Israelitiese leier stel nuwe “wonderkos” bekend

SINWOESTYN. – Die leier van die Israelitiese trekgeselskap, Moses, het vandeesweek ’n veldkos bekend gestel wat as stapelvoedsel in die behoeftes van sy mense sal voorsien terwyl hulle in die woestyn vertoef.

Dié kos, wat die volk “manna” gedoop het (letterlik vertaal beteken dit “wat is dit dié?”), het ’n heerlike soet heuningsmaak. Dit lyk op die oog af baie soos vlokkies ryp of balsemgom, en word vroeg soggens in die veld “geoes”, voordat die son dit kan wegsmelt. Dit kan rou geëet word, of gemaal of gestamp word om meel te kry waarmee gekook en gebak kan word.

Voedingskundiges is gaande oor dié wonderkos. Die manna is ’n volledig gebalanseerde en uiters veelsydige produk. Twee liter manna is genoeg om in ’n volwassene se voedselbehoefte vir ’n dag te voorsien. Die aangename heuningkoeksmaak van die rou manna behoort selfs die suikertande tevrede te stel, en as dit gaargemaak is, smaak dit weer soos oliekoeke.

Die enigste groot nadeel is dat die manna ’n baie kort raklewe het – dit hou net ’n dag, of as dit gaar is, twee dae op die meeste. Daarna kry dit miet in en ruik baie sleg. Voedseltoksikoloë het gewaarsku dat die manna liefs nie te lank gehou moet word nie, want dit kan voedselvergiftiging veroorsaak.

Ondertussen het die Israeliete ook ’n ander verrassing gekry: ’n groot swerm kwartels het gister vlak by die kamp verbygetrek. Talle van die voëls het sommer tussen die tente gaan sit. Die mense het hierdie kans met mening aangegryp en soveel kwartels gevang as wat hulle maar kon. Teen die aand het die heerlike geur van gebraaide kwartels oor die hele kamp gehang.

Na die manna en kwartels sal die woestynlewe nooit weer dieselfde wees nie …

Lees hieroor in Eks. 16 en Num. 11:4-35.

 

KONING SAUL SE NAGESLAG IN ERE HERSTEL

JERUSALEM. – Koning Dawid het vanoggend hier ’n bevel uitgevaardig waarvolgens die familiegrond van sy voorganger, Saul, aan dié se kleinseun Mefiboset teruggegee is.

Mefiboset het sedert die dood van sy oom, Saul se vierde seun Es-Baäl, geskuil in die huis van Makir seun van Ammiël in Lo-Dabar. Koning Dawid het egter nou dié nasaat van sy eertydse vervolger onder sy sorg geneem. Hy het al die grond in Gibea wat aan Mefiboset se oupa Saul behoort het, aan hom teruggegee en hom boonop genooi om as howeling voortaan by die paleis te eet. Die koning het ook Saul se eertydse amptenaar Siba opdrag gegee om die grond vir Mefiboset te bestuur.

Mefiboset, wat sedert sy vyfde jaar kreupel is aan albei sy voete, is die seun van Jonatan, Saul se eersgeborene. Dit is bekend dat daar destyds, toe koning Dawid nog ’n kaptein in Saul se leër was, ’n besondere band tussen hom en Jonatan was, en dat hulle by meer as een geleentheid aan mekaar trou beloof het. Selfs nie eens koning Dawid se ernstige afkeer van gebreklike mense kon verhoed dat hy sy belofte aan sy eertydse boesemvriend nakom nie.

Lees hiervan in 2 Sam. 9 en 4:4.

 

Ek het net my plig gedoen, sê koningin

SUSAN. – In ’n eksklusiewe onderhoud met Die Bybelkoerant het koningin Ester ontken dat sy ’n heldin is.

Sy het ons te woord gestaan toe dit aan die lig gekom het dat sy die banket waarop Haman in hegtenis geneem is, spesiaal gereël het. Daar het sy sy plan om die Joodse volk uit te wis aan haar man, koning Ahasveros, onthul.

Dit is bekend dat die koning enige iemand wat ongenooid in sy teenwoordigheid verskyn, sonder meer kan laat doodmaak. Tog het die dapper koningin dit gewaag om ongenooid na hom te gaan en hom na die banket genooi. Die voortbestaan van haar volk was immers op die spel. Die beeldskone koningin het net skaam geglimlag toe ons haar vertel dat sy oornag ’n volksheldin geword het. “Ek het net my plig gedoen,” was haar reaksie.

Lees hiervan in Ester 4.

 


Gawes verg verantwoordelikheid

Gawes en voorregte – en hoe oorlaai ons hemelse Vader ons nie daarmee nie! – mag maar, nee móét geniet word, maar dan altyd met die nodige verantwoordelikheid. Dít was die boodskap van Mordegai aan sy niggie Ester. Dit was ook die beweegrede agter Dawid se herstel van Saul se nageslag.

Dit was egter iets wat die jong Israelitiese nasie nog moes leer. In plaas daarvan dat hulle die gawes van kwartels en manna met blye vreugde geniet, vergryp hulle hulle daaraan. Elkeen het minstens ’n ton vleis bymekaargemaak (Num. 11:32)! En aan God se voorskrifte rondom die gebruik van die manna steur hulle hulle min. Geen wonder nie dat God hulle aan hulle eie gulsigheid oorgee en talle daardeur omkom nie.

