Farao vier sy geboortedag met ’n groot onthaal

Van ons Ou Testament redaksie

AVANIS. – Die farao het gister sy verjaarsdag luisterryk gevier toe hy al sy amptenare op ’n reusebanket onthaal het. Kos en drank was daar in oorvloed, en die danseresse het met hulle skoonheid en grasie die gaste van al hul sorge laat vergeet.

Die hoogtepunt van die onthaal was weer eens die openbare verhoor van die farao se persoonlike gevangenes. Vanjaar is daar twee baie prominente gevangenes voor die farao gebring: die hoofkelner en die hoofsjef van die paleis, wat al geruime tyd in die koninklike tronk aangehou is. Die sjef is ter dood veroordeel: hy moet aan ’n paal hang totdat die voëls sy bene kaal gevreet het. In ’n grootmoedige gebaar wat ’n dawerende applous uitgelok het, het die farao die hoofkelner begenadig en weer in sy pos aangestel. Hy het onmiddellik sy werk hervat en vir die res van die banket die farao bedien.

Die Bybelkoerant het na afloop van die fees ’n kort onderhoud met die gelukkige kelner gevoer. Hy het gesê hy is nie eintlik verbaas oor die uitslag nie. Hy het drie dae tevore ’n droom gehad waarin die gode hom verseker het dat hy in sy amp herstel sal word. Hy sê hy voel nogal sleg oor die sjef, want hulle het lank ’n sel gedeel en goeie vriende geword. Oor sy tyd in die tronk wou hy nie veel uitwei nie. “Dis ’n verskriklike plek daardie. Bid net dat jy nooit daar kom nie.”

 

Dawid steeds voortvlugtig; ontwyk koning Saul net-net

GORESA. – Dawid seun van Isai, sy ouers en sy hele familie asook talle meelopers het gister inderhaas hiervandaan na die Maonwoestyn gevlug. Dit volg op berigte dat die Siffiete sy skuilplek aan koning Saul verklap het.

Dit is al die hoeveelste wegkruipplek waaruit Saul vir Dawid gejaag het. Dawid het, nadat hy in onguns by die koning geraak het, eers in Gat gaan skuil, toe in die Adullam-grot, en daarvandaan na Mispe in Moab. Hy is kort daarna na die Geretbos in Juda. Daarvandaan het hy na Keïla getrek nadat hy die stad uit die mag van die Filistyne bevry het, maar ook daar het Saul hom uitgejaag, en hy het na bergskuilings in die Sifwoestyn gevlug. Later het hy hom hier in Goresa kom vestig.

Ons korrespondent in die koninklike leër berig intussen dat die soldate vir Dawid die bynaam “Vlakhaas” gegee het omdat hy elke keer uit ’n nuwe gat moet vlug. Een van die soldate het skertsend opgemerk: “Hy is so bang vir ons koning, as hy net die naam Saul hoor, hardloop hy al!”

 

VERRAAIER ONTSNAP

Van ons Nuwe Testament redaksie

DAMASKUS. – Saul van Tarsus het laasnag spoorloos verdwyn, ten spyte van uitgebreide maatreëls deur die Joodse gemeenskap hier om hom te vang sodra hy die stad probeer verlaat.

Saul, ’n Joodse rabbi, het enkele dae gelede uit Jerusalem na Damaskus gekom met aanbevelingsbriewe van die hoëpriester. Sy oogmerk was om aanhangers van “Die Weg” in hegtenis te neem en na Jerusalem te neem vir ’n verhoor voor die Joodse Raad.

Saul het hom met sy aankoms hier egter nie, soos verwag is, by die sinagoge aangemeld nie. Onbevestigde berigte lui dat hy by ene Judas van Reguitstraat tuis was. Hy is glo ook by byeenkomste van die sekte opgemerk. Voorts het hy die Jode woedend gemaak toe hy in die sinagoges die dwaalleer van die sekte, naamlik dat Jesus van Nasaret die Seun van God is, verdedig het. Dit het hulle laat besluit om hom te vermoor, maar nou het hy ontsnap.

