Lank lewe koning Dawid!

Koning Dawid met sy geliefde lier

Van ons Ou Testament redaksie

HEBRON. – Die twaalf stamme van Israel is vandeesweek uiteindelik weer verenig toe ’n afvaardiging van die noordelike stamme vir Dawid kom versoek het om ook húlle koning te wees. Die ryk is sewe jaar gelede in twee geskeur toe die noordelike stamme, ná die dood van koning Saul, sy seun Es-Baal tot koning uitgeroep het. Die stam Juda het egter hulle held Dawid koning gemaak in Hebron.

Politieke waarnemers het Dawid geprys vir sy briljante diplomasie. Hy het geduldig gewag op die regte geleentheid om die ryk onder sy septer te verenig, en in die proses groot druk van sy volgelinge om die noordelike stamme met geweld te verower, weerstaan. Dié geleentheid het uiteindelik aangebreek toe twee bendeleiers, Baäna en Rekab, koning Es-Baäl van die noordelike stamme in sy slaap vermoor het.

Daar wag ’n groot taak op die nuwe koning om die guns van die noordelike stamme te wen, aangesien daar in die afgelope aantal jare herhaaldelik botsings tussen hulle en die stam van Juda was. Die feit dat Dawid nie aandadig is aan die dood van Es-Baäl nie, tel egter baie in sy guns. Kenners wys ook daarop dat die kwessie van ’n hoofstad nog ’n turksvy kan word, aangesien Hebron te ver in die suide lê en te onmiskenbaar deel van Juda se grondgebied is om deur die noorde as hoofstad aanvaar te word. ’n Stad soos Jerusalem sou die ideale oplossing wees, maar ongelukkig is dit in die hande van die Jebusiete en ’n haas oninneembare vesting.

 

Jakob koop grond naby Sigem

SIGEM. – Jakob seun van Isak het vanoggend in die stadspoort ’n transaksie beklink waarvolgens hy ’n stuk grond hier naby vir honderd geldstukke by die seuns van Gamor gekoop het. Dit is die eerste stuk grond wat hy in Kanaän besit sedert hy hom ná ’n afwesigheid van twee dekades weer in die land kom vestig het.

 

SIEKE NA 38 JAAR OP DIE SABBAT GENEES

JERUSALEM. – Die jong rabbi Jesus van Nasaret het die Fariseërs en Skrifgeleerdes die harnas ingejaag toe hy op die heilige Sabbat ’n siek man by die Bad van Betesda genees het.

Die man was al ag en dertig jaar lank siek. Hy was ’n bekende gesig by dié bron, waar talle gestremdes lê in die hoop dat die genesende krag van die water hulle gesond sal maak. Hulle glo dat die eerste een wat in die water kom as dit begin borrel, gesond sal word. In al die jare wat die man daar lê, kon hy egter nooit daarin slaag om eerste in die water te kom nie, omdat niemand hom ingehelp het nie. Maar nou is dit iets van die verlede.

Ondertussen het ons verneem dat die Joodse leiers besluit het om die hele aangeleentheid verder te voer. “Ons kan nie toelaat dat die Sabbat so ontheilig word nie,” het ’n woordvoerder ons meegedeel. Daar word selfs gefluister dat Jesus godslasterlike dinge kwytgeraak het en die dood verdien.

Oor die vraag of hy werklik die dood verdien, moet ons lesers self besluit. Ons weet in elk geval van minstens een man wat nie hieroor met die Joodse leiers sal saamstem nie.

 


Om oor na te dink

Die spreekwoord sê: “Hy wat glo, word nie haastig nie.” Want op God se tyd gebeur wat Hy oor ons lewe beskik, al moet ons dan sewe jaar, of twintig, of selfs ag en dertig jaar daarop wag. Die digter van Ps. 130 het iets hiervan verstaan. Daarom roep hy ons op (vs. 7): “Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker.”

Vir die moderne mens is dit baie moeilik om te wag, want ons hele samelewing stel ons daarop in om dinge in ’n kits te kry: selfhelpwinkels, kitskoffie, kitsbanke. Met die druk van ’n knoppie of die afdraai van ’n proppie het ek wat ek wil hê. En onbewustelik dra ons hierdie kitsmentaliteit ook in ons geloofslewe in; bid ons oor ’n saak en verwag blitssnel ’n antwoord, net om telkens weer te ontdek dat God nie ’n kitsgod is nie. Want kits is ongelukkig (gewoonlik) nie gelyk aan kwaliteit nie.

