word om hom te aanbid. Maar aan die einde is hý die een wat hom neerbuig en vir God aanbid! “Aan die God van Sadrag, Mesag en Abednego kom die eer toe …” sê hy in Dan. 3:28.

Hierdie wêreld in die kloue van Satan? Nog nooit! Gód is in beheer!




God gaan ons bevry, sê gewese prins

GOSEN. – Daar heers opgewondenheid onder die Israelitiese dwangarbeiders hier sedert hulle gehoor het dat hulle God hulle gaan bevry. Dié goeie nuus is gister aan die Hebreeuse leiers oorgedra deur Moses seun van Amram, wat pas uit ballingskap na sy mense in Egipte teruggekeer het.

Moses het destyds land-uit gevlug nadat hy ‘n Egiptiese slawedrywer vermoor het. Maar nou, ná ‘n ballingskap van veertig jaar in Midian, is hy terug om sy mense te kom help.

Volgens Moses het die Here het by die berg Horeb aan hom verskyn met die opdrag om na sy mense terug te gaan. (Sien die berig elders in hierdie uit gawe.) God het hulle nood raak gesien, het Moses die leiers verseker. God het besluit om hulle te laat terugkeer na Kanaän, die land van hulle voorvaders, wat Hy beskryf het as “’n land wat oorloop van melk en heuning”.

Die Israelitiese leiers het eenparig besluit om vir Moses af te vaardig om namens hulle met die farao te gaan onderhandel oor hulle vertrek. Hulle het ook Moses se ouer broer Aäron versoek om hom by te staan. Na verwagting sal die farao nie maklik sy toestemming gee nie, aangesien die Israeliete deur die jare ’n gerieflike bron van gratis arbeid vir sy groot bouwerke was. Tog is hulle vol vertroue dat hulle sal slaag, omdat hulle God aan hulle kant is.

 

ONTMOETING ONTSTELLEND ÉN HEERLIK SÊ MOSES

GOSEN. – “Om die lewende God te ontmoet, is ’n ontstellende, maar tegelykertyd ook ’n heerlike belewenis.” Só het Moses sy rare ondervinding by die berg Horeb aan die Israelitiese leiers hier beskryf.

Moses het vertel dat hy sy skoonpa, Jetro, se kleinvee opgepas het toe hy ’n doringbos sien brand. Dit was vir hom vreemd dat die bos nie uitbrand nie. Hy het nader gegaan om ondersoek in te stel, en toe praat God met hom uit die doringbos! Hy het eers nie besef wat aangaan nie, totdat God hom beveel het om sy skoene uit te trek omdat hy op heilige grond staan.

“Ek was baie bang. Die enigste gedagte wat deur my kop geflits het, was dat ek ’n onwaardige sondaar is. Maar terselfdertyd het daar so ’n heerlike rustigheid en vrede oor my gekom – dit was eenvoudig ongelooflik!”

 

Nuwe profeet kasty volk in oordeelsboodskap

JERUSALEM. – Nadat die profetestem lank in Juda stil was, het daar nou ’n nuwe profeet na vore getree. Hy is Jesaja seun van Amos.

Net soos sy kollegas in die noordelike buurstaat Israel, Amos van Tekoa en Hosea seun van Beëri, het Jesaja nie gehuiwer om die oordeel van die Here te verkondig nie. In ’n dringende oproep tot bekering het hy gister die volk vergelyk met die goddelose stede Sodom en Gomorra, en gesê God is moeg vir die holle godsdienstige rituele. Tensy hulle hulle hartgrondig bekeer, sal die land ’n puinhoop word as God se oordeel hulle tref. “Maar genadetyd is nog nie verby nie. Nóú is die tyd om die saak met God uit te maak,” het Jesaja gesê.

 


Sonder vrees

’n Mens kan jou dit skaars voorstel: ’n vuil, ellendige sondaarmens in die teenwoordigheid van die vlekkelose, heilige God van hemel en aarde.

Dit was die ondervinding van Moses en Jesaja. En albei krimp ineen van vrees. Jesaja roep uit (6:5): “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.”

En tog bly hy leef, want God stuur ’n seraf om hom met ’n kool van die altaar te reinig. En Moses bly leef, want God beveel hom om op ’n afstand te bly.

Ons lees van nog iemand wat voor God verskyn het: Jesus Christus. Vir Hom was daar nie ’n gloeiende kool van versoening nie. Hy kon nie maar net op ’n afstand bly staan – Hy moes tussen hemel en aarde hang, deur God verlaat, verwerp! Dáár sien ons werklik die verskrikking van die sonde. Hy kon nie bly leef ten spyte van die sonde nie – óns s’n, nie Syne nie. Hy sterf daar op Golgota. Jesaja voorspel dit in 53:5: “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”

Ons kan daarom voor God verskyn, soos Moses en Jesaja, én bly leef, omdat Jesus voor God verskyn en gesterf het. Die Hebreërskrywer sê (10:19): “Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom …”

Vrye toegang! Sonder vrees! Sonder om op ’n afstand te huiwer! Dit is mos Evangelie! Prys God daarvoor, en “… laat ons tot God nader” (Heb. 10:22).