“Die Weg” is ’n sekte wat onlangs in Jerusalem gestig is. Saul se veldtog in Jerusalem teen die sekte was só geslaag dat talle Jerusalem uit vrees vir hulle lewe verlaat het. Party van hulle het hulle in Damaskus kom vestig; gevolglik het die sekte nou ook hier die stad posgevat.

 


Om oor na te dink

Hoekom gaan dit soms met jou sleg? Daar is mense wat sal sê: dit is omdat jy nie naby genoeg aan die Here lewe nie. Die Here wil tog vir ons net die beste gee.

Maar dan moes dit mos met Josef ook net goed gegaan het! Hy het immers ’n onbesproke rekord in Egipte gehad. En tog beland hy in “hierdie gat”, soos hy die tronk noem (Gen. 40:15), al was die Here by hom. So lees ons in Gen. 39:21: “Terwyl Josef daar in die tronk was, was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind …”

Ook van Dawid lees ons dat hy telkens weer “bang voor Saul (moes) wegvlug” (1 Sam. 23:26). Dit was ook Paulus se ondervinding ná sy bekering. En van hulle albei getuig die Bybel ondubbelsinnig dat hulle naby die Here geleef het.

As alles in jou lewe nie verloop soos jy dit graag wil hê nie, beteken dit nie dat God jou vergeet het of dat daar sonde in jou lewe is wat jy eers moet aflê voordat dit beter kan gaan nie. Dikwels (meestal) is daar nie ‘n eenvoudige verklaring vir jou swaarkry nie, behalwe dat dit deel is van die gebroke werklikheid waarin ons leef. En natuurlik, dat Satan sy bes doen om God se kinders seer te maak. Die regte vraag in lyding is nie: “Hoekom gebeur dit met my?” nie. Die regte vraag is: “Hoe gaan ek hierdeur kom?” Dáárop is daar ‘n antwoord. God belowe dat Hy jou nie in jou swaarkry sal los nie. Dit was immers Jesus se laaste woorde voor sy hemelvaart: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.... En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”




Studie van geslagsregisters vol verrassings

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – ’n Kenner van die oud-Joodse gebruik van geslagsregisters, prof. Genea Loog, het vandeesweek hier gesê familiestambome is nie, soos algemeen geglo word, ’n saai besigheid nie; inteendeel, dit is hoogs interessante leesstof en “beslis die moeite werd” om te bestudeer.

Prof. Loog, ’n hoogleraar in Oud-Israelse Kultuur aan die Universiteit van Jerusalem, is een van die sprekers by die jaarkongres van die Werkgemeenskap vir Antieke Studies (WAS) wat vandeesweek by die universiteit hier gehou word. Sy onderwerp was: “Die geslagsregister van Jesus in die Matteus-Evangelie in vergelyking met ander Bybelse en ook buite-Bybelse bronne.”

In sy referaat het hy ’n hele aantal “vreemdhede”, soos hy dit noem, in die geslagsregister van Jesus in Matteus 1 uitgewys. Dié vreemdhede is volgens hom doelbewus deur Matteus in die geslagsregister ingevoeg. “Matteus het die geslagsregister nie bloot ter wille van volledigheid in sy verhaal opgeneem nie. Hy het die “stokperdjie” van die Jode van sy tyd, naamlik om hulle geslagslyn tot by Abraham terug te voer, gebruik en ingespan om dit ’n magtige verkondigingsinstrument te maak.

Die opvallendste vreemdheid in Jesus se geslagsregister is die feit dat daar, naas sy moeder Maria, ook nog vier ander vroue pertinent genoem word: Tamar, Ragab, Rut en Batseba, die vrou van Urija. Die name van vroue as sodanig is al klaar buitengewoon, maar veral opmerklik is dit dat die name van Sara, Rebekka en Lea verswyg word, terwyl hierdie vroue, van wie party van twyfelagtige herkoms en reputasie was, ingesluit is. Volgens prof. Loog dui dit minstens op ’n nuwe waardering wat Jesus vir die vrou in die samelewing gebring het.

Die WAS-kongres duur nog tot môre.

  • Jy kan hierdie geslagsregister in Matt. 1:1-17 te lese kry.