Ons, wat altyd haastig is, gee dikwels nie om om kwaliteit in te boet vir die voordeel wat spoed bring nie. Maar God gee om. Hy wil nie oppervlakkige kits-Christene hê nie. Hy wil ons bring daar waar ons deur die tyd ryp geword het. Hy gee nie om om te wag sodat ons kans kan kry om geestelik te groei nie. Daarom moes Jakob in Haran gaan leer dat die beloofde land ’n gawe is, nie iets wat jy met ’n gekonkel kan inpalm nie. Daarom moes Dawid wag totdat God die hart van die hele land vir hom oopmaak, en moes die sieke van Betesda wag totdat die groot Geneesheer self by hom kom siekebesoek doen. As hy vroeër al gesond geword het, het hy dalk nooit vir Jesus leer ken nie …




Seun bedrieg sy pa met sy ma se hulp; vlug

Van ons Ou Testament redaksie

BERSEBA. – Die eersgeboorteseën, ter wille waarvan ’n seun sy eie pa bedrieg het, het ’n holle nagalm gehad toe die einste seun kort daarna vir sy lewe die land uit moes vlug. Dit is maar een in ’n hele reeks voorvalle waarin die tweelingseuns van Isak, Esau en Jakob, betrokke was.

Hoewel Esau die oudste seun is, en dus die eersgeborene van Isak en Rebekka, het Jakob en sy ma dit nooit aanvaar nie. Toe Isak dus vir Esau vra om ’n wildsbokkie te gaan skiet en dit vir hom voor te berei omdat hy die eersgeboorteseën aan hom wil gee voordat hy sterf, het Rebekka vinnig vir Jakob gehelp om hom te vermom soos sy broer. Met vleis wat sy gaargemaak het, het sy vir Jakob na haar man gestuur. Isak se oë was al so sleg dat hy nie besef het dis die verkeerde seun wat voor hom staan nie. So het Jakob die seën ontvang wat vir Esau bedoel was.

Na berigte het Esau wraak gesweer, en was Jakob verplig om te vlug. Of die eersgeboorteseën nou vir hom iets werd sal wees, sal net die tyd leer.

 

Bringer van goeie boodskap tereggestel

SIKLAG. – ’n Jong Amalekiet is gisteraand hier tereggestel nadat hy aan Dawid die goeie nuus gebring het dat sy grootste vyand, koning Saul, op die slagveld gesneuwel het.

Volgens sy eie getuienis was die man ’n ooggetuie van die Israeliete se verpletterende neerlaag. Hy het gesien hoedat kroonprins Jonatan omkom, en het op koning Saul afgekom waar hy dodelik gewond op Gilboaberg lê nadat hy klaarblyklik in sy eie spies geval het. Op die koning se versoek het die Amalekiet hom doodgemaak en sy kroon en armband gevat en vir Dawid gebring, onder die indruk dat dit goeie nuus sal wees vir die man wie se lewe so lank deur Saul bedreig is.

Dawid was egter so ontsteld dat hy sy klere geskeur en tot die aand toe gerou en getreur en gevas het. Daarna het hy beveel dat die jong man summier tereggestel moet word. Toe hy die vonnis uitspreek, het Dawid gesê, en ons haal aan: “Jy het jou dood gesóék, want jy het jouself veroordeel toe jy gesê het: Dit is ek wat die gesalfde van die Here doodgemaak het!”

 

MAN SE AFGEKAPTE OOR AANGEHEG

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – Die omstrede rabbi Jesus van Nasaret het lede van die tempelwag laasnag hier verstom toe hy ’n oor wat met ’n swaard afgekap is, weer vasgesit het.