God se gawes vereis verantwoordelikheid. Kom ons eer Hom vandag deur sy gawes só met vreugde te geniet.




SEUN VERMIS; DALK PROOI VAN ROOFDIER

Van ons Ou Testament redaksie

HEBRON. – ’n Sewentienjarige seun, Josef seun van Jakob, het vandeesweek vermis geraak toe hy na sy broers se welstand gaan verneem het waar hulle hulle pa se kleinvee oppas. Die broers het sy bloedbevlekte klere in die veld gekry en dit na hulle pa gestuur, klaarblyklik te ontsteld oor hulle broer om self die hartseer tyding aan hulle pa oor te dra. ’n Slaaf het gister met die kleed hier aangekom.

Jakob is ontroosbaar en wou ons nie te woord staan nie. Die aanskoue van die klere was glo vir hom besonder traumaties, aangesien hy die klere nog spesiaal vir sy seun se sewentiende verjaarsdag laat maak het. Dit is algemeen bekend dat Jakob ’n baie sagte plekkie vir Josef gehad het. Hy was die oudste seun van Jakob se lieflingsvrou, Ragel, wat hom enkele jare gelede ontval het met die geboorte van haar tweede seun, Benjamin.

Josef is verlede week hiervandaan na Sigem toe om sy broers te soek. Die laaste persoon wat hom lewend gesien het, was ’n boer van Sigem, wat vir hom vertel het dat sy broers met die vee na Dotan getrek het. Hy het egter nooit in Dotan aangekom nie.

Intussen het ons verneem dat die boere in die omgewing van Dotan ’n ekspedisie gereël het om die roofdier, vermoedelik ’n leeu, vankant te maak. “As hy een kind kon vang, sal hy dit weer doen, en dit kan ons nie toelaat nie. Hy moet dood,” het hulle gesê.

 

Haman opgehang aan sy eie galg

Politieke verslaggewer

SUSAN. – Die wraakplanne van die eerste minister, Haman seun van Hammedata die Agagiet, het gister lelik geboemerang toe hy op bevel van koning Ahasveros opgehang is aan die drie en twintig meter hoë galg wat hy vir sy aartsvyand, ’n Jood genaamd Mordegai, laat bou het.

In ’n persverklaring wat ná die teregstelling uitgereik is, het Garbona, een van die koning se paleisbeamptes, onthul dat Haman ’n aanslag op koningin Ester se lewe gemaak het tydens ’n banket wat sy gister ter ere van die koning in haar paleis gehou het. Die koning het daarop beveel dat hy opgehang moet word.

Dié teregstelling bring ’n mate van verligting vir die Joodse bevolking van die stad, aangesien dit bekend is dat Haman die meesterbrein is agter die koninklike proklamasie waarvolgens die ganse Joodse bevolking van die ryk op die 13de Adar uitgewis moet word. Na berig word, was Haman woedend omdat Mordegai hom nie die nodige eer bewys het ná sy onlangse bevordering tot eerste minister nie, en het hy besluit om hom met hierdie massamoord op Mordegai te wreek. Vir Mordegai self het hy die reusegalg by sy huis laat bou.

Daar heers nou onsekerheid oor wat presies met die Jode gaan gebeur, aangesien die koninklike proklamasie dat hulle gedood moet word, volgens wet nie herroep mag word nie.

 


 

Om oor na te dink

Wraaksug is een van die vernietigendste menslike emosies, want waar daar ’n wrok gekoester word, is daar geen wenners nie. Dit vernietig jou goeie oordeel en lei nie net tot die ondergang van die een wat gehaat word nie; dit lei dikwels ook tot die ondergang van die een wat die wrok koester. Die verhaal van Haman se dood onderstreep dit beter as wat enige woorde kan sê. Maar ook in die tragiese verhaal van Josef en sy broers tree daar nie wenners uit die stryd nie. Dat wraak nie soet is nie, ontdek die broers weldra wanneer hulle hul ontroosbare vader sien. Geen wonder nie dat die Bybel hom baie sterk uitlaat hieroor. In Rom. 12:19 lees ons: “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is my reg om te straf; Ék sal vergeld,’ sê die Here.” En in Spr. 20:22: “Moenie sê: ‘Ek wil my wreek oor die kwaad wat my aangedoen is’ nie; vertrou op die Here, en Hy sal jou help.”

Natuurlik sal min van ons tot sulke uiterstes gaan soos Josef se broers, of Haman. Daar ís immers subtieler, “beskaafder” maniere om jouself te laat geld, soos ’n skinderstorie of ’n kwetsende woord. Of dalk kan jy die ander persoon behoorlik op sy plek sit deur hom doodeenvoudig net te ignoreer. Die uiteinde is egter nie minder vernietigend – vir jouself óf jou teenstander – nie, want dit is die werk van die duiwel, sê Jak. 3:15.

Wie hom deur die Gees van God laat lei, se lewe lyk geheel anders: vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg (Jak. 3:17). Die vrug wat die Gees in ons lewe werk, is immers liefde (Gal. 5:22).

Mag Gods Gees ons tog minsaam maak!