 

JOODSE PREDIKERS HET STAD IN BEROERING

ANTIOGIË (PISIDIË). – Twee Jode wat die stad tans besoek, het verlede Saterdag in die sinagoge hier ’n nuwe leer aan die Jode bekend gestel, en sedertdien is die hele stad op loop oor wat die twee te sê gehad het.

’n Groot saamtrek word eerskomende Saterdag verwag wanneer die twee weer in die sinagoge gehoor sal kan word. Die sinagogeraad het reeds reëlings getref om die verwagte toeloop van mense te akkommodeer.

Die twee predikers is Paulus en Barnabas. Hulle is albei verbonde aan ’n godsdienstige groep in Antiogië in Sirië. Hulle reis tans deur die hele Klein-Asië om die nuwe leer aan die mense bekend te stel.

Sover vasgestel kan word, glo hulle dat die Jode se lank verwagte Messias reeds gekom het. Hy het glo sy eie lewe opgeoffer om die mensdom van hulle sondeskuld los te koop. Drie dae na sy kruisdood het hy na bewering uit die dood opgestaan.

 

Safenat-Paneag se vader sterwend

Van ons Ou Testament redaksie

AVANIS. – Die eerste minister van Egipte, Safenat-Paneag, het gister inderhaas na die Gosenstreek vertrek om sy vader, Jakob seun van Isak, by te staan nadat sy toestand onlangs skielik verswak het. Jakob is honderd sewe en veertig jaar oud.

Die eerste minister het ook sy twee seuns, Manasse en Efraim, met hom saamgeneem sodat hulle oupa hulle kan seën. Ons korrespondent in Gosen berig dat die eerste minister se elf broers ook na hulle vader se bed ontbied is sodat hy van hulle afskeid kan neem.

Jakob en sy seuns het hulle sewentien jaar gelede uit Kanaän hier kom vestig om nader aan Safenat-Paneag te wees, maar ook om te ontkom aan die ongekende droogte wat destyds wêreldwyd geheers het. Hy het egter die begeerte uitgespreek om in sy geboorteland Kanaän begrawe te word.

  • Lees meer oor Jakob se profetiese, maar ook verrassende, afskeidswoorde in Gen. 48 en 49.

 


Om oor na te dink

Die wonder van die Kersevangelie wat Matteus sommer reg aan die begin van sy verhaal wil onderstreep, is: Jesus het vir ménse gekom. Mense met name, mense van vleis en bloed, soos Abraham en Boas en Dawid. En ook nie net vir mans nie. Vir álmal; vir Tamar wat haar soos ’n straatvrou gedra het, en Ragab wat eers ’n prostituut was, en Rut uit Moab, en Batseba …

Ons speel nie almal ’n ewe groot rol in God se wêreld nie, soos Jakob se laaste woorde aan sy kinders en kleinkinders ons herinner. Maar vir elkeen van ons is daar plek. Daarom vier ons Kersfees: die fees van God se onblusbare liefde vir mense (Joh. 3:16), die fees van die koms van die Lig vir die nasies na almal wat vir die ewige lewe bestem is (Hand. 13:47-48).

Jy is nie maar net nog ’n nommer in ’n magtige rekenaar êrens in die hemel nie. God ken ook vir jou op jou naam. Kersfees is vir ménse, nie nommers nie. Vir jóú!




Vrou word soutpilaar

Van ons Ou Testament redaksie

SOAR. – ’n Man het hier beweer dat sy vrou in ’n soutpilaar verander het toe hulle uit Sodom gevlug het net voor die verwoestende ramp die stad getref het.

Lot, ’n broerskind van die bekende donkiehandelaar Abraham van Hebron, is glo die aand voor die ramp deur twee onbekende mans ingelig oor die dreigende gevaar. Die mans het hom en sy gesin beveel om so vinnig moontlik pad te gee. Hulle moes vlug sonder om om te kyk, want, het die mans gesê, God gaan die stad straf oor sy sonde.

’n Entjie van die stad af het sy vrou glo omgedraai omdat sy van die kosbaarhede wat hulle in die huis moes agterlaat, wou gaan haal. Dit was toe dat sy in ’n soutpilaar verander het. Slegs Lot en sy twee dogters het die ramp oorleef.