Dié uitsonderlike gebeurtenis het plaasgevind toe die tempelwag Jesus in die Tuin van Getsemane in hegtenis geneem het op ’n aanklag van godslastering. Een van Jesus se dissipels, Simon bar Jona, het ’n swaard uitgepluk om sy rabbi te verdedig, en die hoëpriester se slaaf Malgus se oor afgekap. Jesus het Simon skerp tereggewys omdat hy hom teen die inhegtenisname verset het, en daarna Malgus se oor genees.

In ’n onderhoud ná die voorval het Malgus gesê dit was ’n ongelooflike ervaring. “Die pyn was onmiddellik weg toe hy aan my geraak het, en ek verbeel my boonop ek hoor nou beter as voorheen!” het hy met ’n glimlag bygevoeg.

 


Om oor na te dink

Sedert Petrus Malgus se oor afgekap het, moes Jesus al talle en talle wonde genees wat deur sy eie dissipels veroorsaak is – dikwels in hulle oorywerigheid om aan God se plan gestalte te gee in hul lewe of in die wêreld. Petrus het immers nie sy swaard getrek ter wille van homself nie, maar ter verdediging van sy Meester. En Rebekka en Jakob was ook nie heeltemal uit die koers toe hulle die eersgeboorteseën van Esau wou wegneem nie – hy het immers sy reg aan Jakob verkwansel vir ’n pot lensiesop. En het God nie self aan Rebekka gesê nie – reeds vóór die tweeling se geboorte – “die oudste sal die jongste dien” (Gen. 25:19-34)?

Die probleem is net: hulle het nie ’n oog daarvoor gehad dat God op ’n ánder manier sy Koninkryk wil laat kom in hulle lewe nie. Hulle het nie vir God die kans gegee om die heil op sy manier uit te werk in hulle wêreld nie.

In dié opsig het Dawid besondere genade ontvang om te wag totdat God self sy beloftes aan hom waar maak. Hoewel hy dikwels in ’n posisie was om Saul te dood en só die troon te gryp wat hom as God se gesalfde toegekom het, het hy konsekwent geweier, omdat hy iets daarvan verstaan het wat die Here baie jare later by monde van sy profeet Sagaria vir ons leer: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige” (Sag. 4:6).

Bid dat God deur sy Gees ook aan jou dié besondere genade sal gee. Net só kan sy Koninkryk kom, ook in jou lewe.




Bejaarde vrou van 90 skenk geboorte

Van ons Ou Testament redaksie

GERAR. – Daar was gister ongekende vreugde in die laer van die skatryk donkiehandelaar Abraham seun van Tera toe sy vrou Sara geboorte geskenk het aan ’n fris babaseuntjie.

Wat die geboorte so merkwaardig maak, is dat Sara al ’n vrou van 90 jaar oud is, en Abraham al 100! Die vroedvrou wat Sara tydens die geboorte bygestaan het (vanweë professionele redes mag ons ongelukkig nie haar naam bekend maak nie), het gesê dat alles baie goed afgeloop het. “As jy Sara se ouderdom in ag neem, en in gedagte hou dat dit boonop haar eerste baba is, het die geboorte eintlik verstommend goed verloop,” het die verligte vroudvrou aan Bybelkoerant vertel.

Kenners is dit eens dat daar gister mediese geskiedenis gemaak is. Een dokter wat om kommentaar genader is, het net sy kop geskud en gesê hy het in sy ganse lewe nog nie van so iets gehoor nie. “Ek kan my nie voorstel dat dit ooit weer sal gebeur dat so ’n ou vrou ’n baba kan hê nie. Dis net eenvoudig ongehoord.”

Ondertussen is die laer in rep en roer soos daar voorbereidings getref word vir die feesvierings oor ’n week, wanneer die nuwe aankomeling van die gesin besny gaan word. Volgens Abraham is dit die gebruik by hulle dat elke seuntjie op die agtste dag besny word as teken dat hy aan die lewende God behoort.

Die kêreltjie oor wie al die opgewondenheid gaan, se naam is heel gepas Isak, wat “lag” beteken.

 

GENIET DIE LEWE, SÊ KONING

JERUSALEM. – Die koning het in ’n diepsinnige werk wat vandeesmaand hier gepubliseer is, sy onderdane opgeroep om die lewe te geniet.