 

NABOT GESTENIG

JISREËL. – Die boeregemeenskap hier is met skok vervul oor die dood van een van die gesiene boere van dié vrugbare vlakte. Nabot, die eienaar van ’n spogfamilieplaas net langs die koning se somerpaleis, is met klippe doodgegooi nadat hy skuldig bevind is aan Godslastering. Hy het ook die koning gevloek, het die plaaslike hof bevind.

Hardnekkige gerugte doen egter die ronde dat sy dood ’n goed beplande set van koningin Isebel is om die grond van Nabot in die hande te kry. Dit is ’n algemeen bekende feit dat koning Agab lankal sy oog op die wingerd het, aangesien dit aan sy paleisgronde grens. Hy het juis verlede week ’n aanbod vir die grond aan Nabot gemaak, maar Nabot het geweier. Die koning was volgens gerugte baie teleurgesteld omdat hy nie daarin kon slaag om die grond te bekom nie.

Koning Agab het net na Nabot se dood op die grond beslag gelê.

 

Generaal gesond; Elisa se kneg siek

SAMARIA. – Die wonderbaarlike genesing van genl. Naäman waaroor ons verlede week berig het, het ’n tragiese nadraai gehad toe Elisa se kneg, Gehasi, melaats geword het.

Sover vasgestel kan word, het Gehasi melaats geword kort nadat genl. Naäman vertrek het. Blykbaar wou die profeet geen vergoeding van die generaal aanvaar omdat hy hom gesond gemaak het nie. Gehasi het toe sonder sy meester se medewete ’n betaling van 68 kg silwer en twee stelle klere van Naäman gevra en dit in sy kamer versteek. Die profeet het dit uitgevind en aangekondig dat Gehasi as straf self melaats sal word.

Hy het Gehasi uit sy diens ontslaan.

 

Mededeelsaamheid kenmerk gemeente

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Ou inwoners van die stad praat met groot lof van die nuwe gemeente van Jesus. “Dit is verbasend dat hierdie mense alles vir mekaar oorhet, en dit terwyl die meeste van hulle mekaar maar onlangs eers leer ken het,” het een teenoor ons opgemerk.

Toe Bybelkoerant ondersoek ingestel het, kon ons nie anders as om dit ook op te merk nie. Niemand hou sy goed net vir homself nie. Party lede van die gemeente verkoop selfs hulle eiendom om uit die opbrengs ander lede te kan ondersteun.

 


Om oor na te dink

Dit is nie nodig om die verwoestende gevolge van materialisme (vir jouself én ander) uit te spel nie; uit hierdie paar gedeeltes is dit duidelik genoeg. As jou besittings jou god word, is daar min vryheid oor om agter die Here Jesus aan te loop. Die ywer na meer maak jou blind vir die nood van ander, want jy leef net vir jouself en jou goed. Wanneer jy ontdek dat alles wat jy het, in elk geval aan God behoort, dat dit net aan jou geleen is om met vreugde te geniet, gaan jou hart oop vir ander, en word dit moontlik om ander lief te hê.

Is jou aardse besittings jou hoogste goed?




Stede vergaan in rook en as

Van ons Ou Testamen redaksie

SOAR. – In ’n ramp van ongekende omvang is die twee stede Sodom en Gomorra gister geheel en al verwoes.

Volgens ooggetuies het dit gelyk of vuur en swael uit die hemel op die stede gereën het. Dit het oor die hele gebied gerook asof dit ’n steenoond is. Die aarde het oopgeskeur en die stede eenvoudig ingesluk, sodat die water van die nabygeleë Dooie See die hele gebied in die omgewing van die stede oordek het. Vanoggend is die enigste teken dat daar eergister nog ’n uiters welvarende gemeenskap gewoon het, die verkoolde lyke van mense en diere wat hier en daar in die water dryf.

Dit is onwaarskynlik dat iemand die ramp oorleef het, hoewel mense in die nabygeleë dorpie Soar, wat op ’n onverklaarbare wyse behoue gebly het, beweer dat ’n man en sy twee dogters gisteroggend vroeg daar aangekom het. Hulle het blykbaar net betyds uit Sodom gevlug.

 

Stad kom tot inkeer

NINEVE. – Dié groot stad is tot stilstand geruk toe die koning in ’n proklamasie al die inwoners tot berou opgeroep het.

Die oproep volg op die prediking van ’n Israelitiese profeet Jona, seun van Amittai, waarin hy onlangs aangekondig het dat die stad Nineve oor net veertig dae verwoes sal word. Die inwoners van die stad het hierop spontaan ’n dag van vas aangekondig en rouklere aangetrek. Die berig het die koning bereik, en na beraadslaging het hy en sy raadgewers beveel dat die hele stad hieraan moet meedoen. Die koning vra onder andere “die mense moet ernstig tot God roep en hulle van hulle verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het”.

Ondertussen berig ons verslaggewer dat die profeet wat vir al die drama verantwoordelik is, onder ’n sonskerm buite die stad sit en weier om die koning te woord te staan. Hy wou ook nie met die pers praat nie.

 

GENL. NAÄMAN GESOND

ARAM. – Die hoof van die Aramitiese leër, genl. Naäman, het vanoggend as ’n gesonde man uit Israel teruggekeer. Hy het ’n paar weke gelede daarheen gereis nadat hy verneem het dat daar iemand is wat hom moontlik van sy melaatsheid kan genees.

Die generaal, wat al ’n geruime tyd siek is en al elke denkbare raad probeer het om gesond te word, het van die man gehoor by sy vrou se slavin, ’n jong dogtertjie uit Israel. Sy het vertel van ’n profeet in Samaria wat haar meneer sal kan genees.

Genl. Naäman vertel ’n ongelooflike verhaal. Die profeet Elisa het hom nie eens ontmoet nie en slegs ’n boodskapper gestuur met die raad dat hy hom sewe keer in die Jordaanrivier moes gaan was. “Ek was so kwaad dat ek net daar omgedraai het om terug te kom,” erken die generaal. “Gelukkig het my amptenare my omgepraat om dit tog maar te probeer, en nou’s ek gesond. Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel.”

 

Nuwe sekte groei bestendig

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Die nuwe sekte, die Volgelinge van Jesus, waaroor ons vroeër berig het, groei nog steeds. Na die aanvanklike groot getal bekeerdes op Pinksterdag word daar nog elke dag nuwe lede by die groep gevoeg. Hoewel die Joodse Raad geen goeie woord vir die nuwe godsdienstige rigting het nie, geniet hulle groot aansien onder die inwoners van die stad.

 


Om oor na te dink

Van die begin af is dit duidelik dat God in sy handelinge met ons méér van ons verwag as om net maar in Hom te glo. Hy verwag ook van ons om sy getuies in hierdie wêreld te wees. Wanneer Hy vir Abraham uit Ur roep om die vader van ’n nuwe volk te word, is deel van sy roeping: “… jy moet tot ’n seën wees” (Gen. 12:2b). Het Lot, wat beslis ook van hierdie opdrag bewus moes wees, dit maar as sy verantwoordelikheid ook beskou! Dan wás daar moontlik tien regverdiges in Sodom en het die stad behoue gebly, soos die heidense stad Nineve baie later. Ongelooflik hoe hard God moes spook om Jona sover te bring dat hy – weliswaar uiters onwillig – sy roeping uitleef.

God vra nie van ons almal om soos Abraham of Jona ver weg te gaan om ’n opdrag uit te voer nie. Ons kan dit meestal in ons eie omgewing doen, soos die eerste gelowiges in Jerusalem, en soos Naäman se slavinnetjie. God vra net gewilligheid, omdat ons omgee vir die mense om ons.

Gee jy om? Is jy gewillig?




MIDIANIETE VERDRYF!

Van ons Ou Testament redaksie

OFRA. – ’n Jong man van Ofra, Gideon seun van Joas die Abiësriet, het oornag ’n volksheld geword toe hy met slegs 300 man die magtige leër van die Midianiete verpletter het in die vlakte by Waarsêershoogte.