In die boek, wat hy onder die skuilnaam “Die Prediker” uitgee, skryf hy dat ’n mens op twee maniere na die wêreld kan kyk: jy kan daarna kyk as die begin en die einde van jou bestaan, en dan kom jy onvermydelik tot die slotsom dat alles tot niks kom nie en ’n gejaag na wind is. Of jy kan raak sien dat God betrokke is in ons wêreld, dat elke dag ’n gawe uit sy hand is. Dán word jou lewe ’n genot, en elke dag ’n avontuur.

Ons beveel die boek van harte aan. Lees dit gerus!

 

Vyf brode en twee visse gee kos vir duisende

Van ons Nuwe Testament redaksie

BETSAIDA. – Die jong rabbi Jesus van Nasaret het gisteraand hier in die distrik groot opgewondenheid veroorsaak toe hy vir ’n skare mense (net die mans alleen was al omtrent vyf duisend) só baie kos gegee het dat daar, toe almal meer as genoeg gehad het, twaalf mandjies vol kos oorgebly het.

Dit was teen druktyd nog nie presies duidelik waar hy kos vir al die mense gekry het nie. Dit is algemeen bekend dat Jesus en sy dissipels dit nie breed het nie, en die kos sou ’n klein fortuin gekos het as hulle dit moes aankoop. Sy dissipels beweer dat Jesus vyf garsbrode en twee vissies by ’n seuntjie gekry het, en dat hy dít eenvoudig begin breek en vir die mense uitgedeel het. “Dit was ongelooflik. Die brood en die vis het net al meer en meer geword! Hoe meer hy dit verdeel het, hoe meer was daar, totdat almal gekry het. Dis ’n wonderwerk,” het Simon, die leier van die dissipels, opgemerk. Dit lyk asof die skare hiermee saamstem, want hulle praat onder mekaar dat hy die Profeet is wat volgens ou voorspellings na die wêreld sou kom. Daar is selfs sprake dat hulle hom koning wil maak.

Een van die Skrifgeleerdes met wie ons gepraat het, is egter baie beslis dat die “wonderwerk” een groot wolhaarstorie is. Net God kan immers wonders doen, het hy met nadruk gesê. Sy verklaring is dat die mense almal kos by hulle gehad het, maar net te skaam was om dit uit te haal. Toe Jesus die brood en vis te voorskyn bring, het dit die ander die vrymoedigheid gegee om ook hulle kos te begin eet. Vandaar al die kos. Hy kon egter nie aan ons verklaar hoekom die oorskiet in die mandjies nét uit garsbrood en vis bestaan het nie.

 


Om oor na te dink

As ’n mens deur die Bybel blaai, verstom dit jou telkens hoeveel uitsprake daarin gemaak word wat dit duidelik maak dat God wil hê dat ons dit moet geniet op hierdie aarde. Een van die bekendste gedeeltes in dié verband is natuurlik Fil. 4:4: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” God wil nie ’n pretbederwer wees nie; inteendeel, Hy gun ons ’n gelukkige, vreugdevolle lewe. Prediker 2:24 sê dat dit een van God se gawes aan ons is: “Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ’n gawe uit die hand van God is.” G’n wonder nie dat Jesus vir die skare ’n impromptu-feesmaal verskaf.

Abraham en Sara het iets hiervan gesnap toe hulle hulle seun Isak genoem het: God het die lag in hulle lewe teruggebring.

Wees jy ook hierdie dag bly! God gun dit vir jou.




Abram en Lot se paaie skei

Van ons Ou Testament redaksie

BET-EL. – Die bekende grootboer Abram en sy broerskind Lot se paaie het vandeesweek hier geskei.

Die twee het sedert hulle hulle etlike jare gelede uit Mesopotamië in Kanaän tuisgemaak het, bymekaar gebly, maar daar het in die laaste tyd skynbaar onoorbrugbare probleme tussen die twee ontstaan. Die hele aangeleentheid is op die spits gedryf toe daar ’n onverkwiklike rusie tussen Abram en Lot se veewagters ontstaan het oor weiding en waterputte. Harde woorde het geval voordat hulle ooreengekom het om elkeen sy eie gang te gaan.

Stadsvaders hier is verbaas dat Abram toegelaat het dat sy nefie Lot, wat baie jare sy junior is en tot nog toe onder sy sorg was, verreweg die beste daarvan afgekom het deurdat hy hom in die vrugbare Jordaanvallei tuisgemaak het. ’n Bron na aan die familie wys egter daarop dat Abram ’n man van vrede is wat tot elke prys spanning wil vermy, selfs ten koste van homself.

In ’n kort persverklaring het Abram gesê dat hy as nuweling in Kanaän nie probleme in die land wil veroorsaak nie. “Die prys wat ek moes betaal vir vrede, is eintlik klein,” het hy gesê.

 

Talle volgelinge keer rabbi Jesus die rug toe

Van ons Nuwe Testament redaksie

KAPERNAUM. – Op ’n dag van hoogdrama het talle volgelinge van die bekende rabbi Jesus hom verlaat. Hulle sê sy uitsprake is verregaande en onaanvaarbaar.

Blykbaar het die ongelukkigheid ’n lang aanloop. Jesus het glo aan die oorkant van die See van Galilea vir duisende mense kos gegee deur ’n seuntjie se padkos van vyf garsbroodjies en twee vissies te vermeerder sodat daar meer as genoeg vir almal was. Daarop wou die mense hom met geweld koning maak, maar hy het hulle ontglip en die berge in gevlug.

Die opgewonde skare het egter bly soek, en toe hulle Jesus in Kapernaum kry, was hulle vol verwagting dat daar nog wonderwerke sal volg. Jesus was nie beïndruk nie, en het gesê die mense volg hom vir al die verkeerde redes. In die daaropvolgende gesprek het Jesus blykbaar gesê hulle soek die verkeerde soort brood by hom. Hyself is die brood wat lewe gee. Dit het die mense klaar omgekrap, en toe hy boonop homself met die manna van ouds gelykstel, was die gort gaan. Hy het ook gesê die brood waarvan hy praat, is sy liggaam. “As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie,” het gesê en bygevoeg: “My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank.”

Dit was die laaste strooi. “Wat hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?” het een opgemerk en geloop. Sy twaalf dissipels het egter aan hulle rabbi getrou gebly. “Hy het die woorde van die ewige lewe, en ons bly by hom,” het Simon seun van Johannes beslis gesê.

  • Jy kan meer hiervan lees in Joh. 6.

 


Om oor na te dink

Ons doen almal elke dag keuses. Sommige keuses is nietig. Ander, egter, het verreikende gevolge. Want dikwels plaas ’n keuse wat ons doen, ons op ’n pad waarop daar weinig kans vir omdraai is. Lot se gulsige keuse om in die Jordaanvallei te gaan woon, het hom uiteindelik baie duur te staan gekom. ’n Mens hoef net Gen. 19 te lees om die tragedie wat sy lewe geword het, te sien. En dan is daar natuurlik die volgelinge van Jesus wat hulle geërg het aan sy woorde (Joh. 6:66).

Dit is uiteindelik die groot keuse wat ek en jy moet maak: vir of teen Jesus. Daar is nie ’n middeweg nie. Die vraag is die motief. Lot se keuse is deur sy gierigheid bepaal; Abram se keuse word deur sy getrouheid aan sy roeping teenoor God bepaal. Die Jode verwerp Jesus omdat Hy hulle nie na die mond praat en aan hulle verwagtings voldoen nie. Petrus-hulle besef egter dat Hy hulle toekoms is. Soos Petrus namens die twaalf vir Jesus in Joh. 6:68 sê: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee.”

Mag Hy jou oë oopmaak vir die keuses wat jy vandag gaan doen, sodat jy duidelik sal kan onderskei dié dinge waarop dit aankom (Fil. 1:10; vgl ook Rom. 12:2). Mag jy vandag onder die leiding van die Heilige Gees reg kies!




’N SEUN VIR ADAM EN EVA!

Van ons Ou Testament redaksie

EDENVERLOREN. – Daar was vanoggend groot opgewondenheid toe die heel eerste mensekind gebore is: ’n fris knapie. Eva het gesê sy naam sal Kain wees, en met groot dankbaarheid bygevoeg: “Ek het ’n man in die wêreld gebring met die hulp van die Here!” Op ’n vraag of sy nog kinders oorweeg, het sy instemmend geantwoord. “Ons het ’n opdrag van God gekry om vrugbaar te wees en te vermeerder, en ons beplan om hierdie keer sy bevele nougeset uit te voer,” het Adam gesê.