In ’n goed beplande verrassingsaanval op die Midianitiese leër het ’n ongelooflike 120 000 Midianiete gesneuwel. Gideon het ook die Midianitiese konings Sebag en Salmunna na ’n agtervolging van etlike ure gevang en tereggestel.

Dié oorwinning bring ’n einde aan sewe jaar van ellende vir die Israeliete. In herhaalde strooptogte die afgelope sewe jaar het die Midianitiese kameelruiters die land letterlik kaalgestroop, sodat die inwoners erg verarm het.

Gideon, wat ook Jerubbaäl genoem word na aanleiding van sy veldtog teen die Baäldiens, het verlede week die volk opgeroep om saam met hom die Midianiete die stryd aan te sê. Altesaam 32 000 manskappe het hulle aangemeld. Gideon het egter verkies om met slegs ’n klein, beweeglike groep van 300 uitgesoekte vegters die vyand aan te durf. Die ander het hy huis toe gestuur. Met sy klein aanvalsmag het hy in die nag die laer van die vyand omsingel, en op ’n teken van hom het hulle almal gelyk op hulle ramshorings geblaas, fakkels rondgeswaai, kruike stukkend geslaan en geskreeu: “Die swaard van die Here en Gideon!” Paniek het onder die slapende Midianiete uitgebreek, en hulle het met mekaar begin veg.

In ’n eksklusiewe onderhoud met Die Bybelkoerant wou die dapper held niks van die eer vir homself hê nie. “Ek het bloot in opdrag van die Here opgetree. Dit was van begin tot end die Here se oorwinning. Ek sou dit nooit op eie inisiatief gedoen het nie, maar nadat die Here my herhaaldelik met tekens verseker het dat Hy by my is, het ek gegaan,” het hy gesê.

  • Lees die ongelooflike verhaal in Rig. 6, 7 en 8.

 

Hebreërs vier verbondsfees

HEBRON. – ’n Groot verbondsfees is die afgelope week hier by die groot bome van Mamre gehou om die verbond wat God met Abram gesluit het, te vier.

Die verbond beteken dat God Hom daartoe verbind om hulle God te wees en vir hulle te sorg, het Abram gesê. “Hy het ook belowe dat ek ’n groot nageslag sal hê. Daarom het Hy my naam verander na Abraham. Sarai se naam is ook verander na Sara, en God het aan my gesê sy gaan binnekort ’n seun hê,” het hy trots bygevoeg.

’n Voorwaarde van die verbondsooreenkoms is dat al die manlike lede van sy huishouding besny moet word om hulle daaraan te herinner dat hulle op ’n besondere manier aan God behoort.

Dit is duidelik dat Abraham oortuig is dat hy en Sara binnekort ’n seun ryker gaan word. Of dit so sal wees, sal net die tyd leer. Hy is immers al 99 jaar oud, en sy 89!

 

Reënboog word teken

ARARAT. – ’n Reënboog is nie meer bloot ’n reënboog nie. Voortaan is dit die teken dat die wêreld nooit weer in ’n watervloed sal vergaan nie.

Só het Noag gister gesê na afloop van die dankseggingsdiens wat hy gehou het om die redding uit die vloed te vier. God het aan hom verskyn en ’n verbond met hom aangegaan waarin Hy belowe het om nooit weer die aarde deur vloedwaters te vernietig nie. “Die reënboog is die teken wat ons – en God – aan hierdie belofte sal herinner,” het hy gesê.

 

3 000 gedoop!

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Simon bar Jona, ook bekend as Petrus, en tien ander het vanoggend hier ’n nuwe sekte gestig. Hulle noem hulleself die “Volgelinge van Jesus”. Omtrent drie duisend mense het hulle by die groep aangesluit nadat hulle gedoop is.