Daar is aanvanklik gevrees dat die jong egpaar nie sal kan aanpas by die harde werklikheid van ’n lewe buite Eden nie, maar dit wil tog voorkom of hulle nou hulle voete gevind het. Die verantwoordelikheid wat ouerskap op hulle lê, sal hulle nog meer vasbeslote maak om ’n sukses van hulle taak te maak.

 

EK KAN JOU NIE LOS, SÊ GOD

SAMARIA. – In ’n hartroerende pleidooi het die profeet Hosea gister hier die volk Israel tot inkeer geroep. Hy het begin deur die volk te herinner aan God se liefde vir hulle; hoe Hy hulle deur die eeue gelei en gedra het op sy arms. Tog het die volk die rug op Hom gedraai en geweier om tot inkeer te kom.

Hosea waarsku dat daar swaar tye voorlê omdat God hulle in die hande van hulle vyand sal oorgee. Maar, het hy bygevoeg, dit sal nie die einde van die Godsvolk wees nie, want God sal hulle weer terugbring. Met trane in die oë het hy God se boodskap afgelewer: “Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk …”

Die profeet Hosea het self deur diep waters gegaan met sy eie vrou, Gomer, ’n prostituut wat dikwels aan hom ontrou is. Tog het hy haar elke keer teruggeneem en haar nie verstoot nie. Dit verklaar dalk waarom hy so geroer is deur God se liefde vir sy ontroue volk.

 

Vrou spring dood vry

Van ons Nuwe Testament redaksie

JERUSALEM. – ’n Jong vrou het vanoggend hier ’n seker teregstelling vrygespring toe ’n rabbi vir haar in die bres getree het en so voorkom het dat sy gestenig word. Sy is op heter daad betrap waar sy owerspel pleeg, en het ’n gewisse dood deur steniging in die gesig gestaar toe die summiere verhoor ’n verrassende wending geneem het.

Die vrou is deur die skrifgeleerdes en Fariseërs na die jong rabbi Jesus van Nasaret gebring, sodat hy die vonnis wat die Wet van Moses voorskryf, kon oplê. Aanvanklik het hy egter niks gesê nie en gebuk en met sy vinger in die grond geskrywe. Toe hulle egter by hom op ’n uitspraak aandring, het hy met hierdie verbysterende uitspraak gekom: “Laat dié een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.” Hierop het die beskuldigers een vir een weggeloop, totdat Jesus alleen met die vrou oorgebly het. Daarop het hy die vrou weggestuur met die woorde: “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

Simon Petrus, een van Jesus se dissipels, het na die gebeure aan ons verteenwoordiger gesê die hele situasie was ’n set om Jesus in diskrediet te bring. As Jesus die vrou laat stenig het soos die Wet van Moses vereis, sou Hy in die moeilikheid by die Romeinse owerheid wees, aangesien doodsvonnisse slegs deur hulle gevel mag word. Het Hy weer gesê hulle moet haar voor die gehate Romeinse owerheid bring, sou Hy in onguns by die volk kom. “Jesus het nie net hulle strik netjies ontwyk nie, Hy het ook aan ’n gevalle vrou ’n tweede kans gegee,” het hy gesê.


 

Om oor na te dink

Die boek Genesis vertel nie net vir ons die verhaal van die skepping en die sondeval en die gepaardgaande verlies van die Tuin van Eden nie – gelukkig nie! Want Genesis – trouens die hele Bybel – se eintlike fokuspunt bly nie hier op aarde, by ons en ons tekortkominge nie. Nee, die Bybel wil ons oë optrek na Bo, om God se groot liefde en genade vir ons raak te sien, ’n liefde groter as ons sonde, ’n genade veel wyer as ons ontrouheid. Daarom los God nie vir Adam en Eva in hulle ellende nie, maar (ontdek hulle tot hulle verbasing) bly Hy met hulle besig, skenk Hy hulle die wonder om ouers te word. Daarom los Hy nie die lsraeliete nie, soos Hy by monde van Hosea so aangrypend verklaar. Daarom los Hy nie die wêreld nie, maar gee Hy sy Seun, “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh. 3:16). Daarom haal Jesus nie sy skouers op as ’n vrou wat in sonde geval het, deur die owerhede tereggestel wil word nie.