 


Om verder oor na te dink

Ons verhouding tot God is ’n geloofsverhouding, ’n saak van die geloof, nie van aanskoue nie. Dit sê ook die Hebreërskrywer in sy hoofstuk oor die geloof (11:1): “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Dit maak geloof so moeilik. Maar gelukkig verstaan God ons behoefte om iets tasbaars te hê om aan vas te hou. Daarom hang ons geloof nie in die lug nie, want God gee vir ons sigbare dinge om ons te verseker dat ons nie besig is om ydele drome na te jaag nie. Die Bybel is vol daarvan – die reënboog as teken aan Noag, die besnydenis as teken van die verbond met Abraham en sy nageslag, die doop as verbondsteken vir die kerk van die Here Jesus – en toe God Gideon roep, gee Hy hom verskeie tekens om hom te verseker dat hy nie droom nie.

Twyfel jy soms? Hou dan vas aan jou doop. God verseker jou daarmee: Hy het jou régtig lief!




Babelse verwarring laat bouwerk staan

Van ons Ou Testament redaksie

SINAR. – Een van die mees ambisieuse bouwerke wat nog aangepak is, ’n ontsaglike hoë offertoring, is hier laat vaar nadat daar onoorbrugbare kommunikasieprobleme op die bouperseel ontstaan het.

Bouwerk aan die “Toring van Babel”, soos die konstruksie intussen spottenderwys gedoop is, het etlike jare gelede begin. Die oogmerk was om ’n offertoring te bou waarvan die punt tot in die hemel reik. Stadsvaders het geglo dat hulle met hierdie monument van menslike vernuf hulle naam en dié van Sinar sou verewig in die annale van die mensdom. Die toring sou ook dié offerplek vir almal wees, omdat ’n mens met die toring as ‘t ware tot by die gode in die hemel sou kon klim om daar jou offer te bring.

Stadsvaders is nie seker presies wat gebeur het nie, maar van die werkers vertel dat hulle een oggend heel onverwags net nie meer mekaar kon verstaan nie. “Ons het net ewe skielik verskillende tale begin praat, en dit was onmoontlik om mekaar te verstaan. Ons het geen ander keuse gehad nie as om die werk te staak,” het ’n verdwaasde bouvoorman opgemerk.

Ondertussen beweer ’n Semitiese profeet dat hy lankal teen die projek gewaarsku het. Hy het die spraakverwarring as “’n vingerwysing van God” beskryf. “As jy só op jou eie eer en roem gesteld is, kan dit nie anders as om te boemerang nie,” het hy gesê.

Man bied geld aan vir Geesvervuldheid

Van ons Nuwe Testament redaksie

SAMARIA. – Simon, die bekende towenaar van Samaria, wat onder sy volgelinge bekend staan as “Die Groot Krag van God”, het sy rieme lelik styfgeloop toe hy meer van hierdie krag by die leiers van ’n nuwe sekte wou koop. Die leier, Petrus, het hom glo na die warmplek gestuur en na bewering gesê: “Gaan na die verderf met jou geld en al! Dink jy jy kan die gawe van God met geld koop?”

Simon was volgens lede van die sekte baie beïndruk deur die besoekende leiers wat mense wat die woord van God aanvaar het, die hande opgelê het sodat hulle die Heilige Gees kan ontvang. Hy was bereid om baie op te dok om ook hierdie vermoë te kan bekom. Voorlopig sal hy egter daarsonder moet klaarkom.

 


Om oor na te dink

Diep in ons harte het ons almal die begeerte om iemand te wees, om naam te maak. In die Bybel is daar talle voorbeelde hiervan, onder andere die mense van Babel, en Simon die towenaar. In beide hierdie gevalle is God se oordeel verdoemend: by Babel gryp Hy op bonatuurlike wyse in om hulle arrogansie hok te slaan; teenoor Simon die towenaar laat Hy by monde van Petrus ’n veroordeling in die krasste denkbare taal hoor. Want ’n groot naam is nie met geld te koop nie. Dis ’n gawe van God, wat in innige verbondenheid met Hom ontvang word. Daarom volg daar op die verhaal van Babel in Gen. 11 die verhaal van Abram in Gen. 12, waar God self aan hom belowe: “Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis maak …” (Gen. 12:2). En as die Here Jesus na hierdie wêreld kom, kies Hy ook manne uit wat in die geskiedenis van die kerk baie groot naam sou maak: “Ek sal julle vissers van mense maak” (Matt. 4:19). ’n Naam wat Gód gee. Dít is iets om te begeer!