God sal jou en my ook nie uitlos nie. Al het ons, soos Adam en Eva, alle rede om dit te verwag. Gló dit vandag. Dit is die evangelie.




Paradyshuwelik

Van ons Ou Testament Redaksie

EDEN. – Die heel eerste huwelik ooit is vandag hier voltrek toe Adam en Eva deur God in die huwelik bevestig is.

Op ’n lieflike lenteoggend het God vir Eva met sy eie hand na Adam gebring. Adam, wat tot vanoggend nog baie eensaam was, was oorstelp van blydskap toe hy haar sien. Hy het op die daad ’n minnelied spesiaal vir haar gekomponeer – waarskynlik die heel eerste lied wat op aarde opgeklink het.

Vir die geleentheid was Eva deftig uitgedos met eksotiese blommekranse, en ’n spierwit lelie in haar hare.

Antropoloë is dit eens dat die huwelik altyd ’n integrale deel van die samelewing sal wees, nie net omdat so ’n permanente verbintenis tussen ’n man en ’n vrou baie bevredigend behoort te wees nie, maar veral omdat dit deel is van God se goeie skeppingsorde. ’n Woordvoerder wys daarop dat die huwelik in die hemel self bedink is toe God gesien het dat Adam baie alleen is. Daarom het God Eva vir hom gegee as ’n helper en maat, sodat hulle twee saam deur die lewe kan gaan, mekaar kan ondersteun en kan liefhê en gelukkig kan wees.

Dit is seker nog te vroeg om te voorspel, maar as ’n mens enige iets kan aflei uit die sterre in die bruid en bruidegom se oë vanoggend, het God hier met ’n wenresep vorendag gekom.

WYN UIT WATER!

Van ons Nuwe Testament Redaksie

KANA. – ’n Bruidegom is vandeesweek hier uit ’n groot verleentheid gered toe dit so jolig op sy bruilof gegaan het dat sy wynvoorraad skoon opgeraak het. Een van die gaste, ’n jong rabbi met die naam Jesus, het tot sy redding gekom toe hy nog wyn gemaak het uit die reinigingswater wat in klipkanne in die portaal gestaan het. Gaste raak liries oor die “lekkerste wyn wat ons nog ooit geproe het”.

Die rabbi wou nie kommentaar lewer nie, maar sy moeder, Maria van Nasaret, sê dat hy ’n baie besondere man is wat van God gestuur is. Sy het gesê dit was net sy eerste wonderwerk, en dat groot dinge nog van hom verwag kan word.


Om oor na te dink

Een van die grootste wonders wat God in die skepping ingebou het, is die wonder van die huwelik en huweliksliefde. Want die huwelik is nie ons eie uitvindsel nie, en huwelikstrou nie ons eie prestasie nie – dit is guns Gods. En enige een wat die voorreg het om getroud te wees, sal weet watter groot guns dit is.

Dit is van die begin van die skepping af duidelik dat die huwelik vir God ’n saak van erns is. Daarom dat Hy self direk by Adam en Eva se huweliksluiting betrokke is. En as Jesus eeue later op aarde wandel, is dit nie toevallig nie dat sy heel eerste openbare optrede, die wonderwerk by Kana, juis ook by ’n huwelikseremonie plaasvind. God gee om vir ons huwelike!

Dit gee ons mos nuwe moed vir ons eie huwelike! In ’n wêreld waarin die huwelik in diskrediet geraak het, waar alles rondom ons skreeu dat dit ’n uitgediende instelling is, kan ons met vertroue aan ons eie huwelike voortbou. Dit is immers nie net vir ons belangrik nie. Dis vir God belangrik.

Werk elke dag aan jou huwelik. Dit is kosbaar. Of, as jy nog nie getroud is nie, bid nou al vir die regte lewensmaat. God het self Adam se lewensmaat uitgesoek – Hy wil joune ook uitsoek. Gee Hom die kans.